Moes vanoggend op pad personeelkamer toe hoor hoe Annieka haar vir my skaam, wat ‘n verleentheid ek is, dat ek geen trots het nie, en dat die mense agter ons al twee se rûe skinder oor hoe sleg ek lyk, en dat hulle agteraf wonder hoekom sy dan nie na my kyk nie.
En ek het geswel van trots.
Ja, daar is talle kwinkslae in omloop oor ‘n man wat ‘n vrou nie verstaan nie, maar dis net so waar, net minder aan die groot klok gehang, dat inboorlinge van Venus, ook nie aldag weet wat in ‘n Mars-man se kop aangaan nie.
Eintlik begin Annieka wat haar so vir my skaam se skaamte vier jaar gelede rondom Klaradyn se geboorte by die wyse raad van ‘n goeie vriendin wat ons nie gevolg het nie, en ek haal dit verbatim aan, want dis nogal goeie raad:
Vriendin Lentelie se wyse woorde het op dowe ore geval en daar sit Hans Moolman toe einde 2007 en vier jaar later met sewe langbroeke regs in sy kas. Héél regs in die buitenste duisternis. Selfs meer regs as die troupak en skoonpa se pak vir jaarliks matriekafskeid hou (wat hom laas voor die aanbreek van die nuwe millennium gepas het).
Vlak voor Hans is daar net drie DKW’s (dans-, kerk- en werk- ,skool- en tuinwerk ingesluit, langbroeke.
Dis nou op ‘n Dínsdag na die strykvrou daar was. Teen Donderdag moet daar reeds weer gewas wees, sodat Dinsdag se broek vir Donderdag of Vrydag, gou voor skool gestryk kan word.
Dierbare Ouboet, wat Jan Taks maandeliks meer PAYE, as wat Hans se jaarlikse bruto salaris voor enige aftrekkings is, kom met ‘n Kersvaderlike hand tot die redding en ek besef as ek Januarie wil skool toe gaan, kan hierdie milde versameling Woolies-geskenkbewyse onder geen omstandighede vanjaar weer gebruik word om Klaradyn toe te stop nie — ék sal moet klere kry.
Ek hou nie van klere koop nie. Die mans wat ek ken wat van klere koop hou kan ek op hoogstens twee vingers aftel. Ek stel uit, ongelukkig tot vlak voor die skole begin en die sentrum bewe van back-to-school specials, -mammas, -pappas en -laerskoolkindertjies. Enige besoek aan ‘n klerewinkel hanteer ek soos ‘n maneuver eie aan guerrilla-oorlogvoering — ek hit and run en sewe minute later kies ek vir Klaradyn ‘n soetigheidjie wat hulle altyd vlak voor die kasregister uitpak sodat ouers se siele deur hul eie kinders versondig kan word.
Maar sewe Woolies-broeke (en ‘n t-hemp vir Klaars) later hou ons modeparade vir ‘n baie trotse mamma wat haar nooit vir haar man sal hoef te skaam nie.
Maar daar begin ek my toe vir myself skaam, veral as ek en die badkamer spieëls my vir ‘n breukdeel van ‘n sekonde van voor, van agter, van die linkerkant of van die regterkant in ons wedersydse gesigsvelde kry.
En sommer enige spieëls is dit nie. Genoeg om te sê dat die huis waarin ons bly ‘n huurhuis was voor ons gekoop het. En hierdie huurhuis het op sy dag ‘n bordeel gehuisves. Gate in die dak van elke vertrek, waar kringtelevisie seker moes toesien dat swepe en wat ook al, nie klap tot die bloed spat nie, kon ons toestop, maar aan die duisende rande se spieëls wat ‘n man die geleentheid bied om, onder andere sy boepens, teen 360-grade al in die rondte te aanskou as hy gaan pie-pie, kon ons helaas niks doen nie.
Op 44 werk grappies oor enige man wat weet jy parkeer nie ‘n nuwe Mercedes in die son nie, nie meer nie. En na my vrou kort tevore sinies, en hopeloos te veelseggend na my sin, begin giggel het oor ek langs ‘n braaivleisvuur te vertelle had dat enige Bolandse wynboer jou sal vertel dat die grootste trosse in die skadu groei, moes ek dit maar aan myself erken: Hans jou boepens is te groot. Jy hoef nie te lyk soos jy lyk nie en as jy eendag aan Klaradyn se sy die kerk wil afstap om haar oor te gee, sal jy aandag aan hom moet gee.
Ongelukkig is dit ook so dat ek summier vir ses maande ophou rook het toe die dokter so klompie jare gelede daai kyk in sy oë kry en saam met die voorskrif vir ‘n chroniese tablet sê dat ek een van die volgende drie dadelik moet doen: ophou rook, gesonder eet, of oefeninge doen.
Ek leef om te eet en biltong moet nie te veel vleis aan die vet hê nie. Ek hou nie ‘n sweterigheid nie, haat dit as my asem jaag en kry gou hartkloppings. En oefeninge waarborg al drie binne 40 sekondes.
Om weet op te hou rook, had ek hierdie keer darem die gesonde verstand, sou aan my boepens niks doen nie. So toe loop ek maar vir die volgende twee of drie maande. met intense innerlike konflik in my gemoed, soos ‘n opgestopte Kersvader rond.
Tot ek eendag, heel terloops, en in die verby gaan, hoor dat dit ‘n man se suikerinname is wat verantwoordelik is vir daai afdakkie en skadukol net bo die waterlyn.
En so moeilik soos dit vir my is om op te hou rook, so maklik skakel ek oornag bykans alle suiker uit my daaglikse ete en vrete. En dit werk! Geen suiker. En steeds geen melk as jy nie eerder room kan gebruik nie, ook geen droë seningrige volstruisbiltong of disse wat deur die Hartstigting se rooi hartjie op die spyskaarte aangedui is nie.
Ek verloor sonder enige inspanning sentimeters der sentimeters en begin weer soos ‘n mens lyk en voel. Ek voel so goed oor myself. Jong Juffroutjies by skool begin weer met my geselsies aanknoop en ek vertel grappies van sonneblomme wat nie hulle koppe lig is as hulle in die skadu staan nie.
Enigste probleem is net, om plek te maak vir sewe nuwe Woolies-broeke, is die stryktannie weg met sewe ou broeke uit die dae voor Klaradyn se geboorte. Einste sewe wat ek destyds na regs verban het vir ingeval hul dalkies net eendag weer pas. En sit ek nou elke dag met een van sewe hopeloos te groot broeke om van uit te kies.
So hoor ek op bykans weeklikse basis, soos vanoggend weer, hoe sleg ek lyk.
En al wat dit regkry is om my te herinner hoe goed ek lyk, hoeveel gewig en sentimeters ek sonder sukkel afgeskud het. En ek kry selfs so ligte huppel in die stap personeelkamer toe.
As vrouens maar net geweet het hoe mans se koppe werk.
No comments:
Post a Comment