12.6.12

Soos voorlaas, weer iets oor die sirkus

Die tyd stap aan

Saterdag sien ek ‘n man met ‘n opvallende poniestert saam met sy seuntjie in Hatfield se inkopiesentrum stap.

Die man lyk bekend, ek moet weet wie dit is, en ek stap agter hulle aan om die pa te kan eien.

Toe, enkele treë verder en oomblikke later, toe weet ek, tref dit my soos ‘n glas koue water in die gesig.

En dit verbaas nou al vier of vyf jaar dat die man my so aantrek, ek sou reken my onderbewussyn  sou die hele insident lankal begrawe het.

‘n Kollega van ons en haar seun was daardie middag in die gehoor.

Snaaks, sy het nooit daaroor gepraat nie (en dis nie asof sy my so goed ken om te weet ek het elke oomblik daarvan gehaat nie, dat wat ek daar moes doen, teen alle verwagting, lynreg teen my karakter en persoonlikheid ingaan nie.

Audience participation is ‘n ding wat ek haat. Om as kunstenaar die vierde muur tussen jou en die gehoor te breek, staan my geensins aan nie, maar erger nog as dit, is wanneer ek hierdie kant van die muur inloer en die kunstenaar breek deur na my toe.

As ek ‘n tannie in my middeljare en versot op Bles Bridges was, het ek destyds nie ‘n enkele van sy konserte bygewoon nie – net nou roep hy vorentoe om my ‘n laproos in die hand te prop.

Nee dankie.

Maar Klaradyn was klein en dit was haar eerste of tweede besoek aan die sirkus.

Ons was nog beginner-ouers en het ring side seats teen die dubbel die prys van die onbespreekte sitplekke aangeskaf.

Ons was nog beginner-ouers en het die kaartjies meer as ‘n week voor die tyd reserveer.

So daar sit ons drie toe  heel voor in die middel tydens ‘n middagvertoning wat nie 50% vol bespreek was nie.

Heerlik.

Tot hierdie mal haas in die ring tree.

Ek eien hom dadelik as ‘n mal haas, die man is geheel en al onverskrokke in alles wat hy doen. (Die laaste twee jaar is hy die imbesiel  wat uit die kanon torpedo – ‘n lieflike sirkustoertjie gevul met nostalgie en lewendig gehou deur die talle uitbeeldings daarvan in strokiesprente en grappies.)

Die middag het hy ons egter op die trampolien vermaak en ek maak myself die heeltyd wys hy het meer waagmoed as verstand, dis asof hy sy lewe waag sonder selfs ‘n druppeltjie adrenalien – hy storm net in en doen.

En die volgende oomblik toe storm hy tot voor my en dis duidelik – hy wil my ring toe sleep vir die een of ander audience participation act.

Op daardie punt besef ek daar is een van twee maniere waarop ek nou my naam gaan vergat:  ek kan ten aanskoue van almal ‘n scene opsit en weier om te gaan, of ek kan gaan.

Toe kies ek laasgenoemde – in die ring kan wegkruip agter ‘n masker, in die stoel kan ek net myself wees.

Die musiek het ek herken uit daardie fliek waarin die middelklas werklose Britse mans besluit om die dames die full monty te gee, en te oordeel aan die bewegings waarmee die gimnas die gehoor vermaak het, was dit duidelik wat van my verwag word.

Meer onthou ek nie, behalwe dat ek soos ‘n mol ‘n tonnel tot terug by my vrou en kind wou knaag.

En dis die poniestert by my verby in Hatfield.

En ek besef die sirkus is al amper weer weg, ons sou verlede naweek gaan, maar het op hierdie naweek besluit. En toe vergeet ons weer.

Ek voel vreeslik skuldig oor die een jaar wat ons, om den brode, die sirkus verby laat gaan het sonder om Klaradyn te neem, en ek besluit opnuut:  hierdie jaar gaan ons definitief.

Saterdagaand was buite die kwessie, wat ons met een vertoning, Sondagmiddag, laat.

Ons koop steeds die kaartjies voor die tyd, maar dis suiwer sodat Klaradyn en ek rustig na al die diere kan kyk.

Op die wysie van Die vierperdewa sing sy al die pad: 

Daar kom hy aan, die sirkus karavaan!
Hy kom na ons toe, die sirkus is weer hier.
Die perdjies draai, die apies swaai:
Die sirkus is weer hier!

Ons koop lankal nie meer ring side seats nie, ek het my les geleer. (‘n Ouerpaar gaan sit ook net een keer heel voor in die middel tydens ‘n dolfynvertoning, of dit nou in PE of Durban is.)

Ons sit agter, bo, en liefs nie na aan die paadjie nie – soms stap hulle op met die trappe en ruk jou uit waar jy nie uitgeruk wil word nie.

Soos altyd is dit een vet lekkerte. Soos altyd is die Boswell-vrouens aan stuur van sake by die diere. Ek onthou die ouer dame met haar perde toe sy nog gelyk het soos haar dogter, nou, met die tiere, lyk. En ek verbeel my selfs die Ou Mrs Boswell het detyds gelyk soos haar dogter vandag lyk. En het sy as jonger vrou ook gelyk soos haar kleindogter vandag lyk?

Maar dis met ‘n ander heimwee dat ek daar uitstap:

Ons het vir die eerste keer nie tydens pouse op die ponies gaan ry nie.

In die begin was dit vyf rand; verlede jaar tien.

Maar die ringmeester het dit duidelik gestel:  “Pony rides are only for little ones under the age of five.”

Klaradyn se eerste besoek aan die sirkus was op 4 maande. Die Moskou Staatsirkus was in die land en sy moes saam met ons. Dit het my opgeval hoe rustig ‘n baba tussen die geraas en geklap en musiek deur kan slaap. Ek het haar in ‘n Kangaroe-drasak aan my lyf gedra.

Klaradyn het vandag ook nie gevra vir die tradisionele sirkus-twak ingevoer uit Sjina wat die venters verkoop nie. (Dis nou al drie jaar sulke lawwe liggies wat nie meer werk teen die tyd dat jy by die huis aankom nie – dit het helemaal ophou werk, of dit kan nie afsit nie, pla die kind as sy gaan slaap en jy moet wag tot die batery ‘n dag of wat later afgeloop is.

In die beginjare kon Ouma Nooi nog saam met ons kom. Dis sommer nou die ander dag.

Sy het ook nie vir spookasem gevra nie.

Ook nie eers vir ‘n rooi harlekynneus van spons nie.

Die laaste een, ook al ‘n jaar gelede, het die honde bygekom na ons skaars tuis gekom het.

Ek sou vir haar ‘n liggie gekoop het. En ‘n rooi neus met spookasem daarby.

As sy net gevra het.

Maar sy het nie.

Ek wou in ‘n stadium vra of sy nie spookasem of ‘n liggie of ‘n neus wil hê nie. Wat van ‘n pannekoek? Hoe lyk dit met ‘n sirkus-t-hempie?

En of dit wyslik of dom was, weet ek nie, maar ek het daarteen besluit.

Die kind word nou groot.

Sy het darem die derde of vierde jaar in ‘n ry die Coke onder my stoel omgeskop.

En by gebrek aan die ponies het ons pouse op die swaaie vlak voor die hoofingang kon gaan ry.

En genadiglik het daar ‘n reus van ‘n man in die stoel voor haar plaasgeneem en kon ek haar weer vir die volle duur van die vertoning op my skoot vashou.

My kind word groot en een van die dae laat sy haarself tien teen een saamsleep sirkus toe terwille van haar ma en haar pa.

Want dis ‘n feit soos ‘n koei: die mal haas met die ponie sal al oud en afgeleef wees, miskien al die ou oom wat soggens die kaartjies uit die karavaan en deur die venster verkoop, sy seun sal al self sy buiging ‘n keer of wat in die ring gemaak het, dan sal die Moolmans steeds aanmeld vir drie kaartjies, iewers agter en liefs nie na aan die paadjie nie.

No comments: