5.3.12

Soete naspysie


Ek het al begin vergeet dat ek van tyd tot tyd ook ‘n resepperigheid hier deel – dis oor ons so selde wine & dine.

Hierdie naweek was ek lus vir kuier, maar wou nie heeldag agter die kospotte staan nie. Gevolglik is dit eintlik vanselfsprekend:  ons gaan braai.

Maar vir poeding?

Roomys en sjokoladesous kan werk, ek sal egter iets spesiaals wil voorsit.

Dis toe dat ek ‘n eenvoudigste van eenvoudige nagereg op die spyskaart plaas, een wat absoluut geen maar geen moeite is nie; tog elke keer ‘n treffer.

Gestel julle is 6 gaste, en die aand het die punt bereik dat jy wonder of jy in die een-en-twintigste eeu na die val van Apartheid nog na Tannie Emsie Schoeman moet luister wat jou verbied het om die bene aan tafel in een bord te krap (terwyl jy verlang na die dae toe die bene sommer so oor die skouer agtertoe gegooi is), dan is dit tyd om die twee lekker groot pynappels wat jy vroeër geskil en in dik wiele gesny het, nader te trek.

Ook nie verniet dat jy gesorg het vir nuwe kole toe jy netnou die laaste van die vleis van die kole afgehaal het nie – nou is die tyd om daai pynappelwiele oor die kole te kry.

En jy kan hulle maar plek-plek skroei; ek borsel nie eers die rooster skoon nie, die swart (as jy gelukkig is om te hê) van die rooster vertoon mooi op die geel van die vrug.

As die kelners die borde van links van die gaste se rug verwyder het, overgeset synde as jou vrou die borde wat almal aangestuur het en sy al die bene en messegoed en left overs in die boonste een het, en sy alles kombuis toe vat, dan herinner jy haar aan die room wat moet uit.

Maar dis nie sommer enige room nie, by jou kannetjie room het jy vroeër sowat ‘n derde na ‘n helfte koppie geroosterde klapper gevoeg.

En dis hoekom ek huiwer om die resep te deel, ek is bang dit herinner iemand aan die Pina Coladas van die laat jare sewentig – pynappel en klapper – en straks het hulle nie van Pina Colada gehou nie.

Nee, die nagereg herinner geensins aan Pina Colada nie, of jou nou daarvan hou of nie.

Saam met die room kom vroulief ook uit met die botteltjie heuning en pakkie geroosterde kasjoeneute, maar miskien is jy lus om pretensieus te wees, dis ook reg:  jy het die heuning en neute wat jy gekap het in afsonderlike bakkies.

Die pynappel koel af terwyl jy dit in blokkies sny en in ‘n groot bak skep.

Nou gooi jy jou handvol (of wat) gebreekte kasjoeneute daarby in, kry genoeg heuning by en meng alles deurmekaar.

Skep in en geniet met die klapperroom. Dit is heerlik.

Gebraaide pynappel
Kasjoeneute en heuning
Kannetjie room
Geroosterde klapper

Probeer gerus, die resep kom uit Buitelugkos wat so klompie jare gelede uitgegee is en ek gelukkig genoeg was om by ‘n registerklas present te kry.

No comments: