23.10.11

By die kluitklap op die kis

Ons het daglank ge-begrafnis-begrafnis. Letterlik. Eers in Pretoria vir die diens en toe in Alberton by die teraardebestelling.

My oë voel of ek heeldag uie gestaan en skil het om die ganske Franse Legioen van Eer van heilsame Franse uiesop te voorsien.

My ma is geheel en al ontredderd. Nie oor die afsterwe van haar eggenoot van die laaste 22 jaar nie, maar vanweë die dementia (wat maar net my eufemisme vir Alzheimer se siekte is). Gelukkig troos ek my daaraan dat sy die omvang van haar bejammerenswaardige toestand geensins besef nie.

Toegegee, haar persoonlikheid, haar kenmerkende charisma en grasie, haar gemaklike en spontane omgang met mense, is presies dieselfde as al die jare wat ek haar nou al ken.

As synde iemand wat nog nooit maklik met vreemdelinge geselsies kon aanknoop nie, het ek my ma se vermoë om dit te doen, die kere wat dit my uit die aard van my persoonlikheid nie ongemaklik en selfs verleë gehad het nie, nog altyd bewonder.

Sy besit steeds oor dieselfde gawe, met die verskil dat die vreemdelinge met wie sy nou geselsies voer, nie vreemdelinge is nie, maar soos vandag by herhaling die geval was, jare lange vriende of selfs bure.

Dit maak my wil huil om te sien hoe moedig en dapper sy probeer om haar gesellige en joviale self te bly, en dit terwyl sy nie weet of dit wasdag of Maandag is nie, of sy Arthur of Martha is nie. (Laat staan nog wié die Arthur of Martha in wie se geselskap sy haar bevind, is!)

Staan die gemeente, dan wil sy staan. Sing die gemeente, dan wil sy sing, nogal van die blaadjie af en dit met oë wat in geen jare meer, so sonder haar bril en met katarakte so groot soos patats, kan lees nie.

Hoe graag sal ek my ma nie nog net een maal langs my in ‘n kerk wou hoor sing nie. Seuns is mos maar anderste goed en as kind het selfs dít my verleë gehad: om die een of ander rede aan my totaal onbekend, het my ma elke “Jesus” uitgespreek en gesing as “Djiesuhs” (‘n duidelike affrikaat aan die begin, opgevolg deur die lang Engelse –ee.

Dit was vir my riem onder die hart om te hoor hoe elkeen, baie daarvan vreemdelinge of mense wat ek in donkiesjare nie gesien het nie, wat met my ‘n geselsie kom aanknoop het, selfs die wat dit die minste nodig had, net die positiefste en mooiste van my ma getuig het.

Ek het nie toegelaat dat dit my dwars in die krop steek wanneer telkens ‘n groot gewag gemaak word van die koestering wat haar man die laaste vier jaar vir haar oorgehad het nie, terwyl dit wat sy die vorige agtien jaar vir hom beteken het en gedoen het en opgeoffer het en prysgegee het en afgesloof het, soos mis voor die son verdwyn en gans en al oor die hoof gesien en genegeer is nie.

Dit was immers nie haar begrafnis nie.

My pa se diens was ‘n verassingsdiens vanuit ‘n kapel by die Johannesburg krematorium. Van draers en kluite was daar gevolglik nie sprake nie. So dit was vir my lekker (maar lekker is die verkeerde woord, ek weet) om darem vir een keer in my lewe die geleentheid te hê om aan ‘n soort van ‘n vaderfiguur se graf te help toespit. (Ek het myself nie ongeneë gevoel? Dit het my welgeval? Dit het my geraak, my beweeg... ?)

Ons het my ma (al sou ek met die grootste liefde en piëteit wou en kon sê ons het die ou vrou) nie al die pad graf toe geneem nie.

Na die koesisters en tee, maar ek sien daar is deesdae selfs enkele susters wat sommer platters bestel, is ons met haar kamer toe.

Sy het nie geweet dis haar kamer of haar bed nie, het nie eens die familieportretjies teen die hangkasdeur as haar eie geëien nie.

Vroeër het sy verbaas gevra of al die mense hier dan nou vir Jack se begrafnis hier is.

Net voor dit weer, het sy nie geweet wat sy hier soek nie.

Of wie Jack is nie...

Terug van Alberton loer ons gou in en toe is sy bekommerd oor Jack wat nou al hóé lank nie meer op die bed langs haar in die kamer is nie.

Dan het die begrafnis ook, soos seker bykans alle begrafnisse, sy gesonde kwota absurditeite gehad. Die dominees wat my sewe keer op drie verskillende name verkeerd aangespreek het en ‘n huwelik van 22 jaar by the power of God invested in him tot 12 jaar verkort het . Mense kom gesels met my asof ek my broer is en ek jare voor my geboorte saam met hulle toktokkie in Alberton se strate gespeel het – terwyl my broer sestien jaar ouer as ek is. Ook ek wat op my beurt wonder watter oud-Albertonner dit daardie is, en dan, by verdere navraag tot my verleentheid moet uitvind dit is my ma se buurvrou wat al vier jaar saam met haar aan die etenstafel sit.

Ook ‘n oom en tannie wat die heeltyd daar rondgehang het maar duidelik by geen mens ‘n klokkie gelui het of êrens ‘n geselsie aangeknoop het nie. Op pad badkamer toe met die ou vrou wat deur ‘n piepie oorval is, sien ek hulle toe stap, in gans ‘n ander rigting en vleuel van die ouestehuis as waar ons twee oues hul laaste dae slyt/geslyt het, elk ewe flink en omverskonend by ons verby met ‘n gesonde, nee trouens ‘n ongeskikte, bordjie eetgoed in die hand.

O, en dan wens ek, ek het ‘n kamera by die teraardebestelling gehad. Ek het ‘n beeld gesien wat ewig in my sal bly, maar ek sou dit tog op film wou verewig, en ‘n Picasso op doek. Soos vir Gertrude Stein. Want dit was ‘n baie ou Gertrude Stein waaraan die vrou my herinner het. Hoe oud sy is, weet ek nie. Kom ons maak haar maar ‘n formidabele vyf en tagtig. Die oudste oud-Albertonner langs die graf vanmiddag. Op ‘n AVBOB stoel (wat deesdae ook stemmige groen chair covers kry, soos op troues en matriekafskeide). ‘n Langbroek en ‘n jas. Haar kierie tussen haar bene. En die sterkste mooiste profiel wat ek in jare in ‘n ou vrou gesien het. Die forsste lyftaal, die statigste houding. Langs hoeveel grafte sy so die laaste vyf jaar gesit het, dink ek is meer as wat jy op twee hande kan tel. Langs hoeveel grafte sy nog op soortgelyke wyse gaan sit, sal net die tyd leer. Maar daar sit sy, regop en fier, egte begrafnisweer en ‘n wind wat deur murg en been sny, beweeg hoogstens haar golwende hare. Aan Georgia O’Keeffe, iets van Georgia O’Keeffe, Gertrude Stein en sommer ook Freda Khalo het sy my herinner. Die allerlaaste van ‘n geslag geharde Afrikanervrouens op Afrika-, Afrikaner- en Afrikaanse bodem.

Ook in die kerkdiens het ek opnuut bewondering vir die ouderdom en die vorige generasie gehad. Oom Sybrand van Niekerk het op sy rype ouderdom die behoefte van die hart gehad om hulde te bring aan ‘n vriend en vriendskap wat oor meer as sestig jaar strek. En toe doen hy dit spontaan, bykans impromptu en sonder ‘n aantekening van ‘n dag oud.

My skoonsus het in ‘n stadium die kommentaar gehad dat dit die einde van ‘n era is. In baie opsigte en met meer toespelings as wat ons ooit kan vermoed, is dit ongelukkig presies wat dit is, die einde van ‘n era.

Ek ag myself gelukkig dat ek daarmee kontak kon maak en in Judy steeds die geleentheid het om daarmee in kontak te kan bly.

Na afloop van dit alles, en die aand al lankal by die huis, het ek behoefte om die seun in beheer van al die reëlings te bel en hom te bedank vir ‘n baie lekker dag en begrafnis. Maar so kan ‘n mens dit tog nou nie stel nie, ek is te moeg om woorde te soek en op te weeg. so ek los dit daar. Hy is duidelik nie te lui om wel woorde te vind nie, en Vrydagoggend toe kom sy SMS:  “Baie dankie vir jul groot bydrae om gister vir ons almal ‘n mooi dag te maak.” En vergeet nou maar die groot bydrae, want ons het niks gedoen nie, maar “’n mooi dag” is die woorde waarop ek my tong nie kon lê nie, en presies wat dit was – ‘n mooi dag.


No comments: