Ek het al
begin vergeet dat ek van tyd tot tyd ook ‘n resepperigheid hier deel – dis oor
ons so selde wine & dine.
Hierdie
naweek was ek lus vir kuier, maar wou nie heeldag agter die kospotte staan nie.
Gevolglik is dit eintlik vanselfsprekend:
ons gaan braai.
Maar vir
poeding?
Roomys en
sjokoladesous kan werk, ek sal egter iets spesiaals wil voorsit.
Dis toe dat
ek ‘n eenvoudigste van eenvoudige nagereg op die spyskaart plaas, een wat
absoluut geen maar geen moeite is nie; tog elke keer ‘n treffer.
Gestel julle
is 6 gaste, en die aand het die punt bereik dat jy wonder of jy in die
een-en-twintigste eeu na die val van Apartheid nog na Tannie Emsie Schoeman
moet luister wat jou verbied het om die bene aan tafel in een bord te krap
(terwyl jy verlang na die dae toe die bene sommer so oor die skouer agtertoe
gegooi is), dan is dit tyd om die twee lekker groot pynappels wat jy vroeër
geskil en in dik wiele gesny het, nader te trek.
Ook nie
verniet dat jy gesorg het vir nuwe kole toe jy netnou die laaste van die vleis
van die kole afgehaal het nie – nou is die tyd om daai pynappelwiele oor die
kole te kry.
En jy kan
hulle maar plek-plek skroei; ek borsel nie eers die rooster skoon nie, die
swart (as jy gelukkig is om te hê) van die rooster vertoon mooi op die geel van
die vrug.
As die
kelners die borde van links van die gaste se rug verwyder het, overgeset synde
as jou vrou die borde wat almal aangestuur het en sy al die bene en messegoed
en left overs in die boonste een het,
en sy alles kombuis toe vat, dan herinner jy haar aan die room wat moet uit.
Maar dis nie
sommer enige room nie, by jou kannetjie room het jy vroeër sowat ‘n derde na ‘n
helfte koppie geroosterde klapper gevoeg.
En dis
hoekom ek huiwer om die resep te deel, ek is bang dit herinner iemand aan die
Pina Coladas van die laat jare sewentig – pynappel en klapper – en straks het
hulle nie van Pina Colada gehou nie.
Nee, die
nagereg herinner geensins aan Pina Colada nie, of jou nou daarvan hou of nie.
Saam met die
room kom vroulief ook uit met die botteltjie heuning en pakkie geroosterde
kasjoeneute, maar miskien is jy lus om pretensieus te wees, dis ook reg: jy het die heuning en neute wat jy gekap het
in afsonderlike bakkies.
Die pynappel
koel af terwyl jy dit in blokkies sny en in ‘n groot bak skep.
Nou gooi jy
jou handvol (of wat) gebreekte kasjoeneute daarby in, kry genoeg heuning by en meng alles deurmekaar.
Skep in en
geniet met die klapperroom. Dit is heerlik.
Gebraaide
pynappel
Kasjoeneute
en heuningKannetjie room
Geroosterde klapper
Probeer
gerus, die resep kom uit Buitelugkos wat
so klompie jare gelede uitgegee is en ek gelukkig genoeg was om by ‘n
registerklas present te kry.

No comments:
Post a Comment