27.8.12

Angelica

Angelica
Dit het my seker 20 jaar geneem om weer op die naam te kom — Angelica — voor ek die woord so ‘n klompie jare iewers in ‘n boek raakgelees het en onmiddellik geweet het, maar dis die woord waarna ek so lank al soek vir daai goed waarna ek so lank al soek.
Helaas, ook seker nou al meer as vyf en dertig jaar sedert ek dit laas gesien, wat nog te sê geproe het, Angelica.
So ver dit my betref, het jy dit net in rooi en groen gekry. Dit was taai en soet. En jou ma het die groenes gebruik om blaartjies te sny wat sy om die cherry gesit het om soos blaartjies te lyk.
Dalk was daar nie eers rooies nie, en is die rooi wat ek onthou, die rooi van die soet verglansde kersies wat die blommetjie was, met die groen angelica blaartjies om.
Ja, moenie met my en Annieka raas oor die fuss rondom Klaradyn se verjaarsdag nie, dis die oumas se skuld, oor hulle beide sulke lekker partytjies vir hul kinders gehou het.
Annieka vertel nou nog van die tuisgemaakte dadelballetjies wat sy onthou. (En dit móés lekker gewees het, want ek kan my nie indink dat enige kind van dadels kan hou nie!)
Ek op my beurt het ook net die warmste van warm herinneringe rondom my kinderpartytjies. Daar is iewers meer foto’s as die paar hier bo, wat ek onthou, ander partytjies met ander kinders, maar waar die vandag is sal ek nie weet nie.
Haai, en dan is dit vreemd, maar van die opwinding die dag van die partytjie, onthou ek niks, dis die aanloop en voorbereidings wat my die helderste in die geheue staan.
Daardie jare het jy nog Afrikaanse uitnodigingskaartjies gekry, en as dit nie kaartjies was nie, wel briefies in ‘n briefblokkie.
Nee, ek sal nie ‘n Engelse uitnodiging uitstuur nie, vergeet dit.
Dan het jy langs Ma by die tafel gaan sit terwyl sy elke maatjie se naam op die regte plek invul. Jy en Anna, Anna Mofokeng van Witsieshoek, die dierbare swart vrou wat my op ouderdom 1 in haar arms het, het Telawarren- en Launcestonstrate op en af gestap om self die briefies in die maatjies se posbusse te gooi.
Nee, ek hou nie van die SMS wat Annieka geriefshalwe uitstuur nie, dis nie dieselfde ritueel nie.
Dan ook die kolwyntjies. In die stokoue kolwyntjiepanne wat vandag nog in ons kombuis is. Met die koms van muffins bak ons lankal nie meer kolwyntjies in die vorm soos die seuntjie met sy masker en seerowerhoed hierbo regs nie. Maar van die pannetjies wat daardie koekies in sy bordjie vyf en veertig jaar gelede gebak het, raak ek nie ontslae nie, nie in my leeftyd nie.
Kyk ek ou partytjiefoto's is daar seuntjies met dasse aan. En sien ek weer my ma se moeite, destyds, met die versiering van die koekies. Botterversiering, ‘n regte kersie in die middel, en een of ander tydrowende getotter al om die rand van die koekie. Ek onthou die jaar wat ek laat blyk het ek hou nie van verglansde kersies nie (ek hou steeds nie van verglansde kersies nie, maar is dol oor die maraschino-tipe met sy amandel geur) en sy toe jube-jubes (hierdie versuikerde gelatien lekkertjies) een vir een stukkend gesny het om die koekies te versier.
Ook die jaar toe ek ‘n rugbyveld vir ‘n koek wou hê, en my ma, by gebrek aan plastiek rugbymannetjies, twee spanne sokkermannetjies op die groen klapper-veld van die platkoek staangemaak het.
En terug by die rooi en groen van die angelica. Wat was daai rooi en groen jellie wat hulle vir ons in lemoene gestol het. Jy het dan so ‘n kwart stukkie lemoen gekry, maar daar waar die lemoen moet wees, was ‘n skyfie jellie? Ek onthou weer rooi en groen?
Dit was ook die jare van Iced Zoo-koekies toe die diertjies op die koekies nog soos diertjies gelyk het, en nie soos ongedefinieerde monsters wat uit ‘n Jurassic Park ontsnap het nie. (Uit haar eie sou Judy Moolman natuurlik nooit ‘n gekoopte koekie op ‘n kinderpartytjie gehad het nie, nie oor haar dooie liggaam nie. Maar ek het daarom gevra. Ook oor sulke ander lekker boksie-koekies met ‘n malvalekker en klapper bolaag, op ‘n Marie-beskuitjie-tipe onderlaag.)
Wat is walgliker as ‘n omgekeerde roomyshorinkie met ‘n malvalekker vir ‘n kop en jelly tots vir knopies?
Maar my ma se moeite wasn anders— die top van die horinkie is afgesny om as hoed vir die malvalekker te dien. Die horinkie is dan op ‘n Marie-beskuitjie vasge-versiersuiker. Nie vir die fancy-geid soos deesdae dikwels die geval is nie, dis oor daai roomyshoring boepensvol gestop is met ander lekkertjies. Wat is lekkerder as ‘n omgekeerde roomyshorinkie met ‘n malvalekker vir ‘n kop en jelly tots vir knopies? Vir ‘n kind, daardie jare?
Dit tref my, nou toe ek deur die foto’s gaan, dat ek nie hoedjies en van daardie uitblaas-goedjies het vir vanjaar se partytjie het nie. Dit kan mos nie. Jy betaal ‘n plaas se prys, dan gee die kinders dit twee blasé en smyt dit eenkant neer. So what!
Ag, en die hoedjies. Dis iets om saam te vat huis toe, dat Ma dit daar in die asblik kan gooi. Ek kan die moeite met die hoedjies op die foto nie glo nie. Dit moet van crepe­papier wees. In geen jare kry jy so iets meer nie.
Ek voel sommer weer hoe word die paper cups van die sixties pap in my mond met die drink van ‘n tweede glasie oranje of rooi aanmaakkoeldrank.
En is die Shrek-hoedjies, saam met die Shrek-bordjies, -kaartjies, glasies, -banners, -balloons en –party boxes dieselfde?
Ek is van mening dat dit onmoontlik nie kan wees nie.
Ek bevind my die afgelope naweek in die geselskap van ‘n pa wat vertel van die events-organiser wat by die huis ingetrek gekom het met die stoeltjies en dinge. En hoe lekker dit was, twintig minute nadat die laaste gas weg is, om met ‘n skoon huis te sit.
Ja, dis seker ook lekker. Maar, o, so anders lekker. Maar straks kan die events-organiser my vertel waar om angelica op te spoor. Dit was groen (en miskien rooi), taai en soet. En jou ma het die groenes gebruik om blaartjies te sny wat sy om die cherry gesit het om soos blaartjies op jou kolwyntjie te lyk…

No comments: