En dan het hierdie stomheid niks te doen met die feit dat ek nou al ‘n week lank nie kan blog nie. Nee, hierdie is ‘n letterlike stomheid wat deels verband hou met die skubliesroos in ons agterplaas.
En moenie worry nie, ek het tot oomblikke gelede
ook nie geweet dis ‘n skubliesroos nie, maar daar staan dit in Kritzinger,
Schoonees, Cronje en Eksteen se Groot
Woordeboek: Pride of India — skubliesroos.
Ja, ‘n
ellendige uitheemse Pride of India wat,
soos met die spreeus waarmee dit ‘n land van herkoms deel, vir my geen plesier
inhou nie. Die ding troon bo ons lapa uit en al wat ons ooit van hom te sien
kry, is die blare en dooie blomme wat na elke dan en wan se stortbui oor die
plaveisel tapyt maak — skoon snotterig van die reën en ‘n mens moet versigtig
trap as jy na ‘n kuier onder die lapa die skottelgoed kombuis toe dra.
Vanuit
enige van die bure se erwe maak hierdie Indiaan seker ‘n kleurvolle vertoning,
maar waar ons ons ook al op die erf bevind, daarin kan ons nie deel nie.
Behalwe nou dit wat ons opvee.
Maar sy
blomme en blare, lewendig of dood, is nie die minste van my probleme nie.
Ook nie
soseer die wortels wat die lapa se kraalmuurtjie ‘n kraak, nee ‘n bars, gegee
het wat Van Wyk Louw met sy magiese beiteltjie hom dit nie sou kon nadoen nie.
Dis nie vir toeplak en pleister nie, dis afbreek en oorbou se dinge. Nou hou
ons Klaradyn net banger om binne ‘n twintig meter radius van die muur te speel,
as om in spitsverkeer heen en weer oor Kerkstraat met al sy taxi’s met agter ‘n
hopballetjie aan te hardloop.
Nog minder
die wortels wat die lamlendige voorafvervaardigde sementmuur tussen die bure se
pit bull terriers en ons drie spanjoele, so lendelam het dat die toepak en
timmer van beide kante af, al jare lank reeds herinner aan ‘n shack in een of ander informele
nedersetting (ook bekend as plakkerskamp) nie.
Ja, jare
gelede het iemand die boom, sonder om in ag te neem wat dertig jaar later van
die grensmuur gaan oorbly, hopeloos te na aan die grensmuur geplant. En Meneer
Frost was reg, good fences do make good neighbours, veral as hulle tot
twee verskillende bevolkingsgroepe behoort.
Die geneuk
is net, my bure het niks te vrees nie, ons is destyds verwelkom met die
tragiese nuus dat hulle honde twee van die vorige huiseienaars se honde
morsdood gebyt het.
Die ander
ding wat wie ook al destyds gedink het hy doen die nageslag ‘n guns, nie in ag
geneem het nie, is nie soseer wat langs die boom staan (die muur) nie, maar dit
wat met groot sorg onder die boom neergelê is, selfs nog voor die huis gebou
is> Die riool-dreineringspype, mooi al met grenslyn af tot heel onder in die
hoek iewers tussen die rododendrons (familie van die olifantsore, verbeel ek
my).
Nou wanneer
presies hierdie monster uit Bollywood die eerste keer sy wortels deur die
rioolpyp gedring het, sal ek nie weet nie. Maar ons was hier nie ‘n jaar nie,
toe stoot die water in al wat was- en spoel- en toiletbak is, op.
Kom ons
trek maar liewers ‘n sluier oor Hans, toe nog nie ‘n jaar ‘n trotse huiseienaar
nie, se eerste poging om loodgieter te speel nie. Ook nie poging nie, pogings,
wat amper ‘n week met tientalle ritte Builder’s
Warehouse en terug ingesluit het. (Hier van die Donderdag af het ons die
huurder in die tuinwoonstel opgeklop as ons die toilet wou gebruik. Nie dat ons
eie toilette tot rampgebied verklaar is nie; ek het buite iewers ‘n kanaal
oopgekry wat ek nie weer kon toe kry nie en alles het daar, soos ‘n bose sweer,
‘n gesondheidsrisiko geword.
Dierbare
Ernie, naas my pa en my broer die enigste man wat ek nie skaam is te sê ek oor
jare heen leer lief kry het nie, se hulp is ingeroep en hy vind toe die bron
van kwaad vyftien meter af in die tuin reg onder die Pride of India.
Kyk, Ernie
is (was) deel van ons huis soos die kraak van die kombuis se sifdeur. Aand een.
toe ek en vroulief uiteindelik in die bad kan klim, dis nou nadat ek moes ry om
‘n badprop te koop omdat die vorige eienaars hier weg is met elke denkbare
bad-, sink- en wasbakprop onder die
son, toe drup daar water vanuit die plafon op Annieka se skouers.
‘n
Ongevraagde dak-natmaak-seremonie with a
difference. Ek bel die eiendomsagent en sy sit ons Ernie se spoor.
Twee ure
later toe trap Ernie toe ‘n gat deur die badkamer se plafon wat hy heel
verskonend die volgende dag kom regmaak het. Maar hy het die plafon so mooi ge-patch dat ons hom oor ses jaar heen vir
elke instandhoudingstakie, waaraan ek veiligheidshalwe nie my hande wou waag
nie, ingeroep het. Boorgat, swembadpomp en pype, geyser, lekkende waterpype (in
die dak én die tuin), voordeurklokkies, elektriese hekke, garagedeure,
nagligte... noem maar op.
En elke
jaar of wat, twee jaar as ons gelukkig is, bel ek Ernie om die skubliesroos se
wortels uit die afvoerpyp te kry. En met daai boom se wortels letterlik in die
beste denkbare vorm van vier-en-twintig-uur-sewe-dae-‘n week se organiese
bemesting en bemisting, was dit elke keer nogal ‘n gedoente.
Hy bou ‘n
ysterstaaf van tien of vyftien ysterstawe agtermekaar aanmekaar. En op die
voorpunt ‘n lem wat herinner aan ‘n kurktrekker-tipe varkstertjie. (En eintlik
ook nie ‘n varkstertjie nie, maar ‘n ander deel van die swyn se anatomie wat ek
ter wille van die vrouelesers liefs verswyg.)
En nie te
lank nie, dan vloei die water vinniger as oor die Victoriawaterval in hoogste
reënseisoen.
Maar, soos
ek sê, Ernie wás deel van ons huis soos die kraak van die sifdeur. Want hy
slaan toe daar ‘n kontrak by een of ander boukontrakteur los wat hy so deeglik
doen dat die man hom ‘n permanente aanbieding maak wat hy nie kon weier nie.
En hy
verkoop sy instandhoudingsbesigheid aan die grootste paloekas in die suidelike
en noordelike halfrond saam.
Toe nou ook
daardie paloekas wat antwoord toe ek verlede week Ernie se nommer op my selfoon
skakel, en symste paloekas wat ‘n ruk later hier opdaag in ‘n stukkend gestampte
sedanmotor. (Verbeel jou, hulle is loodgieters dan daag hulle hier op in ‘n
sedan!)
Ek sien
hulle in en gaan trek geld by die kafee om die hoek.
En toe ek
terugkom toe was hulle al hul hande en staan bakhand vir R180-00. Baie trots
laat val die een analfabeet dat hulle die verstopping deurgedruk het tot
anderkant die Magaliesberg.
Dit blyk
toe nou, nie ‘n week later nie, letterlik presies te wees wat hulle gedoen het:
hulle het die toiletpapier en wat daarmee saamgaan, bloot tussen die wortels
deurgepomp tot anderkant die wortels. (Tien teen een nog met een van hierdie
swart rubberpompe-aan-‘n-stok wat ek ook het en kon gedoen het.)
Hulle het
bloot letterlik kak aangejaag. Presies dit, en niks meer nie.
Nie ‘n week
later nie, toe stoot die water, sonder om in grafiese detail in te gaan, weer
op.
My vingers
hol deur die Geel Bladsye op soek na ‘n nommer in ons omgewing.
Die WA
waarmee die man hier stop moes my gewaarsku het. Die verfwerk daarop is ‘n
kunswerk en herken dadelik die maatskappy — ek het daardie waens al baie op die
pad gesien. (En elke keer gedink daardie maatskappy is seker op die
Johannesburgse effektebeurs genoteer, so fancy
is hul vloot maatskappymotors.)
As
taalonderwyser staar ek my toe blind teen die spelfoute in nood loodgieters dienste en registreer nie die nood nie.
Ook eers
later dat ek besef die vriendelike dame het presies ‘n minuut na vyf , na werksure,
gebel en gevra of sy die man maar kan stuur.
Ek vra toe
die man, hier teen die einde, of hulle hoog op in die straat net hier bo ons
is, of laag af. Hy kyk my eers vreemd aan en toe laat val hy dat hulle
maatskappy (ek verwys eerder daarna as ‘n praktyk) al vir jare nie meer daar is nie, en hy noem
‘n woonbuurt nader aan die Pick & Pay
in Brits, as die een in Kwaggasrand — en dit terwyl ons in die Moot se heel
Oostekant bly.
Toe is ons
ook nou net mooi in die kombuis waar hy sy pampiere begin skryf.
Ek lees
iets van R300-00 en dink my goeie alla ma
kierriekat (of iets in oortreffende en intensiewe dier voege) die man het hier opgedaag, manalleen, en
vyf en veertig minute lank van my tuinier se dienste gebruik gemaak, nou staan
en charge hy my R300-00.
Maar ek
trek Annieka se beursie nader, sy het gesê sy het kontant aan haar. Tussen ons
twee se beursies sal ons seker R300-00 kan uitkraam (nie dat -kraam die werkwoord was wat onder
omstandighede op daardie oomblik deur my gedagtes geflits het nie.)
Toe sien ek
die man is nog nie klaar geskryf nie. En ek dink hy dui die BTW aan wat by die
bedrag ingesluit is.
En steeds
is dit het einde niet.
En nogmaals
niet.
En nog ‘n
maal.
Op die ou
einde is dit ‘n som, ‘n hoofrekenesom waarvoor die selfoon se sakrekenaar
ingeroep word, en dan nog ‘n optelsom sonder enige aftrekkings of minusse
daarby, wat oor nie minder nie as vyf lyntjies strek.
In die
halfdonker is al wat ek kan uitmaak R850-00.
Maar ek was
verkeerd, dis R855-00. Dit vind ek eers uit by die motorhawe om die hoek waar
ek moes gaan geld trek het. Ek is egter so gou by die huis uit en weg, dis nou
voor die man se uurglas nog ‘n vyf of tien minute leegloop en hy sy somme oor
moet doen, dat ek nie die laaste R5-00 kon registreer nie.
Dis eers
nou, presies ses paragrawe gelde, dat ek genoeg moed bymekaar kon skraap om die
pampiertjie weer op te spoor waar die man dit in my afwesigheid op die
kombuistafel gelaat het.
En noudat
ek tot verhaal begin kom, sien ek dit moes meer as 45 minute gewees het wat hy
my tuinier sonder vergoeding gebruik het. Dis R450-00 vir die eerste uur en
uitroepkoste, en dan ‘n verdere R300-00 vir ‘n volgende uur of gedeelte van ‘n
uur. En dan die BTW van 105-00 wat ons op R855-00 te staan bring.
En hulle
leuse, sien ek nou, is The bitterness op
poor quality remains longer than the joy of al low price.
Ek lees
darem ook, in dieselfde rooi gedruk Vakmanskap
gewaarborg hoewel die mannetjie in sy eie handskrif bygevoeg het Geen waarborg word gebonde aan enige drein.
Dis beslis
om meer redes as net dit wat hulle aan my taal doen dat ek hulle nie weer gaan
gebruik nie.
Maar dan is
‘n mens ook nooit te oud om te leer nie. Ek het byvoorbeeld nooit geweet dat
die ou Afrikaanse uitdrukking om jou geld
deur jou gat te trek nie noodwendig net ‘n idiomatiese strekking hoef te hê
nie, maar ook doodletterlik, aan eie bas gevoel, in ons alledaagse taalgebruik kan
neerslag vind nie.
Wat moet ek
alles koop om ‘n boom te sloop? En hoe lank gaan dit my vat?
Of beter
nog, wat is die going rate vir volgroeide
skubliesrose as hulle hom iewers in Silver
Lakes of omliggende gholflandgoed verplant?
Aan die
ander kant, die man het genoem hierdie varkstertgedoente en al sy verlengstukke
is nogal duur, om en by die R2000-00 rand. En hy het in die gesels die groothandelaar
genoem waar hulle dit aankoop.
Oor twee
seisoene van nou af kan ek gelykbreek. En daarna score ek al die pad.
Decisions, decisions, decisions...
![]() |
| Venningpark se laning |


No comments:
Post a Comment