Die Graad 11’s Kringe in ‘n bos en die Graad 10’s Fiela se kind. My gedagtes daarom gereeld in die bos en die George/Knysna-omgewing.
En by Ouma van Wyk, oorspronklik ‘n nooi Voigt wat in 1900, volgens die een papier, en 1901, volgens die ander papier, op Groot-Brak gebore is, maar op George groot geword het.
Drie herinneringe rondom haar, wat ek daarom vandag, ter wille van Klaradyn eendag, aanteken.
In die sewe en tagtig (of was dit agt en tagtig?) jaar hier op aarde het Ouma haar mond nie aan ‘n papie gesit nie. Nie die gebliktes wat in die sestiger-jare vryelik beskikbaar geword het nie; nog minder toe ons dit later vars in die groentewinkels kon bekom.
Van ‘n sampioen het sy ook nooit gepraat nie, altyd ‘n papie: “ek eet nie papies nie,” “dit lyk vir my soos 'n papie daardie, my kind, is dit?”
Hier rondom Wêreldoorlog 1 strand die boot van ‘n uitlandse gesin iewers aan die kus. Swede of Switsers of Duitsers was dit gewees. Na verloop van maande sonder enige hulp of redding vanuit die stamland wat hulle verlaat het, vestig hulle hulle in die omgewing van Ouma van Wyk met die niks wat hulle oor het en die hope erbarmlike simpatie wat die hele gemeenskap oor hul uitstort – stomme mense, vreemdes in 'n vreemde land met 'n vreemde taal.
En oor hulle dit tuis kon doen, doen hulle dit hier ook. ‘n Lieflike gesins-uitstappie die Outeniqua-berge in; en terug met ‘n heerlike pluksel vars sampioene, wat ook sommer terstond voorberei word.
En daar is hulle gevind, pa, ma en drie kinders, morsdood in die tydelike gehug, die dood, letterlik, in die pot.
Ék wou weer nie patats eet nie (die stapelvoedsel van Matthee se boswerkers). En dan is ek weer by Ouma van Wyk. Tot vandag toe maak ek ‘n asblik van my maag, en dit grotendeels die rede waarom ek lyk soos lyk. Ek kan nie kos weggooi nie, nie uitkrap nie; dan maar eerder self klaar eet voor dit kombuis toe gaan.
En dit oor ‘n bloody storie van Ouma oor die hartseer (miskien was dit die ongelukkige) patat wat die seuntjie in haar roerende verhaal nie wou eet nie. Die patat land toe op die ashoop, en nou nog, luister Klaradyn na die liedjie van die lappop wat iemand op ‘n ashoop gegooi het, kan ek nie anders as om in my geestesoog, iewers op daai ashoop, ook die huilende patat raak te sien nie.
Miskien het ek self nie my patat wou eet nie en toe dik Ouma hierdie hartseer storie ter aansporing aan. Helaas, sy het die teendeel bereik – die gedagte aan die patat iewers op 'n ashoop uitgekrap waar die lappop, vrot pampoen en stukkende skoen hom nie eers kan opspoor nie, het my tot laat in my tienerjare afgesit. Van die storie, anders dat Ouma van Wyk dit vertel het, onthou ek egter niks. Dat dit ‘n patat was en dat hy sielsongelukkig was oor die seuntjie hom nie wou eet nie, het wel deeglik vasgesteek.
En kuier ek saam met Matthee in die bos, en lees ek van die patas wat by tye soorts van die mense se stapelvoedsel was, spring die gedagtes weer na Ouma van Wyk toe. Want die gedagtes en onthou het vasgesteek.
Vasgesteek, soos die beeld van ‘n armlastige dogter in ‘n agterstevoor-onderstebo-rokkie in my ma se gemoed vasgesteek het.
Ouma en Oupa was toe al klompie jare getroud en my ma, Judith, en haar suster, Anne, twee laerskooldogters. Oupa was ‘n voorste man op die dorp (soos Ouma altoos na gesiene of vername verwys het) hy het sy eie skoenfabriek op George gehad en hulle het in Stockenström straat gebly.
(Onthou ook, dis nie George soos in George Clooney nie, dis 'n Boerse Geörg/Ge-org, die een wat rym met morg en sorg – dis nou as jy Ouma se uitspraak in die herinnering wil roep en hou.)
Ek het my ma so agtien jaar gelede na die huis, of wat daarvan oor is, geneem, en haar lanklaas so sonder woorde hoor huil. Maar waarvan ek wil vertel is my ma sommer nog kind.
Een maal ‘n jaar as my ma skoolvakansie het, ry sy en haar pa (die Oupa wat ek nooit geken het nie) te perd die bos in om daar by ‘n armblanke-gesin ‘n naaistertjie te gaan optel. Die meisietjie kom bly dan vir ‘n week of wat by my Ouma-hulle en lap en stop alles wat gestop en gelap moet word, sit some in, skuif knope en maak ook twee of drie nuwe uitrustings vir die dogters.
En dan klim sy by my ma op die perd en my en Oupa gaan laai haar weer af. Alles wat deur die loop van die jaar te klein of deurgewas en uitgewas geword het, alles wat nie meer reggestik of gelap kon word nie, is in ‘n bondel, saam op die perd se rug vir die gesin waar die ma elke jaar ‘n nuwe, ander bybie op die heup of aan die bors het.
Dis dan ook hier, op die twee besoeke elke jaar, waar my ma nie ordentlik wou wees om koffie wat hulle aangebied is te drink nie. En dan het dit niks met die feit te doen dat die tannie se koffie niks anders as gebrande boomwortel was nie.
AP Brink het ‘n lieflike humoristiese skets rondom soortgelyke gebeure geskryf. Hy, tong in die kies miskien, maar my ma het, tot die dag wat haar geheue haar verlaat het, voet by stuk gehou dat daar geen bok of skaap, wat nog te sê koei, op daardie werf was, wat ma kon staan vir die katspoegie melk wat my oupa met elke besoek in sy koffie gekry het nie.
Maar nie dít wat my gedagtes by my Ouma op George het, as ek rondom Fiela en Kringe vassteek nie. Die armoede van die karakters vat my saam met my ma die bos in. Dan loop ek armoede raak, waarmee niks onder die son verkeerd is nie, maar ook iets anders, en ek wonder of dit nie sommer propperse agtertangse slegtigheid was nie.
So gaan tel hulle een jaar die meisie op en my ma sien die een dogtertjie het ‘n ou rokkie van my ma aan (een wat seker die vorige jaar opgedra en vir Judith en haar Anne beide al te klein, saam van die dorp teruggekom het.) Dit val my ma ook op hoe vreeslik vuil die rok is, en dat die rok intussen iewers aan 'n tak of bos of klip ‘n winkelhaak opgedoen het wat die dogter, wat dan so 'n goeie naaister is, mos lankal uit haar eie reg kon gemaak het.
Twee weke later toe hulle die naaldwerkster terug neem, en dis of ek my ma nog hoor: “so waar as die Here leef, Oubaas, daar het die kind die rok nog steeds aan, dieselfde een. Nog net so vuil soos toe ons twee weke gelede daar was, indien nie vuiler nie. Net, sy dra hom nou, die binnekant buite, en die voorkant na agter.”
No comments:
Post a Comment