So bring ek toe nou die skootrekenaar saam
om my besig te hou terwyl die operasie vlot of skeef verloop. So om die
gedagtes weg van die ou vrou en die operasie te herlei, maar verniet.
My gedagtes dool maar al rondom haar, en
dis te verstane.
Seuns/Mans raak mos simpel, hulle dink
hulle raak te groot/oud om aan hul ma’s te vat, dis dingetjies wat seuntjies
doen.
So het ek ook maar soos die meeste van ons
spesie simpel geraak en opgehou om aan die ou dier te vat.
Ja, haar hand sal ek vat om haar te ondersteun
as ons in die inkopiesentrums stap, maar vat soos in vat om te streel en te
kommunikeer “ek het jou lief”, is uit soos koekies in die weeshuis.
Haai, en toe het ek gister en vandag,
alstesaam twee uur en twintig minute waarin ek basies niks anders kan doen as
om haar hand vas te hou en te streel nie.
Ek het die ou vrou glads oor haar maag
gevryf.
Wanneer laas is sy nou oor haar maag
gevryf?
Skielik wonder ek oor die operasiemerk waar
ek as baba uitgekom het (keiser), iets wat my as kleuter nogal gefassineer het.
Soos om oor Klaradyn se voorkop te streel,
het ek oor haar voorkop gestreel en haar vertel haar hare is mooi gedoen.
Ek het baie ander stront ook gepraat. Om
haar goed en positief en gerus te laat voel.
Hoewel haar verlede binne tien minute uitgevee
word, verander dit niks aan haar belewenis van die hede nie. Soos ek en jy die
nou ervaar, so helder en intens ervaar sy dit. Sy is in nugter kontak met die
onmiddellike.
Daarom raak ek so die bliksem in as iemand
dementia-lyers afmaak as afgeskryf en oor die muur. Omdat sy aan dementia ly
het iemand gister hier impliseer sy het nie ‘n goeie kwaliteit-lewe nie. Snert.
En nogmaals snert.
Daar is seker mense wat gesigte sien en
later geen kontak meer met die werkliheid, soos ons dit ken, het nie, maar my
ma is beslis nie so nie. As sy na my kyk, sien sy nie ‘n sokkerbal nie, as ek
vir haar sê “ek is lief vir jou”, dan sê sy, “en ek vir jou.” As ek haar ‘n
grap vertel, dan lag sy soos sy al die jare nog lag.
Ek kan hom natuurlik drie minute later weer
vertel, en sy sal van voor af vir hom lag, maar dit maak nie dat sy nie ‘n
kwaliteit lewe het nie.
Dis beslis nie lekker, soos die laaste twee
dae in die hospitaal, as sy daar is en sy weet nie wat soek sy daar nie, sy kan
nie onthou hoe kom sy daar nie. Ek glo dit kan ‘n mens angstig en verward maak.
Maar dis mos nou buitengewone omstan dighede.
Ander tye is wonderlik en helder en nugter.
Natuurlik wonderliker en helderder en nugterder as ek en Annieka en Klaradyn
(dis al wie sy nog onthou en van bewus is) by is.
My broer, sy vrou en kinders het seker al
twee jaar gelede “weggeval”, maar dan ‘n baie komplekse “wegval.” Wie hulle is
en die feit dat hulle hoegenaamd bestaan is deur tyd en afstand uitgewis. Maar
laat hulle nou net kom kuier, natuurlik weet sy nie wie hulle is nie, maar in
hul teenwoordigheid is sy op haar gemak en rustig en ontspanne, presies soos in
my teenwoordigheid. Sy weet dalk nie dis haar seun of skoondogter nie, maar sy
weet sy kan hulle vertrou en haar gemoedelike selwers in hul geselskap wees.
Soms, na so twintig minute se kuier en ek
hulle eers weer aan haar moes voorstel, dan begin sy met hulle kuier soos van
ouds. Dan begin sy my broer op die naam noem wat sy hom altyd genoem het, dan
kommunikeer sy in Engels met haar Engelse skoondogter.
‘n Interessante ding, so van haar Engelse
skoondogter gepraat: hulle twee het
altyd allerhande kunsvlytaktiwiteite gedoen, decoupage, skilder, kaartjies,
kralewerk en die klas van ding.
So kry ek ‘n arbeidsterapeut om een keer ‘n
week vir opbouende afwisseling in haar week te sorg. Verlede week toe doen
hulle decoupage, en die arbeidsterapeut moes later, na vier weke se werk,
skielik vra of my ma se moedertaal Engels is, want sy praat heeltyd net Engels
met haar.Al waaraan ek dit kan toeskryf is die feit dat dit die tipe aktiwiteit
was wat sy altyd met haar skoondogter gedeel het.
Terug na die “goed voel” in haar geliefdes
se geselskap: dit was opvallend met hoeveel haar bloeddruk afgeneem het in die
uur of wat ek en Annieka vanmiddag in haar geselskap deurgebring het, Annieka
vrywend en strelend aan die een hand, ek aan die ander.
Intussen het my skoonouers by my aangesluit
en baie gedoen om die ongemaklike en uitmergelende tydjie in die wagkamer af te
wissel en my gedagtes elders te kry. Toe score
ek sommer ook my eerste kos vir die dag. Ek kwetter soos ‘n vink, my
gedagtes afgelei na die heerlikste gespreksonderwerpe, en dit terwyl dit ‘n man
en sy skoonouers is.
Annieka en die begrip en ondersteuning wat
sy onder baie moeilike omstandighede bied, is ek net soveel dank verskuldig.
Hierdie hele ingryping kom in haar lewe soos ‘n soortgelyke krisis wat ‘n
Kersvader op 20 Desember beleef.
Selfs Klaradyn is op haar kleutermanier
akkommoderend.
Die operasie het sy oorleef, maar soos ons
weet, en ook duidelik deur die hele span wat aan haar gewerk het, en met haar
werk, ingelig is: die kritieke stadium
lê nou voor. Haar hart lyk baie sleg, vernoude kleppe, omleidings en net mooi
niks wat in haar guns tel nie.
Kry ek, in retrospeksie, lag vir die mens
en sy natuur. Ek en my skoonouers kom by die saal aan en ‘n suster kom met die
boodskap dat die dokror my wil spreek, hy wil my glo x-strale wys. En daar
hardloop sy teater toe om die dokter te laat weet ons is hier.
Ek vertel myself dadelik dis snert, watse
plate sal hulle nou neem as hulle ‘n operasie uitvoer. Ek besef die “plate” is
net afleiding om my rustig te hou tot die dokter die doodstyding bring.
Die volgende oomblik kom haal ‘n man ons
uit die wagkamer uit en lei ons daar agter deure in, kry vir ons stoele en sê
ons moet wag, Dokter skryf net gou iets, dan is hier.
Ek besef dadelik hulle kry ons nou uit sig
van die ander besoekers sodat ons hulle nie ontstel as ons die tyding kry nie,
en dis tien teen een ‘n doodsverslag of –brief wat die dokter nou skryf.
En toe hy vier minute later in die gang
afkom, is die eerste waarvan ek bewus word, die x-strale in sy hand; om die
inplantasie wat hy gedoen het, met my te deel
Hoeveel daar van haar gaan oorbly na die
operasie, sou sy aansterk en oorleef, weet ons nie.
Ons vat dit dag vir dag oor die volgende
paar dae, miskien uur vir uur.
No comments:
Post a Comment