En so het my twintigste interhoër (die meeste
daarvan op Pilditch-stadion in Pretoria) gekom en gegaan. Ek onthou, benewens
somer, son, boggerol saffier en strome sweet, uit voorste jare ook reën en
modder en gly op walle en swart asbliksakke vir reënjasse. Ek onthou die twee girls wat die seuns een aand met geld in
hul sakke laat toustaan het by ‘n geboutjie wat afgebreek is toe hulle die plek
‘n nuwe stadion gegee het.
Maar die meeste van alles onthou ek Betty (of
was dit nou Bettie, sy is ook al meer as tien jaar oorlede) wat selfaangestelde
hoof van die skool se Interhoër-verversingskomitee was.
Spyseniering vir eregaste en beamptes is mos
altyd van so ‘n aard dat volgende jaar se gasheerskool wil verbeter op hierdie
jaar se gasheerskool (wat op hul beurt weer die vorige jaar se gasheer die loef
wou afsteek).
Maar dan is daar die plebs, die outjies op busdiens, pawiljoendiens en terreindiens, die
outjies sonder ‘n gestempelde kaartjie met ‘n lintjie aan ‘n koperspeldjie, wat
toegang bied tot die Skilpad-saal of eregaste-losie met ‘n verskeidenheid
kouevleise en slaaie.
Deesdae stop hulle jou ‘n R50-00 in die sak en
is jy oorgelewer aan wat ook al die gasheer se mammas en pappas te koop
aanbied, watter ventertjies en kraampies ook al toegelaat word om handel te
dryf op die terrein.
Maar nie in Bettie (sy was ‘n Engelse juffrou,
so miskien is dit Betty) se dae nie.
En ja, daar was tóé ook hamburgers van
twyfelagtige oorsprong met blaarslaai wat soggy
raak in die mikrogolf, te klein Vienna’s in te groot broodrolle sonder
botter en boerworsrolle van pet’s mince.
Maar vir Betty was dit ‘n kwessie van eer dat
die plebs nét so lekker, indien nie
lekkerder nie, as die outjies met die kaartjies op hul borste eet. Terwyl die
kunsjuffrou rekwisiete verf, beplan Betty haar spyskaart en deel sy takies uit.
As die houtwerkmeneer die dirigente se podiums aanry, ry ander mans tafels en
braaiers en sambrele vir Betty se piekniek aan.
Ons doen dit in styl, aan die oostekant van die
paviljoen.
En maak nie saak wat vir middagete was nie,
jaar na jaar moes ek my hoendelewerpatee teen tien-uur gereed hê. Bedien,
natuurlik, saam met watter gesondheidbroodresep ook al daardie jaar die
gewildste in die mees onlangse Huisgenoot
se Wenresepte was. (Gelukkig was dit nie ook my baba nie.)
En my hoenderlewerpatee is dit ook nie, dis my
skoonsuster se resep. Ek het die resep gehad en met groot sukses gemaak. Ek het
die resep weggegooi en weer gekry, hierdie keer vir jare agter op ‘n
troukaartjie, maar die laaste paar jaar met die hand oorgeskryf in dit wat
hopelik eendag Klaradyn se familie-resepteboek gaan wees.
(Maar verbeel ek my nou al hoe meer dat ek
hierdie resep wel al gedeel het. Ek het dit einde verlede jaar gemaak vir ‘n do waar ons ‘n voorgereg moes vat. En
dan is dit ‘n resep wat ek nie sal maak sonder om dit nie te deel nie, maar
waar ek nou is, het ek nie internet-toegang nie. As ek het, vergeef my, maar
wat die maag van vol is, loop die mond van oor. As jy dit dan al op die proef
gestel het, wag tot more: toe ons die
afgelope naweek Kaap toe is vir Ouma Kapie se negentigste verjaarsdag, het ek
‘n ander heerlike hoenderlewerpatee, net so lekker maar gans anders, gemaak wat
ek onderneem om more te deel.)
Jy benodig vir Skoonsus se patee:
·
twee
bakkies hoenderlewertjies
·
een
pakkie sampioene
·
een
groot ui
·
een
teelepel suiker
·
twee
hard gekookte eiers
·
een
pakkie spekvleis
·
een
kannetjie room
·
een
of twee eetlepels tamatiepuree
·
sout
en peper
·
halwe
koppie brandewyn
·
ses
eetlepels botter (om gesmelt bo-oor te gooi en die dis te verseël)
·
Dan
braai jy nou die uie en die spekvleis tot jy dink dis reg.
·
Dan
braai jy die hoenderlewers daarby tot jy dink dis nog nie heeltemal reg nie.
·
Gooi
dan die res by en as dit kook sal die hoenderlewers gaar en steeds ferm wees
(sonder dat dit bitter raak)
Of die lewer regtig bitter kan raak as jy dit
te lank op die hitte het, weet ek nie, maar Skoonsus het my daarmee bang
gepraat en ek gaan wragtig nie eksperimenteer om te kyk of sy die waarheid
gepraat het nie.
·
Sodra
die lewertjies na jou mening nie meer pienk is nie, maar bruin genoeg na jou
sin en waaragtig nog nie bitter nie, verpulp jy dit. Boers en rustic en grof, is lekker, fyn en
verhewe tot ‘n room is net so lekker. Verseël met die botter en geniet. Onthou
dit hou nie vir dae en weke in ‘n yskas nie, maar vries baie goed.
En nou help dit nie jy e-pos of bel of
“kommentaar” my om uit te vind hoe swaar daardie “twee bakkies hoenderlewers”
moet wees nie, 2 x 250 g of 2 x 500 g nie. Ek weet nie; my skoonsuster ook nie
meer nie. 2 x 250 g lewer ‘n lekker patee, 2 x 500 g lewer ‘n lekker
hoenderlewerpatee.
Die sampioene is met sekerheid 250 g en die
room 250 ml.
Moenie op die brood of melba-toast smeer nie, plak en pleister eerder
soos met ‘n troffel.
En dan kan jy nou maar gril en fiemies en
neerkyk en ril en verontwaardig ‘gmf,
ek gee nie om nie. Ek het dit al baie gehad en is dit gewoond, maar nog nooit
het iemand na die tyd verskil of nie met my saamgestem het nie: Kry maar ‘n lekker botteltjie rooierige
konfyt van een of ander bessie-oorsprong byderhand en rond jou broodjie daarmee
af. Dis nie net die Moolmans wat dit so eet nie, maar verskeie streke en kontreie
op die Europese vasteland ook.
Geniet.
No comments:
Post a Comment