Van Duits ken ek min, en ek het regtig nie rede om Annieka se woordeskat van die taal te bevraagteken nie. Maat toe ek, gloeiend van ‘n ongeskik-gesonde, groot tweede glas, luister hoe sy Klaradyn vertel van ál die alkohol wat uitkook, en hoe die Duitsers in die sneeu se wange daarvan gloei, toe begin ek wonder of ek nie ook haar etimologie in twyfel en met ‘n knippie sout moet neem nie.
Ek noem hierdie glühwein ‘n Boere glühwein omdat die Boerevrou van wie ek die resep oorspronklik gekry het, dit vir my gegee het met die mooi woorde: “My pappie het dit altyd vir ons gemaak en voorgesit in hierdie einste koperkonfoor waaruit ek dit vanaand bedien.”
En dit was vir my vreemd. Hierdie dood-Afrikaanse vrou, ‘n jaar of wat ouer as ek, het tog sekerlik uit ‘n dood-Afrikaner gesin gekom? Vanwaar die gesingebruik in daardie jare om glühwein op Afrikaanse bodem te bedien. (Maar dan was haar pa seker net so uitsonderlik soos sy dogter, hoe sal ek nou weet?)
Annieka voel oor winter en glühwein soos sy oor winter en melkkos (en ek oor winter en sop) voel. En sodra die witstinkhout se eerste blare begin val (nog kortbroeke en kaalvoet of te not) dan begin sy daarna hunker.
Hoeka oor die stomme vrou vanjaar weer, soos verlede jaar hierdie tyd, met erge longvliesontsteking eintlik veronderstel is om by die huis, en nie die werk nie, te sit, toe dag ek vandag is die dag om vir haar ons komende winterseisoen met glühwein in te lei.
En soos met bykans alle winterkos is hierdie glühwein werklik ook “gesinskos”, ongekompliseerd en eenvoudig genoeg om elke dag te geniet en nie noodwendig net vir high days en holidays eenkant gehou te word nie. En oor die alkoholinhoud daarvan letterlik afge-water word, het ons met vrymoedigheid kelkies daarvan al onder gekontroleerde omstandighede op Duitse restaurantaande aan Annieka se Duitse skoolleerlinge bedien.
By die huis kry elke stoofplaat aan en ver-vier- of -vyfdubbel die resep in elke denkbare konfytpot of kastrol. Dan bottel ek dit vir vorentoe en elke dag se gebruik.
Nie almal hou van glühwein nie, beslis meer vrouens as mans, maar op ‘n koue wintersaand, liefs langs ‘n lieflike kaggelvuur, is daar vir my min dinge so lekker en gesellig as ‘n warm glasie hiervan in die hand:
- 500 ml water
- 500 ml suiker (ek maak dit minder, maar Annieka kom dit agter en dan verminder ek dit nie meer nie)
- 1 suurlemoen se sap
- 3 stokkies kaneel
- 5 kruienaeltjies
- 1 bottel rooiwyn (En of dit nou Tassies is of een van Napoleon se Suid-Afrikaanse gunstelinge, dit hang van jou smaak en jou sak af. Onthou net, dis jou drank, jy het daarvoor gewerk en betaal en jy kan daarmee maak wat jy wil. Selfs glühwein, ás jý wil.)
Dan meng jy die water, die suiker, die kaneel en die naeltjies en jy bring dit tot kook.
Vervolgens gooi jy die rooiwyn en suurlemoen se sap by.
Laat trek dit oornag.
Gooi deur ‘n sif en bottel.
Dan kan jy maar gaan speel met ander resepte en improviseer. Jy kan sitrusskille deurjaag, voel jy wel daarna — onthou net, sodra ‘n suurlemoen se sap klaar suur gemaak het, is sy skil geneig om baie gou bitter te maak.
Daar is selfs resepte wat vra vir neutmuskaat en ek weet nie wat nog alles nie.
Maar nou beweeg ons weg herbergerlike (as daar so ‘n woord mag wees) kuierwyn. Dit het ook ‘n plek. Maar ‘n ander plek as hier. Hierdie is vir pretensielose gesellige verkeer. Geniet dit.
Dis tien teen hoeka ook oor vriendin Lydia se pappie se glühwein dat ek nooit kan verstaan as mense kla wanneer dit winter se kant toe staan nie.
Die foto's is van wikimedia.org


No comments:
Post a Comment