Dit was gisteraand weer sulketyd - ek kon nie langer uitstel nie, nie na al die soppe waaraan ek die gesin die afgelope maand uitgelewer het nie. Annieka en Klaradyn is van mening dat hierdie melkkos selfs lekkerder is as die van die tannie by die Boeremark.
Mense wat gereeld hier lees, sal weet ek hou nie van lui-huisvrou-kortpaaie as dit by kosmaak kom nie, veral nie as dit die maag en die hart gelukkig moet maak nie.
Nou melkkos is in ons huis ‘n iets wat ek meer vir die hart as vir die maag maak.
Melkkos van frummels gemaak is heerlik, maar ek het nie daarmee groot geword nie.
Ons melkkos is van snysels gemaak.
Nou met die snysels het ek al baie lang en heerlike ompad van ‘n kortpad vervolmaak: Ek stuur die slap deeg met effense gesukkel deur die pastamaker wat en ’94 in my hand uit Italië hier aangedra het. Heerlik. Dit smaak soos Ouma dit gemaak het.
Siestog, vriende van my se ouma het haar melkkos met Fati’s en Moni’s gemaak, en dis oor ek as jong seun ‘n twee of drie keer by hulle hulle ouma se melkkos gekry het, dat ek vir goed 15 jaar van my lewe nie my hand of mond aan melkkos gesit het nie.
Maar toe kruis Annieka my lewenspad, en die res is geskiedenis. Sodra die eerste kouefront so 200km suid van Gough-eiland verby trek, dan vertel Annieka my dis koud, dan vra sy vir melkkos. Soms so vroeg as middel April.
Iewers verlede kwartaal klappertand ek en ‘n paar ouers voor Klaradyn-hulle se kunsklassie. Soos gesprekke maar gaan, beweeg ons s’n van die weer na kos, en ek laat val dat ek nou al weet Annieka gaan vanaand vir melkkos vra.
Toe noem ‘n mamma vir wie ek jare gelede skool gehou het die heerlike melkkos wat sy met sago maag, en my ore kom soos radarskottels wat golwe uit die buitenste ruimte opvang, in plek, want sago is ‘n outydse kos wat my hartsnare altyd roer. Ouma van Wyk het sago-poeding gemaak wat ons gereeld agtermiddag se kant by haar moes gaan optel om die aand te geniet.
Tuis gekom rol ek snysels uit, maar my gedagtes wil nie weg van die sago nie en ek spoor die mamma se nommer via die kleuterskool se kunsklassie-juffrou op, en bel. Nee, dis reg, sy sal soek en vir my stuur.
Wat sy toe ook doen, per SMS.
Ai, mense, is dit nou lekker! Ek sal die resep se mates moet aanpas na een en ‘n half, want elke keer wat ons dit maak, dan is die kos op voor ons harte en mage daaraan uitgeët is.
Wat ek gekry het, en te oordeel aan die formaat moet dit uit ‘n plaaslike kookboek kom, is net die volgende:
1.125 liter melk
125 ml sago
30 ml margarien
50 ml mazeina
30 ml vlapoeier
3 ml sout
2 eiers geskei
‘n Metode het ek nie gekry nie.
Maar ek kook die melk en sago tot die sago deursigtig is. Ek het al die sago eers geweek, maar as die lus ons aan die smaakkliere beet kry, is daar nie altyd die luukse van week nie. Dit werk in elk geval wat my betref net so goed sonder week.
Iewers rondom die begin gooi ek die botter en die sout in.
Dan die mazeina en vlapoeier. (Miskien wil hulle oorspronklik gehad het dat jy die sago net in die liter melk kook en die kwart koppie wat jy hou gebruik om die mazeina en vla daarby in te werk. Ek het dit nog nie so gedoen nie, maar ek dink dit is raadsaam – dan hoef jy nie bang te wees vir klonte as jy dit inklop nie.)
Die “twee eiers geskei” sê vir my jy moet die geel ook aan die einde se kant inwerk en dan die witte wat jy styf geklop het tot die een of ander stywe punt stadium daarby in vou met ‘n mes of ding.
Maar gelukkig het ons seuns nooit moes leer hoe om iets “in te vou” nie en het ek lankal opgehou om weg te hardloop as ek lees “vou ligweg in met ‘n slaplemmes”. Ek weet dis iets wat sommige vrouens histeries het, maar ek roer dit dan maar net in.
Teen hierdie tyd staan Annieka en Klardyn soos twee kinders uit Oliver Twist bakhand gereed met hulle bakkies.
Miskien moet die botter eers aan die einde in, ek weet nie.
Geniet dit net met kaneelsuiker.
No comments:
Post a Comment