11.3.12

Met dapper en stapper


As kind van die sewentigs is ek soorts van in die wieg gelê om ‘n stapper te wees en het ek die land al met rugsak, stapstok en skoene deurkruis, van Suid tot Noord, en letterlik net Natal se roetes wat ek nog nooit te voet leer ken het nie – die Drakensberge letterlik ‘n braakland.

Ek kan nie wag dat Klaradyn oud genoeg is, dat ons saam die Visrivier, ek seker vir oulaas, kan beleef nie.

Tog het ek Annieka nog nooit juis saam gestap nie.

Daar was in die begin van ons verhouding destyds ‘n Oktober-vakansie toe ek saam met vriende die  Sederberge  ingevaar het, ongelukkig op ‘n tyd wat dit nie die galantste ding vir ‘n vryer was om te doen nie.

Ons het in ‘n stadium twee of drie dae van die Tsitsikama gedoen, maar ek onthou dit ook nie as die lekkerste wandelroete van my lewe nie.

Tog probeer ons Klaradyn groot maak met die natuur, maar dis geen waarborg dat sy ‘n voorliefde vir die stof- en bospaaie van ons land gaan ontwikkel nie.

(Ek weet van kinders wat as tieners nie ‘n hand aan ‘n boek slaan nie, en dit terwyl hul ouers biblioteke met hul kindertyd se kinderboeke op die been kan bring.)

Tog beskaam die hoop nie.

Julie-vakansie was ek baie trots op so drie kilometer wat die kind in die Stormberge afgelê het, en hierdie vakansie op die wildsplaas het ons ook elke dag ‘n rigting ingeslaan, maar nooit meer as so vier kilometer nie.

Sy geniet dit, maar het te min blootstelling en oefening om dit werklik nou al te geniet soos ek sou wou hê sy moet.

Sy geniet die aanvang natuurlik elke keer verskriklik, maar stap glo presies soos Annieka as kind gestap het: sy stap vir tien treë en haak dan vas by die een of ander blom of spoor, klip of nes, veer of bolletjie mis.

Kyk sy op, is ons dertig treë verder en dan moet sy hol om in te haal.

En so is sy in 30 minute doodmoeg gehardloop, in plaas van opgewarm gestap.

Die verdere geneuk is dat sy verveeld raak (iets wat ‘n mens kan verwag van ‘n sesjarige); en dan vertel sy haarself sy is moeg. En as sy haarself dit eers vertel het, dan laat sy ons weet – en dit in ‘n stemtoon wat my siel onmiddellik omkrap.

Maar sodra jy haar aandag weer gestimuleer het met die een of ander iets, bv. ‘n slanggat toegespin deur spinnekoppe en toegewaai met grassies, is sy weer ‘n bondeltjie energie.

Dis dan dat sy my vra watse voël dit daardie is, en om nie my kind se vertroue te verloor nie is ek dadelik gereed met ‘n oortuigend-klinkende antwoord.

So sal ek ‘n wielewaal ‘n laksman noem, ‘n grondskropper as ‘n bosbekruiper aanmeld, of ‘n duidelike saadvreter die een of ander insekvreter noem, maar dit pla my nie, die kind hang aan haar pa se lippe en dis al wat saakmaak.

Dis dan ook op ‘n so ‘n punt dat Annieka se ornitologiese kennis in hoogste rat inklim en sy sal lostrek met iets soos “hoe kan jy daardie laksman ‘n spreeu noem, dis duidelik ‘n suidelike bontlaksman soos ons laas daar by...”

Dan sis ek gemaak ernstig uit die hoek van my mond, “Jy weet jy moenie my so lynreg teëgaan voor ons kind nie.”

Dan lag ons saam en stap verder.

Maar, o, liewe hemel, nie lank nie, of Klaradyn het vir haar ‘n stok opgetel en haar naïwiteit skop in.

Ander dogtertjies haar ouderdom, daar waar ons skool hou, speel Bratz en luister i-pod, kyk verveeld DVD’s of speel rekenaar- en televisiespeletjies, maar nie ons kind nie – op ses is sy steeds mal oor sand (al is dit ‘n grondpad) en begin sy vervaard prentjies teken met haar stok.

Nooit onder ‘n boom in ‘n skadukol nie, maar lynreg onder die blote son.

Dis ook op hierdie punt wat ek lankal wonder of sy my kind is.

Sien, ek hou nie van grond en sand en stof aan my hande of voete nie; Klaradyn skop haar skoene uit die oomblik dat ons uit die doringveld en in die grondpad, stofpad, klipperpad of sandpad is. Ek gril vir my in ‘n ander bloedgroep in, die haartjies teen my rug af staan soos die van ‘n rifrug wat wil aanval, maar sy laat staan haar stok en buk af om na hartelus te teken.

Die stap is nou lankal nie meer vir my lekker nie – ek soek meer skadukolle vir my en Annieka op, as wat ons stap.

En dan is ek mos nie iemand wat matigheid voor oë kan hou nie; is daar ‘n paadjie na links wat reguit soos ‘n kraai se vlieg kamp toe gaan, en daar is ‘n ander een, lynreg daarin teen en regs, dan sleep ek ons regs.

En wie moet die gelag betaal? Arme Mamma, wie anders? Sy word die goeie fee wat my kort voor lank uit die kind se hare, en die kind sonder trane, moet hou.

Hierin is sy natuurlik ‘n meester en ek bewonder haar heimlik.

Dan, om alles te kompliseer, verkies ek boonop ook the road less travelled by, trouens, I prefer to go where there is no road at all.

Bundu Bash kon my doopnaam gewees het.

Toe ek vanoggend op my prikkelbaarste en Klaradyn op haar moegste (d.w.s. verveeldtse) was, was ons ook net mooi op die verste punt denkbaar van die kamp.

So op soorts van ‘n hoogtetjie kon Annieka duidelik die swembad se toring in die verte sien, maar ook duidelik dat sowel die pad na links as die een na regs, ons slegs met ‘n moerse ompad daar uit sal bring.

Dis toe dat sy ‘n wildspaadjie lynreg in daardie rigting opspoor, en toe kom dit van haar af:  kom ons stap hierlangs deur die bos, ons sal daar uitkom.

O, wat ‘n heerlikte:  rooibokke, ‘n herbesoek aan die kameelperde, elande, wildebeeste en blesbokke.

Elke nuwe vonds het ons natuurlik so van koers gekry dat dit slegs deur die genade was dat ons vyf en veertig minute later uiteindelik weer die swembadtoring in die verte opspoor.

Maar dit was lieflik en elke oomblik die moeite werd.

Met die dat die kind nou soos ‘n mens fiets kan ry, sal ek maar vir my en Mamma elkeen ook ‘n fiets aanskaf.

Dan ry ons fiets (om die kind geoefen en fiks te kry [om Ma en Pa so effe fiks te kry]) en teen die einde van die jaar, of vroeg volgende jaar, dan stof ons die rugsakke af en durf ‘n korterige roete aan.

My gedagtes staan Suikerbosrand, buite Heidelberg, se kant toe. Jare gelede was dit lieflik en die afstande lekker naby.

Voor Sussie haar i-pod kry, is dit dan maar eers ‘n waterbotteltjie of steweltjies vir stap.

NS
Hoe gou vlieg die tyd nie. Hierdie was twee jaar gelede. Die fietse het ons gekry. By die Suikerbosrand het ek helaas nog nie uitgekom nie.

No comments: