Ons het daglank ge-begrafnis-begrafnis. Letterlik.
Eers in Pretoria vir die diens en toe in Alberton by die teraardebestelling.
My oë voel of ek heeldag uie gestaan en skil het
om die ganske Franse Legioen van Eer van heilsame Franse uiesop te voorsien.
My ma is geheel en al ontredderd. Nie oor die
afsterwe van haar eggenoot van die laaste 22 jaar nie, maar vanweë die dementia
(wat maar net my eufemisme vir Alzheimer se siekte is). Gelukkig troos ek my
daaraan dat sy die omvang van haar bejammerenswaardige toestand geensins besef
nie.
Toegegee, haar persoonlikheid, haar kenmerkende charisma
en grasie, haar gemaklike en spontane omgang met mense, is presies dieselfde as
al die jare wat ek haar nou al ken.
As synde iemand wat nog nooit maklik met
vreemdelinge geselsies kon aanknoop nie, het ek my ma se vermoë om dit te doen,
die kere wat dit my uit die aard van my persoonlikheid nie ongemaklik en selfs
verleë gehad het nie, nog altyd bewonder.
Sy besit steeds oor dieselfde gawe, met die
verskil dat die vreemdelinge met wie sy nou geselsies voer, nie vreemdelinge is
nie, maar soos vandag by herhaling die geval was, jare lange vriende of selfs bure.
Dit maak my wil huil om te sien hoe moedig en
dapper sy probeer om haar gesellige en joviale self te bly, en dit terwyl sy
nie weet of dit wasdag of Maandag is nie, of sy Arthur of Martha is nie. (Laat
staan nog wié die Arthur of Martha in wie se geselskap sy haar bevind, is!)
Staan die gemeente, dan wil sy staan. Sing die
gemeente, dan wil sy sing, nogal van die blaadjie af en dit met oë wat in geen
jare meer, so sonder haar bril en met katarakte so groot soos patats, kan lees
nie.
Hoe graag sal ek my ma nie nog net een maal langs
my in ‘n kerk wou hoor sing nie. Seuns is mos maar anderste goed en as kind het
selfs dít my verleë gehad: om die een of ander rede aan my totaal onbekend, het
my ma elke “Jesus” uitgespreek en gesing as “Djiesuhs” (‘n duidelike affrikaat
aan die begin, opgevolg deur die lang Engelse –ee.
Dit was vir my riem onder die hart om te hoor hoe
elkeen, baie daarvan vreemdelinge of mense wat ek in donkiesjare nie gesien het
nie, wat met my ‘n geselsie kom aanknoop het, selfs die wat dit die minste
nodig had, net die positiefste en mooiste van my ma getuig het.
Ek het nie toegelaat dat dit my dwars in die krop
steek wanneer telkens ‘n groot gewag gemaak word van die koestering wat haar
man die laaste vier jaar vir haar oorgehad het nie, terwyl dit wat sy die
vorige agtien jaar vir hom beteken het en gedoen het en opgeoffer het en
prysgegee het en afgesloof het, soos mis voor die son verdwyn en gans en al oor
die hoof gesien en genegeer is nie.
Dit was immers nie haar begrafnis nie.
My pa se diens was ‘n verassingsdiens vanuit ‘n
kapel by die Johannesburg krematorium. Van draers en kluite was daar gevolglik
nie sprake nie. So dit was vir my lekker (maar lekker is die verkeerde woord,
ek weet) om darem vir een keer in my lewe die geleentheid te hê om aan ‘n soort
van ‘n vaderfiguur se graf te help toespit. (Ek het myself nie ongeneë gevoel?
Dit het my welgeval? Dit het my geraak, my beweeg... ?)
Ons het my ma (al sou ek met die grootste liefde
en piëteit wou en kon sê ons het die ou
vrou) nie al die pad graf toe geneem nie.
Na die koesisters en tee, maar ek sien daar is
deesdae selfs enkele susters wat sommer platters
bestel, is ons met haar kamer toe.
Sy het nie geweet dis haar kamer of haar bed nie,
het nie eens die familieportretjies teen die hangkasdeur as haar eie geëien
nie.
Vroeër het sy verbaas gevra of al die mense hier
dan nou vir Jack se begrafnis hier is.
Net voor dit weer, het sy nie geweet wat sy hier
soek nie.
Of wie Jack is nie...
Terug van Alberton loer ons gou in en toe is sy
bekommerd oor Jack wat nou al hóé lank nie meer op die bed langs haar in die
kamer is nie.
Dan het die begrafnis ook, soos seker bykans alle
begrafnisse, sy gesonde kwota absurditeite gehad. Die dominees wat my sewe keer
op drie verskillende name verkeerd aangespreek het en ‘n huwelik van 22 jaar by the power of God invested in him tot
12 jaar verkort het . Mense kom gesels met my asof ek my broer is en ek jare
voor my geboorte saam met hulle toktokkie in Alberton se strate gespeel het –
terwyl my broer sestien jaar ouer as ek is. Ook ek wat op my beurt wonder
watter oud-Albertonner dit daardie is, en dan, by verdere navraag tot my
verleentheid moet uitvind dit is my ma se buurvrou wat al vier jaar saam met
haar aan die etenstafel sit.
Ook ‘n oom en tannie wat die heeltyd daar
rondgehang het maar duidelik by geen mens ‘n klokkie gelui het of êrens ‘n
geselsie aangeknoop het nie. Op pad badkamer toe met die ou vrou wat deur ‘n
piepie oorval is, sien ek hulle toe stap, in gans ‘n ander rigting en vleuel
van die ouestehuis as waar ons twee oues hul laaste dae slyt/geslyt het, elk
ewe flink en omverskonend by ons verby met ‘n gesonde, nee trouens ‘n
ongeskikte, bordjie eetgoed in die hand.
O, en dan wens ek, ek het ‘n kamera by die
teraardebestelling gehad. Ek het ‘n beeld gesien wat ewig in my sal bly, maar
ek sou dit tog op film wou verewig, en ‘n Picasso op doek. Soos vir Gertrude
Stein. Want dit was ‘n baie ou Gertrude Stein waaraan die vrou my herinner het.
Hoe oud sy is, weet ek nie. Kom ons maak haar maar ‘n formidabele vyf en
tagtig. Die oudste oud-Albertonner langs die graf vanmiddag. Op ‘n AVBOB stoel
(wat deesdae ook stemmige groen chair
covers kry, soos op troues en matriekafskeide). ‘n Langbroek en ‘n jas.
Haar kierie tussen haar bene. En die sterkste mooiste profiel wat ek in jare in
‘n ou vrou gesien het. Die forsste lyftaal, die statigste houding. Langs
hoeveel grafte sy so die laaste vyf jaar gesit het, dink ek is meer as wat jy
op twee hande kan tel. Langs hoeveel grafte sy nog op soortgelyke wyse gaan
sit, sal net die tyd leer. Maar daar sit sy, regop en fier, egte begrafnisweer
en ‘n wind wat deur murg en been sny, beweeg hoogstens haar golwende hare. Aan
Georgia O’Keeffe, iets van Georgia O’Keeffe, Gertrude Stein en sommer ook Freda
Khalo het sy my herinner. Die allerlaaste van ‘n geslag geharde
Afrikanervrouens op Afrika-, Afrikaner- en Afrikaanse bodem.
Ook in die kerkdiens het ek opnuut bewondering vir
die ouderdom en die vorige generasie gehad. Oom Sybrand van Niekerk het op sy
rype ouderdom die behoefte van die hart gehad om hulde te bring aan ‘n vriend
en vriendskap wat oor meer as sestig jaar strek. En toe doen hy dit spontaan,
bykans impromptu en sonder ‘n aantekening van ‘n dag oud.
My skoonsus het in ‘n stadium die kommentaar gehad
dat dit die einde van ‘n era is. In baie opsigte en met meer toespelings as wat
ons ooit kan vermoed, is dit ongelukkig presies wat dit is, die einde van ‘n
era.
Ek ag myself gelukkig dat ek daarmee kontak kon
maak en in Judy steeds die geleentheid het om daarmee in kontak te kan bly.
Na afloop van dit alles, en die aand al lankal by
die huis, het ek behoefte om die seun in beheer van al die reëlings te bel en
hom te bedank vir ‘n baie lekker dag en begrafnis. Maar so kan ‘n mens dit tog
nou nie stel nie, ek is te moeg om woorde te soek en op te weeg. so ek los dit
daar. Hy is duidelik nie te lui om wel woorde te vind nie, en Vrydagoggend toe
kom sy SMS: “Baie dankie vir jul groot
bydrae om gister vir ons almal ‘n mooi dag te maak.” En vergeet nou maar die
groot bydrae, want ons het niks gedoen nie, maar “’n mooi dag” is die woorde
waarop ek my tong nie kon lê nie, en presies wat dit was – ‘n mooi dag.
No comments:
Post a Comment