Salvador Dali en ander van die surrealiste, so het my
kunsjuffrou my donkiesjare gelede vertel (en ek laat my nou nie vertel dat sy
toegelaat het dat die waarheid tussen haar en ‘n interessante
kusgeskiedenis-les kom staan nie) het glo ‘n boekie langs hul bed gehad, om die
droombeelde waaruit hulle wakker geword het aan te teken, op te teken, en seker
selfs – te teken.
Was dit William Coleridge wat Kubla Kahn geskryf het?
Ja, inderdaad.
Die wonders van die internet, google en iets soos wikipedia darem!
Daar is mos nie ‘n kans dat ek nou sou opstaan en rak toe stap op soek na my
tweedejaar anthology of English poetry
nie – ek sou Coleridge bloot nie genoem het nie, nie juis verder gepla gewees
het oor die moontlikheid dat ek Kubla Kahn verkeerd gespel het nie, en
aangegaan het met my gesels; nou, danksy tegnologie, weet ek dis Coleridge,
weet ek dis reg gespel (selfs dat Coleridge homself dit in ‘n stadium ge-Cublai Cain het), weet ek my
tweedejaar-dosent op Varsity het nie gelieg oor die opium nie én
het ek danksy die prentesoektog ‘n hele paar uitbeeldings van Coleridge, Kubla
Kahn, Xanadu en die stately dome (koninklike
koepel – ter wille van die alliterasie?)
Nou Coleridge, in aansluiting by Dali en die Surrealiste, het
sy gedig Kubla Kahn na aanleiding van ‘n opium-droom geskryf – die gedig is glo
trouens onvoltooid gelaat oordat ‘n onbekende iemand van die Engelse dorpie,
Porlock, aan die deur kom klop het en hy
daarna nie verder kon onthou nie. (en sedertdien het Porlock, of Iemand van
Porlock, ‘n literêre verwysing geword na enige iets of iemand wat tussen ‘n
skrywer en sy skryfwerk staan.)
Ek het vanoggend weer wakker geword, die derde keer die
afgelope ruk, met die wens dat ek ‘n klein swart notisieboekie langs my bed
het, nie hieroor of daaroor nie, maar oor die allerheerlikste drome waaruit ek
wakker word.
Hulle sê (en ek glo hulle) dat ‘n mens net
bewus word van die drome, bewus is van die drome, waaruit jy wakker word – word
jy nie wakker uit die droom nie, het dit glo lankal teruggekeer na jou
onderbewussyn teen die tyd dat jy wakker word.
Dit maak vir my sin:
Annieka droom nooit; ek droom van die more tot die aand (die aand tot
die more?), Annieka slaap soos ‘n klip, nee ‘n rots; ek soos ‘n veertjie in die
wind.
My gevolgtrekking is dat sy nie van haar drome weet nie oor
sy so diep en vas slaap, ek aan die ander kant is weer bewus van elke rimpeling
in die ruigtes van my onderbewussyn – juis oor ek so lig slaap en maklik gewek
word.
Deesdae sukkel ek met my hande wat slaap (naalde en spelde kry) terwyl ek slaap, hier teen die oggend
se kant – en dan maak my hande my uit die lieflikste drome wakker. (Ek het
hierdie pins and needles van my hande
ook al gaan google en vreeslik
uiteenlopende inligting gekry, so by so dat ek maar liewer my huisdokter se
mening sal gaan inwin.)
Die swart notisietjie wil ek hê oor ek op die oomblik nog net
twee van my drie lieflike drome van die afgelope ruk onthou – die tweede een
het my nou ontgaan en al wat ek onthou is dat dit een groot heerlikte was.
Met die eerste een (en ek dink was ek ‘n surrealis sou ek
lieflike skildery daarvan kon maak) was ek en Oom Kobus en Tannie Erika en
Henriette en Cora en Andries, saam in die bad – die geel badkamer op Oom
Kobus-hulle se plaas, se bad.
Net ons koppe het so bo die bad uitgesteek – daar was nie
sprake van seksuele ondertone en sulke dinge om Freudiaans van letsels uit my
kinderdae te getuig nie – net ons koppe het bo die oppervlak gedobber, en ons
het heerlik gesit en gesels, soos een happy
family.
Familie vir my, ja – dis my peetouers en hul kinders, en ons
het in jare nie so lekker gesels soos daar in die bad nie; Oom Kobus en Tannie
Erika is seker al meer as 20 jaar lank geskei, Cora en haar man is in die
buiteland, Andries het ek in geen jare gesien nie, en Henriette is na haar man
se dood weer getroud en haar kinders al op universiteit en werkend.
Ek was in meer as dertig jaar nie op die plaas waar my droom
afgespeel het nie, die badkamer onthou ek soos gister – ook dat my ma eenkeer
daar binne toegesluit was en ons gesukkel het om die deur oop te kry.
Waterverwarming het met gas gewerk en daar was los gedagtes rondom gas ook,
veral na ‘n seun in my klas so van die gas in die bad aan die slaap geraak het
en lank nie by die skool was nie.
Maar dis tog ‘n negatiewe assosiasie met die geel badkamer –
my droom was sielsalig gelukkig.
Vanoggend weer, was ek saam met Andre le Toit (Koos Kombuis)
diep in baie ernstige gesprek in ‘n trok of wa of camper-ding en ons het verby die huis waarin ek groot geword het
gery – toevallig toe ek by die venster uitkyk, toe is ons langs die ou huis.
Die volgende oomblik is ons iewers in ‘n besige dorpie in
Europa en daar kom ‘n baie ou Judy (my ma) aangestap. Ek kan nie glo sy loop
nie, spring selfs van opwinding op en af dat die veertjies in haar potsierlike
hoedjie so fladder en rittel. Toe val sy en ek sien die been is gebreek, maar
dit pla nie, want ek weet sy kan loop. En ek en Andre/Koos gaan tel haar met
liefde, warm harte en ‘n breë glimlag op.
Dit maak vir my perfek sin in die sin dat ek weet waar ek
aan bykans alles kom:
‘n Boek van Koos Kombuis het ek verlangend uitgekyk in die
boekwinkel gister waar Klaradyn vir ‘n oomblik gedink het sy het ons verloor
(en Annieka vir ‘n oomblik paniekerig gedink het dat ons ons kind verloor het).
Die vis wat ons gisteraand geëet het, het my hartseer gehad
toe Klaradyn noem ons het altyd vis saam met Ouma Nooi geëet
en ek opnuut daaraan dink dat my ma nie sommer weer haar voet in ons huis sal
sit nie – wat sommer bog is en niks anders as slegtigheid nie.
En die middelste lekkerte het ek nou vergeet, Annieka en
Klaradyn was betrokke, maar slaan my dood, ek het dit klaar in die
onderbewussyn gaan bêre.
Op skool het ek al gewens ek kon my drome “op versoek” en
“due to popular demand” herhaal.
In die begin was die tegnologie nog te gebrekkig om ‘n
metafoor te kry, maar later van tyd, met video’s en video-winkels, het ek een
gekry: my drome moet soos video’s op ‘n
rak verpak wees waar ek hulle kan gaan uitneem, en na hartelus kan rewind en replay of repeat.
Die rekenaar sal ook werk – hy het allerhande hidden files and folders waartoe ek met
‘n bietjie vaardigheid en kennis toegang kan kry. Ek wens my drome was soos lêers
in die blikbrein se geheue wat ek met die slaan van die sleutelbord se toetse
op kon roep.
Ek sal selfs van my kinderdae se nagmerries op wou roep om
dit in stadige aksie te ondersoek en forensies te analiseer.
Tot dan sal ek egter maar tevrede moet wees met ‘n
notaboekie langs die bed.
Naskrif: Dis nou agt maande sedert ek hierdie twak kwyt geraak het. Van die droom rondom my peetouers op die plaas onthou ek niks, die een rondom my ma op die plein in die vreemde, so goed asof ek dit gisternag beleef het.
Die mens se onderbewussyn is en bly een groot ongelooflikheid.
No comments:
Post a Comment