My ma se
suster, Tannie Anne, is seker so nege jaar gelede oorlede. Alzheimer.
Die derde
laaste keer wat ek haar besoek het, was my en Annieka se eerste besoek saam aan
haar vandat sy in die ouetehuis ingetrek het.
Sy was nie in
haar kamer nie, maar in die eetkamer. Ons het in die deur gestaan en sy het
lank en vraend na ons gekyk. Anders as my ma het sy duidelik te kenne gegee dat
sy wonder wie ons is. Ons het ons self voorgestel en toe lekker gekuier, maar
of sy ons enigsins geëien het, het ek nie destds geweet nie. En weet ek tot
vandag nie. Die manier waarop sy na ons gekk het, die nuuskierige vraagteken
oor haar gesig is wat my bybly, en altyd sal bybly.
Die tweede
laaste keer was enkele maande later. Teen hierdie tyd was sy uit die ouetehuis
en aan huis van haar seun, seker so twee uur se ry van my ma af.
Ek en Annieka
het my ma deurgery sodat sy haar suster kan sien.
Net op my ma en
haar seun wat sy reageer het, asof ek en Annieka geensins in die vertrek was
nie. Haar “reageer” was ook maar beperk, want sy was, selfsugtig soos ‘n kind,
net ingegskakel op haar eie klein wêreldjie, ‘n klein wêreldjie waarin sy die
een oomblik koud gekry het an ander klere wou aangtrek, en die ander oomblik
weer warm gekry het, en opnuut wou verklee. Toe wou sy in haar pajamas. Dan wil
sy in die een stoel, dan in die ander.
Ek en Annieka,
ons is beide sissies, het getjank; nie my ma nie – met liefde en geduld en
begrip het sy die kuier deurgesit. Haar kalm, beheersde,en nugter self. In
belang van haar suster.
Sy het haarself
ook nie toegelaat om op pad terug Alberton toe te huil nie.
My laaste
besoek was nie twee weke later nie. Annieka is nie saam nie. Weer het ek my ma
deurgevat. Hierdie keer ‘n ander omliggende dorp; Tannie Anne is nou bedlêend
in die een of ander hospitaal.
Die eerste wat
my opgeval het is die feit dat was asof sy geneties verander het – asof God in
haar ingespring het en haar gelaatstrekke op haar oudag herprogrammeer het.
Haar hare was
nie rooi nie, maar wortel; meer nog dit was asof sy dit ge-frizz het, soos ‘n afro
wat effe uitgekam is.
Die struktuur
van haar gesig, haar hele profiel, het ook in skaars twee weke verander. Dis
nie dat sy uiterlyk gelyk het of sy agteruit gegaan het nie, of oornag oud
geord het nie, gensins; dis net dat sy ‘n total
make-over gehad het.
Haar stem was
dieselfde.
Die vreemde
nukkerige korrelkop van ons vorige besoek was dood. Sy was nou net hulpeloos,
dis al, niks meer nie; niks minder nie.
Die tweede ding
waarvan ek binne enkele minute bewus geword het, was die feit dat die volle
omvang van haar hede en verlede beperk was tot hoogstens 40 sekondes, waarna sy
keer op keer in ‘n ligte slaaptoestand weggedommel het.
Net om ‘n
minuut of wat later weer wakker te word, vir 40 sekondes in kontak met die hede
(haar hede en hele verlede) te wees, en dan weer weg te sink in slaap.
Met
slaapintervalle van hoogstens 2 minute was sy elke keer, opnuut, tegelyk baie
bly en verbaas om my ma te sien. Sy wou elke keer by haar sus weet waar sy is,
en sodra my ma haar vertel het waar sy is, wou sy weet hoekom sy daar is.
Dis 9 jaar
later, maar ek onthou dit soos gister:
“Waar is ek, Judy?” en “Nou wat maak ek hier?”
En elke keer,
oor en oor, het my haar, met dieselfde liefde en geduld van altyd, vertel.
“Jy’s baie siek
en in die hospitaal, Anne. Jy kan nie meer goed onthou nie, maar met my en met
Ivan gaan dit goed.” (Ivan is haar seun.)
En het sy nie
weggedommel voor my ma klaar vertel het nie, was ‘n verlede van enkele sekondes
gelede klaar uitgewis en het sy haar vrae maar net van vooraf begin. Selfde
verbasing, selfde infleksie. Selfde hulpelose ontredderdheid (as daar so iets
is).
Ek is na 20
minute uit. Eers gang toe, toe nog verder, tuin toe, kar toe, vars lug toe,
oopte toe.
Ek het nie weer
oor Tannie Anne gehuil nie. My liewe donder – ek is immers ‘n groot uitgevrete en
getroude man.
Dis my ma wat
my hierdie keer in trane had, ek al die pad so ‘n entjie agter haar, van die
kamerdeur, met die gange langs, tot by die kar.
Ek verbeel my
my ma was haastig om by die kar te kom, maar miskien wou ek my (ons?) die
verleentheid spaar.
Om jou drie en
sewentigjarige ma, dapper en moedig op sterfbedbesoek aan haar tagtigjarige
suster, te aanskou, vat trouens selfs aan pissies veel sterker as ek.
Hierdie keer
het my ma op pad terug in die motor na ‘n tissue
gesoek. Verskeie kere. Ons het beide geweet. Dit was duidelik.
Ek het van die
begin af ook goed geweet wat ons hier kom soek het: Op my ouma se sterfbed die nag, het Ouma my
ma laat belowe om na Anne om te sien. My ma het die ou argument, dat Anne die
oudste van die twee susters en die een is wat na my ma moet omsien, gebruik.
Maar, soos van te vore, het Ouma die argument gewen met iets soos: “Judy, jy ken Anne net so goed soos ek, jy
weet jy is die een wat na haar sal moet omsien, jongste of te not.”
En my ma het
geweet haar sterwende ma is reg, en tien jaar later steeds haar woord gestant probeer
doen. Al het dit ook beteken dat sy my van Pretoria af op Alberton by haar moes
kry, en daarna weer al die pad tot iewers in die Vrystaat. En terug. Weg van my
vrou, die hele dag.
Maar niks
hiervan het die stilte al die pad terug huis toe verbreek nie.
En nie drie dae
later nie is Tannie Anne dood en het ons in ‘n kerk, genadiglik op Alberton
hierdie keer, van haar afskeid geneem.
Ek het een van
die kerse wat ek self vir my en Annieka se troue gemaak het, in die kerk brand
gemaak en vir Ivan gegee, na die tyd.
Anne se as was
vir seker vier jaar in die kassie langs my ma se bed.
Met die laaste
besoek aan my ma in haar ou kamer, voor sy getrek het na die Alzheimer-vloer,
het die houte kissie ewe makaber langs die blikkie koekies, neffens die boksie
sjokolade in die snoep-kas, sy opwagting gemaak.
Maar Ivan het
intussen die as gestrooi waar hy dit goed gedink het, en die houtkissie na
afloop daarvan aan my ma terugbesorg.
My ma het my so
drie weke gelede uit die bloute gevra:
“Wat hoor jy van Anne?”
Ek wou my ma op
daardie oomblik nie ontstel nie, en het gesê dit gaan goed. En die gesprek
dadelik in ‘n ander rigting gestuur.
Maar dis nie
waarby ek wil uitkom nie. Miskien nie eers by Tannie Anne nie.
Tog staan my
gedagtes nou al ‘n klompie maande stil by Tanne Anne, wat drie dae voor haar
dood, toe haar werklikheid beperk was tot slegs veertig sekondes elke minuut of
so, nooit vergeet het wie my ma was nie.
Haar hele
verlede was uitgewis. Haar seun het trouens selfs laat weet sy het hom ook nou
afgesterf, en as my ma wil afskeid neem moet sy dit gou doen. (Daarom dalk ook
hoekom my ma telkens met haar laaste besoek so ongevraagd na hom bly verwys
het, so asof sy ‘n vlammetjie wat reeds gedoof was, nuwe suurstof wou gee, om
te kyk of dit nie weer vlam vat nie.)
En tog het
Anne, weliswaar met intervalle van minute, elke keer met my ma gepraat en
presies geweet met wie sy praat, haar telkens op haar naam aangespreek. Haar
selfs ge-Joekie en ge-Juds, familietroetelnaampies uit die dae
toe hulle nog saam op skool, op vakansie en nog later vir jare saam aan die
stuur van ‘n rokkewinkel was.
Medici wat
daagliks met Alzheimer-pasiënte werk, sal seker sê dit gebeur wel.
Maar vir my is
dit ongelooflik dat ‘n brein wat drie dae later nie meer genoeg van homself oor
had om vir die hart te sê om te klop nie, om sy boodskap by die longe en ander
organe tuis te bring nie, ‘n brein wat elke twee minute van nuuts af aan ‘n
hede en ‘n werklikheid moet skep, steeds sy ligaam se suster, wat sy slegs drie
keer in seker ses maande gesien het, kan oproep.
Die wegvrot van
die brein neem ‘n duisend vorme aan, ek weet. Maar tog hoop ek dat ek net so,
so soos Judy by Anne was, tot op die einde deel van my ma se hede en
werklikheid sal bly.
Maar ek weet ek
het geen waarborg nie.
En nog ‘n
ding: As ek overly concerned oor die ou vrou oorkom, dis oor ek in haar so ‘n
donders goeie voorbeeld gehad het – sy verdien dit om nou te ontvang presies
dit wat sy destyds met soveel sorg en liefde en geduld en begrip uitgedeel het.
Enige iets minder sal haar stroop van die rolmodel wat sy was, en steeds is.
No comments:
Post a Comment