19.6.11

Vadersdag 2010

Na ek Pappa-Mamma-en-Klaars gepos het, stuur ek toe 'n rekenaarsoegtog na die woord "vadersdag" van stapel. En kom ek toe op die volgende af:

‘n Overdaad aan stof tot dankbaarheid

Daar’s beslis baie Anniekas en Klaradyne wat heelwat beter vaders (en eggenote) het as Hans, maar jy sal ver moet soek om ‘n Hans te kry met ‘n Klaradyn en Annieka wat daaraan kan dink om kers vas te hou by myne!

Darem nie alle geldmaakskemas van die Illuminati wat van oorkant die water hier by ons kom nesmaak is so vreeslik sleg nie, en anders as moedersdag wat 365 dae in die jaar is, kom vadersdag darem net een keer elke 365 dae verby. En ís myne vanjaar nou lekker!

‘n Dag waarop ek nie net pa staan vir Klaradyn en man staan vir Annieka nie, maar selfs verantwoordelik moet staan vir ‘n ma wat daagliks meer en meer weer soos ‘n kind word.

En al drie van hulle het my vandag ingesleep en meegehelp om my ‘n lieflike vadersdag te bied.

My beker het voor sonop al oorgeloop toe Klaradyn haarself in my arm en haar kop op my skouer kom wikkel het.

Dit het nie veel moeite van my geverg om nie oudergewoonte vroeg op te staan nie, maar dis net met liefde en moeite dat ek haar en Mamma nie douvoordag wawydwakker geskarrel en rond gerol het nie.

Na wat vir my soos ure gevoel het, was beide darem wakker, maar Klaradyn het in my arm bly lê soos een wat suiwer in my belang daar lê. Toe sy stomme Annieka se ver kry om die pakkie te gaan haal, is dit met ‘n fluister, wat agter in ‘n teater van die verhoog af hoorbaar sou wees, in haar ma se ore waardeur sy te kenne gee dat sy in Pappa se arms bly sodat hy nie kan opstaan en rekenaar toe gaan nie.

Ek is bly Annieka het Klaradyn self ‘n pakkie laat kies, want nou verstaan die pakkies waarmee ek hierdie jaar vir haar met moedersdag en verjaarsdag by die huis aangekom het, beter. Die merrieperd van ons het ‘n willetjie van haar eie en as sy eers op iets besluit het, is daar, tot op hede, nog niks gewees wat haar daarvan kon laat afsien nie.

Vir haar pa, vanjaar, het sy besluit op ‘n DVD oor slange, en nóg Annieka, nóg die moedige verkoopsman, nóg die ander DVD’s in die selfde reeks oor olifante, leeus en arende, kon haar besluit van koers bring.

En is dít nou vir my, op grond van ‘n simpel sentimentele rede, spesiaal. Ek hét miskien al hier vertel van die eerste geskenk wat my pa my ooit vir my ma laat koop het – ‘n onooglike borsspeld van twee ineengevelgde adders met groen steentjies vir oë. (Toe ek verlede week deur my ma se juwele gaan om te kyk wat die personeel daar nog nié gesteel het nie, toe is dit waaragtig, met twee of drie ander waardelose items na, nog nét dié goud oorgeblaasde twee adders met die groen oë in die juwelekissie. En sedert circa 1970 weet ek vir ‘n feit, het my ma dit nog nooit gedra nie.)

So wat dit met pa en dogter rondom slange is, kom dit by die eerste aankoop van presentjies, weet ek nie, maar vir my is dit spesiaal.

En toe ek haar vir ontbyt (waarvoor Annieka gesorg het) roep met die woorde dat sy moet gou maak want ons twee moet gaan video kyk, moes julle die opwinding in haar oë sien toe sy besef dis háár fliek wat ons twee gaan kyk. (Annieka was net so bly – sy het met ‘n boek in die bad geklim en bietjie eietyd gehad.)

Vir Annieka het ek gisteraand al opnuut waardering gekry, toe sy, wat vir my soos ‘n uur gevoel het, bygestaan het, en gehelp het, dat Klaradyn vir my ‘n kaartjie maak.

Ai, en toe die kaartjie (voorwaar ‘n meesterstuk) se voorkant eers klaar is, moes die bewoording aan die beurt kom. Dis verbasend hoe vinnig ‘n kind ontwikkel as die kind gereed is. Met moedersdag nog, het Klaradyn dikteer en ek geskryf, waarna sy natuurlik alles self mooi in haar eie handskrif op die kaartjie kopieer het. Gisteraand het Klaradyn dikteer, Annieka die letters geklank, en Klaradyn self geskryf. Ag donder, en toe maak Klaradyn ‘n agterstevoor –r, wat nie ‘n probleem sou wees, as sy dit nie self agtergekom het nie. Dit kos hulle ‘n papiertjie uitknip en oor die “fout” plak met die –r in die regte rigting.

En vandag, vir die eerste keer in meer as drie weke en vier besoeke aan die dokter, is Annieka nie meer so siek soos ‘n hond nie, maar nader aan haar ou self as wat sy in weke was. (En was dit nie vadersdag nie, weet ek verder, sou ons, met die nuwe lewe in haar litte, kaste reggepak of boekrakke geskuif het.)

Annieka is nie gebore daatoe in staat om af te skaal op enige presentjie nie en selfs met longvliesotsteking wat al begin herinner aan chroniese longvliesontsteking, is sy twee dae hier weg op soek na iets  wat vir my, in ‘n tydjie saam met my dogter, vreugde sal bring. Maar Mamma sal ook kan score, want dis met ‘n hele bakstel vir kolwyntjies en meegaande resepteboek, maklik genoeg vir ‘n man om baas te raak, dat sy nog ‘n kersie op my vadersdagkoek plaas.

Vir Judy sou ek op ‘n dag soos vandag uit beginsel nie gaan haal het nie, maar toe doen Annieka dit self gisteraand aan die hand.

Met gemengde gevoelens dat ek hier weg is, maar enige een wat die vrou se blydskap beleef toe ek haar gaan optel het, se weerstand sou verkrummel en sy hart vermurwe.

Toe doen sy, wat minder as ‘n voëltjie eet, my die guns en eet al haar kos op, selfs nadat ek twee maal laat val het dat sy nie alles hoef op te eet wat ek vir haar geskep en kleiner gesny het nie. Maar dan was sy nog altyd lief vir ‘n dybeentjie, en ek het haar sommer twee gegee en self gesluk aan droë witvleis.

Haar kersie was egter die trane waarmee sy my agtermiddag vir die eerste keer in maande en uit die bloute by die deur afgesien het. Toe ek haar vra vir wat sy nou tranerig is, is al wat sy uitkry, “sommer oor jou.”

En dit klink nou vreemd, maar selfs dit was vandag vir my spesiaal. Menslike emosie getuig immers van begrip en onthou wat verder strek as die laaste vyftig sekondes, die omvang so min of meer van haar geheue die afgelope ruk.

So meer as net ‘n vadersdag was dit vir my, menswees-dag, man- en seunweesdag daarby.

Ek het voorwaar ‘n overdaad aan stof tot dankbaarheid.

No comments: