Twintig jaar gelede was daar min dinge so geheimsinnig vir enige beginner-onderwysers as juis die skool se kluis. Iewers naby die hoof se kantoor.
Partykeer staan die deur oop, miskien op ‘n skrefie; maar dis selde. Na so ‘n jaar of wat kan jy miskien twee of drie baie senior uitverkorenes op die punte van jou vingers noem, wat jy, as jy gelukkig genoeg was, miskien, die heiligdom sien betree het.
Maar die hoof se kantoor, trouens elke deur die hele gang af tot by sy deur, is nie ‘n omgewing waar jy jouself sommer as beginner-onderwyser bevind nie; so die kanse dat jy daar gesien word om die ringkoppe te sien in of uit beweeg is maar skraal.
Die eerste keer wat ek toegang tot die allerheiligste gekry het, was vir my ‘n inisiasie en soos ‘n oorgangsrite – ek is vir ‘n jaar of wat geweeg en swaargewig genoeg bevind om die binneste van binnekringe te betree.
Ek moes ‘n megafoon gaan haal. Dit was die jare van die totale aanslag en die hele skool is gereeld met alarms en sirenes wat aan die eindtyd herinner afgestuur rugbyveld toe. Bomdreigemente, weerbaarheidoefeninge, die polisie wat oefen (en ‘n keer of wat sommer net ‘n manier om die kinders uit die klasse en op die veld te kry, sodat die polisiehonde onder die voorwendsel van bomme, kan kyk of hulle nie dagga of ander dwelms kan opspoor nie.)
En ek, ek Hans Moolman, kan in hierdie krisis ‘n steunpilaar, ‘n seder wees, om die bestuur by te staan in die opspoor van ‘n sleutelrolspeler in die handhawing van goeie orde onder baie moeilike omstandighede — die megafoon.
Maar ek is toe ook so vinnig daar in en uit, dat ek nie eers mooi kon registreer hoe dit daarbinne lyk en wat alles daarbinne is nie.
In my tweede skool se kluis was ek nooit nie. Ek weet trouens nie eers waar hy is nie.
Maar elke skool moet tog sekerlik ‘n kluis hê? Waar anders bêre die hoof wat ook al hy ag om nie in die openbare domein tuis te hoort nie.
Dan was ek nie te lank departementshoof by die betrokke skool nie.
Dit was die jare na die totale aanslag; die aanbreek van die nuwe Reënboog Suid-Afrika. Ook die jare toe vyf van die skool se departementshoofde oornag oortollig verklaar is, en die betrokke hoof dit eers vier maande later nodig geag het om ons vyf daarvan in kennis te stel. Of hy gedink het sy probleme gaan verdwyn as hy in volslae ontkenning leef, weet ek tot vandag nie.
Hoe lank ek daar was, kan ek nie eers onthou nie. Sielkundiges noem dit repressie. So miskien het ek wel ‘n kluisdeur iewers raakgeloop, maar my brein het enige sprake daarvan so diep weggebêre dat ek daarvan niks kan onthou nie.
Met my eerste skool is dit anders. Ek het later selfs geweet waar die hoof die sleutel wegbêre. Én waar hy hom wegsteek as hy reken te veel mense weet nou waar hy dit wegbêre. Hierdie wegsteekplek het weldra ‘n bloot ‘n bêreplek geword, waarna hy natuurlik weer ‘n nuwe wegsteekplek gekry het. En waar dít was, het ek ook geweet.
En daarna het dit maklik geword — hy het bloot net oorbeweeg na sy eerste bêreplek, en so voort tot ek die dag daar weg is.
Maar vra jy my nou wat ek ooit in die kluis gesoek het, of wat daar was, onthou ek, behalwe vir die megafoon, regtig nie veel nie.
Na die megafoon se batterye daardie eerste roemryke dag pap was, het ek met verloop van jare agter gekom dat megafone in skoolkluie, die wat nie stukkend is nie, almal se batterye altyd pap is.
Naas die megafoon het elke skool darem ‘n koper handklok daar iewers. Dis nou vir wanneer daar kragonderbrekings is of die rooi of swart gevaar die kragstasies gesaboteer het. (Maar die naaste wat ons ooit daaraan gekom het was toe een of ander regse organisasie, onder die dekmantel van die AWB, iewers by een of ander substasie hul hande verbrand het en ons ‘n ruk lank sonder krag was.
Dan is daar ook die ou skooljoernale wat die hoofde by moes hou. Van die eerste opening van die skool af, aanvanklik elke dag, maar later van tyd slegs op high days en holidays.
En hierin het ek my natuurlik verdiep. Die enkele kere wat die hoof die roede moes uithaal, die enkele kere wat ‘n kind sou versuim het om huiswerk te doen, moes dit aangeteken word. Ja, letterlik: “Albert du Plppy het versuim om sy wiskunde-huiswerk te voltooi — twee houe op sy apsoteriori.” (En vandag sit ek met kinders wat in die vier maande tot nou toe al 23 keer nie hul huiswerk gedoen het nie.)
Dan is daar ook die ongewenste swangerskappe, aanvanklik elke drie of vier jaar, later meer gereeld, en die lieflike eufemismes waarin die betrokke gebeurlikhede toegedraai is.
Nie dat ‘n betrokke hoof, twee of drie maande na so ‘n insident, in die bui vir eufemismes was toe hy vertel het van die matriekseun wat homself ontbloot en tot op die amperse punt van selfbevlekking stimuleer het in die Biologieklas nie. En dit terwyl die leerkrag stil gestaan het by die verteringsprossesse van ‘n gebalanseerde maaltyd. Miskien was die leerkrag ‘n Juffrou.
Moes wees.
Dan onthou ek ook, van alle dinge, ’n ivoor olifanttand.
Ek het die vrymoedigheid gehad om die hoof daarna uit te vra, waar dit vandaan kom en hoe dit daar beland het. Maar hy het dit maar van sy voorganger geërf, hoe sal hy nou weet.
Die betrokke skool se eerste hoof is vandag my ouers se bure in die ouetehuis se versorgingseenheid. Miksien moet ek myself gaan bekendstel. Dit was die hoof wat, in 1961 toe die skool geopen is, die personeel en leerders vir die eerste twee weke huis toe moes stuur omdat die skool nog nie klaar gebou was nie. Dis nou nadat die kinders al die stoele en banke van die tydelike perseel ‘n kilometer of wat verder, aangedra het na die nuwe skool toe.
En nee, die olifanttand is nie meer daar nie. Toe ek in 1997 daar weg is, was die tand al jaar of twee nie meer met ons nie. Ek, uit die aard van my nuuskierige natuur, het aangebied om die sekretaresses te help met die een-maal-elke-vyf-of-so-jaar-se-opruim-van-die-kantoorkluis. Ek weet die tand is weg.
En ja, dinge het nou maar een maal die geneigdheid om uit so ‘n skoolkluis, tussen neus en oë te verdwyn.
Met die oorgang van die ou regime en die in plek stelling van die nuwe een, het die skole toe mos nou by gebrek aan ‘n swart of rooi gevaar, weggedoen met kadette, drilpelotons en skyfskiet.
En so wou die nuwe Suid-Afrikaanse Weermag, ‘n goeie vier jaar na die algehele oorgawe aan die totale aanslag ‘n stuk of sewe .22-gewere wat iemand vier jaar later, na baie gesukkel kon onthou, dat hulle hul weg na die kluis gevind het. Maar toe is dit weg, en dis vandag nog weg. ‘n Mens kan nie begin om te vertel deur watse hel die betrokke hoof is nie. Dit was Staatseiendom, weliswaar uit die hande van vorige staatsbedeling, maar die keiser moet toekom wat hom toekom, selfs al is dit ‘n nuwe keiser.
Hier waar ek nou is, het die afsitterspistool so klompie jare gelede tussen die vorige seisoen se laaste, en die nuwe seisoen se eerste byeenkoms, net verdwyn. Daar is velle en velle beëdigde verklarings afgelê: die atletiekhoof, die man aan stuur van die atletiekstoor, die man aan die hoof van die korvee, die stomme man in beheer van voorraad, die toneelafrigter wat dit kwansuis in ‘n toneelopvoering sou gebruik het. Selfs die kunsjuffrou moes kom getuig nadat iemand op ‘n kunsuitstalling van haar leerders ‘n pistool in die een of ander makaber stillewe raakgesien het.
Die hoof het selfs opgehou om die kluis se sleutel in enige een van die drie geelkoperpotte in sy kantoor te bêre. (Ja, het jy dit nog nie opgemerk nie? Elke hoof in elke oud-Model C-skool in hierdie mooi land van ons, het iewers in sy kantoor ‘n bloody lelike geelkoperpot.
‘n Oudkollega van my wat dit sy ganse onderwysloopbaan nooit langer as twee jaar by ‘n skool kon hou nie, het glads eenkeer opgemerk hy was onder die indruk dat geelkoperpotte soos daardie een in die hoof se kantoor standard TED- issue was. Dit word met sulke groot trokke, en vergesel van baie lae papier met koolpapier tussenin, by die skole afgelaai.
(Ek moet tog onthou om te vertel van die abnormale lang trok, 16 of 28 of 32 wiele, wat een mooi dag, dolleeg, in ‘n systraat van die skool stilgehou het om die pendulum wat die musiekdepartement afgeskryf het, te kom optel.)
Ewentwel, die verlore/gesteelde/uitgesmokkelde afsitterspistool het toe 22 maande later weer een mooii dag in die kluis te voorskyn gekom tussen ‘n klomp serpe wat die einde van die vorige jaar in die middel van die somer van ‘n spul kinders konfiskeer is.
Dan het my eerste skool ook vir jare ‘n plastiek banksakkie gevul met dagga gehad. Niemand het ooit gevra nie, maar almal het later geweet waar dit vandaan kom en hoe dit daar beland het. Maar oor dit ‘n kranige rugbyspeler. vir jare die spil waarom die skool se ganse rugbyseisien gedraai het, s’n was, het niemand ooit gevra nie.
Die opwindendste, in daardie jare, was natuurlik die hoof se privaat versameling Play Boys en Mayfairs.
En eintlik ook hierdie klein bibliotekie pornografie wat my gedagtes aanvanklik by die kluis uitgebring het — ek het ‘n week of wat gelede weer in die kollega vasgeloop wie se klas ek een pouse, terwyl die hoof hom besig gehou het, moes gaan deursoek het, op soek na die pornografie wat die skoolkinders rondvertel het, in sy klas rondlê. (Ek was ‘n senuweewrak. Maar dis ‘n lang storie en vir ‘n ander dag.)
Ja, dit was die goeie ou dae voor internet, toe mooi meisies nog sterretjies vir tepels gehad het en jy nie ‘n rype versameling “stimulante van selfbevlekking” op elke tweede, derde seun se selfoon gekry het nie. Die goed is van die buiteland ingebring, en natuurlik het jy, as jou pa ongelukkig genoeg was dat jy van sy bibliomaniese (bibliofiliese?) belangstelling agter in ‘n kas en onder sy onderbroeke bewus geword het, die goed skool toe gebring.
Waarna dit meer as gereeld, weliswaar soms met ‘n effense ompad en pit stop langs die pad, in die hoof se kluis opgeland het.
Iewers dan altyd ook in so ‘n kantoorkluis, daardie jare, dan ook immer die ewe immer groter wordende stapel Girly-tydskrifte
Opvallend net, as jy nou tien jaar of langer by ‘n skool skoolhou, hoe die tydskrifte, die oues, al hoe dunner word, selfs al word die versameling meer.
Opvallend, met elke besoek aan die allerheiligste, hoe die blaaie, al lê die boeke in presies dieselfde volgorde as laas en op dieselfde manier gepak, elke keer al hoe meer voos gevat, en later sommer net pleinweg verweer, daar uitsien.
Dit moet die humiditeit, of gebrek aan humiditeit, te same met die min lig en die Suid-Afrikaanse lugdruk gewees het waarteen hierdie goed van oorkant die water nie opgewasse was nie.
‘n Skool se kluis, in besonder die een af in die gang by die hoof se deur, is en bly, soos ek sê, ‘n baie interessante plek
No comments:
Post a Comment