1.
Dit was die
jaar 1989. Hans pas klaar met universiteit en twee jaar in diens van die
SAW&Seuns. Ek’s bo in die lug in ‘n bachelor’s
flat met ‘n kombuisie kleiner as my huidige badkamer.
Synde ‘n
laat-laatlammetjie, my broer was in standerd 8 toe ek die eerste lewenslig
aanskou het, was dit nogal ‘n okkasie toe hy, sy vrou en kinders vir die eerste
keer op ‘n Sondag, al die pad van Johannesburg af, my kom eet.
Ek besluit
op geelrys en bobotie. Dit behoort fieterjasig en verwikkeld genoeg te wees vir
so ‘n historiese moment.
Twee
kookboeke het ek. Die Kook en Geniet
wat Boeta-hulle namens die twee kleintjies as mondigwordingspresent gegee het (Dear Hansie, Happy 21st Birthday.
Love Joanne. Love Marc —onderskeidelik in ‘n graad 1- en standerd
1-handskrif). En Huisgenoot Wenresepte 2,
begin ’89 toe ek huis opsit van Ma-hulle gekry (In die mooiste sierskrif
hierdie keer: Hans Moolman Feb 1989, op die skutblad se binneblad, Oubaas, geniet jou bak en brou!! Liefde Judy,
‘n entjie dieper in op die titelblad.)
Wenresepte sal dit dan wees. Pagina 112 (Ek het vanaand
weer daar gaan blaai en ‘n dis gemaak van gemaalde wildsvleis, geen brood en
bittermin melk — dit sou, gemeet aan enkele van die ingrediënte en die metode,
vaagweg miskien kon herinner aan bobotie.)
Op pagina
112 het Huisgenoot twee
bobotieresepte. ‘n Droëvrugte-bobotie, en neffens hom een wat aan Tini Vorster,
voormalige Premiers- en Staatspresidentsvrou , toegedig word.
Vrydag na
skool koop ek aan, Saterdag na wintersport berei ek voor, en Sondag eet ons.
Gelukkig
(ongelukkig?) is ek nie bang vir improviseer nie. As daar plek is vir
droë-appelkose, droë-appellringe en rosyntjies; waarom die droë-perskes en ‘n
dadel vir die soet nie?
Een keer in
my lewe het ek geblikte chestnuts gekoop.
So ‘n maand of wat tevore. Oor ek wou proe hoe dit proe. Nodeloos om te sê my bobotie het chestnuts en amandels ook ingekry.
So dis nie
dat ek bang is om te waag nie. Dis net, toe ek die tweede keer kerriepoeier
moet byvoeg, dat dit nie vir my sin maak nie. Ek dog eers dis vir die eier,
maar nee, daar staan dit — dit moet ook in die vleis. Miskien was die borrie
vir die eier, maar nou sê tannie Tini skielik niks van borrie nie. Ek het tog
al borrie bygegooi.
Maar dis
eers toe ek wonder of suurlemoensap en asyn nie dieselfde werk verrig in ‘n
resep nie, dat ek snuf in die neus kry — in my angstigheid en spanning het ek
dan links gelees en ingegooi, en dan weer regs, en ingegooi. Nadat ek soorts
van tot verhaal gekom het blyk dit ek nou net mooitjies alles van beide resepte
saam in een bak het. (Met dan nog my talle eie minder tradisionele bestanddele,
daarby.) En dis, besef ek toe, hoekom ek nie juis melk oor had om met die eiers
te meng, nadat ek die geweekte brood daar uit gelig het nie — ek het die een
resep se min melk, by die ander resep se meer brood gegooi.
Maar dit
was ‘n treffer! Dis ook al 20 jaar later, en ek en my broer-hulle het verlede
jaar weer die ete in die herinnering geroep.
En van toe
af, is dit hoe ek na resepte kry. Kry Hester van Pletzen van Westonaria se
gemmerkoekies nie die kaneel in, wat Marlene Meintjies van Wolmaransstad ons
wel wil laat afmeet, nie, en dit terwyl laasgenoemde op haar beurt weer fyn
kruienaeltjies meld waarvan eersgenoemde geen sprook sprak nie; dan foeter ek
Hester se kaneel, Marlene se kruienaeltjies, my all spice én die verbeelding se knippie neut, by Mev. Dawn Kinghorn
se eierlose gemmerkoekies met die baie botter.
Maar hoe
kan jy ook nou gemmerkoekie wil bak sonder eiers. Dan moer ek sommer ‘n eier of
wat ook in.
Interessantheidshalwe kyk ons dan sommer ook waarom ‘n mens
kwansuis nie heuning in die plek van die gouestroop kan gebruik nie.
En soos
vanaand weer, kan ek nie bobotie maak, daaraan dink of daarvan praat , sonder
om nie tere herinneringe aan daai eerste bobotie van my te kry nie.
Later jare
sou ek by ‘n puris soos Peter Veldsman, of miskien was dit Leipoldt homself,
lees dat bobotie slegs bobotie is, as dit van skaapvleis gemaak word.
(Dis glo
ook so met sosaties wat kebabs/kabobs word, die oomblik wat jy skaap verruil vir
bees of vark, selfs die oomblik as jy allerhande ander fieterjasies soos
pruimedante of nuwerwetse peppadews, in plaas van appelkose, inryg.)
Maar
Leipoldt se bobotie is ‘n vertelling op sy eie:
2.
Ek’s nou al mooi groot en wil
die girl wat my liewe vrou sou word,
se ouers beïndruk. Ek het, daardie jare was Leipoldt se resepteboeke nie soos
vandag agter elke klip uit te skop nie, pas ‘n verslete aankoop van een van sy
ou-ou boeke gemaak. En, soos ek later sou agterkom eie aan hom is, gee die man
nie ‘n resep nie, hy vertel hom skrywendergewys, en jy verlekker jou in die
lees van kulinêre prosa.
Dit kos my
ook soek om ‘n slagter te kry wat skaapvleis vir my sal maal. Die goed se
meulens is deesdae so fancy dat my
kilogram skaapvleis nog in die meule se derms vassit as dit klaar by die bek
ingeprop is. Nou moet jy die skaapvleis aanjaag met nog skaap van bo, om iewers
onder die kilogram of wat maalvleisies op te vang. En dan sit hulle met nog
twee kilo’s skaapvleis in die binnewerkinge van die masjien, wat hulle nie
verkoop kry nie. Lang storie.
Maar ek het
my gemaalde lamsboud en by die Oosterse Plaza het ek selfs tamarind (tamaryn?)
gekry om my bobotie, outentiek, sonder asyn te maak.
En daar
gaan my bobotie in, die jong dame het vlinders in haar oë en skoenlappers op
allerhande ander plekke, haar ouers lyk ook ingenome.
Maar toe ek
die bobotie uithaal na die tyd wat Leipoldt ons aanraai om dit uit die oond te
kry, toe is my bobotie skaars gestol. Toe ons dit uiteindelik gaar het, toe is
dit so droog soos laasjaar se wildsbiltong wat buite bly hang het.
Dis eers ‘n
jaar of wat later, toe my versameling Leipoldt-boeke aansienlik uitgebrei het,
dat ek lees bobotie ís gemaak van gemaalde skaapboud. Maar dis nou die
skaapboud wat oorgebly het van Sondag se middagete. Die goed wat Leipoldt se
kookster oond toe gestuur het was gare gemaalde left overs.
Leipoldt
het aanvaar ons weet dit, en gevolglik niks daarvan genoem in sy eerste
vertelling rondom bobotie nie.
Ek maal
vandag steeds my skaap by dieselfde slaghuis as destyds. Maar deesdae maak ek
die mince eers gaar. Dan tel ek
Leipoldt se spoor op en loop die pad met hom verder. Sonder tamaryn, met asyn.
Maar dis
net as ek die tweede myl wíl saamstap en nie soos vanaand ‘n spul hase uit die
towenaar se hardebolkeil moet ruk om iets in die oond te kry nie.
Die
skaapvleis het koedoe geword. Die wit brood, die droë broodkrummels waarmee ons
schnitzels maak. Daar was appelkose, maar nie korente of rosyntjies nie — sulke
snaakse droëvrugtige goedjies wat ek ‘n ruk gelede by die Sjinese mark gekoop
het, moes daarvoor instaan.
Daarby moes
elke potjie soet en konfyterigheid wat net wou lyk of hy leeg se kant toe
staan, dit ontgeld by gebrek aan ‘n blatjankie. En om alles weer Low GI vir Annieka te maak, toe rasper
ek twee appels ook by. (Wenresepte het
my op hierdie spoor gesit.) Te lekker. Daar’s selfs ‘n bietjie oor vir more vir
skool.
3.
En nou het 'n vriendin,
nadat sy my vandag by die skool skelmpies van haar bobotie gegee het om te
eet terwyl die baas met ons vergader, my nie net uit by vanaand se vrye
interpretasie van bobotie nie, maar uiteindelik ook by die nog vryer bobotie-improvisasie
waarvan ek die afgelope jaar al op drie geleenthede wou blog, maar nooit so ver
gekom het nie:
Ek het ‘n
ruk gelede vertel van die oudleerling, Judit, ‘n oud-Angolees, wat ek na 21
jaar weer opgespoor het. Nou hierdie dame wat ek as jong Angolese vlugteling-meisie in
‘n hout huis sonder krag en aldag lopende water leer ken het, het intussen so
opbeweeg dat sy lankal nie meer kook die dag wat sy ‘n paar vriende oornooi
nie, sy kry spyseniers.
En elke
keer as ons daar kom, of ons nou agt is, en of ons nou dertig is, is daar nie
minder nie as vier of vyf vleisgeregte nie.
Een
daarvan, die heerlikste, mees on-Portugese, anti-Angolese, lasagne denkbaar.
’n Vriendin
van haar, duidelik ook van gemengde herkoms maar vanuit die Kaap oorspronklik,
wat vir haar kos maak.
En almal
wat gereeld hier lees, weet hoe lief ek vir kosmaak is, maar toe Annieka
verlede jaar vriendinne oor het vir haar verjaarsdag, toe ry ek en my vrou
daardie oggend deur na hierdie vriendin om die lasagne op te tel wat Annieka
bestel het.
Italiaanse
bloed, straks van ‘n krygsgevangene wat bergpasse en paaie kom bou het, het die
dame bes moontlik in haar — vandaar die heerlike lasagne wat sy maak. Maar
iewers, vermoed ek, was ‘n definitiewe Moslem-ouma of grootjie, want dié vrou
maak ‘n Kaaps-Maleise lasagne met so ‘n sterk bobotiegeur dat haar pa dalk nog
‘n ou wynboer, wie se vrou hom nie alles kon bied wat hy wil hê nie, kan wees.
En terwyl vroulief gereken het Pappa is af kelders toe, is hy toe al die tyd
net uit in die rigting van die kelders, maar nie heeltemal kelders toe nie.
Want, en laat
ek dan maar die woordjie fusion hier
inwerk, dit is immers wat dit is, letterlik, ‘n lasagne infused with the flavours of a Cape Malay (of straks nou Bolandse
boerse Boere-) bobotie.
Vat jy
alles van Leipoldt en jy maak dit aan soos Luigi sy bolognaise, lekker klam, en
jy borrie jou béchamel met ‘n knypie kerrie of wat ook al (om die geklopte eier
en melk van Tannie Tini te eggo) sit jy met die heerlikste dis denkbaar.
Die van
julle wat kan kosmaak en nie bang is om spronge toe-oog te waag nie, gaan
probeer dit gerus, dit werk.
Ekself was
nog te bang om self my hand daaraan te waag. Maar waarom nou gevaar loop om te
verbrou as ek dit direk van Gamaliël kan koop?
Bobotie was
nog nooit so lekker nie. Lasagne, mind you,
ook nie.
![]() |
| Die enigste ander prentjie van bobnotie wat ek sonder enige vorm van kopiereg op Wikimedia Commons kon opspoor. |


No comments:
Post a Comment