Ek behandel, ter wille van my eie lekker en in die hoop dat die kinders sal aansteek, 'n gedig van Elisabet Eybers.
En dis nie 'n week nie – toe is die vrou oorlede.
Ons doen 'n gedig van George Weideman, die kinders het in die laer grade reeds met twee van sy jeug- en kinderverhale te doen gekry, maar die man nog nie as digter leer ken nie.
En voor ons nog die huiswerk kan doen – toe is die man dood.
Ek gooi my oog oor my jaarbeplanning om te kyk wie se gedig is volgende aan die beurt en slaak 'n sug van verligting: Ingrid Jonker; sy het gelukkig reeds die tydelike met die ewige verwissel.
Nou behalwe dat dit natuurlik loutere kale tjol is, weet ek dat ek iewers op universiteit via die een of ander dosent 'n benaming vir hierdie tipe drogredenasie leer ken het, maar verniet of ek op die woord kan kom.
En dan is dit mos nou maar een maal hoe dit met woorde is: Jy hoor ‘n woord wat jy nie die vaagste idee het wat dit is nie oor jy die woord straks nog nooit gehoor nie, of soos hier – jy weet dat die woord al jou pad gekruis het, maar verniet of jy die woord of sy betekenis kan onthou... en dan kruis daai dessitse woord in die volgende drie weke jou pad ‘n verdere sewe keer.
Vir my was dit so met nepotisme.
Ek het ‘n ou man geword voor ons kort na die eerste demokratiese verkiesing in 1994 konstant, en tot vandag toe steeds op gereelde basis, daarmee bombardeer is.
Ja, ek wil suggereer dat ons eers onder die ANC se voortou neem daaraan blootgestel is, maar dis ‘n lieg. Dit was toe al die tyd net ‘n nuwe woord vir ‘n baie ou en bekende ding wat ons in die vorige regime sommer Boereverneukery en baantjies vir boeties genoem het.
'n Militêre junta is in my woordeskat nog so 'n geval. En ook nie net vir my nie, duidelik vir die rekenaar se speltoetser ook – die sagteware erken die woord nie, bloot oor dit nie in die program se woordeskat herken word nie.
Maar soos ek dit het, na die woord in 'n kort tydjie my pad by herhaling oor die radio, die paalkoerante én die oggendblad gekruis het en ek uit blote nuuskierigheid my afleiding in die woordeboek gaan toets het, verwys die woord na die outjies uit 'n land se eie weermag wat 'n militêre staatsgreep uitoefen en die beheer oorneem, of dan nou probeer oorneem.
Of ander kere weer, soos ek gister met my drogredenasie oor die digters, wonder jy oor ‘n woord en waar jy die woord gaan opspoor en dan duik hy kort daarna, of weke later, uit die bloute op en meld hom helder in jou bewussyn aan.
In gister se geval met my, sommer dieselfde dag.
Ons sit in ‘n personeelvergadering, die lugversorging stukkend, die kraaie gaap en ek vang vis op so ‘n wyse dat my nek vanoggend skoon in ‘n spasma is.
Die gasspreker, ‘n advokaat aan die woord oor onderwysreg en mens- en kinderregte, haal aan uit Desiderius Erasmus, iets wat regsgeleerdes glo beskryf as “bewapen met drie sillogismes”.
En ek ruk wakker.
Pikwakker.
Want daar is miskien die woord vir gister se growwe veralgemening: Hans beplan ‘n gedig van Eybers, en daar sterf Eybers. Hans beplan ‘n gedig van Weideman, en daar sterf Weideman. Breytenbach en al die ander lewende digters wees gewaarsku — as Hans een van jou gedigte op sy kwartaalprogram het, gaan jy kort voor lank afsterf.
Maar dan is dit eerder ‘n vals sillogisme as ware sillogisme, want toe ek vanoggend die HAT nadersleep staan dit daar: “Redenering bestaande uit twee premisse waaruit ‘n besluit, konklusie afgelei word as die premisse waar is. Bv. Mense is sterflik, ‘n koning is ‘n mens; daarom is ‘n koning sterflik.”
Hierdie lange relaas rondom sillogisme egter suiwer die gevolg van die ander sillogisme waarop ek myself vanoggend, gerieflikheidshalwe, betrap het en is dit eintlik hieér waar ek my klets wou begin het:
‘n Mens kry darem maar sulke pragtige mans, sulke “mooie mans” soos my ouma sou gesê het; en dan het dit niks met looks te doen nie, ek bedoel mans wat navolgenswaardige voorbeelde is oor hulle sulke ‘n góéie en déúgsame mans, egas, eggenote vir hul wederhelftes is.
Die “pragtige man” in ons familie was my ma se peetkind se man, Bruce.
Eintlik my niggie se man, maar dan klink dit of ons nefies en niggies speelmaats kon gewees het, en dit is geensins die geval nie; ek is goed twintig jaar jonger as hulle.
So twee keer ‘n jaar is ons familie toe, hetsy vir ‘n naweek, langnaweek of kort vakansie.
Ek hoor nou nog my ma stekies uitdeel aan my pa, of opvoed aan my, as ons dan nou ná die opruk Oos-Vrystaat toe, huiswaarts keer: “Wat ‘n pragtige man is die Brian tog nie vir Amelia nie,” of “Hoe ‘n pragtige man het die Brian nie toe tog op die ou einde uitgedraai nie.”
En hy was. Hy het.
Wat die sterkste indruk op my as kind gemaak het, ek vermoed onder breinspoeling van my ma (gedagtig aan die stekies na Pa en pitkos vir my opvoeding) was die feit dat hy elke oggend, nie net as ons daar was nie, maar elke oggend van sy lewe, heel eerste, voor al die ander opgestaan het, en vir elkeen in die huis koffie in die bed gebring het.
Maar so het hy een oggend douvoordag , jare later met sy kinders al uit die huis en op universiteit, vir sy vrou haar koffie in die bed gevat, omgedraai en sy kop in die gastetoilet gaan wegblaas.
Nou ek is nie ‘n koffie- en teedrinker nie; Annieka ook nie.
Of so het ek gedink.
Want toe begin sy, hier teen Julie vanjaar, na jare van getroude lewe, soggens koffie maak.
Het sy, “living a life of quiet desperation” haar koffielus al hierdie jare bloot net onderduk?
Want na ‘n week begin sy selfs soggens voor my opstaan om vir haarself te loop koffie maak.
En daai week is nog nie eers ‘n vol week nie, toe maak ek my stem dik, die ertappelboer sal trots op my wees, en ek sê: “Nou maar, jy maak nou vir jouself koffie, hoekom maak jy nie maar vir my ook nie?”
Nou is daar seker mense wat lelik kan wil dink van my vrou – sy maak vir haarself koffie, en vat nie eers vir haar man en hoof van die huis 'n lekseltjie nie.
Ja, jy mag maar lelik van haar dink, ek gee nie om nie, maar oor ander goed, miskien, net nie oor die koffie in die bed nie. Onthou, en ek hét dit gesê: ék is nié ‘n koffiedrinker nié.
Maar verander dit maar na “ek wás nie” ‘n koffiedrinker nie.
Want so begin Annieka mos toe nou ‘n lekker ding: koffie in die bed vir Hans. Elke weeksoggend.
En dit raak vir my ‘n heerlike bederf.
Ék is nou die een wat die R366-00/kg-koffie in die trollie gooi en haar vertel om dit agter die olywe in die ander kas weg te steek dat die bediende nie ons koffie drink nie.
Nou kyk, daar is by my geen vrees dat my vrou een mooi oggend soos Bruce iets onverantwoordeliks gaan aanvang as klaar die stomende koppie boeretroos langs my bed staangemaak het nie.
Maar toe is daar vanoggend nié die, wat nou al gebruiklik geword het, tradisionele koppie koffie langs my bed nie.
Ek lê selfs bietjie later, vir ingeval dit nog kom, maar sy soek al juwele uit en daar is van koffie steeds geen sprake nie.
En ek betrap my minute later in die kombuis met die ketel wat my aankla.
En ek wonder, sal ék nie maar vir ons koffie maak nie.
Maar toe onthou ek skielik vir Brian, én onthou ek danksy die verwysing na sillogisme wat weer my pad gekruis het, gelukkig ook wat met mans gebeur wat soggens vir hul vrouens koffie maak en dit agter hulle aandra kamer toe.
En ek besluit om dit maar liewers veilig te speel.
No comments:
Post a Comment