dink
denk dank donk dunk
As
jy my nou wil uitdaag tot 'n intellektuele gesprek, nee, as jy my summier
opgeklits en gramstorig wil hê, dan moet jou antwoord nou “niks nie” wees.
Dis
nou in antwoord op my vraag rondom wat dit is waaraan jy dink.
Ek
is die mening (en baie beskeie is dit ook nie noodwendig nie) toegedaan dat dit
vir 'n mens wat wakker is, onmoontlik is om nie aan iets te dink nie.
Toegegee,
jy is nie elke wakker moment van jou dag besig om die land se probleme op te
los, of met die een of ander innerlike konflik te worstel nie, maar jy “dink”
in die sin dat jou brein aktief is, besig is om boodskappe uit die omgewing te
dekodeer: die robot is rooi, daar is 'n voetganger, slek af, die wind waai, my
voet jeuk, of wat die boodskappe ook al is wat jou brein ontvang en
verwerk.
Tot
ek nie aan die slaap val nie, dink ek, ek ek sweer die breinaktiwiteit gaan nog
aan selfs nadat ek aan die slaap geval het... dan kom die drome, rem-slaap en
al daai goed waarvan ek gevaarlik min weet.
Maar
nou wonder ek oor my ma en die bietjie wat daar nog van brein oor is: dink sy, wat dink sy, maak haar gedagtes (vanuit
my perspektief) sin.
Sy
het stil geword, baie stil. Nog nie so stil soos party van die ooms om haar nie
– daar is een wat net lê, en staar, en miskien met sy oë kommunikeer, toelaat
dat sy vrou en seun hom soen (al is dit sonder om sy lippe op 'n plooi te
trek).
So
sal ons Sondag 'n halfuur kuier, ek, Annieka en Klaradyn. Annieka het poeding
gemaak, my ma se gunsteling van die ou dae, en ons vier verjaarsdag. Ek voer
haar.
Die
vermoë om 'n gesprek te voer het verval, haar enigste bydrae in meer as 'n
halfuur die betrokke middag, was: “ja, maar sy het 'n groot wit hoed.” Dit
terwyl ons oor die bestanddele van die poeding gesels.
Nou
wonder ek:
Is
my ma in haar gedagtes by 'n gesprek rondom 'n wit hoed?
Het
haar taal so verval dat sy ons woorde oor poedingbestanddele dekodeer as van toepassing
op iemand se wit hoed?
Of
dekodeer sy reg, maar die brein het nie die vermoë om haar reaksie korrek te
verwoord of te kodeer nie. As die gedagte die brein verlaat maak dit nog sin,
maar teen die tyd dat dit by die tong en die werking van die spraakorgane
uitkom, dan het daar ander woorde in plek geval?
Hoekom
ek partykeer wonder of daar nog enigsins gedagte (denke) te sprake is, is die
feit dat sy nie reageer soos sy altyd reageer het nie:
Sy
raak aan my hand en merk dadelik op hoe warm my hand is. Sy doen dit nie meer
nie.
Sy
sien Klaradyn en sê die kind se hare moet vasgebind word of uit haar oë kom.
Klaradyn kan soos 'n golliwog lyk, sy
sal niks sê nie.
“Onthou
ons is lief vir ma.” “En ek vir julle.”
My
oorle ouma draai sweerlik in haar graf om as sy dit moet hoor, maar ek twyfel
of my ma enigsins ‘n begrip van ‘n god, God, Jesus of die Here het.
Hardop
het my ma nooit haar gesprekke met God aangeknoop nie, in haar gedagtes en
in doodse stilte het dit ook nooit plaasgevind nie – nee, sy het hardop
gefluister, ‘n aks sagter as ‘n verhoogfluister, maar duidelik hoorbaar, sonder
dat ‘n ander haar gedagtes of gesprek presies kon volg.
Die
sibilante s’e en ‘n oorgeartikuleerde –t het my altyd opgeval, selfs wanneer ek
in die slaapkamer is, en sy in die sitkamer haar aandgodsdiens beoefen.
By gebrek aan iets om te sê, sal ek afhaak met: “Ma moet onthou om vir ons te bid.” Tot onlangs het die antwoord, soos altyd, gekom dat sy elke dag vir ons bid.
Deesdae
kyk sy my onbegrypend aan asof sy nie ‘n idee het waarvan ek praat nie.
Maar
miskien is dit oor ek haar “ma” noem en sy nie weet waarom hierdie man met die
baard haar dan nou as “ma” aanspreek nie.
Hoewel
ek twyfel. Sy herken by beslis, sy warm beslis teenoor my op, sy is beslis op
haar gemak by my.
Dis
net dat sy nie meer wil gesels nie.
Of
miskien verstaan sy bloot nie:
“Ma
ek verjaar vandag.”
“Piesang, Ford, menstrueer dertien A?”
“Ek
dog ek stop gou voor skool, dis nou eers sesuur.”
“Monate Thabo kielie
urienweginfeksie!”
“Ek
gaan nou skool toe en sal more weer inloer.”
“Forsh tjoernap polertjie stikst...”
Hoe
sal ek weet?
En
daarmee kan ek tog nie ‘n probleem wil hê nie.
Dis
net dat ek wonder of sy by gebrek aan die bewoording van gedagtes, enigsins nog
dink, wat sy dink, en hoe haar gedagtes sal klink as ‘n mens dit verwoord.
Vanoggend
stap ek net na 06:00 daar in.
Sy
groet dadelik, soos altyd. Die gesiggie helder op.
Maar
vir ‘n halfuur is sy stil.
Ek
wil haar nie so vroeg sjokolade voer nie. Eet sal sy eet, want dis lekker. En
netnou sit sy nie haar mond aan die ontbytpap nie.
Ek
praat, maar sit ook maar die meeste van die tyd net en kyk, en streel, en
probeer warmte en gemoedsrus uitstraal.
ma lyk mooi vandag het jy goed geslaap
kry ma koud hoe voel die been kyk hoe mooi is die plantjies dit word nou warm
hoe voel die been is dit seer hulle het ma se hare sommer spoggerig gekam
vanoggend kom laat ek ma se bril skoonmaak hy is vol spatsels
En
so kan ek aangaan.
Maar
die meeste van die tyd net kyk, terugstaar, kontak, streel, bek vol tande en ‘n
vet onbeholpe sotlike glimlag.
Neem
sy toe die wind uit my seile, twintig minute later wat soos ‘n uur verbytik, want
terwyl ek haar nou sóóó en in stilte aankyk, en ek maar my gedagtes besig hou
met al die strooi wat ek hier bo kwyt geraak het, trek sy vir die eerste keer
los, so helder en nugter en duidelik soos daglig, met niks anders nie as: “En wat dink jy, Oubaas, as jy so vir my kyk?”
No comments:
Post a Comment