20.11.12

18 November 2009

Iets wat my glad nie trek nie is toekomsvoorspellers. En dan bedoel ek toekomsvoorspellers soos fortuinvertellers, kristalbalkykers, teekoppielesers en gypsies.

My pa het in my heel klein kindertyd iewers heen gery en met ‘n “oom” wat kwansuis die toekoms lees, gaan gesels. My ma en haar suster het ook van tyd tot tyd hul teekoppies laat lees by een of ander siener.

Ek onthou een so iemand het onheil aan die hand van ‘n 8 oor my tannie se pad voorspel. En daar sterf Uncle Chappie toe 8 Augustus 1978.

En ja, my ma en pa het boeke van Oorle Siener van Rensburg op die rak gehad.

Tog het ek nooit daaraan gebyt nie.

Familie van ons, aan die ander kant, het as vriend ‘n siener. Ag, en dan noem ek hom ‘n siener, maar ek weet nie wat hy is nie.

Synde egter ‘n vriend, laat val die man van tyd tot tyd egter goed, en alles wat hy laat val, realiseer.

Die derdelaaste mededeling wou dit hê dat die familie ‘n baba ryker gaan word. Hulle hoop op nuus van my en Annieka se kant af, en hou duim vas dis nie een van hul kinders nie. Toe laat weet ons niggie se oudste dogter sy verwag.

Tweedelaaste was dat iemand tronk toe gaan. En daar bring die tuinman wat reeds veertien jaar vir hulle werk twee nagte in die tronk deur.

En toe kom die man met die boodskap dat die familie in Januarie ‘n sterwe gaan hê.

Glo my, ek sal Januarie laat weet wie het afgesterf.

Geen mens het nog ooit rede gehad om iets wat die man kwyt raak te bevraagteken nie. Iewers gaan iemand in ons familie sterf, dis ‘n feit soos ‘n koei.

Ek wil dit net regtig nie weet nie. Nie as iemand ‘n baba gaan kry nie, nie as iemand tronk toe gaan gaan nie, en nog minder as daar ‘n sterfte iewers eerskomende Januarie gaan wees.

Op sy wydste gelees kan dit een van 46 wees. Maar dan moet ons al die aangelaptes en –genaaides bytel en moet die man waaragtig ‘n bioniese oog hê om so ver te kon sien.

Ek kan my nie indink dat enige mens hierdie klas van inligting wil weet nie.

En nou dat ek weet. Wat maak ek daarmee?

Ek is kapabel en neem die hele Januarie verlof en hou Klaradyn by die huis.

Net sodat ‘n komeet ons huis kan tref, of die weerlig die spieël soos met Totius se kind gebeur het. Of so iets absurds.

Ek dink onder omstandighede soos die altyd aan ‘n storie wat Victor Frankel in sy bekendste boek vertel. Maar verniet of ek die storie kan oorvertel. My kopie het ek uitgeleen en nie terug gekry nie.

‘n Turkse storie, verbeel ek my.

Die man kom te wete dat Dood op sy hakke is en slaan op vlug op soek na veiligheid. Hy oornag in ‘n herberg, maar is die volgende oggend met ‘n spoed weer fort, sê maar Istanbul, toe. Dood, wat saam met die man in die herberg oornag het, vra die herbergier die volgende oggend wie die man is wat soos haastig daar weg is. Toe die herbergier die man se naam laat val, merk Dood op, iets soos:  “Vreemd dat ons paaie hier moes kruis. My afspraak met die man is eers more in Istanbul.”

No comments: