5.6.12

Sirkusnabetragting


Nooit heeltemal soos in Enid Blyton se boeke (ek dink aan The Circus of adventure) of soos in Slampampersirkus (waar in Dana Niehaus altyd as hulle vertrek Wish me luck as you wave me good bye gesing het) nie, ook niks wat vaagweg herinner aan Chris Barnard se Paljas, jare later, nie; maar opwinding was elke jaar gelykstaande aan ‘n Curie Beker-oorwinning op Loftus as Boswell’s Circus Alberton toe gekom het.

Die opwinding van ‘n lewendige vertoning sou eers ‘n week of wat later kom; ek verwys na die middag na middag se besoek aan die sirkusterrein om na die leeus en die tiers te kyk. Staan hulle hier is dit sommer kaalvoet, staan hulle daar, is dit met die fiets, maar kyk sal ons gaan kyk.

So is my beste maatjie rondom standerd vier ‘n rou Flaming uit België. Hy maak my nog bang met die vleis op sy brood wat kwansuis perdevleis is, ons giggel nog vir sy jonger boetie se boekie met die gedig “De poes van tante Lies” in, toe is die sirkus daardie jaar op ons, en ons op ons fietse af na die tent toe.

Dis hoeveel jaar later, en ek onthou dit steeds, die verleentheid toe einste jonger boetie tussen al die mense lostrek met “Kyk, die olifant pisse! De olifant pisse.” En dit moet seker pissen wees, maar ek onthou pisse. En hoe skaam ek gekry het vir my maatjies wat so vreeslik vloek.

Daardie jare het sirkusse nog lewendige orkeste gehad, altyd op so ‘n stellasie, wat lewendig musiek gemaak het — sulke regtige sirkusmusiek, soos van ouds.

Haai en hier is ek al vyf en veertig en steeds was dit vanmiddag ‘n oomblik van opwinding toe ek besef die vrou wat aan my die kaartjie verkoop, is dieselfde vrou wat tien teen een netnou, soos die afgelope klompie jare die geval is, die toertjies met die honde en die perde gaan doen. ‘n Waardige sirkusmoeder, soos ek ook haar ma uit my kinderjare onthou. (En verbeel ek my of begin haar dogter, op die se beurt, weer klaar lyk soos haar ma ‘n klompie jare gelyk het?)

Seker maar die boeke en die flieks, maar vir my is daar ‘n ongeëwenaarde romantiek aan ‘n sirkus. Vandag steeds, nog meer as destyds, kom hulle vir my soos een groot gesin oor. Dis by die mal haas op die rolskaatse en die trampolien wat ek Klaradyn se spookasem koop, die vrou waarby ons die program gekoop het, is dieselfde een ‘n rukkie later in ‘n sequence-kostuum besig om sewe hoepels, gelyktydig om haar heupe-middel-maermerrie-arms-en-nek te tol. Die man aan stuur van die tou in wie se hande die sweefstokarties haar lewe toevertrou, is dieselfde man wat twee items gelede saam met sy broer (maar dit lyk nie soos sy broer nie) toertjies met die Sjinese vase gedoen het.

Ja, dis wat so lekker is van ‘n Klaradyn: Pa het ‘n rede om weer te kan sirkus toe gaan!

Dan moet ons onthou Hans het tot in matriek elke jaar sirkus toe gegaan. In die vier jaar op universiteit was ek elke jaar gelukkig om die sirkus tydens een of ander reses in my tuisdorp te kry. En as ek alleen moes gaan, het ek alleen gegaan. As student, destyds, was my aandag en belangstelling, as ‘n jong man met toneelkunde as vak, natuurlik 50/50 verdeel tussen kunstenaars en die gehoor.

Vandag is my aandag steeds verdeel, hierdie keer tussen die kunstenaars en wat op my skoot, of op die sitplek langs my, op Klaradyn se gesig aangaan.

Op die wysie van Daar kom die wa, die vier perde-wa sing ons in aanloop tot die groot dag gereeld in die kar: Daar kom hy aan, die sirkuskaravaan; hy kom na ons toe, die sirkus is weer hier.

Klaradyn het die sirkus letterlik met moedersmelk nog ingekry. Die Saterdag voor haar doop, toe moet sy maar saam met ons na die Moskou Staatssirkus wat in 2004 in SA getoer het.

‘n Ding wat my, toneelkunde of te not, soos ‘n puisie op ‘n vark se rug laat uitstaan, so ongemaklik maak dit my, is ‘n ding soos audience participation, ‘n ding waarvoor die harlekyne (waar is die dae van Tiekie en Francesco?) deesdae baie lief is. Vandat ek daai een stampvol matinee-vertoning my bekken ten aanskoue van almal op die maat van The Full Monty se musiek moes swaai, sit ons gevolglik nooit meer heel voor, in die middel van die binneste ring nie, en lyk dit of iemand net daaraan dink om in ons rigting te beweeg, dan duik ek onder dien stoel in, kwansuis op soek na Klaradyn se bottel, iets wat sy al vir vier jaar nie meer gebruik nie. (daar was daardie middag toevallig twee van my kollegas en hul kinders saam met ons in die gehoor, in die goedkoper seats, en wat ek so van hulle al twee waardeer, is die feit dat nie een van hulle nog ooit daarna ‘n enkele woord oor die insident gerep het nie.)

Hoe meer ek nou in my gedagtes delf, hoe meer kom ek onder die besef dat ek regtig ‘n ding met ‘n sirkus moes gehad het. Die eerste en vir lank die enigste muurversiering wat ek in my kamer op universiteit gehad het, was ‘n gelamineerde plakkaat van nar, met die vreeslik sentimentele woorde Share with me your sadness, and I will share with you my joy  (of anders om) daarop. Ek het die plakkaat nog steeds. Maar iewers in die garage, darem al vir jare.)

Ook twee skilderye van harlekyne met die jare aangekoop. Maar anders as so dikwels die geval is, en hulle is nogal moeilik om te kry, is my harlekyne nie die tradisionele unhappy of sad clowns nie, nee, my harlekyne lag van oor tot oor en daar is nie ‘n sweempie hartseer in een van hulle nie. (Amper soos Van Gogh se sonneblomme wat in sy skilderye nooit hulle koppe laat sak het, nadat dit gepluk is nie.)

Is dit in Sorrento waar al wat Afrikaner wat daar kom, vir hom ‘n ietsie inlegwerk uit hout aanskaf. Daar het ek my Arlecchino, die harlekyn van die Italiaanse commedia dell’ arte, gekoop en vir twee maande in my rugsak saamgepiekel het.

Dit maak ook nie saak waar in Europa ek my bevind nie, ek doen navraag na ‘n sirkus, groot of klein, eersteklas, medioker of sommer agtertangs, dit maak nie saak nie. Die sirkus, sedert die dae dat die Romeine met die woord vorendag gekom het, vir my altyd een of ander barometer van ‘n volk of gemeenskap se een of ander iets. Presies wat daai iets is, kan ek nie verwoord nie (want dis natuurlik sommer bog, ek weet). Tog is ek eers een met kultuur as ek eers saam met daardie kultuur in die sirkus was, asem opgehou het, en gelag het.

In Suid-Afrika suig ons natuurlik aan die agterste speen wat sirkus betref. En ek kry die oorsese kunstenaars, wie se enigste of beste aanbod, in Suid-Afrikaanse rand is, altyd jammer.

Maar ek haal my hoed vir die Brian’s en die Boswell’s af (en met ‘n warmte dat ek die Willkie’s in die herinnering roep. Nie noodwendig ‘n lekker geskiedenis nie, maar ‘n lang geskiedenis en ‘n verlede om op trots te wees. Hulle en aangehou, uitgehou en vasgebyt. Eintlik onmoontlik om te dink dat hulle staande gebly het.

Hoe lekker was dit nie om vanmiddag, vir die eerste keer in jare, nie ‘n enkele geskeurde leotard of kostuum te sien nie. Nie ‘n enkele kunstenaar, al het hulle dalk so gevoel, het soos ‘n sterwende eend aan het vlie deur ‘n sneeustorm gelyk nie.

Ek sien klaar uit na volgende jaar en hoop Klaradyn sal tot in matriek nog bereid wees om saam met haar Pa by die sirkus gesien te word.

Natuurlik net jammer dat ek nooit weer deur die oë van kind na die olifante, leeus, tiers, perde en selfs die honde sal kan kyk nie.

Daar is min mense so geheel en al weerloos uitgelewer aan die genade, soos ‘n sirkusarties in die middel van ‘n ring nie. Die meeste van almal egter die dieretemmer. ‘n Kind lees nie ‘n sirkus tussen die lyne nie, hy donder halsoorkop en onbevange daarin.

‘n Mens verloor daardie vermoë soos wat jy ouer word, en dieselfde spanning en afwagting waarmee my oë as kind op die sweefstok gerig was, kenmerk deesdae my belewenis van die dieretoertjies, enige dieretoertjie.

Ek wonder hoe ek sal reageer op ‘n mooi meisie, in ‘n balletrok, op haar tone, op ‘n perd se rug. Maar dan is mooi meisies op hul tone in balletrokke op ‘n wit perd se rug iets wat jy, lyk my, nog net in boeke aantref.

Hoe lekker, op daardie noot, was dit egter nie om vanmiddag vir die eerste keer in my lewe, lewendig (hulle sê dis vir die eerste keer in 45 jaar) iets te beleef wat ons net in strokiesprente en boeke leer ken het nie — ‘n man, daai symste mal haas wat my destyds wou laat strip op die maat van the Full Monty, wat ‘n menslike koeël uit die loop van ‘n reusekanon, regs voor in die tent, die ring in geskiet is. (‘n Human cannonball klink soveel beter, ek weet. Maar somehow voel ek dat ‘n Engelse uitdrukking in hierdie geval geensins, selfs net vaagweg grensend aan geslaag, sal wees nie.)

Ek dink, maar die uiterlike bedrieg maklik, hoeveel te meer nie in ‘n sirkus nie, dit gaan goed met ons sirkus. Toe ek die Boswell-tannie vanmiddag agter die loket se glasskerm herken, toe stotter ek soos ‘n verliefde hoërskoolseun, iets soos “We’re looking forward to an exiting fun filled afternoon.”

En presies dit wat ons gekry het. So by so* dat ek nou agter die toetsbord moes in, om soos ‘n perd na afloop van ‘n resies, net eers bietjie koud gelei te word.

Daarom ook dat ek as titel van vandag se inskrywing, eerder Sirkus Post Mortem wou hê. Bedoelende daarmee die figuurlike nabetragting wat aan ‘n post mortem gekoppel word.

Maar netnou dink die mense ek sê die sirkus is gevrek. Wat natuurlik glad nie geval is nie — vra maar enige van die kinders wat vanmiddag se vertoning bygewoon het. Of hulle nou vyf, of vyf en veertig is.



*Ja, ek weet die gebruik van "so by so" is tien teen een verkeerd. Kom ons sê dan maar ek het 'n hoogsidiolektiese gebruikswaarde van hierdie lieflike uitdrukking.

No comments: