Dis darem
maar hartseer, noudat ‘n mens groot is, waaroor gesprekke nie alles draai nie:
geld en politiek en kinders en godsdiens en die geld, politiek, godsdiens en
buite egtelike kinders (en ander verbandhoudende sekskursies) in ons
Suid-Afrikaanse sport- en vermaaklikheidslui se lewens.
Nooit meer
vra iemand jou “my gunsteling groente is dit en dat, en joune?” nie. Wanneer
laas het iemand gevra watter kos jy sal wil hê voor hulle jou in een of ander
elektriese stoel of ding teregstel nie?
Miskien het
dit te doen met die feit dat die doodstraf afgeskaf is en moet ek eerder met
ywer inskakel by die groepe wat hulle beywer vir die herinstelling daarvan.
Hierdie
lawwe vraag was destyds op skool ‘n gewilde onderwerp gebore uit tweede-pouse-verveling
wanneer jou huiswerk klaar afgeskryf en toebroodjies ook al op was.
Later van
tyd het dit egter dodelike erns (sonder die dood, natuurlik) bygekry tydens jou
twee jaar diensplig, as jy ses maande later gereed maak vir jou seven of fourteen days pas, en was
jy ‘n hond, het jy sweerlik aan die kwyl gegaan bloot by die gedagte aan die
kos wat jy mis.
Toe ek twee
jaar uitklaar was my hele vriendekring op civvy-straat
via voortydige briewewisseling gerat vir ‘n uiteet waar ek boere-kookkos kon
geniet, in oormaat. En is ons, ironies genoeg, na die restaurant oorkant die
Mark-teater in Newtown, Johannesburg waar jy propperse opgekookte groente kon
geniet.
Maar synde
niemand ooit meer vra nie, sê ek dan maar:
myne is boereboontjies of Dutch beans soos my Engelse skoonsus dit noem,
groenbone op die boeremanier gaargemaak — groenboontjies, ertappel, ui,
tamatie, sout, baie peper en botter, so fyn gedruk soos jy lus voel.
Ek eet ‘n
sopbak vol vir middag of aandete, ek eet dit warm of koud en het kleintyd by ‘n
maatjie se ma geleer dis die volgende dag heerlik op brood.
Met diep
teleurstelling ook dat ek nou hier sit en tik — die kooksel wat ek al 9:00
opgesit het vir vanaand se aandete, het te min opgeëindig dat ons vanmiddag al
daarvan kan hê.
En vir die
res bly ons by groen, hou wit en geel maar verby as dit gaan om gunstelinge en
terwyl ek vasgesteek het by groente. In voorkeurvolgorde dan naas
groenboontjies: spinasie in enige vorm, brokkoli en Brusselse spruite. Net nie
ertjies nie. Lees ek op universiteit nog, van hierdie een sjef en koskenner wat
gesê het, sonder om dubbelsinnig of snaaks te wees: “I had a pea… once.” Ditto, wie hy ook al
was.
Vir wortels
is ek ook lief, maar dan soos Tannie Lenie dit gemaak het: presies soos die
boereboontjies, net minus die tamatie. Hou net enige iets soet verby, sommer
ver verby.
Overgesetsynde
dan eintlik maar enige stamppot-gereg soos die Hollanders dit maak: ertappels
en een of meer groentesoort fyngestamp.
Ek het een
keer stamppot ge-google en die wonderlikste
eenskottel-groentegeregte afgelaai. Nogal jammer dat daar van al die baie, net
boereboontjies en boerewortels oorgebly het. Ook maar by die stamppot-tradisie
dat ons in dele van die land byvoeging van spekvleis en allerhande gerookte
spekkighede en dinge kry.
Hulle sê ‘n
gesin eet maar wat die pa voor lief is, so asof die patriarg sy kosvoorkeure op
die vroutjie agter die kospotte afdwing. In ons huis werk dit andersom, Pa kook
en sy Brusselse spruite is ‘n uitsondering op die tafel. Ma se voorliefde vir
enige soet geel ding kom dan meer gereeld, letterlik, ter tafel.
In die
besonder dan ook, pampoen, met suiker, geelsuiker, bruinsuiker,
demerara-suiker, stroop, heuning en wat ook al dit soet sal maak saam met ‘n
goeie knyp kaneel. Pa se porsie word voortydig uitgeskep, sout, peper en botter
is voldoende dankie,
Gunsteling
maaltye hang af van die seisoen. Ek volstaan maar by die volgende vier, in geen
volgorde:
Beesstert
en rys, mielierys, stampmielies of kaboemielies
Pekelvis en brood met botter
Kouevleis (self voorberei) en slaaie
Tuisgemaakte sosaties oor die kole
Pekelvis en brood met botter
Kouevleis (self voorberei) en slaaie
Tuisgemaakte sosaties oor die kole
En,
natuurlik, vars wit brood met botter. Oorval ‘n warm winkel-broodrolletjie se
geur en gloed my, enige plek, maak ek summier ‘n draai by die yskas en koop ‘n
klein bottertjie of ‘n klein bakkie Butro,
wat ek later by die huis kan bêre en makliker smeer as jy die brood daaroor
trek. Dan is dit ek en die kar en my brood en botter, voor ek huis toe gaan.
Selfs al is die huis net om die draai.
Nie dat ek
vir brood en botter sal vra op die oggend van my teregstelling nie. Die brood
kan styl wees, die botter margarien. En margarien is niks anders nie as swart
ghries wat hulle goudgeel kleur met ongesond giftige kunsmatige kleurstowwe.
Ek sal maar
vra vir die meal of the day op
voorwaarde hulle gee my ook ‘n liter yskoue volroom melk, nee, maak dit twee
liter. Plaasmelk hoef dit nie te wees nie, dit kan maar ekstra gehomogeniseer
ook wees en uit ‘n karton. Maak nie saak nie, want met ‘n melksnor oor my bolip
stap ek my toekoms, enige toekoms, glimlaggend tegemoet.
No comments:
Post a Comment