Nee, wat! Wat ‘n teleurstelling! Ek is al tranerig van Vrydag af, dan letterlik; dan figuurlik.
Dit het begin toe die kind Vrydagaand vir Pappa wil help met die ballonne en sy dit inderdaad onmiddellik regkry. Soos ek die vorige drie jaar gedoen het (want dis al wanneer ek ballonne opblaas — verjaarsdagtyd) kom ek agter sy trek en rek elkeen eers so uit bietjie uit, met so ‘n effense saaklikheid maar ook ‘n ietsie van ‘n vertoon.
My pa het geglo die ballonne word styf en stram van die lê en dat hulle makliker opblaas as jy hulle op hierdie manier so ‘n bietjie gebrei het. En hier ruk en pluk Klein Klaradyn ewe kordaat aan die ballonne.
Maar dis nie die ergste nie — sy kry die ballon opgeblaas. Sý, my kléintjie! Wanneer het dit dan nou gebeur? Soos ‘n dief in die nag wat ‘n mens bekruip! Dis soos gister (2009) en eergister (2008) en die dag voor eergsiter (2007) dat sy ook nader gestaan het en wou help. Natuurlik het ek nie gelag nie, natuurlik kon sy nie opblaas nie.
En nou het sy selfs die vermetelheid om die ding nog toe te wil knoop ook!
Nee, Vrydagaand was nie vir my lekker nie.
En Saterdag se partytjie het gesuig! Ek is gewoond speletjies speel, vir drie jaar het ek verlof ingesit en dan by die kleuterskool allerhande speletjies met pryse en pret en plesier aangebied.
Ek is Saterdagoggend 03:30 wakker, en staan toe maar op. Ek kry alles gereed vir my speletjies: toue, lepels, koevertjies met prentjies en dingetjies vir opwindende speletjies, kaarte vir stomstreke, ballonne, vissievang-goed, balle vir eierresies, sakke vir sakresies, my dasse vir stertaftrap, en alles en sommer nog baie wat. Ek stoom selfs drie van my ma se ou kerkhoede vir wanneer elkeen van die twaalf ‘n hemp, twee handskoene, ‘n paar skoene van ons en ‘n hoed op die kop en aangetrek moet kry. Ek kry die toiletpapier reg vir die toiletpapiertoedraai wat elke jaar die hoogtepunt is.
I am on a roll!
Maar om ‘n armlastige onderwyser te wees, hou ook sy voordele in: in plaas daarvan om pophuise Hospice toe aan te ry, is dit makliker om Hans te vra of hy nie die kinders se pophuis vir Klaradyn wil kom optel nie.
En so het Klaradyn nie net een lieflike pophuis nie, maar twee, lieflikes, grotes, die grootste en mooiste wat ek nog ooit gesien het.
Met die dan ons tien dogtertjies verwag, het ek en Annieka vroeg al besluit om die pophuise uit te dra, en alles wat verband hou met die poppe. Te lieflik, te gesellig.
So toe die ys gebreek is met ‘n strepie en kolletjie oor die gesig, hulle elkeen ‘n moment met die handpoppe gehad het, die koek gesny is en dit tyd is vir SPELETJIE-TYD, toe roep ek hulle nader.
Nou my skoonma het my geleer dat ‘n mens nie kind wat speel se spel onderbreek nie, en ek hét iewers geleer ‘n kind is nooit so ernstig as juis wanneer hy speel nie, en dit hét gelyk asof die meisies ‘n heerlike tyd het...
Maar ek roep hulle nader, daar is immers ‘n uur se speletjies wat wag.
Ek het beslis ‘n fout gemaak om met die ballonne te begin, vir seuntjies sou dit reg wees, vir dogtertjies nie. Hulle het my vir so twee speletjies verdra, maar voor die eerste een klaar was, het party al uitgesak en agter die pophuise ingeklim.
Toe ek speletjie 3 wil begin, toe staan ek alleen.
Maar ook maar goed, want het ek aanhou speel het die soutdeeg-yskasmagneeetjies wat ons om die tafel gemaak het, seker houtskool verbrand. Dis die eerste keer dat ek die deeg met voedselkleursel kleur, en dit werk nogal. Klaradyn se twee magneetjies en pa se demonstrasiemodel is styf teen die yskasdeur staangemaak. Maar ek is bang om dit af te haal – ek is bevrees die magneet gaan agterbly en ek gaan met ‘n soutdeeg boonste helfte in my hand agterbly. ‘n Glue gun vermoed ek sou beter gewerk het as koue lym. Maar elkeen is weg met sy magneetjie.
Met my entoesiasme benede vriespunt, tel Annieka dit toe op om die kinders te vat om pakkies oop te maak. Te heerlik.
Ons blaas en sing rondom Tannie Esme se verjaarsdagkoek wat die hoofattraksie was. (Net jammer die kinders eet so min van die kunstenaarswerk, maar ook nie regtig nie, want ons het Sondag heerlik weggelê, die koek is nie net mooi nie, hy is heerlik gebak ook, met botterversiersel, die works!
In ‘n stadium het hulle gemmerbroodmannetjies versier wat ek gedink het elkeen huis toe gaan neem, maar ‘n hele paar het hulle s’n sommer daar opgeëet.
Iewers het groepies trampolien gespring, die pophuise is beset, ek en ‘n dogtertjie het nog soutdeeg-vormpies gemaak, en ek wil my verstout om te sê elkeen (behalwe nou Pappa wat uitgemis het op die speletjies) het darem so min of meer ‘n lekker tyd gehad (‘n heerlike tyd vir party, te oordeel aan die boodskappies wat na die tyd ingekom het.)
Teen 12:00 het ek iets oor die kole gehad vir ‘n soutigheidjie en 13:00 toe was die mammas daar.
Toe Klaradyn nog net so moeg na haar tweeuurlange middagslapie wakker word, was haar eerste woorde: “Mamma, ek dink ek is nou eers bietjie klaar gepartytjie.”
Maar toe moet ons opruim en regmaak vir Sondag se ete met die familie.
En toe tjank ek Sondag heerlik onder die tafelgebed wat ek Annieka gevra het sy my swaer moet vra om te doen: dit was die eerste verjaarsdagete sonder Ouma Nooi.
Ek was Sondag daar om haar op te tel, maar ek het geweet dit sal ‘n onreg teenoor myself, teenoor my ma, en die ander gaste wees. Dit was Sondag twee dae dat ek gevoel het ek gaan kuier by ‘n vegetable. Miskien was dit twee af dae, ek sal vanmiddag sien; miskien gaan sy net baie vinnig, baie drasties agteruit.
Maar Ouma was daar, in die poeding (een van haar resepte) wat Annieka gemaak het, en toe ek die kouevleis in die bord pak en ek donder en plak dit nie sommer net op die bord nie, toe weet ek dis ook hoe my ma dit sou gedoen het.
Toe weer ‘n middagslapie, en toe weer gereed maak vir die eetdingetjie by die skool in die klas vandag.
Ek twyfel of ons weer volgende jaar partytjie gaan hou met 10 of meer maatjies.
Die Juffrou het genoem dat Klaradyn die uiteenlopendste maats met die uiteenlopendste persoonlikhede genooi het, en so, weet ek, sal dit altyd bly. Hulle begin ook nou die ouderdom bereik waarop die maatjies wat nie in dieselfde skool of klas is nie, nie noodwendig maklik in ‘n groot groep inskakel nie.
Annieka dink aan drie kuiermiddae oor twee weke versprei, waarop vier van hulle saam speel. Ek is bekommerd vir “two is company, three is a crowd” maar glo four sal dan ‘n happy bunch wees.
Maar ook nie nou se worries (of soos die kinders in hul Afrikaanse opstelle skryf, warries) nie. Dis nog ‘n jaar, en voor dan is dit nog eers Pappa se eie verjaarsdag, Saterdag.
No comments:
Post a Comment