Ek het al genoem genoem dat die winter vir Annieka net een ding is, en dit is melkkos. By die eerste geleentheid, selfs al is dit net ‘n kouefront wat 500 kilometer suid van die Kaap, by die land verbytrek.
Vir my, tot spyt van haar en Klaradyn, is dit sop.
Maar dan is ek mos nou gelukkig die ongelukkige een in die huis wat die kos moet maak. So as ek die aand sop wil maak, kan niks my keer nie. En as Klaradyn die betrokke aand net brood wil eet, dan moet sy maar.
Maar nie vanaand nie. Vanaand het sy selfs ‘n tweede porsie gevra en Annieka het opgemerk dat dit die eerste keer is dat sy ‘n tweede porsie sop vra.
Dis natuurlik nie waar nie. Maar nie dat ‘n mens van iemand wat nie die kok is, kan verwag om so iets te onthou nie. Maar ek weet Klaradyn het al twee keer vroeër hierdie winter ‘n tweede porsie sop gevra, en elke keer was dit as ek sampioensop gemaak het.
Ek praat ook van “vroeër hierdie winter” asof Pretoria al winter het. Natuurlik sommer bog nè, ons loop nog in kort broeke, en die kinders kaalvoet, rond. (Maar as daai kouefront 500 kilometer suid van die kaap verbybeweeg, dan verklaar ek dit saam met Annieka winter, sy vir haar melkkos, ek vir my warm wintersop.)
Die laaste vier of vyf kere se sop was uit die perspektief van ‘n Pappa wat vir sy dogtertjie sop kook, beslis nie suksesvol nie.
Maar vanaand, soos met die sampioensop, was anders.
Vanaand, omdat ek nie ‘n geskiedenis van sukses met dik groetesop of bonesop het nie, het ek my heel lekkerste sop van alle soppe gemaak: Portugese hoendersop.
En dan noem ek dit Portugese hoendersop suiwer omdat ek die betrokke resep vir die eerste keer uit Mimi Jardim se Cooking the Portuguese way in South Africa gekook het.
Van daai eerste keer wat ek dit in 1992 gemaak het, was dit vir my heerlik en hier vroeg, elke Julie, is Annieka en Klaradyn al uitgeëet daaraan. (Maar, gelukkig, as julle nie van die kos hou wat ek voorsit nie, dan kan julle julle eie maak, ekskuus, kan julle julle eie take aways by Mc Donald’s gaan koop!)
Dis gesinskos, kombuiskos, beslis nie vir high days and holidays nie. Maar ek het dit al vir gaste voorgesit.
En ja, ek het die resep al verlede jaar geblog. Ek sou verlede jaar hierdie tyd definitief gevoel het soos ek nou, vanjaar nadat ek dit die eerste keer weer gemaak het, voel. Ek sal volgende jaar tien teen een weer daarvan vertel.
Haai, en toe ek my ma-hulle so ‘n klompie jare gelede daarmee wou bederf, toe het my ma nie greintjie takt in haar oor nie, toe wil sy skaars haar mond daaraan sit en sê sommer reguit dat dit nie sop is wat sy eet nie.
So vier of vyf jaar later, toe ek deur een van haar ma, Ouma van Wyk, se oerou kookboeke lees, toe kom ek op ‘n baie soortgelyke resep af, en dit onder ‘n opskrif soos “Soep om siekes te versterk”. En ek kan glo dat Ouma van Wyk my ma en haar suster en broer hierdie sop kon ingejaag het as hulle siek was en versterking nodig had.
Ek praat ook nou van ‘n “soortgelyke resep”, maar ek lieg, dis met ‘n enkele uitsondering hier en daar, presies dieselfde bloody resep, en dit sal my nie verbaas as Mimi Jardim se Portugese seevaarder-voorvader einste resep by ‘n Boeretannie hier op eie bodem raakgeloop het nie.
Ook sy noem in haar inleiding tot die resep: “The is nothing like good chicken soup to restore your health”. Sy sluit ook later af met “Add a touch of lemon juice and ‘restore’ yourself.”
Sy speel ook nie verniet met ‘restore’ nie, want dit is blykbaar waar restaurant (restore-ant) aan sy naam kom, die plek waar jy jouself kan ‘restore’ met heilsame kos. Soos ‘n goeie bord sop?
Vir hierdie heilsame hoendersop het jy ‘n groterige plaashoender nodig. Kry een by die Boeremark en bly weg van ‘n kiep wat op beenmeel en ander kanibaliteite knap na puberteit nekomgedraai is. “Free range” van Woolies dan maar, as dit nie ander kan nie. Die ander goed het min tot niks vleis, en nog minder tot minder as niks geur. En hierdie sop van ons soek geur.
Daardie hoendergeur laat jy nou toe om intrek te neem in sowat 2 liter water, aangesterk met ‘n bietjie sout na smaak. Dis nou terwyl jy die hoender saam met ‘n ui stadig vir ongeveer twee ure laat stowe en prut tot die vleis maklik van die been afkom. Moenie van die binnegoed in die plastieksakkie (ek praat van die hart-long-poephol-en-tong) ontslae raak nie, gooi dit saam in. Raak wel ontslae van alle bloed en was die hoender deeglik; dan kry jy ‘n lieflike helder aftreksel.
Ter wille van die Portugese geur, jy wil immers nie Boerse hospitaalkos voorsit nie, gooi jy ‘n paar naeltjies by (2 of 3 of 4 of 5 of 6), ‘n paar heel wonderpeperkorrels, ás jy gelukkig genoeg is om nog te kry of te hê (2 of 3 of 4 of 5 of 6), ‘n stokkie of twee kaneel óf cassia (na gelang van wat jy in die kas het), ‘n lourierblaar (1 lekker groot vette as hy uit jou eie tuin kom, so nie twee of drie van hierdie lawwe en verslane goedjies wat ‘n mens in boksies of botteltjies koop) en ‘n paar skyfies (ek gebruik so veel as ‘n helfte) chouriço.
As jou hoender gaar is, lig jy hom uit die pot en laat hom eenkant om koud te word. Stuur jou aftreksel deur ‘n sif of doekie en raak van die geurgoeters ontslae. (Proe gerus aan daai stukkie chouriço wat van effe so lekker geurig was toe jy dit ingesny het, dit proe aan niks — sy geur is in jou aftreksel in.
In jou aftreksel kook jy nou sowat 200g rys. Of ryspasta, of klein skulpie- of lettertjiepasta. Dis waarmee ek Klaradyn vanaand gevang het — lettertjiepasta soos van ouds (deesdae weliswaar nie meer letters nie, maar syfers.)
Sodra jou vingers nie meer te veel brand van die hoender nie, kry jy die vleis van die been af en in klein stukkies. Terug in die pot.
As jy dink jy is nou klaar met jou sop, dan kan jy dit maar alles net so uitkrap in die honde se bakke, of saam met die asblik uitsit vir die gesiglose onbekendes wat soggens vroeg voor die askar kom, jou asblik deursoek vir herwinbare bottles en papier. Én, dikwels, kos.
Jy móét vir opdiening ‘n takkie of wat vars kruisement in elke bord skep (Gedroogde Robbertson’s werk nié) Ek kýk nie eers na ‘n hoender voor ek nie weet hoe sake met die kruisement in die tuin staan nie.
Dan, op pad in van die kruisement, hetsy via die tuin of die Fruit & Veg, maak jy ‘n draai by die suurlemoenboom/-rak. Want net so belangrik soos die vars kruisement onder in die bord is, is ‘n paar (of meer) vars druppels suurlemoensap bo op jou sop, sodra jy dit klaar ingeskep het.
Geniet dit. Dis om van huis toe (of blog-land toe) te skryf. Keer op keer. Jaar na jaar.
Tot volgende jaar hierdie tyd dan, wat die hoendersop betref.
O, ja, die Portugese noem dit canja de galinha, of sommer net kortweg, canja.
No comments:
Post a Comment