17.9.11

Hoenderlewerpaté


En so het my twintigste interhoër (die meeste daarvan op Pilditch-stadion in Pretoria) gekom en gegaan. Ek onthou, benewens somer, son, boggerol saffier en strome sweet, uit voorste jare ook reën en modder en gly op walle en swart asbliksakke vir reënjasse. Ek onthou die twee girls wat die seuns een aand met geld in hul sakke laat toustaan het by ‘n geboutjie wat afgebreek is toe hulle die plek ‘n nuwe stadion gegee het.

Maar die meeste van alles onthou ek Betty (of was dit nou Bettie, sy is ook al meer as tien jaar oorlede) wat selfaangestelde hoof van die skool se Interhoër-verversingskomitee was.

Spyseniering vir eregaste en beamptes is mos altyd van so ‘n aard dat volgende jaar se gasheerskool wil verbeter op hierdie jaar se gasheerskool (wat op hul beurt weer die vorige jaar se gasheer die loef wou afsteek).

Maar dan is daar die plebs, die outjies op busdiens, pawiljoendiens en terreindiens, die outjies sonder ‘n gestempelde kaartjie met ‘n lintjie aan ‘n koperspeldjie, wat toegang bied tot die Skilpad-saal of eregaste-losie met ‘n verskeidenheid kouevleise en slaaie.

Deesdae stop hulle jou ‘n R50-00 in die sak en is jy oorgelewer aan wat ook al die gasheer se mammas en pappas te koop aanbied, watter ventertjies en kraampies ook al toegelaat word om handel te dryf op die terrein.

Maar nie in Bettie (sy was ‘n Engelse juffrou, so miskien is dit Betty) se dae nie.

En ja, daar was tóé ook hamburgers van twyfelagtige oorsprong met blaarslaai wat soggy raak in die mikrogolf, te klein Vienna’s in te groot broodrolle sonder botter en boerworsrolle van pet’s mince.

Maar vir Betty was dit ‘n kwessie van eer dat die plebs nét so lekker, indien nie lekkerder nie, as die outjies met die kaartjies op hul borste eet. Terwyl die kunsjuffrou rekwisiete verf, beplan Betty haar spyskaart en deel sy takies uit. As die houtwerkmeneer die dirigente se podiums aanry, ry ander mans tafels en braaiers en sambrele vir Betty se piekniek aan.

Ons doen dit in styl, aan die oostekant van die paviljoen.

En maak nie saak wat vir middagete was nie, jaar na jaar moes ek my hoendelewerpatee teen tien-uur gereed hê. Bedien, natuurlik, saam met watter gesondheidbroodresep ook al daardie jaar die gewildste in die mees onlangse Huisgenoot se Wenresepte was. (Gelukkig was dit nie ook my baba nie.)

En my hoenderlewerpatee is dit ook nie, dis my skoonsuster se resep. Ek het die resep gehad en met groot sukses gemaak. Ek het die resep weggegooi en weer gekry, hierdie keer vir jare agter op ‘n troukaartjie, maar die laaste paar jaar met die hand oorgeskryf in dit wat hopelik eendag Klaradyn se familie-resepteboek gaan wees.

(Maar verbeel ek my nou al hoe meer dat ek hierdie resep wel al gedeel het. Ek het dit einde verlede jaar gemaak vir ‘n do waar ons ‘n voorgereg moes vat. En dan is dit ‘n resep wat ek nie sal maak sonder om dit nie te deel nie, maar waar ek nou is, het ek nie internet-toegang nie. As ek het, vergeef my, maar wat die maag van vol is, loop die mond van oor. As jy dit dan al op die proef gestel het, wag tot more:  toe ons die afgelope naweek Kaap toe is vir Ouma Kapie se negentigste verjaarsdag, het ek ‘n ander heerlike hoenderlewerpatee, net so lekker maar gans anders, gemaak wat ek onderneem om more te deel.)

Jy benodig vir Skoonsus se patee:

·         twee bakkies hoenderlewertjies

·         een pakkie sampioene

·         een groot ui

·         een teelepel suiker

·         twee hard gekookte eiers

·         een pakkie spekvleis

·         een kannetjie room

·         een of twee eetlepels tamatiepuree

·         sout en peper

·         halwe koppie brandewyn

·         ses eetlepels botter (om gesmelt bo-oor te gooi en die dis te verseël)



·         Dan braai jy nou die uie en die spekvleis tot jy dink dis reg.

·         Dan braai jy die hoenderlewers daarby tot jy dink dis nog nie heeltemal reg nie.

·         Gooi dan die res by en as dit kook sal die hoenderlewers gaar en steeds ferm wees (sonder dat dit bitter raak)

Of die lewer regtig bitter kan raak as jy dit te lank op die hitte het, weet ek nie, maar Skoonsus het my daarmee bang gepraat en ek gaan wragtig nie eksperimenteer om te kyk of sy die waarheid gepraat het nie.

·         Sodra die lewertjies na jou mening nie meer pienk is nie, maar bruin genoeg na jou sin en waaragtig nog nie bitter nie, verpulp jy dit. Boers en rustic en grof, is lekker, fyn en verhewe tot ‘n room is net so lekker. Verseël met die botter en geniet. Onthou dit hou nie vir dae en weke in ‘n yskas nie, maar vries baie goed.

En nou help dit nie jy e-pos of bel of “kommentaar” my om uit te vind hoe swaar daardie “twee bakkies hoenderlewers” moet wees nie, 2 x 250 g of 2 x 500 g nie. Ek weet nie; my skoonsuster ook nie meer nie. 2 x 250 g lewer ‘n lekker patee, 2 x 500 g lewer ‘n lekker hoenderlewerpatee.

Die sampioene is met sekerheid 250 g en die room 250 ml.

Moenie op die brood of melba-toast smeer nie, plak en pleister eerder soos met ‘n troffel.

En dan kan jy nou maar gril en fiemies en neerkyk en ril en verontwaardig ‘gmf, ek gee nie om nie. Ek het dit al baie gehad en is dit gewoond, maar nog nooit het iemand na die tyd verskil of nie met my saamgestem het nie:  Kry maar ‘n lekker botteltjie rooierige konfyt van een of ander bessie-oorsprong byderhand en rond jou broodjie daarmee af. Dis nie net die Moolmans wat dit so eet nie, maar verskeie streke en kontreie op die Europese vasteland ook.

Geniet.


No comments: