26.9.11

Hartskos

Nie dat iemand belang sal stel nie, maar hier dan ‘n vyfde resep wat nie die regte een is nie:

Een groot bottel Cross & Blackwell mayonnaise

Een blik kondensmelk daarby ingeroer

Mosterdpoeier (meer as wat jy die eerste keer ingooi — ek het drie keer  ingegooi)

Asyn so veel as wat jy nodig het om van die oorheersende kondensmelksmaak ontslae te raak

En nou help dit nie ek word oorval met moedige pogings nie; dit is mos nou maar een maal soos dit met sommige kokke gaan — sommer uit die kop uit kook, en meng, en voeg hulle so na gedagte (en wat daar op die rak oor is) by.

En so was dit met Judy. Ek het al uit elke denkbare kookboek  wat sy ooit op haar rak had, elke resep wat net vaagweg, moontlik, miskien, dalk, kan, herinner aan haar aartappelslaai, probeer maar dis duidelik die ding was in haar kop, oor jare heen met liefde voorberei en vervolmaak soos haar gesin dit die meeste waardeer het.

Daarom dat ek nou self bymekaar gooi en (ver-)brou. Dit help ook nou nie om haar te vra nie — toe ons laas gekyk het, en dis ook al meer as ‘n jaar gelede, was daar van haar brein nie eers 60% oor nie.

Die “baie vriendelike dame en man” (soos sy hulle noem) by wie sy tans in die Kaap kuier, is eintlik haar oudste seun en skoondogter. Maar ek dwaal af.

O, en dan onthou ek,  al (af-)dwalende,  die lekkerste Kersfeeste en beplannings- en verkennende gesprekke, hierdie tyd van die jaar al, rondom die wie, wat en waar van die Kersete. Nie dat daar vreeslik beplanning ooit was nie, dit was eintlik maar net bevestiging van elke jaar se roetine en standaardspyskaart.

Die varkboud, en ek brand om boekdele te vertel, was  Judy se speciality.

So vra ek haar (toe ook al in die sewentig) so ses jaar gelede, Kersfees is daardie jaar by ons, of sy weer, soos van ouds, vir die varkboud sal sorg.

“Natuurlik,” willig sy in, want sy is ‘n bobaaskok en bedien haar man nog elke dag (en vir ‘n jaar of twee, drie daarna steeds) van drie maaltye ‘n dag.

Maar sy roep my met ‘n beklemming, wat net dié naaste aan haar sal herken, later by die spaarkamer in. “Oubaas, maar Mamma weet nie hoe om ‘n varkboud gaar te maak nie; ek het dit nog nooit gedoen nie. Sê nou dis nie lekker nie?”

Ek het koud geword. Soos daai een oggend ‘n jaar of wat tevore toe ons by hulle oorslaap en my oog vang haar op die bed sit. En ek sien, nie my ma nie, maar my ouma, soos ek haar jare gelede as kind op ‘n bed sien sit het.

Hierna het dit vinnig gegaan. En dit was toe in elk geval al klaar te laat.

Koud het ek weer geword, ‘n ruk daarna toe ons daar opdaag vir ete, en die tafeldoek, servette, plekmatjies en borde pas nie bymekaar soos vir ‘n koningsmaal nie, by gebrek aan vars blomme, nie eers ‘n potplant op die tafel nie. Dít, nie soos Judy al die jare was nie.

My en Annieka se bestelling, elke een Sondag in die maand, as ons deurry na die oues toe, was “Ma se sosatietjops”. Maar nou laat weet ons al teen Dinsdag sodat dit op die laatste Woensdag al hul lê in die erdebak kan kry. (Siestog, hier teen die einde, voor hul ouestehuis toe is, het ons glad nie laat weet nie — anders kook sy ‘n week lank aanmekaar, is sy Sondagoggend vieruur al op die been en heeltemal buite weste teen die tyd dat ons daar stop.)

Die laaste sosatietjops wat ek onthou, en onthou ons het hiermee grootgeword, was, om dit vleiend te stel, grensend aan oneetbaar en ek, Annieka miskien ook, het dit met stil en ingehoue trane weggesluk.

In hierdie stadium het elkeen uit die familie wat kom kuier die selfopgelegde taak gehad om die yskas te detox van bakkies, en muffies en ander ongedefinieerde goed wat gevaar geloop het om saam met ‘n wors en ‘n eier in haar wederhelf se ontbytbord te beland.

Gevolglik mymer ek en my broer gereeld elke jaar langafstand oor die telefoon oor Ma se kos en elke keer kom die sosatietjops onder heimwee, herinnering en bespreking. (Ons is ‘n gesin wat leef om te eet, in plaas van andersom.) Saam is ons twee seker al meer as ‘n eeu oud en in al hierdie gedeelde jare het ons nog nooit ‘n ander mens raakgeloop wat sosatietjops maak of ken nie en ons maak stilweg vrede daarmee dat hierdie tjoppies van Ma voortaan net in die geheue geproe gaan word.

Tót nou die anderdag op besoek aan ‘n mark, wat in die volksmond seker eerder bekend staan as ‘n vlooimark, maar dit beslis nie is nie; eerder afsetgebied vir onwettige immigrante se onwettige gesteelde ware. Die enigste stalletjie wat vaagweg vlooimarkkwaliteit had, toe die een met die tweedehandse boeke. Ook dan nou presies hier waar ek krap en hooikoors opdoen van snuffel in die stof en stories wat elke boek van vertel..

Betsie Rood se Maleier-kookkuns, vang my oog. Ek kon nie glo dat die betrokke uitgewer in die sewentigerjare hulle sou bemoei het met so anti-Apartheid onderwerp en iets anders as Boerekos en vertaalde kookboeke uit die buiteland nie.

Met Cass Abrahams se Kook Kaaps-Maleis by die huis is dit ook maar redelik onbelangstellend dat ek deurblaai en wag vir vrou- en kindlief om die geld wat ons nie het nie, uit te gee op dit wat ons nie nodig het nie.

En daar spring die letters na my toe, so eie aan die Afrikaanse tong van die sewentigerjare:  Kotelet-sosaties. Nogal ‘n Kotelet-sosaties A én ‘n Kotelet-sosaties B.

Met die prys van skaapvleis wat dit is, en ‘n karmenaadjie die status van ‘n argaïsme of taalfossiel gekry het, is eksperimenteer met tjops seker nie iets wat enige mens nou se dae doen nie. Maar as die skip ingekom het, probeer gerus een van die volgende twee. Dis nie dieselfde as Judy s’n nie, maar as jy die twee resepte een maak en meng en pas na gelang van wat die kombuisrak bied, kom jy baie naby daaraan.

Mev A Hendricks se kotelet-sosaties

2 kg skaapboudkotelette
3 groot uie
1 groot knoffelhuisie
125 ml wit asyn
10 ml sout
12.5 ml suiker
10 ml borrie
2 groen rissies
Paar lourierblare
Olie

Was vleis, plaas in emalje- of erdehouer.
Sny uie in ringe.
Stamp kniffel en meng dit met al die ander bestanddele behalwe die olie.
Voeg dit by die vleis en roer dit om goed te meng.
Laat ‘n paar uur lank marineer.
Haal die vleis uit, skud die sous af en sit eenkant in ‘n bakskottel
Haal uie uit marinade.
Verhit olie in pan, voeg uie by en braai tot goudkleurig.
Voeg dan die marinade by en laat deurkook.
Giet sous oor die vleis.
Bak die vleis met sous ‘n half uur lank in die oond.
Bedien met fynaartappels of geelrys met beetslaai.

Kotelet-sosaties

450 g uie in dun ringe gesny
Vet of olie
‘n stukkie groengemmer
3 knoffelhuisies
Sout na smaak
Tamarynwater of asyn
1.5 kg skaapkotelette
Lourier-of lemoenblare
12,5 ml kerrie
5 ml borrie

Braai ui in vet of olie
Voeg gemmer, sout en knoffel saam gestamp daarby.
Voeg tamarynwater of asyn by en laat die vleis oornag daarin lê.
Laat die kotelette stadig in die sous prut, met die byvoeging van lemoen- of lourierblare, kerrie en borrie (gemeng) tot sag en gaar.

Ek, vir wat dit werd is, voeg die twee resepte se bestanddele saam, volg my eie kop met die hoeveelhede, mog het troffe met die asyn en laat dit prut op die stoof soos by tweede een, eerder as bak in oond soos by eerste.

En nee, ek kyk nie ‘n gegeefde perd in die bek nie. Hoe het die mense daai lekker ryk ongesonde mayonnaise gemaak wat hulle oor die aartappelslaai gegooi het?  


(Maleier-kookkuns, geskryf en saamgestel deur Betsie Rood, opgedra aan dr. I.D. du Plessis en die Maleiergemeenskap, is in 1977 uitgegee deur Tafelberg.)

19.9.11

Judy & Anne


My ma se suster, Tannie Anne, is seker so nege jaar gelede oorlede. Alzheimer.

Die derde laaste keer wat ek haar besoek het, was my en Annieka se eerste besoek saam aan haar vandat sy in die ouetehuis ingetrek het.

Sy was nie in haar kamer nie, maar in die eetkamer. Ons het in die deur gestaan en sy het lank en vraend na ons gekyk. Anders as my ma het sy duidelik te kenne gegee dat sy wonder wie ons is. Ons het ons self voorgestel en toe lekker gekuier, maar of sy ons enigsins geëien het, het ek nie destds geweet nie. En weet ek tot vandag nie. Die manier waarop sy na ons gekk het, die nuuskierige vraagteken oor haar gesig is wat my bybly, en altyd sal bybly.

Die tweede laaste keer was enkele maande later. Teen hierdie tyd was sy uit die ouetehuis en aan huis van haar seun, seker so twee uur se ry van my ma af.

Ek en Annieka het my ma deurgery sodat sy haar suster kan sien.

Net op my ma en haar seun wat sy reageer het, asof ek en Annieka geensins in die vertrek was nie. Haar “reageer” was ook maar beperk, want sy was, selfsugtig soos ‘n kind, net ingegskakel op haar eie klein wêreldjie, ‘n klein wêreldjie waarin sy die een oomblik koud gekry het an ander klere wou aangtrek, en die ander oomblik weer warm gekry het, en opnuut wou verklee. Toe wou sy in haar pajamas. Dan wil sy in die een stoel, dan in die ander.

Ek en Annieka, ons is beide sissies, het getjank; nie my ma nie – met liefde en geduld en begrip het sy die kuier deurgesit. Haar kalm, beheersde,en nugter self. In belang van haar suster.

Sy het haarself ook nie toegelaat om op pad terug Alberton toe te huil nie.

My laaste besoek was nie twee weke later nie. Annieka is nie saam nie. Weer het ek my ma deurgevat. Hierdie keer ‘n ander omliggende dorp; Tannie Anne is nou bedlêend in die een of ander hospitaal.

Die eerste wat my opgeval het is die feit dat was asof sy geneties verander het – asof God in haar ingespring het en haar gelaatstrekke op haar oudag herprogrammeer het.

Haar hare was nie rooi nie, maar wortel; meer nog dit was asof sy dit ge-frizz het, soos ‘n afro wat effe uitgekam is.

Die struktuur van haar gesig, haar hele profiel, het ook in skaars twee weke verander. Dis nie dat sy uiterlyk gelyk het of sy agteruit gegaan het nie, of oornag oud geord het nie, gensins; dis net dat sy ‘n total make-over gehad het.

Haar stem was dieselfde.

Die vreemde nukkerige korrelkop van ons vorige besoek was dood. Sy was nou net hulpeloos, dis al, niks meer nie; niks minder nie.

Die tweede ding waarvan ek binne enkele minute bewus geword het, was die feit dat die volle omvang van haar hede en verlede beperk was tot hoogstens 40 sekondes, waarna sy keer op keer in ‘n ligte slaaptoestand weggedommel het.

Net om ‘n minuut of wat later weer wakker te word, vir 40 sekondes in kontak met die hede (haar hede en hele verlede) te wees, en dan weer weg te sink in slaap.

Met slaapintervalle van hoogstens 2 minute was sy elke keer, opnuut, tegelyk baie bly en verbaas om my ma te sien. Sy wou elke keer by haar sus weet waar sy is, en sodra my ma haar vertel het waar sy is, wou sy weet hoekom sy daar is.

Dis 9 jaar later, maar ek onthou dit soos gister:  “Waar is ek, Judy?” en “Nou wat maak ek hier?”

En elke keer, oor en oor, het my haar, met dieselfde liefde en geduld van altyd, vertel.



“Jy’s baie siek en in die hospitaal, Anne. Jy kan nie meer goed onthou nie, maar met my en met Ivan gaan dit goed.” (Ivan is haar seun.)

En het sy nie weggedommel voor my ma klaar vertel het nie, was ‘n verlede van enkele sekondes gelede klaar uitgewis en het sy haar vrae maar net van vooraf begin. Selfde verbasing, selfde infleksie. Selfde hulpelose ontredderdheid (as daar so iets is).

Ek is na 20 minute uit. Eers gang toe, toe nog verder, tuin toe, kar toe, vars lug toe, oopte toe.

Ek het nie weer oor Tannie Anne gehuil nie. My liewe donder – ek is immers ‘n groot uitgevrete en getroude man.

Dis my ma wat my hierdie keer in trane had, ek al die pad so ‘n entjie agter haar, van die kamerdeur, met die gange langs, tot by die kar.

Ek verbeel my my ma was haastig om by die kar te kom, maar miskien wou ek my (ons?) die verleentheid spaar.

Om jou drie en sewentigjarige ma, dapper en moedig op sterfbedbesoek aan haar tagtigjarige suster, te aanskou, vat trouens selfs aan pissies veel sterker as ek.

Hierdie keer het my ma op pad terug in die motor na ‘n tissue gesoek. Verskeie kere. Ons het beide geweet. Dit was duidelik.

Ek het van die begin af ook goed geweet wat ons hier kom soek het:  Op my ouma se sterfbed die nag, het Ouma my ma laat belowe om na Anne om te sien. My ma het die ou argument, dat Anne die oudste van die twee susters en die een is wat na my ma moet omsien, gebruik. Maar, soos van te vore, het Ouma die argument gewen met iets soos:  “Judy, jy ken Anne net so goed soos ek, jy weet jy is die een wat na haar sal moet omsien, jongste of te not.”

En my ma het geweet haar sterwende ma is reg, en tien jaar later steeds haar woord gestant probeer doen. Al het dit ook beteken dat sy my van Pretoria af op Alberton by haar moes kry, en daarna weer al die pad tot iewers in die Vrystaat. En terug. Weg van my vrou, die hele dag.

Maar niks hiervan het die stilte al die pad terug huis toe verbreek nie.

En nie drie dae later nie is Tannie Anne dood en het ons in ‘n kerk, genadiglik op Alberton hierdie keer, van haar afskeid geneem.

Ek het een van die kerse wat ek self vir my en Annieka se troue gemaak het, in die kerk brand gemaak en vir Ivan gegee, na die tyd.

Anne se as was vir seker vier jaar in die kassie langs my ma se bed.

Met die laaste besoek aan my ma in haar ou kamer, voor sy getrek het na die Alzheimer-vloer, het die houte kissie ewe makaber langs die blikkie koekies, neffens die boksie sjokolade in die snoep-kas, sy opwagting gemaak.

Maar Ivan het intussen die as gestrooi waar hy dit goed gedink het, en die houtkissie na afloop daarvan aan my ma terugbesorg.

My ma het my so drie weke gelede uit die bloute gevra:  “Wat hoor jy van Anne?”

Ek wou my ma op daardie oomblik nie ontstel nie, en het gesê dit gaan goed. En die gesprek dadelik in ‘n ander rigting gestuur.

Maar dis nie waarby ek wil uitkom nie. Miskien nie eers by Tannie Anne nie.

Tog staan my gedagtes nou al ‘n klompie maande stil by Tanne Anne, wat drie dae voor haar dood, toe haar werklikheid beperk was tot slegs veertig sekondes elke minuut of so, nooit vergeet het wie my ma was nie.

Haar hele verlede was uitgewis. Haar seun het trouens selfs laat weet sy het hom ook nou afgesterf, en as my ma wil afskeid neem moet sy dit gou doen. (Daarom dalk ook hoekom my ma telkens met haar laaste besoek so ongevraagd na hom bly verwys het, so asof sy ‘n vlammetjie wat reeds gedoof was, nuwe suurstof wou gee, om te kyk of dit nie weer vlam vat nie.)

En tog het Anne, weliswaar met intervalle van minute, elke keer met my ma gepraat en presies geweet met wie sy praat, haar telkens op haar naam aangespreek. Haar selfs ge-Joekie en ge-Juds, familietroetelnaampies uit die dae toe hulle nog saam op skool, op vakansie en nog later vir jare saam aan die stuur van ‘n rokkewinkel was.

Medici wat daagliks met Alzheimer-pasiënte werk, sal seker sê dit gebeur wel.

Maar vir my is dit ongelooflik dat ‘n brein wat drie dae later nie meer genoeg van homself oor had om vir die hart te sê om te klop nie, om sy boodskap by die longe en ander organe tuis te bring nie, ‘n brein wat elke twee minute van nuuts af aan ‘n hede en ‘n werklikheid moet skep, steeds sy ligaam se suster, wat sy slegs drie keer in seker ses maande gesien het, kan oproep.

Die wegvrot van die brein neem ‘n duisend vorme aan, ek weet. Maar tog hoop ek dat ek net so, so soos Judy by Anne was, tot op die einde deel van my ma se hede en werklikheid sal bly.

Maar ek weet ek het geen waarborg nie.

En nog ‘n ding:  As ek overly concerned oor die ou vrou oorkom, dis oor ek in haar so ‘n donders goeie voorbeeld gehad het – sy verdien dit om nou te ontvang presies dit wat sy destyds met soveel sorg en liefde en geduld en begrip uitgedeel het. Enige iets minder sal haar stroop van die rolmodel wat sy was, en steeds is.