31.5.11

Gedagtes ver terug

Die das wat ek vandag aan het, dan nou al 22 jaar oud, omdat dit een van die twee dasse is wat ek as beginneronderwyser aangeskaf het. Twee nuwe dasse dasse, destyds, om te pas by die twee nuwe pakke (sulke eighties ligte somerspakke) wat spesiaal vir die aanvang van my loopbaan as onderwyser aangekoop is. Ook vyf nuwe wit hemde, een vir elke dag.

Maar oor die pakke wat dit vandag hier gaan. Spesiaal ingery Johannesburg toe, Burger-broers toe, om dit aan te koop. Die broeke volgens die nuutste styl: ge-pleat van voor, amper baggy (om anders as ‘n nousluitende, knellende hipster-ding, die feit dat jy niks het om weg te steek nie, mooi weg te steek.)

Nou staan die mans, wat die naweek so lekker gekuier het, Maandagoggend tydens die oggendgebed in die personeelkamer mooi vroom en regop, en dan gaan sit ons heel stigtelik op die amen.

En heel stigtelik móét dit wees, want gaan sit jy vinnig, haak die sak van die broek, wat danksy die pleats en baggy-aard van die snit oop flerts soos ‘n vis op droeë grond, vas aan die stoel se armleuning. En skeur jou broek in die afgaan en gaan sit – die oopbek-sak word vasgevang aan die armleuning, en jou broek gaap hier teen die naat af dat jy net been sien.

Iets wat drie keer met my gebeur het. Op daai groen staatsdienstoele met die hout armleunings wat vir twintig jaar standaard aan alle skole uitgereik is. (Die Polisie, Gesondeheidsorg en Wetgewing het elk dieselfde stoel gekry, maar met 'n ander kleur imitation leather oorgetrek.)

Die eerste keer tref dit my in week drie van my onderwysloopbaan.

Week drie, onthou ek goed, want dit was die heel eerste toetsperiode van my loopbaan waarin ek nou op en af in die klas moet stap om te kyk dat die kinders tog nie afskryf nie.

En dit met ‘n geskeurde broek wat oopmond gaap. Voor kinders wat ek nie ken nie.

Met ‘n stywe arm hier al oor die gat, vind ek darem uit dat daar wel in hierdie skool ‘n vak soos Huishoudkunde aangebied word en ek laat vra van ‘n Juffrou, wat ek nog glad nie ken nie, of sy asseblief vir my naald en garing het.

Vreemde versoek, so vroeg op ‘n Dinsdag-oggend, maar die kind is daar weg.

“Juffrou vra watter kleur, Meneer.”

“Enige blooming kleur!”

Wat die kind toe nou ook vir my bring (bloedrooi — en my Burger-broers-pak is ‘n ligte poeiergrys) waar ek van agter die klas, agter my lessenaar, sit en delegeer: “Seun, deel jy die papier uit, en sal jy die vraestelle uitdeel, dankie .”

Die kinders het vraagtekens in hul oë, maar as dit dan nou is hoe hierdie nuwe meneer dit doen, dan is dit seker nou maar soos hierdie meneer dit doen.

“Nee, seun, gee vir elke kind vyf folio’s...”

“Twee is genoeg, Meneer.”

“Ek sê mos gee vyf. Ek gaan nie agter julle aanstap en papiere uitdeel nie. Sit die ekstras daar voor — as jy nog papier soek, kry self daar vir jou.”

Die kinders het nog duideliker vraagtekens in hul oë, maar as dit dan nou is hoe hierdie meneer dit doen, dan is dit seker nou maar soos hierdie meneer dit doen.

Daar moet hulle toe nou ook nog hoor dat hulle glad nie mag opkyk nie, ook nie omkyk nie.

Want dis gou duidelik: van búite, gaan geen mens hierdie gat kan toewerk nie, dit sal van binne moet gebeur. Sittend in ‘n stoel, so aan die lyf, half onder ‘n lessenaar weggesteek, agter in ‘n klas vol kinders.

Vir dit om te gebeur moet die broek, belt en zip los, die broek liefs tot op die knieë.

Ek sien koerantopskrifte met woorde soos indecent exposure, onwelvoeglikheid, en onsedelike gedrag.

Nadat my been met ‘n onhandige linkerhand nou al goed gaargesteek is, gaan daar ‘n hand op.

Meneer sit met sy broek, amper letterlik en figuurlik, op sy knieë.

Meneer staan nie op en kom voer ‘n fluistergesprek nie, nee, hy laat val hardop, dat almal gesteurd opkyk: “Wat is dit?”

“Ek verstaan nie hierdie vraag nie.”

“Watter vraag?”

“Vraag 6. 2, Meneer.”

“Nou vra jou maatjie.”

Die vraagtekens verander nou in uitroeptekens, maar ek het belangriker dinge om na om te sien.

“Kyk voor julle!”

Met die fyn motorise vaardigheid van ‘n olifant wat ‘n dubbeltjie uit sy voet haal, kry ek die gapende broek darem weer toe, en vas wat moet vas.

Ek stap hier teen die einde van die toetsperiode selfs op en af soos dit enige beginneronderwyser betaam. (Nie verniet in die army geleer hoe om met ‘n naald en gare te werk nie!)

Dis nou tot 14:00, want week drie van enige skool se nuwe jaar, daardie jare, het een en almal vollyf in die atletiekseisoen.

En Hans draf kleedkamers toe om sy afrigtingsklere aan te trek. (Hy help uit by die diskus, of dalk was dit gewigstoot — waar ook al die atletiekorganiseerder geag het hierdie nuwe meneer die minste skade moontlik sal kan aanrig.)

Maar verklee, gaan ons verklee. Almal na skool, in die onderwyserbadkamers by die personeelkamer.


Grappies, poep, sweet en halitose.

En daar kan ek my broek nie aftrek nie. Om die dood nie. Dis die vreemdste ervaring, denkbaar.

Dit blyk toe, ‘n effense van ‘n verleentheid later, dat ek, in die har-war van die toetsperiode, die wit van die hemp met die wit van die sak en broek se voering verwar of omgeruil het en, met bloedrooi gare, my broek, baie deeglik, aan my hemp vasgewerk het.

No comments: