6.3.12

Met ‘n lied op my lippe en in my hart

Vanmiddag is dit Ouma van Wyk se liedjie wat al die pad van die skool, tot daar waar ek foto’s vir die skool se jaarblad moet gaan optel, met my saamry. Ook nie net in my hart en gemoed nie, maar hard en luid op my lippe – met soveel oorgawe en passie dat ‘n vaal en saai motoris twee keer kyk by die robot op die hoeke van Duncanstraat en Lynnwoodweg.

Naas Springbokradio-stories in die middae as ek daar kuier, is daar net twee sterk kleintyd-herinneringe wat sy self gereeld lewendig gehou het tot ek al vier jaar op universiteit was:

Jan Verslae sit op die wa
hy sien die een die ander dra:
twee koppe, ses bene en ‘n stert.

En dan is dit ‘n roofvoël wat met ‘n skilpad in sy bek oor die wa vlieg waar Jan Verslae uitgestrek lê.

Die ander is ‘n liedjie waarmee sy my groot gemaak het, die een wat my vanmiddag in die motor vergesel het.

Ek het, jare na haar dood, ekself ook gevestig en al man, by musiekjuffrouens of musiekerige mense navraag gedoen, maar nie een het dit ooit geken nie.

Toe spoor ek dit vyf jaar gelede weer op in die Kleuterverseboek wat Klaradyn se ander oumagrootjie rondom haar geboorte vir haar gegee het. Miskien lui die woorde ‘n klokkie:

Ek en my vroutjie bly stoksielalleen
in ‘n vaal ou pondokkie wat lek as dit reën.
Vra die mense waarom dek ek hom nie,
dan sê ek as die sonskyn dan lek hy mos nie.

En ai, daar is so baie met wie ek sou kon identifiseer: Saul Barnard, Bart Nel, Hendrik McDonald, selfs Ampie for that matter.

Maar nou is daar net een karakter in die ganske Afrikaanse literêre skat wat Hans Moolman soos ‘n handskoen pas, of hy nou wil identifiseer of nie, en dit die boerestem aan die woord in hierdie ou volksliedjie, wat nie eers ‘n grootse digter of skrywer het wat kan pa staan vir die karakter nie, maar letterlik in die volksmond gestalte gekry het.

Ook niks met die stoksielalleen dat dit te doen het nie. Ook nie die pondokkie nie – my huis is my paleis. En ja, die dak lek as die geyser se pype deurroes, daar is ‘n dakbalk wat al lank stukkend is, ‘n elektroniese hek wat al maande nie werk nie en buitemure wat bly sal wees oor ‘n spoegseltjie verf. Maar ook rondom die pondokkie wat lek as dit reën is dit nie waarom dit gaan, as ek die liedjie, soos vanmiddag al die pad, sing en my dierbare vrou so jammer kry nie.

Dis daai “Vra die mense waarom dek ek hom nie, dan sê ek as die sonskyn dan lek hy mos nie” waarom dit gaan.

Die motto wat ek jare gelede vir myself uitgesoek het, het ek by Afrikaans se sonkind, Uys Krige, opgespoor:

Na die bron van alles: die son.
Één beurende drang;
Één goue verlang.

En sou iemand my ooit vra wat Hans Moolman beweeg, is dit al vir jare bloot net dit:  Na die bron van alles: die son. Één beurende drang; Één goue verlang.

Net jammer hierdie gevleuelde woorde pas my nie soos ‘n handskoen nie. Dit pas, dis my leuse, my opstaan en gaan slaap, maar dit pas nie soos ‘n handskoen nie.

Die handskoen wat my omvou is daai sleg Afrikaner wat antwoord, vra die mense waarom dek hy nie sy huis nie:  As die sonskyn dan lek my huis mos nie.

Nie dat ek hom ‘n sleg Afrikaner sal noem nie, nooit. Eerder ‘n laid back bliksem, iemand wat die bome en die bos raaksien, maar nie die blare en takke nie. Iemand wat hom nie laat dikteer deur die reënweer nie, maar dankseggend gerig word deur die mooiweer.

Min mense wat ‘n gat in die dak wat lek as dit reën so ‘n blinde oog kan gooi soos Hans Moolman. Ek sien dit nie raak nie, dit versteur nie my ekwilibrium nie, en registreer ek dit per toeval, wel, dan leef ek dit bloot dood, dis nie ‘n faktor nie.

Alles goed en wel vir Hans Moolman. Maar nie om met hom getroud te wees nie. En vir elke vlegsel wat ek het om te bind van die hare wat ek op my tande moet hê om met Annieka huis te hou, kan sy twee vlegsels, en ‘n bolla op die koop toe, knoop met al die hare wat haar gebit oor moet beskik.

Ons bly nou ses of sewe jaar in die huis. Seker al tien jaar of meer wat die hoofslaapkamer se badkamer verf kort, wat die stort ‘n nuwe stortdeur kort.

Verlede Desember vervang ek die dakwaaier-kamerlig-kombinasie in die hoofslaapkamer. Vir 10 maande sit ek nie gloeilampe in nie (as die son skyn het ons mos nie lig nodig nie, en as ons lig nodig het is daar mos die bedlampies).

Ons het darem nou al verlede week vier gloeilampe gekry. Maar dis net oor ek vir die tweede keer ‘n swart broek vir blou aangesien het en very strangely colour coded by die skool aangekom het. Die tweede keer was daar toevallig ook ‘n onpaar kouse by betrokke. En miskien is dit wat die deurslag gegee het. Ek weet nie.

Brandewyn ken nie brieke nie, het ‘n liewe kollega en vriendin altyd gespot. So het my motor oor die jare heen ‘n paar brandewyn-merke opgedoen (by wyse van spreke). Nou hierdie skrapies en duikies kry my nie onder nie, dit staan nie in die pad van die kar om my van punt A tot by punt B te kry nie, so vir wat moet ek neuk om te klop en te timmer aan die bakwerk — dit pla g’n iemand nie.

Dit ongelukkig ook presies wat ‘n kar is:  ‘n ding om my van punt A na punt B te kry. Niks meer nie. En solank hy dit doen is ek tevrede.

Ongelukkig ry ek daarom ook ‘n kar tot hy nie gebore daartoe in staat is om my punt B te kry nie.

Tot dan moet die reën hom ook skoon reën.

En hoekom moet ek nou die kampeerstoele wat ons verlede maand moes aanry na ‘n skoolfunksie uit die kattebak haal? Oor twee maande is daar ‘n braai iewers en dan moet ek weer stoele inlaai. En is die stoele in die kar as ons gaan kampeer, dan is dit ook nou net so goed ek het dit nie uitgehaal nie, want dan moes ek dit weer aangedra het.

En so kan ek aangaan, my klas, my kas, my motorhuis, Klaradyn se piksplinternuwe dakwaaier waarby ek toe nie verlede jaar uitgekom toe ek ons kamer s’n ingesit het nie en ek sien Annieka hom deur die loop van die jaar motorhuis toe verban het (maar nou is ek bly want vandat haar speelkamer nou my studeerkamer geword het, en anders om, dink ek eerder die studeerkamer het ‘n waaier nodig)

En hoe moet oorle’ Jan Verslae nou die wonders van die skepping om hom bewonder en na waarde ag as dit nie agteroor uitgestrek op sy rug, op ‘n bondel strooi, op ‘n wa is nie?

Maar ek het niks om te sê of by te voeg wat nie reeds opgesluit is in die volksmond van weleer nie:

Ek en my vroutjie bly stoksielalleen
in ‘n vaal ou pondokkie wat lek as dit reën.
Vra die mense waarom dek ek hom nie,
dan sê ek as die sonskyn dan lek hy mos nie.

Skuif tog net daar die emmer in en onder waar dit so drup-drup op die mat en maak jouself tuis.

Hoe lyk dit met ‘n lekseltjie koffie?

Moolman voer ek die van. En jy?

No comments: