Spyt kom straks te laat, maar insig net met verloop van tyd
Ek het al baie opnuut tot die besef gekom dat die grootte, diepte, aarde en omvang van ‘n sak- of ebgety (maar meesal ‘n sak-) in my gemoed, gemeet kan word aan dit wat in die pakkies is as ek uit Woolworths kom.
Huiswyn met ‘n skroefprop; of iets met ‘n Portugese kurk en baie woorde in ‘n vreemde taal op die etiket.
‘n Pakkie van hierdie gespikkelde jellie-eiertjies wat ek by Klaradyn leer eet het; of ingevoerde marzipan met 100% amandel en ‘n bitter, donker sjokolade wat gou smelt rondom.
Dan is daar ook die eenvoudige kaasskaal, wat amper soos ‘n Richterskaal van 1 tot 10 gelees kan word. 1 is goed, maar 10 is donker, baie donker en ons moet Pappa liefs bietjie uitlos tot hy beter voel: Roomkaas soos Kiri (1) , Soetmelk (2), Cheddar (3), Verouderde Cheddar (4), Ses Maande Verouderde Cheddar (5), Guerre (6), Emmentaler (7), Brie (8), Camembert (9), Deense Blou (10), Gorgonzola (11) en Stilton (12).
Dis 12, ek weet, maar tussen sommiges is daar net ‘n nuanse, of hoogstens iets soos ses maande verdere veroudering, van ‘n verskil.
Kom ons lees Brie, gerieflikheids- en argumentshalwe dan maar op 8. Daar is egter nog ‘n verdere verskil en onderskeid wat getref moet word tussen ‘n ligte 8.0 en ‘n meer swaarmoedige 8.999.
Gemeet in terme van die brie in Pappa se Woolies-pakkie is dit die verskil tussen die Suid-Afrikaanse brie wat uit die Paarl kom, en eintlik maar net gewone Fairview-kaas in ‘n Woolies-verpakking teen ‘n duurder prys is (8.0) en die Imported from France-brie teen R316-87/kg meer (wat ons op ‘n definitiewe 8.999 te staan bring).
Eintlik is hierdie Woolies-pakkie-barometer van die gemoedstoestand net ‘n afgeskaalde of meer getemperde vorm van die een wat jare nou al deur die bankbestuurder en my salaris onderdruk word: hoe groter die depressie of hoe dieper die teleurstelling, hoe groter en duurder die uitgawe. Daar is bykans nie ‘n skildery, meubelstuk, ornament of belaglike kitchen appliance in my huis wat nie direk na aan een of ander sakgety in my gemoed herlei kan word nie.
Maar eintlik wil ek skinder. En ‘n mooi, liefdevolle, deernisvolle skinder sal dit wees. Want dis oor my vrou. My vrou, wat anders, en nie aan die hand van haar beursie nie, op die skommelinge in haar gemoed reageer.
Maar skinder ek, vermoed ek dis nie net oor my vrou nie, maar ook oor baie ander vroue soos my vrou.
Was dit trouens nét my vrou, het ek dit nie gedeel nie; dis oor ander mans straks sal identifiseer en vereenselwig dat ek uitpraat en aan die lig bring.
Ek weet immers vir ‘n feit dis nie net my vrou, of net ék wat daarvan bewus is nie. NP van Wyk Louw het jare gelede al ‘n radiodrama daaroor geskryf wat die professor op universiteit ons na laat luister het. Dalk was dit nie Van Wyk Louw nie, maar dan beslis iemand so goed en gerekend soos hy, want ons Prof het ons net na goeie en gerekende radiodramas laat luister.
Van die storie kan ek niks meer vertel nie, dis net die byklanke, en eintlik een spesifieke byklank, wat ek, asof dit gister was, onthou. En van daardie dag wat die prof ons daarna laat luister het, wil die klank daarvan my teen die mure uitdryf as my vrou, of enige ander mens, haar-, hul- of homself met die ding wat daardie klank maak, bemoei.
Die dramaturg of regisseur het naamlik vir die volle duur van die betrokke radioteater gebruik gemaak van die harsingsdeurdringende geluid van ‘n elektriese stofsuier om een van die karakters in die drama se groeiende frustrasie, woede en wanhoop hoorbaar gestalte te gee.
Of jy as luisteraar saam met die man opgewerk geraak het oor sy vrou wat so stofsuig, en of jy oor die skouer van die stofsuigende vrou geluister het en saam met haar gebou het aan haar woede vir haar vrotterd van ‘n man elders in ‘n leunstoel, weet ek nie meer nie.
En dit maak nie saak nie. Feit bly staan, as jy twintig dertig jaar gelede daardie drama geluister het sou jy, wie jy ook al is, vandag steeds die geluid van ‘n stofsuier gehaat het, geweet het dis simbool, barometer, Richterskaal van ‘n vreeslike sakgety in ‘n mens se gemoed.
Annieka het die drama beslis nie geluister nie. Maar NP van Wyk Louw, of wie hy ook al was, het vrouens goed genoeg geken om te weet dat die aard en omvang, diepte en reikwydte van baie vrouens se depressie gemeet kan word aan die geesdrif, ywer, passie, wikkelende boude en boesems, bloedsweet en spierkrag waarmee hulle huis skoonmaak, ‘n eenvoudige ding soos ‘n Hoover, oor die matte (en as daar dan nie matte is nie, die teëls, bakstene, en selfs grasperke dan) skuif.
Die verwysing na ‘n vrou wat in die grasperk buite in die tuin stofsuig is nie ‘n storie of hiperbool wat ek inspan nie. Ek het vir die vrou se seun skoolgehou en hulle het destyds nie twee blokke gebly vanwaar ons vandag bly nie. Daar was in hierdie ekstreme geval sprake van behandeling en mediese ingryping, maar niks het gewerk nie. Maar dis ook al 17 jaar gelede. Ek weet nie of daar verandering ingetree het met die koms van hierdie lawwe blaasmasjiene waarmee all tuindienste-outjies deesdae die stof en blare in jou tuin rondskommel teen ‘n prys nie.
Die skool het ‘n stuk of ses van die goed aangekoop. Lekkergoedpapiere en goed wat rondlê word nou nooit meer opgetel nie, dit word bloot tussen die Inka-lelies, grondbedekker of beddings vol chrysanthemums ingeblaas. Dan moet die skoolkinders voor elke besoek van ‘n gasskool of inspekteur of ding, soos in die weermag, chicken parade hou om die gemorsies uit die fyntuin op te tel.
Maar ek dwaal af.
Ek het seker stof tot dankbaarheid dat dit nie kredietkaartaankope, ontwerpersklere, weeklikse besoeke aan haarkapsalonne, of iets soos huismoles-wyn is waaraan die laagste kurwes in my vrou se gemoedstoestand gemeet kan word nie, maar aan huisskoonmaak.
Hier rondom ‘n Kersfees, verjaarsdag of huweliksherdenking kry ek partykeer snuf in die neus dat my keuse hierdie jaar nie so in die kol was soos wat ek vermoed het nie, maar die tekens is so subtiel, en nege uit tien kere verbeel ek my dit maar net.
As ek egter Kersoggend in die kombuis kom en ek vind my vrou sewe-uur in die oggend op haar knieë ágter die stoof besig om swarterige goetertjies met ‘n ou tandeborsel en vier vyf verskillende soorte skoonmaakgoed, bleikgoed, ontsmetgoed en ander anderste lekkerruikgoed skoon te maak, dan gaan rooi ligte aan’t flikker en ek hoor oorverdowende sirenes en alarms wat ‘n mens deesdae net in Tweede Wêreldoorlog-flieks hoor.
Gelukkig is daar niks, en daarom kla ek nie, wat Annieka so gou weer haar goeie ou selwers het, soos ‘n passievolle spring clean in die middel van enige seisoen nie.
Ek vermoed party vrouens se eiewaarde en selfbeeld is gekoppel, nie aan hoe húlle lyk nie (of hulle sexy mans for that matter), maar hoe hulle húise lyk.
Ek weet Annieka sal van my verskil en sê dis net waar van vrouens wat met Hans Moolman en mans soos Hans Moolman getroud is, wat so ‘n maniese obsessie het. Maar gelukkig het sy nie vandag en hier ‘n spreekbeurt nie.
Toegegee, ek het nog nooit die behoefte gehad om in enige huis in te kom en met my vingers oor die bokante van die Bettie Cilliers-Barnards, Vader Claerhouts of Zakkie Eloffs te vryf nie. En ek kan vir geen geld in die wêreld aan enige mens wat ek ken dink wat dit wel doen nie. Tog is dit die klas van detail wat deel vorm van my vrou spring cleaning-roetine insluit.
Om gaste oor te kry, om van ongenooides nie te praat nie, is partykeer grensend aan ‘n nagmerrie, vir haar, haar man, haar kind, die tuinier, die huishulp én die huishulp se kinders, aangetroude kinders, kleinkinders en agterkleinkinders wat dikwels teen ekstra onkoste ingekontrakteer word om die huis presenteerbaar te kry.
Die botter kan dan maar margarien wees, solank die bottermes net gewas, gespoel en blink opgevryf is; die custard kan maar instant van Parmalat-stoetery wees, solank die vlabeker net vroeër die aand vanuit ‘n spitterskoon rak opgediep en gepoets is.
En wee die gas wat nie gastebadkamer toe gaan nie, al is dit net om letterlik die neus te poeier. Wee veral die stomme gas wat dit sonder ‘n donkerbril daar inwaag — Annieka se persoonlike ritmiese skommel op haar knieë het netnou nog die finishing touches op die krane aangebring. (En laat ek dit nou net waag om more, oormôre, my hande aan daai verspotte klein waslappie vir ‘n verskoning van ‘n handdoek, skoon te vee! Dis nie vir mý nie, maar for the others soos die mannetjie van Defending the cave man dit so raak gestel het.)
En tog het ek, met verloop van jare geleer om so min of meer, maar eerder in mindere mate as meerdere, daarmee saam te leef.
Dis net as sy die stofsuier nadersleep om die pas gemopte teëlvloere te stofsuig, dat ek my maar liefs uit die voete maak en in die motorhuis tussen moertjies en boutjies gaan snuffel, skielik met die swembad se Creepy Crawly gaan totter.
So het ek, eintlik sy, ook darem al male sonder tal, dinge van my, te veel om te noem, opgespoor en my hart tog so verbly.
Wat my egter die blyste maak, is die kyk in haar oë en spreekwoordelike (soms minder spreekwoordelike) huppel in haar stap, wat sy kry, as sy, op van haar knieë, die vuil lappe, staalwolletjies en ou tandeborsels tot in die buitenste duisternis verban, opstaan en die vertrek so ‘n selftevrede genoeglike kyk gee en dan lostrek met: “O, kyk hoe mooi is ons huis nou! Kom, gee my ‘n soen!”
Die Kaap is dan weer Hollands, die ganse land weer Nat (of Sap, wat maak dit nou saak), as sy ‘n rukkie later die laaste knertsie spanning skiet gee en die kat uit die sak laat met iets soos: “Wat het jý gedink van die geskenk wat Ousus-hulle my gisteraand gegee het?”
No comments:
Post a Comment