18.3.12

Lekkerbekkigheid van 'n smulpaap

Dis darem maar hartseer, noudat ‘n mens groot is, waaroor gesprekke nie alles draai nie: geld en politiek en kinders en godsdiens en die geld, politiek, godsdiens en buite egtelike kinders (en ander verbandhoudende sekskursies) in ons Suid-Afrikaanse sport- en vermaaklikheidslui se lewens.
Nooit meer vra iemand jou “my gunsteling groente is dit en dat, en joune?” nie. Wanneer laas het iemand gevra watter kos jy sal wil hê voor hulle jou in een of ander elektriese stoel of ding teregstel?
Miskien het dit te doen met die feit dat die doodstraf afgeskaf is en moet ek eerder met ywer inskakel by die groepe wat hulle beywer vir die herinstelling daarvan.
Hierdie lawwe vraag was destyds op skool ‘n gewilde onderwerp gebore uit tweede-pouse-verveling wanneer jou huiswerk klaar afgeskryf en toebroodjies ook al op was.
Later van tyd het dit egter dodelike erns (sonder die dood, natuurlik) bygekry tydens jou twee jaar diensplig, as jy ses maande later gereed maak vir jou seven of fourteen days pas, en was jy ‘n hond, het jy sweerlik aan die kwyl gegaan bloot by die gedagte aan die kos wat jy mis.
Toe ek destyds na twee jaar uitklaar was my hele vriendekring op civvy-straat via voortydige briewewisseling gerat vir ‘n uiteet waar ek boere-kookkos kon geniet, in oormaat. En is ons, ironies genoeg, na die restaurant oorkant die Mark-teater in Newtown, Johannesburg waar jy propperse opgekookte groente kon geniet.
Maar synde niemand ooit meer vra nie, sê ek dan maar:  myne is boereboontjies of Dutch beans soos my Engelse skoonsus dit noem, groenbone op die boeremanier gaargemaak — groenboontjies, ertappel, ui, tamatie, sout, baie peper en botter, so fyn gedruk soos jy lus voel.
Ek eet ‘n sopbak vol vir middag of aandete, ek eet dit warm of koud en het kleintyd by ‘n maatjie se ma geleer dis die volgende dag heerlik op brood.
Met diep teleurstelling ook dat ek nou hier sit en tik — die kooksel wat ek al 9:00 opgesit het vir vanaand se aandete, het te min opgeëindig dat ons vanmiddag al daarvan kan hê.
En vir die res bly ons by groen, hou wit en geel maar verby as dit gaan om gunstelinge en terwyl ek vasgesteek het by groente. In voorkeurvolgorde dan naas groenboontjies: spinasie in enige vorm, brokkoli en Brusselse spruite. Net nie ertjies nie. Lees ek, op universiteit nog, van hierdie een sjef en koskenner wat gesê het, sonder om dubbelsinnig of snaaks te wees:  “I had a pea… once.” Ditto, wie hy ook al was.
Vir wortels is ek ook lief, maar dan soos Tannie Lenie dit gemaak het: presies soos die boereboontjies, net minus die tamatie. Hou net enige iets soet verby, sommer ver verby.
Overgesetsynde dan eintlik maar enige stamppot-gereg soos die Hollanders dit maak: ertappels en een of meer groentesoort fyngestamp.
Ek het een keer stamppot ge-google en die wonderlikste eenskottel-groentegeregte afgelaai. Nogal jammer dat daar van al die baie, net boereboontjies en boerewortels in ons kostradisie oorgebly het. Ook maar by die stamppot-tradisie dat ons in dele van die land byvoeging van spekvleis en allerhande gerookte spekkighede en dinge kry.
Hulle sê ‘n gesin eet maar wat die pa voor lief is, so asof die patriarg sy kosvoorkeure op die vroutjie agter die kospotte afdwing. In ons huis werk dit andersom, Pa kook en sy Brusselse spruite is ‘n uitsondering op die tafel. Ma se voorliefde vir enige soet geel ding kom dan meer gereeld, letterlik, ter tafel.
In die besonder dan ook, pampoen, met suiker, geelsuiker, bruinsuiker, demerara-suiker, stroop, heuning en wat ook al dit soet sal maak saam met ‘n goeie knyp kaneel. Pa se porsie word voortydig uitgeskep, sout, peper en botter is voldoende dankie,
Gunsteling maaltye hang af van die seisoen. Ek volstaan maar by die volgende vier, in geen volgorde:
Beesstert en rys, mielierys, stampmielies of kaboemielies
Pekelvis en brood met botter
Kouevleis (self voorberei) en slaaie
Tuisgemaakte sosaties oor die kole
En, natuurlik, vars wit brood met botter. Oorval ‘n warm winkel-broodrolletjie se geur en gloed my, enige plek, maak ek summier ‘n draai by die yskas en koop ‘n klein bottertjie of ‘n klein bakkie Butro, wat ek later by die huis kan bêre en makliker smeer as jy die brood daaroor trek. Dan is dit ek en die kar en my brood en botter, voor ek huis toe gaan. Selfs al is die huis net om die draai.
Nie dat ek vir brood en botter sal vra op die oggend van my teregstelling nie. Die brood kan styl wees, die botter margarien. En margarien is niks anders nie as swart ghries wat hulle goudgeel kleur met ongesond giftige kunsmatige kleurstowwe.
Ek sal maar vra vir die meal of the day op voorwaarde hulle gee my ook ‘n liter yskoue volroom melk, nee, maak dit twee liter. Plaasmelk hoef dit nie te wees nie, dit kan maar ekstra gehomogeniseer ook wees en uit ‘n karton. Maak nie saak nie, want met ‘n melksnor oor my bolip stap ek my toekoms, enige toekoms, glimlaggend tegemoet.

(Ek was eintlik op soek na iets anders, toe ek hierop afgekom het. Sal die iets anders, as ek dit opspoor, more plaas,)

No comments: