11.10.11

Damdink / rivierwalgedagtes


Potchefstroom moet seker ‘n stroom of ‘n ding hê om ‘n stroom te kan wees. Die Mooirivier, en niks anders nie, val dit my nou by.



Nou of dit die rivier, die stroom, of ‘n sytak van enige een van die twee was, kan ek nie onthou nie, maar daar, in 1984, was die laaste keer dat ek ‘n vis gevang het.



Ons was ‘n spul eerstejaars, ‘n hele koshuis se eerstejaars, en daar is ek toe die eerste en enigste om ‘n vis(sie) uit te trek.



Ek is gepredestineer om nie van visvang te hou nie – my pa was ‘n ernstige hengelaar; sy wittebrood saam met my ma, trouens in ‘n karavaan langs die Vaalrivier.



Toe ek ‘n jong knaap op my woeligste was, toe vang ons al om die ander week vis op my oom-hulle se plaas net buite Brits. Nie sommer net buite Brits nie, die eerste plaas buite Brits op die wal van die Krokodilrivier.



Maar, nee, by die rivier kom jy nie naby met ‘n stok of katrol nie – Oom Piet het ‘n spul plaasdamme op sy tabakplaas waar hy die visse vet voer, en dis daar – by een van hierdie damme, dat ons ons naweke deurbring.



En my pa was ‘n ernstige hengelaar, hy was een van daai wat geglo het jy beweeg nie te veel op die wal nie, die visse te jou vibrasies op en byt dan nie. So ek moes stilsit langs my pa. In die son. Sonbesies. Naaldekokers. Son. Pa wat raas en ek wat moet stilsit. Rimpels op die water. ‘n Polisieman wat in stilte op die maat van die wind dans, of dit nou ‘n grypie pap, ‘n dobbertjie of wat ook al is.



Nee, o, hel, dit was nie lekker nie.



En nie of ek by my ma kan troos soek nie. Sy was net so ‘n ywerige hengelaar en op haar manier langs die viswater meer ongeduldig as my pa.



Ja, reg geraai – dis mannenaweek en ons is lang die viswaters – almal op ‘n ry, elkeen met sy tackle en ek met my skootrekenaar.



Ai, en ek wens my pa was hier:  ek sou sy gesig wou sien, ek sou hom wou trakteer op dit wat die laaste dertig jaar van visvang geword het, en met visvang gebeur het.



Sal hy sê dis sommer strooi, die botteltjies met pitte en konsentrate en kleure en feromone en smere en rome en doopsouse en ek weet nie wat de duiwel nog alles nie.



Die stokke en katrolle sal hom in vervoering hê – van die gewig, die materiaal, die ingenieurswese tot die gewiggies en goedjies wat lyk soos fluoressent malvalekkers.



Maar die ander goeters en die trimmings?



Was ek ‘n prater en geselser het ek uitgevra en baie gehad om te vertel, maar ek kyk maar uit en hou dop.



Nie dat ek niks weet nie, ek het vir twee jaar ‘n Springbok-hengelaar  (junior Springbok-hengelaar / Protea-hengelaar, Goue Galjoen-hengelaar?) in my klas gehad.



‘n Komplekse kind gewees, party sou woorde soos hondsleg en domonnosel en aartslui en godsonmoontlik kon gebruik, maar ek het maar geprobeer, en myself laters glads geverbeel, ek verstaan iets, en het ‘n liking in die kind gevang.



Maar huiswerk het hy nie gedoen nie, opgedaag vir mondelinge het hy nie, opstelle en portefeuljeopdragte het, staan die jaar einde se kant toe, heeltemal ontbreek.



En dan het ek en die kind dit one on one/one to one gedoen, smiddaes na skool.



En vir twee jaar was daar net een onderwerp, of dit nou ‘n verhalende, beskrywende, bespiegelende, mymerende, argumenterende of betogende opstel was; of dit nou ‘n geleentheidstoespraak, oorredingstoespraak, verwelkoming, lesing of heildronk was – hengel, visvang, vis, aas, stokke en katrolle.



Nou die idee om kinders ‘n mondeling met hulpmiddels van die een of ander aard te laat doen, is nie sommerso vir lawwigheid nie – die oomblik wat die kind praat met sy hande en aandag by ‘n model of kaart of troeteldier, dan fokus hy of sy nie op die ander kinders en die gespreksituasie nie, maar op sy hulpmiddel – en dan gesels elkeen aansienlik lekkerder, spontaner en selfs makliker.



Nou voor ‘n klas, sou geen mens die seun aan die gesels kry nie, maar na skool het hy opgedaag (ook net heel aan die einde van die jaar, as sy promosie daarvan afhanklik is) en dis dán dat hy my in die wonderwêreld van hengel in die een en twintigste eeu ingelei het – sy hulpmiddels was viskaste en viskaste vol goed waarvan Hans Moolman senior in sy lewe nooit van gehoor of gedroom het nie.



Of ons vandag minder sukkel as destyds, of Hans meer gesukkel het, betwyfel ek ten sterkste.



Ja, ek dink ‘n blou marlyn word vandag met meer gerief en gemakliker ingetrek, maar dis eers ás en nadat jy hom aan die lyn het – tot op daardie punt, glo ek nie veel het verander nie.



En wat nou ter sprake is, is langs ‘n dam of op ‘n rivierwal.



Ek beleef dit baie dieselfde, net met baie meer foefies en tierlantyntjies.



En die tierlantyntjies en foefies (foefies doelbewus dubbelsinnig gekies) hoef sekerlik nie regtig te werk of sukses te waarborg nie – dit moet die hele aksie net meer opwindend maak, iets om oor te gesels, iets om in op te gaan.



Wat wel vir my vreemd is, is die idee dat geen mens, lyk dit my, enigsins nog oorweeg om die vis te eet nie.



Ja, jare gelede het ons ook terug gegooi, die kleintjies, die oneetbares, die wat ons nie wil hê nie.



Maar waaragtig nie almal nie. En vanaand dan eet ons, nie tjops of boerewors en steak nie, maar varswatervis wat Ma oor die kole berei het, in tinfoelie toegedraai, met tamatie en uie en ‘n paar ander geheime geurmiddels in die buikholte. More kom hy uit die pan, later gemaal in ‘n koekie, en terug by die huis herinner ‘n ingelegde vissie ons later aan die tydjie saam met die stokke.



En moenie vir my staan en vertel dat mens ‘n varswatervis nie oor ordentlik opgevoede lippe kan kry nie, swartbaars, kurper en makriel vra nie veel aandag nie; geelvis, moddervis en baber is weer soos die meeste wildsvleis – jy moet weet hoe om dit voor te berei, maar as jy eers weet kan jy dit vir konings voorsit.



Maar nou lyk dit my geen mens vang meer vir die smaak van sy vangste nie; net ter wille van die digitale kamera dat die lyn natgemaak word.



Maar dis ook loutere strooi wat ek praat, die lekker van eet is ‘n baie klein deeltjie van visvang se lekkerte; die groot lekker lê elders – in die stoel, die totter, die geselskap, die stilte, die glas... kies maar self.

No comments: