“Die mens is darem maar ‘n vreemde spesie. Hoe meer ek van hom leer ken, hoe minder verstaan ek hom.”
Nie ek wat so sê nie, maar my skoonpa wat twee weke gelede, toe ons vir die naweekwegbreek Bosveld toe gou gaan groet, vir my die slagyster stel.
Ek trap oop-oog daarin met ‘n “Hoe dan so, Pa?”
“Die kind is siek, maar julle gaan weg vir die naweek.”
Ek het van beter geweet as om te reageer en maar stil gebly. Die argument in stilte verder gevoer. En in my kop gewen ook.
Maar ook nie heeltemal nie. Ek en Annieka hét Klaradyn daardie Vrydagnag in die donkerte van die tent byna pimpel en pers geknyp – in die een of ander toets om te sien of die kind nie gevaarloop om te dehidreer nie.
Maar dis nou twee weke later. Ons het deur die genade nie nodig gehad om hoed in die hand en stert tussen die bene met 'n siek kind terug te keer nie.
Tog eggo sy woorde kort-kort steeds in my gedagtes. Die mens is darem maar ‘n vreemde spesie. Hoe meer ek van hom leer ken, hoe minder verstaan ek hom.
En dan het niks te doen met die onverantwoordelikheid van die nuwe geslag ouers waarna hy verwys het nie.
Soos vanoggend weer, toe ek vuurhoutjies by die motorhawe op die hoek wil koop en ek wonder of die vrou agter die toonbank wat so 'n mooi Afrikaans praat, enigsins 'n gevaartoelaag ontvang.
Jy kry Afrikaans, ‘n pragtige Afrikaans, Swartafrikaans en ‘n pragtige Swart-Afrikaans. Hierdie vrou is swart en praat die pragtigste Afrikaans, Boereafrikaans nie Swartafrikaans nie. As jy tegelyk na haar luister en vir haar kyk, is dit vir 'n Gautengse stadsjapie soos ek asof jy ‘n lemmetjiegroen melkskommel drink wat na aarbei proe: wat jy hoor klop nie met wat jy sien nie.
Toe ek my nuuskierigheid nie meer kon hou nie, blyk dit toe dat sy ‘n nooi van Calvinia se wêreld is, wat ‘n beter heenkome in die bose stad kom soek het.
En as ek so na haar luister, is dit of sy wel ‘n beter heenkome gevind het.
En tog, maar tog, wonder ek vanoggend vir die soveelste keer die afgelope ruk toe ek daar verby ry, of sy danger pay (soos ons dit in die army genoem het) kry, en verstaan ek die mens, gedagtig aan my skoonpa, al hoe minder, hoe meer ek met die mens te doen kry.
Danger pay, vir die wat gelukkig genoeg is om nie te weet wat dit is nie, is die kontant bedrag wat weekliks (of was dit maandeliks) in die operasionele gebied aan dienspligtiges uitgedeel is om op drank en sigarette te spandeer, aangesien hulle net een maal elke ses maande by ‘n bank kon uitkom.
Ek, Annieka en Klaradyn word toe mos een nag so twee maande gelede in die middel van Pretoria nêrens anders nie as op die die Kaapse Vlakte wakker. Dis ‘n middernagtelike oor-en-weer-kruis-masjiengeweer-vuur wat herinner aan bendegeweld wat baie lelik uitdraai.
Ek loer uit vir voortvlugtendes deur die tuin en bel die buurman of te hoor of dit nie by hom is waar so geskiet word nie.
Dit blyk toe nou, met ‘n ompad oppad skool toe die volgende oggend, dat die kitsbank, soos die kraai vlieg twee huise van ons, en twee winkels van die motorhawe se One Stop/Quick Stop/Select Store af, opgeblaas is.
Onder andere die kitsbank. Ook ‘n jong polisieman. En ander gewond.
Maar nee, ‘n SA-misdaad storie, is hierdie steeds nie. Dis die mens, en wat hy elke dag doen, wat my, soos hy my skoonpa verbaas, daagliks stom slaan.
Die kitsbank is moer toe en ons raak net gewoond aan die ongerief van elders stop, toe die kennisgewing so ruk gelede in die verbyry die oog vang: New autobank opening soon.
En dit ís toe ook so. Nie waar nie, nie buite waar dit was nie, maar binne die motorhawe se One Stop/Quick Stop/Select Store.
Dis die deurnagwerkers daar wat destyds die polisie laat kom het. (Ons had helikopters in die lug, letterlik vir ure, elke denkbare en beskikbare patrollievoertuig op die toneel, ‘n legioen in uniform en genoeg pad- en voetgangerversperrings om aan die opening van die Wêreldbeker-sokkertoernooi te herinner, maar geen geluk. Die polisieman is dood aan diens, die bank (en seker die geld nou lankal ook, maar anders) skoonveld weg-gebláás.
Dis daardie deurnagwerkers wie se lewens van nul en gener waarde vir die bank- én winkelbestuurder geword het.
Ons hoef nie daaraan herinner te word dat mense weekliks vir baie minder as die inhoud van ‘n kitsbankkluis vermoor word nie.
En tog stuur die handelsbank sy kitsbank nou bínnenshuis sodat...
Ek weet nie hoekom nie. Dit kan tog nie wees ter wille van veiligheid nie. Dit kan tog nie wees in die hoop dat ‘n slapende nagskofwerker alarm moet maak as agt mans, gemasker en gewapen tot die tande toe, drie-uur een oggend daar instorm en sy of haar harsings een maak met die sigarette en pakkies kondome agter haar op die rak nie.
Wie is dit wat ek nie verstaan nie? Is dit die bank, of die vriendelike winkelbestuurder wat van tyd tot tyd daar geld tel, wat tog sekerlik betaal word om muur- en rakspasie aan die bank af te staan?
En kry die vrou wat so mooi Afrikaans praat, wat die platteland verlaat het vir 'n beter heenkome in die stad danger pay om daar te sit in die hartjie van die operasionele gebied?
Ek weet nie. Ek stop nie meer snags daar nie, ek is te versigtig.
Ook nie sommer bedags nie. Ek wil nie.
No comments:
Post a Comment