Ek het in my vier
jaar op universiteit in toneelkunde kennis gemaak met Antigone sowel as
Oidipus, trouens in twee verskillende toneelstukke gespeel wat met een of beide
van hierdie karakters te doen het.
My jare lange beste
vriend het weer Sielkunde geswot en deur hom het ek op ‘n ander manier met
Antigone en Oidipus kennis gemaak – die Antigone-kompleks en die
Oidipus-kompleks.
Maar hiervan weet
ek net genoeg om soms te wonder of die feit dat Annieka en my ma dieselfde
goeie punte deel, dalk verband hou met daai Oidipus-kompleks van jare gelede se
studentegesels.
Ek weet van redelik
vroeg in my en Annieka se verhouding dat sy geen afwesige vaderfiguur of so
iets in my soek nie, wel dat sy ‘n groot gemis aan haar oupa het.
Ek moes ook al baie
hoor hoe baie ek van hom sou gehou het, het ek hom net geken.
Ook lieflike
staaltjies van die man wat sy van tyd tot tyd vertel.
Vir jare moes ek
hoor dat haar oupa, toe sy nog op skool was, vertel het dat sy ‘n ongelooflike
sin vir rigting het.
Vyftien jaar later,
verlede week, laat val sy darem egter uiteindelik dat sy reken haar Oupa was op
hierdie punt verkeerd, ver verkeerd.
Ek kon haar dit al
vyftien jaar gelede gesê het.
Hoeka ook hierdie
geloof in sy kleinkind (want veel meer as geloof kon dit nie gewees het nie) se
sin vir rigting, dat ek nog altyd hierdie man wat ek nooit geken het se stories
wat hom vandag nog lewendig hou, met ‘n gesonde skeut skeptisisme bevraagteken
het.
Haai, en toe laat
val Annieka voor die naweek ‘n stukkie opvoedingswerk van die man wat ek na
hoogste waarde skat:
My oupa het my
altyd gewaarsku om, kom ek op ‘n nuwe
plek tussen nuwe mense, soos ‘n nuwe skool, te lande, moet ek altyd ligloop vir
die outjies wat dadelik en heel eerste oorgretig is om met my maatjies te maak –
volgens hom sal daar altyd ‘n rede wees waarom juis daai outjies nie maatjies
het nie en so graag met ‘n nuweling bevriend wil raak.
En as jy twintig
jaar of meer in die onderwys is, dan weet jy dis waar, dan het jy dit waarteen
Oupa gewaarsku het, jaar na jaar al by
herhaling voor jou sien afgespeel.
Ja, dis waar –
soort soek soort. Ek sweer hulle ruik mekaar oor ‘n afstand uit soos honde
doen.
Ag, twee uit
dieselfde hout gekap, hoef nie eers in dieselfde klas te wees, of ‘n enkele
klas saam te kry nie; dis nie twee dae nie, dan het hulle mekaar opgespoor en
gebind in een of ander onheilige alliansie.
Dis waar. Maar nie
almal bind altyd dadelik tussen die eerste twee dae nie. Hoe ordentliker ‘n
kind, hoe langer kyk die ander gevestigde ordentlike kinders hom of haar uit,
alvorens die kind aanvaar word.
En dis hierdie
outjies wat sag en gewillige prooi word van die aasvoëls in die sosiale kringe.
En dis ongelukkig
nooit die aasvoëls wat verveer en arende uitdraai nie, nee, dis die stomme
arend wat onder groepsdruk (ja, aasvoëls is tropvoëls, hulle slaan altyd in
groepsverband toe) sy nekvere afskud en kort voor lank sy lyf begin aasvoël
hou.
Kom ‘n oulike kind
met net ‘n effense selfbeeld probleem (‘n tikkie aknee of rokgrootte ‘n nommer
groter as die gemiddeld) in die middel van die jaar en dan nog in die middel
van sy of haar hoërskoolloppbaan tussen ‘n spul vreemdes aan, is sy of haar
doppie geklink.
Partykeer kom ‘n
nuwe kind by ons aan en ek wonder nog watter kant van die speelterrein die kind gaan speel, dan sien ek die kind en
die twee of drie wat hulle oor die nuweling ontferm het, en dan word ek sommer
so koud – want dan is dit inderdaad al verby:
die regte maatjies het nie dadelik gebyt nie, jy was dalk self te
onseker om ‘n hoek te vat, en nou het die pirannahs jou eintlik klaar kaal tot
op die been gevreet. ‘n Letterlike feeding frenzy!
Ek is regtig bly
Annieka het hierdie vermaning (lessie?) van haar Oupa met my gedeel. Ek het
oornag respek en waardering vir die man gekry.
En wanneer ek (ons)
Klaradyn met dieselfde lewenswaarheid opvoed, sal dit vir my lekker wees om
altyd aan haar te kan noem dat dit van haar oupagrootjie is, dat ons hierdie
stukkie wysheid met die grysheid, gekry en deel van ons lewens gemaak het: Pasop
vir die outjies wat dadelik oor hul voete val om met jou maats te maak; daar is
altyd ‘n rede waarom hulle oor hul voete val, en dit lê nie noodwendig in hul
tone nie.
In retrospeksie:
Ek veralgemeen darem lekker! Die suksesverhale van leerders wat in die middel van 'n skoolloopbaan by 'n nuwe skool aansluit is meer as die stories van die outjies wat die pad byster raak - baie meer. Die stories wat nie suksesverhale is nie, staan net soveel harder en helderder en duideliker uit.
No comments:
Post a Comment