22.5.11

Die sondes van die vaders…

…mag die kinders besoek (en wee die derde en vierde geslag) maar hulle keer waaragtig weer terug na die vaders ook.

Storietyd, daardie vyftien minuutjies voor slapenstyd, wat ‘n halfuur word, en kort duskant, maar meestal anderkant, veertig minute uiteindelik end kry, is wanneer ek die sterkste besoek van my eie sondes ontvang.

Pappa is dan ook gou, storm selfs, om eerste by die boekrak te kom en ‘n opgewonde stemtoon in te neem as hy die boeke uittel. Dit werk so vyf uit die sewe aande, ás sy tydsberekening en intonasie reg is, én die planete is almal in ‘n goedgunstige lyn aan die hemel geanker.

Maar bodder ek om die handdoek van die vloer op te tel, of my bril in die badkamer te gaan haal, is dit verby.

Klaradyn onderskei al vir langer as ‘n jaar tussen storieboekies (80 – 90% prentjies; die res woorde), leesboekies (80 – 90% woorde met hier en daar ‘n illustrasie) en slaapboekies.

En dis hierdie slaapboekies van haar wat my so teister en vinnig voor die boekrak het, die regte stemtoon in plek – net om te keer dat sy my voorspring met haar eie seleksie.

Die slaap-bleddie-boek van haar, want boekié is wragtig nie een van hulle nie, is nie net vir Pa nie, maar enige etimoloog of leksikograaf se nagmerrie. Die naam suggereer immers dat dit ‘n boek is wat die kind tot in droomland sus, die een waarmee sy as het ware in droomland in wegdommel.

Trouens, inteendeel, geensins, dit is beslis nie die geval nie — elkeen van hierdie kwansuise “slaap”-boeke van haar, over eksiteer en stimuleer haar brein só, dat geen Klaas Vakie dit binne vyftig seemyl van die slaapkamer waag nie.

Dan ook sy, Klaradyn, wat kort-kort laat val, iets soos “praat reg, Pappa,” of, “Pappa praat deurmekaar, Pappa.” (Haar Pa is die een wat begin wegdommel, nie die kind nie!)

Elkeen van hierdie boeke, en is dit nie ironies nie, dan ook een van Pappa se aankope, gunstelinge of aanwinserye. Óf koffietafel-formaat (na uiterlike vorm en grootte), óf met die oog op gestrenge navorsing (na onderwerp en inhoud) – de leste een (en daarom baie swaar, lomp en moeilik hanteerbaar vir enige liggende vaderfiguur wie se oë al begin toesak die oomblik as sy sitvlak die bed tref.)

Tussen 2 en 3 was slaapboekie een van twee moontlikhede:  “Die Boesman-boek” of die “Ander boek van die Boesmans.” Beide van hulle 200pp-dikke, folio-grootte fotoboeke oor die Boesmans van onderskeidelik die Kalahari en Namib. Die prentjies verleen hulle nie tot wendings, nuwe storielyne en newe-temas nie. Maar wie durf ook nou vanaand enigsins afwyk van dit wat jy gisteraand, en al die vorige aande voor dit, by ‘n prentjie kwytgeraak het. Dis iets wat jy nooit doen nie en een van die eerste lesse wat jy as voorleser vir jou kleuter bemeester.

Aanvanklik kon ek nog daarmee wegkom om die bladsye so in veelvoude van tiene, soms vyftiens, om te blaai, maar dit was in ‘n ander tydsgewrig. Deesdae vrá sy nie waar die stukkie is wat jy sopas geriefshalwe 'n mis gegee het nie (sê maar die stukkie van die ou tannie, wie se man se gesig deur die leeu skeef geklap is, wat volstruiseier-roereier uit ‘n leë skilpaddop op die warm grond bak) o, nee, Mêrrempie sê vir jou, “Nee, Pappa, ons het nou net die deel oorgeslaan waar hulle die wortels wat soos beet lyk maar wat wit is, gaan uitgrawe!”

Die “Ander boek van die Boesmans” is ‘n duur versamelaarsitem, oplaag van 500, elkeen met die hand genommer en deur die skrywer-fotograaf geteken, wat ek jare gelede op permanente bruikleen-basis van my broer gesteel het.

O, en is ek vandag spyt oor die betrokke aanwins tot my (Klaradyn se) boekery!

Hierdie boek het darem “hoofstukke”, die man besoek die Namib, Okavango, Botswana, en nog ‘n paar onherbergsame uithoeke van Afrika, en as jy gelukkig is, maar ook net ás, kan jy ‘n streep trek na so twee of drie “hoofstukke”.

Nou se dae het die versameling egter uitgebrei, wat natuurlik Pappa se verveling teenwerk: Twee dikkes van Oom Picasso, een elk van Ooms Henri Rousseau, Salvador Dali en René Magritte.

Elke naakstudie word in die verbygaan ‘n tannie wat nou net uit die bad klim, of hulle nou op die strand of in die bos is. En vir party van Oom Picasso se vet rolletjies, tieties en koekeloekse lag ons lekker. (Noem my maar oudedoos maar ek maak nie ‘n kind van my groot met ‘n penis, vagina en boesem nie!)

Om van die penisse, egter nie te praat nie:  Africa Adorned, ‘n ekstra swaargewig, ekstra folio-grootte foto-joernaal rondom versierings, juwele en ander ydelhede in Afrika, van die Ndebeles en Zoeloes in die suide, via die outjies van Togo en Benin, tot die Tuareg en wie-ook-al-nog in die noorde. Iewers na die Masai is daar hierdie ooms, hierdie baie ooms op die walle van die rivier, wat mekaar, en elkander se piepietolle wit verf. Te aardig vir (enige Westerling se) woorde. Hier in die begin kom ek daardie bladsye ‘n nog ‘n gerieflike skip gee… maar helaas, nou se dae? Ek sweer sy hoor aan die anderse geritsel van die papier, as ek veelvuldig in veelvoude van tien omblaai, dat haar pappa haar nou kroek.

En dis ook nie dat ek preuts is nie. Dis net, wat maak ek as sy, my liefiekind, een aand lostrek en vir haar groot en sterke pappa vra:  “Maar Pappa, hoekom is daardie ooms se piepietolle dan so groooot, en Pappa s’ …”

“Ja, toemaar my kind, kom ons gaan aan. Háái, kýýýk (met so stygende infleksie), net hiééér (met so opgewonde dalende infleksie) na hiééérdiééé (met stygende én dalende kadens) tannie se snaakse oorbelle.”

Tot enkele jare gelede, trouens nét nadat Klaradyn 3 geword het, was ek vir jare ‘n groot aanhanger van Gary Larson, van The Far Side Galery. Ek het elke enkele The Far Side Galery, collection, anthology en compilation denkbaar. Trouens, tot nou die anderdag kon ek nie wag vir, en het ek die rakke dopgehou vir ‘n The Complete, Collected Gary Larson’s Far Side Galery — with hundreds of never before published cartoons (of so iets) nie. Maar dit was ook nou net tot so hele rukkie gelede.

Elkeen van daardie boeke lê nou regs onder, dwars in Klaradyn se boekrak.

En as daardie kale pienk voetjies, selfs nog voor sy haar pejosters aanhet, boekrak toe trippel, en die witte boude buk af ondertoe om twee peertjies te vorm, kan ek maar weet:  “En dan is hierdie ons slaapboek, Pappa.

Nou groot, of swaar en lomp, is die goed gelukkig nie — net so dík.

Maar ook dit is nie probleem nie.

Ek vra jou met trane in my oë — hoe op deeske aarde vertel jy vir ‘n kind van vier ‘n Engelse spotprent geskoei op ‘n hoogs unieke, intelligente en volwasse droë sin vir humor? En ek het die man se goed hoeka so geniet omdat ek party van die goed eers na drie of vier begin snap het, omdat dit waarvoor ek vanjaar by ‘n prentjie gelag het, nie noodwendig dieselfde is waarvoor ek volgende jaar lag nie.

Voor Annieka in my lewe en toilet gekom het, met ‘n versameling wat darem gelukkig knap duskant Reader’s Digest eers versadigingspunt bereik, was Gary Larson se versameling boeke, naas nou die ononderhandelbare papier langs elke troon, die enigste ander vorm van papier in my toilet toegelaat.

Maar, my dankbaarheid tot stof, het ek darem stof tot dankbaarheid ook: na, wat voel soos ‘n uur, is Klaradyn so uitgekuier met my onsamehangende gebrabbel (hier teen die doodsnikke van my einde), dat sy dan nege uit tien kere kom met “Mamma kan nou by my kom lê.”

En, o, Mamma weet dit ook, as Mamma nie gou daar is om my uit die bed te boender nie, spring Miesies op en gaan haal Mamma agter die rekenaar. En dán is sy wéér wakker, van voor af.

Mamma is nie naastenby so softy soos Pappa nie. Haar drie stories, is drie stories (die laaste twee sommer lekker kort ook), en as Pappa klaar gelees het, is daar nie sommer sprake van nóg ‘n storie nie, nie eers ‘n kort-kortetjie vir die katel nie.

En dié kere wat daar wél is, is dit iets uit die Otto-versamelbundel.

Elkeen van daardie stories is so agt bladsye lank.

Behalwe nou een enkele killer van ‘n een, “Otto gaan karnaval toe”, hy is agtien bladsye lank.

Raai-raai watter een is Klaradyn se gunsteling?

No comments: