Watter of wie se plaas
dit was, weet ek ongelukkig nie meer nie. Dit was beslis nie een van die plase
wat ons gereeld besoek het nie, want dan sou ek onthou het.
Ek sien die vertrek
voor my, nie veel groter as my huidige studeerkamer nie, ‘n hoë trap wat lei na
die houtdeur. Deel van ‘n buitegebou.
Binne was ‘n groot
houttafel soos die boere gehad het, en baie houtrakke teen die kante. Ek onthou
die rakke leeg. Dit was ‘n werksplek, nie ‘n stoor plek nie, en ek stel my
vandag voor dat die vertrek met die loop van die seisoene en die normale
sikliese gang op ‘n plaas, na gelang van die betrokke aktiwiteit, deur die loop
van die jaar vol verskeie dinge gestaan het. Plek vir vier of meer pare hande
om die tafel, was daar beslis.
Met my besoek aan die
vertrek was daar ‘n ding, vasgeskroef soos ‘n koffie- of vleismeuletjie. Maar
vleis- of koffiemeuletjie was dit beslis nie, eerder iets wat my as jong seun
herinner het aan ‘n eierklitser. Net, selfs al draai jy die hingsel, kan daar
beslis niks daarmee geklits word nie. Die “klitser” self kyk 180 grade dwars,
en daar is nie ‘n manier of hefboom wat die ding 90 grade in ‘n mengbak staan
kan maak nie.
Ek het al een keer in
my lewe daarna weer so ‘n kontrepsietjie gesien. In ‘n museum iewers. Die Jan
Smuts-huis? Melrose-huis? Maar dit kon net sowel op Stellenbosch, Darling of
Clarens gewees het. Dit sou kon deurgaan as ‘n laat-Victoriaanse-utensil, hoewel daar heel moontlik ook
van hulle kan wees wat heelwat jonger is.
Dit was naamlik, wat ek sou noem, ‘n gadget wat geelperskes skil. Jy het die perske hier van sy ners af penetreer met ‘n iets, hom stewig sit gemaak en slinger gedraai. Die goed wat my aan ‘n eierklitser se draadwerk herinner het, het dan hier van buite af korte mette met die perske se skil gemaak. Groot perskes, kleinerige perskes, heel klein perskes en outsize perskes, dit maak nie saak nie. Daar moes ‘n veertjie of ding gewees het wat die se middellyf takseer het en sy lemme het net gesny tot daar waar die skil ophou en die vleis begin.
Te lieflik. Daar was
perskes in die boord, so ek kon heerlik speel.
En dit is, vermoed ek
ten sterkste, waar dit alles begin het — my fassinasie met ‘n kontrepsie, utensil, of gadget. Hoofsaaklik toegespits op die kombuis, met tog ‘n
natuurlike aantrekkingskrag vir enige iets wat elders ook gebruik kan word, van
die skrynwerker se werksbank tot die swembad se aorta, hartkamer, lewer en
niere.
So moet ek nou die dag
knoffel aan stukkies kry aan huise van vriende. Ek is hier weg met vier
variasies op die tema van knoffel fyn kry, maar dit net omdat ek die vyfde een,
die een wat ek eintlik wou gebruik, nergens kon opspoor nie. Ek het ook
saamgeneem ‘n spanerige ding met hefboom, knypers en sitvlak wat adverteer is
as die wêreld se enigste knoffelskiller. ‘n Lieflike ding om te hê, hy werk,
maar nie so ‘n lieflike ding om te gebruik nie — dis net soveel vinniger met ‘n
skerp messie wat ‘n breë lem het — reg vir oordwars kneus en velletjies afvryf
met ‘n vinger. (Terloops, het jy eers jou knoffel kaal, is daar niks so goed
soos sout, om die knoffel fyn aan stukkies mee te sny nie — ‘n stewige hand, ‘n
teelepel en ‘n iets of wat sout, werk daai knoflok aan flarde.)
Ek kan hulle opnoem,
daar is talle. ‘n Patent wat in vier of vyf omwentelings van die swingel jou
pynappel skil en die harde stronk in een reguit lang worsie asblik toe stuur.
Twee shredders wat korte mette maak
met kruie. En is dit te fyn na ‘n mens se sin, het ek nog die dubbelband-kaplem-sig-sag-nipper-en-snyer
wat soos ‘n bom werk. Hier’s twee goeters wat gekookte eiers kan afwerk tot
Bybelblaadjies, so dun. (Nie dat ek dit al ooit gebruik het nie.) Hier is ‘n
ding wat enige iets julienne, van wortels en ertappels tot seldery en pastats
(sou jy daaraan behoefte toon). Hy het ‘n boetie ook, en was die ding nie van
twintigste-eeuse plastiek nie, sou enige mens kon dink dit hoort eerder tuis in
‘n museum vir Middeleeuse marteltuie, of selfs iets uit die Markies de Sade se
persoonlike versameling van ‘n klompie jare later. Dit staan bekend as ‘n 1-Chopper, 2-Dicer, 3-Slicer, 4-Shredder,
5-Mincer, 6-Julienne Cutter, 7-Masta Maker and 8-Meat Tenderizer en ek
verbeel my ek het een keer in ‘n seksmuseum iewers in Amsterdam iets gesien wat
daaraan herinner.
Na ‘n skou of ding vat
ek net genoeg kontant vir ‘n koeldrankie en ‘n ietsie te ete. Niks meer nie, en
my debietkaart, om van ‘n krediet kaart nie eers te praat nie, bly by die huis.
Dis natuurlik penny wise, pound foolish, want
toe kos dit my nou die dag, al die pad met ‘n visitekaartjie in die hand,
deurry Doornfontein of Fordsburg in Johannesburg toe. Al die pad agter ‘n
versapper aan wat ek by die skou gesien het. Die ding maak glo selfs sop van
rou groente en kookwater, maar daarvoor het ek heeltemal te Boers groot geword.
Vir my sop maak ek ‘n
ses- of sewetal ander kontrepsies en dingetjies vuil wat na die tyd opgewas en
–ruim moet word.
Maar net so was dit
middel verlede jaar dat ek na sewentien of agtien, negentien jaar se goeie
dienslewering met ‘n letterlike brandpyn in my hart ontslae moes raak van ‘n slicer wat ek in die omgewing van 1980
by die Randse Paasskou gekoop het. Dit was nog voor die skougronde geskuif het
en jy moes inslaan planetarium se rigting toe om daar te kom.
Hierdie slicer was die eerste van sy soort
waarop ek ooit my oë gelê het. Later jare het daar meer gekom en vandag skop jy
hulle agter elke bossie en afslagtoonbank uit. Maar daardie was ‘n eerste vir
Suid-Afrika. En ek was op skool, in standerd agt, en ek het een gekoop.
Niks wat daarna gekom
het kon by hom kers vashou nie. Die ding was seker die laaste tien jaar nie
meer wat hy was by geboorte nie, en ek het ‘n tweede, soortgelyke iets gekoop.
Die tweede het ongebruik in die kas gebly, terwyl ek die oorspronklike nog
verder uitgeslyt het. Ek het later ‘n tweede, en ‘n derde plaasvervanger
gekoop, maar selfs met vier van die goed in die kombuis, het ek vasgebyt tot
die allerlaaste.
En elke keer, gebruik ek plaasvervanger nommer drie met weerwil, hunker ek na die ou staatmaker, die real makoya uit die vroeë jare tagtig.
‘n Ander utensil wat uit die jare sewentig,
indien nie sestig nie, dateer, is Ouma van Wyk se rasper. Dit het by my al
soort van die status van ‘n family
heirloom. Jy maak die ding staan bo ‘n bakkie of op ‘n plank, dan deponeer
jy jou wortels, of wat ook al aan het rasper moet kom, in so ‘n kompartementjie
bo een of ander ronde lem van geskikte breedte en diepte. Dan druk jy die
wortels teen die lem vas met die een hand, en draai die lem met die ander hand.
Primitief, maar o, so effektief.
Verlede jaar toe
Klaars se grootjie in die Kaap 90 geword het en ek pa moes staan vir vier
geslagte se spyseniering was dit die een en enigste utensil wat ek afgevlieg
het onder toe.
En is die ding sterk!
Ek het al ‘n staaltafel se pote onder hierdie viervoetige klein raspertjie
geknak, dat ek en slaaigroente en –bakke met onse gesigte op die grond beland —
so hard en aanhoudend moet ‘n mens druk om ‘n wortel uit sy geboortepakkie en
aan stukkies te kry. Die ding werk eintlik beste as een met beide hande en ken
die wortelhefboom druk, en ‘n ander met beide hande die slinger draai. Spanlede
kan mekaar om die beurt aflos — dan werk dit beste. Ek vermoed die ding is
ontwerp in die dae toe motors nog met ‘n slinger aan die gang gedraai is, met
ons een-en-twintigste-eeuse arms gaan dit maar sukkel-sukkel.
Nou wat van ‘n
Kenwood, een van hierdie mixer-mincer-shredder-liquidisers,
wat, as jy gelukkig is, op die koop toe ook hare droogblaas en skoene politoer?
Vergeet dit. Ek besit
nie so iets nie. Ek ontsien myself die moeite om dit uit te pak en op te stel.
En ek spaar Annieka die moeite om dit op te was en weg te pak, daarby. Kry ek
een, sal dit suiwer wees ter wille van die vleismeule en worsstopper. En beide
het ek, van yster, wat staangemaak moet word op ‘n tafelblad. En is ek die jaar
lui om dit te gebruik, skiet ek deur na Ouma toe. Die een of twee keer ‘n jaar
wat haar wit olifant in elk geval gebruik word, is wanneer ek hom leen.
Dan het ek in elk
geval al op laerskool, in die grade nog, ‘n gly in die goed gekry. Ons praat
nou van die baie vroeë sewentigs. Sien, my pa was self ‘n gadget queen par excellence. En toe die eerste van hierdie
alles-in-een mikrokombuise die
Suid-Afrikaanse mark tref, is my pa die eerste om een vir sy vrou te koop. Ag,
en dis nie drie weke nie, toe wil hy kyk of hierdie ding die biltonge wat in
die dak gehang het, ook so mooi kan kerf soos komkommer. En daar brand die
stomme masjientjie vas, en uit, en oor en verby.
Kry egter enige ander
foefie op die mark, en ek koop hom aan.
Ek het in my lewe nog
nooit juis boontjies op groot skaal moes kerf nie. Maar, o, by die boeremark is
daar ‘n man met ‘n patent — enige boontjiekerwer en tannie of oom wat
kerrieboontjies aan die tuisnywerheid lewer se droom. Ek waarborg ‘n eerste
prys op enige landbouskou se tuisvlyt-afdeling in die kategorie gebottelde
boontjie, draf jy jou bone met die elektriese kontrepsie kaf.
Koop gaan ek hom koop.
Net vir ingeval ek hom eendag nodig sou kry.
So soek ek al vir jare
‘n ding wat soos ‘n ystangetjie lyk, maar nie ‘n ystangetjie is nie, wel ‘n
olyfontpitter. Ek het gemiddeld so een keer elke drie jaar behoefte daaraan om
‘n olyf te ontpit, en dit sal dan vir my so lekker wees om die ding op te spoor
in een van die baie kaste gevul met sinnelose kombuis-clutter.
Maar eintlik gaan dit
nie oor die olywe nie, ek wil kyk wat die ding met lietsjies doen. Oor hoe lief
ek vir lietsjies is en wat ‘n mens alles daarmee kan doen, gaan dit nou nie
hier nie. Die geneuk met ‘n lietsjie is bloot die feit dat daar net een manier
is om ‘n lietsjie af te dop: Jy knak hom oor die helfte met jou twee stelle
voortande, jy druk die een helfte skil los (die dop kraak aan twee, so skoon
soos langs ‘n voeg) en in ‘n bak met die halwe dop. Nou glip jy die vruggie uit
die ander helfte soos ‘n glipperttjie (catawba) in jou mond in.
Nou maak ‘n mens ‘n
dis van hierdie vruggies — moenie geblikte lietsjies naby my bring nie — wil ‘n
mens darem hê elke tweede of derde lietsjie moet nie in jou maag nie, maar in
die gaste se borde beland. Dan glip jy elke dan en wan met sukses wel ‘n
vruggie in die bak — dit verg baie inspanning van my, maar ek kry die reg. En
het ‘n mens eers die vaardigheid van vruggie-uit-en-losglip-van-die-dop
bemeester, is dit redelik maklik om die vruggie in ‘n bakkie te laat land. Nou
eet jy sowat die helfte van jou bakkie naaklietsjies en die res is vir die
gaste.
En dis hier waar ek vermoed die
onvleiende geneuk kom — jy wil die pit uit hê, maar darem nog iets van die
lietsjie ook. Probeer jy ‘n stomp mes, sit jy met sop en iets wat herinner aan
‘n stukkie calamari waaroor die ganske Geallieerde Magte nou net in
pantserwaens gery het. Vat jy ‘n skerp mes, dan sit jou gaste met stukkies dop
in bord.
Daar is net een manier
wat werk: jy byt tien teen een met symste twee stelle tande wat so van effe klaar gespeel het
met die dop, deur die hemelse stukkie wit vleeslikheid. Registreer jou brein
dis ‘n klein pitjie, dan eet jy die lietsjie dadelik self — ‘n lietsjie met ‘n
klein pit en baie vleis is ‘n luukse wat nie voor die swyne gewerp word nie. Is
die vruggie gelukkig genoeg om wel bedeeld te wees soverre dit die pit betref,
dan raak jy nou versigtig met jou vingers van die vleis ontslae. En jy kry
toegang tot die pit juis langs die twee snitte wat jou tande nou net voorberei
het.
Daar is niks anders
wat werk nie. Vra maar enige mens wat kos maak met vars lietsjies.
En so lief soos ek vir
lietsjies is, kom ek by mense en ek sien daar is omgegaan met ontpitte vars
lietsjies, dan sit ek nie mond daaraan nie. Annieka wat my goed ken verstaan
dit nooit nie, maar ek swyg soos die graf. Miskien as sy hier gelees het sal sy
begin verstaan, en die gasheer of –vrou se lietsjiegereg voortaan ook maar ‘n
koue skouer gee.
Ek het een keer die
fout gemaak om aan huise van baie goeie vriende van ons te vra, iets soos: “Van
die een kosmaker aan die ander kosmaker — hoe kry jy jou lietsjies so mooi
ontpit?” (Nogal maklik om ‘n lietsjie uit te ken wat op die een en enigste
regte manier, en sonder toegang tot industriële masjienerie ontpit is, uit te
ken.)
Die antwoord was
kortweg, bloot: “Jy wil nie weet nie.”
En toe weet ek.
So sonder om te veel vrae te moet vra, laat ek die lietsjiebord dan maar eerder net by my verbygaan.
En hier is ek al weer
hopeloos oor my woordlimiet sonder dat ek uitgekom het, waarby ek wou uitkom —
Annieka se een Kerspakkie van verlede jaar.
Kyk, dis wat ‘n Kers- of verjaarsdagpakkie vir my so maklik maak: nooit hoef jy te wonder oor watter sakdoeke, grootte onderbroek of kleur das jy vir my hoef te koop nie. Jy knyp jou oë toe voor die rak waar al die kitchen utensils hang en trek die eerste ding af waarmee jou vingers kontak maak.
Synde nou my vrou,
moet Annieka darem egter ‘n bietjie dieper die winkel instap, daar tussen die
bokse en dinge in. En dit wat sy eerste omhels kan maar met vrymoedigheid
winkeltrollie toe.
Hierdie jaar is dit
toe nou ‘n omelettepan wat sy eie omelette vanself toe- en omvou, verseël warm
hou. Al waarvoor jy moet pa staan is die versending bord toe.
Op die prentjie lyk
dit maklik, op die televisieadvertensie verloop dit seepglad keer op keer. Op
keer. Maar ai, ek vermoed hulle het ‘n waslap of ‘n ding in die middel van
hulle televisiemodel modelomelette versteek. My omelette knak almal aan twee,
dop ek nou die twee flappies eier met die
mobiele panbodems om. En knak hulle nie, dan flop hulle onder deur die
twee flappies deur, en dan sit ek met ‘n gemors — ek kan nie die flappies, met
my duime in die lug gehou weer laat lê nie, daar waar hulle lê, lê nou my eier
en kaas. En ag, dis net een groot gemors.
Maar dis wat so
wonderlik is van hierdie goed, selfs al werk dit nie so goed en maklik soos op
papier en beeld nie, dit maak nie saak nie. Elkeen van die goeterstes kom met
die alleroulikste resepteboekies, wenke
en dinge. En as daar een ding is wat hierdie pan se mense wel baie
deeglik kon doen, dan was dit om die verruklikste omelette-resepte saam te
stel.
Ons eet nou al twee
keer ‘n week omelette, elke keer ‘n nuwe trefferresep. Weliswaar eerder
flatervol as flatervry dat die skeppinkies op die bord beland, maar wat maak
dit saak. Alle kos gaan tog stukkend maag toe.
Dankie my vrou, vir ‘n
lieflike kerspresent tussen al die ander waarmee jy my bederf het.
No comments:
Post a Comment