14.9.11

Dead man walking met 'n spierwitte snor

Dis darem maar hartseer, noudat ‘n mens groot is, waaroor gesprekke nie alles draai nie: geld en politiek en kinders en godsdiens en die geld, politiek, godsdiens en buite egtelike kinders (en ander verbandhoudende sekskursies) in ons Suid-Afrikaanse sport- en vermaaklikheidslui se lewens.

Nooit meer vra iemand jou “my gunsteling groente is dit en dat, en joune?” nie. Wanneer laas het iemand gevra watter kos jy sal wil hê voor hulle jou in een of ander elektriese stoel of ding teregstel nie?

Miskien het dit te doen met die feit dat die doodstraf afgeskaf is en moet ek eerder met ywer inskakel by die groepe wat hulle beywer vir die herinstelling daarvan.

Hierdie lawwe vraag was destyds op skool ‘n gewilde onderwerp gebore uit tweede-pouse-verveling wanneer jou huiswerk klaar afgeskryf en toebroodjies ook al op was.

Later van tyd het dit egter dodelike erns (sonder die dood, natuurlik) bygekry tydens jou twee jaar diensplig, as jy ses maande later gereed maak vir jou seven of fourteen days pas, en was jy ‘n hond, het jy sweerlik aan die kwyl gegaan bloot by die gedagte aan die kos wat jy mis.

Toe ek twee jaar uitklaar was my hele vriendekring op civvy-straat via voortydige briewewisseling gerat vir ‘n uiteet waar ek boere-kookkos kon geniet, in oormaat. En is ons, ironies genoeg, na die restaurant oorkant die Mark-teater in Newtown, Johannesburg waar jy propperse opgekookte groente kon geniet.

Maar synde niemand ooit meer vra nie, sê ek dan maar:  myne is boereboontjies of Dutch beans soos my Engelse skoonsus dit noem, groenbone op die boeremanier gaargemaak — groenboontjies, ertappel, ui, tamatie, sout, baie peper en botter, so fyn gedruk soos jy lus voel.

Ek eet ‘n sopbak vol vir middag of aandete, ek eet dit warm of koud en het kleintyd by ‘n maatjie se ma geleer dis die volgende dag heerlik op brood.

Met diep teleurstelling ook dat ek nou hier sit en tik — die kooksel wat ek al 9:00 opgesit het vir vanaand se aandete, het te min opgeëindig dat ons vanmiddag al daarvan kan hê.

En vir die res bly ons by groen, hou wit en geel maar verby as dit gaan om gunstelinge en terwyl ek vasgesteek het by groente. In voorkeurvolgorde dan naas groenboontjies: spinasie in enige vorm, brokkoli en Brusselse spruite. Net nie ertjies nie. Lees ek op universiteit nog, van hierdie een sjef en koskenner wat gesê het, sonder om dubbelsinnig of snaaks te wees:  “I had a pea… once.” Ditto, wie hy ook al was.

Vir wortels is ek ook lief, maar dan soos Tannie Lenie dit gemaak het: presies soos die boereboontjies, net minus die tamatie. Hou net enige iets soet verby, sommer ver verby.

Overgesetsynde dan eintlik maar enige stamppot-gereg soos die Hollanders dit maak: ertappels en een of meer groentesoort fyngestamp.

Ek het een keer stamppot ge-google en die wonderlikste eenskottel-groentegeregte afgelaai. Nogal jammer dat daar van al die baie, net boereboontjies en boerewortels oorgebly het. Ook maar by die stamppot-tradisie dat ons in dele van die land byvoeging van spekvleis en allerhande gerookte spekkighede en dinge kry.

Hulle sê ‘n gesin eet maar wat die pa voor lief is, so asof die patriarg sy kosvoorkeure op die vroutjie agter die kospotte afdwing. In ons huis werk dit andersom, Pa kook en sy Brusselse spruite is ‘n uitsondering op die tafel. Ma se voorliefde vir enige soet geel ding kom dan meer gereeld, letterlik, ter tafel.

In die besonder dan ook, pampoen, met suiker, geelsuiker, bruinsuiker, demerara-suiker, stroop, heuning en wat ook al dit soet sal maak saam met ‘n goeie knyp kaneel. Pa se porsie word voortydig uitgeskep, sout, peper en botter is voldoende dankie,

Gunsteling maaltye hang af van die seisoen. Ek volstaan maar by die volgende vier, in geen volgorde:

Beesstert en rys, mielierys, stampmielies of kaboemielies
Pekelvis en brood met botter
Kouevleis (self voorberei) en slaaie
Tuisgemaakte sosaties oor die kole

En, natuurlik, vars wit brood met botter. Oorval ‘n warm winkel-broodrolletjie se geur en gloed my, enige plek, maak ek summier ‘n draai by die yskas en koop ‘n klein bottertjie of ‘n klein bakkie Butro, wat ek later by die huis kan bêre en makliker smeer as jy die brood daaroor trek. Dan is dit ek en die kar en my brood en botter, voor ek huis toe gaan. Selfs al is die huis net om die draai.

Nie dat ek vir brood en botter sal vra op die oggend van my teregstelling nie. Die brood kan styl wees, die botter margarien. En margarien is niks anders nie as swart ghries wat hulle goudgeel kleur met ongesond giftige kunsmatige kleurstowwe.

Ek sal maar vra vir die meal of the day op voorwaarde hulle gee my ook ‘n liter yskoue volroom melk, nee, maak dit twee liter. Plaasmelk hoef dit nie te wees nie, dit kan maar ekstra gehomogeniseer ook wees en uit ‘n karton. Maak nie saak nie, want met ‘n melksnor oor my bolip stap ek my toekoms, enige toekoms, glimlaggend tegemoet.

13.9.11

21/4/1928 - 7/9/2010 - 31/8/2011


dink denk dank donk dunk

As jy my nou wil uitdaag tot 'n intellektuele gesprek, nee, as jy my summier opgeklits en gramstorig wil hê, dan moet jou antwoord nou “niks nie” wees.

Dis nou in antwoord op my vraag rondom wat dit is waaraan jy dink.

Ek is die mening (en baie beskeie is dit ook nie noodwendig nie) toegedaan dat dit vir 'n mens wat wakker is, onmoontlik is om nie aan iets te dink nie.

Toegegee, jy is nie elke wakker moment van jou dag besig om die land se probleme op te los, of met die een of ander innerlike konflik te worstel nie, maar jy “dink” in die sin dat jou brein aktief is, besig is om boodskappe uit die omgewing te dekodeer:  die robot is rooi, daar is 'n voetganger, slek af, die wind waai, my voet jeuk, of wat die boodskappe ook al is wat jou brein ontvang en verwerk.

Tot ek nie aan die slaap val nie, dink ek, ek ek sweer die breinaktiwiteit gaan nog aan selfs nadat ek aan die slaap geval het... dan kom die drome, rem-slaap en al daai goed waarvan ek gevaarlik min weet.

Maar nou wonder ek oor my ma en die bietjie wat daar nog van brein oor is:  dink sy, wat dink sy, maak haar gedagtes (vanuit my perspektief) sin.

Sy het stil geword, baie stil. Nog nie so stil soos party van die ooms om haar nie – daar is een wat net lê, en staar, en miskien met sy oë kommunikeer, toelaat dat sy vrou en seun hom soen (al is dit sonder om sy lippe op 'n plooi te trek).

So sal ons Sondag 'n halfuur kuier, ek, Annieka en Klaradyn. Annieka het poeding gemaak, my ma se gunsteling van die ou dae, en ons vier verjaarsdag. Ek voer haar.

Die vermoë om 'n gesprek te voer het verval, haar enigste bydrae in meer as 'n halfuur die betrokke middag, was: “ja, maar sy het 'n groot wit hoed.” Dit terwyl ons oor die bestanddele van die poeding gesels.

Nou wonder ek:

Is my ma in haar gedagtes by 'n gesprek rondom 'n wit hoed?

Het haar taal so verval dat sy ons woorde oor poedingbestanddele dekodeer as van toepassing op iemand se wit hoed?

Of dekodeer sy reg, maar die brein het nie die vermoë om haar reaksie korrek te verwoord of te kodeer nie. As die gedagte die brein verlaat maak dit nog sin, maar teen die tyd dat dit by die tong en die werking van die spraakorgane uitkom, dan het daar ander woorde in plek geval?

Hoekom ek partykeer wonder of daar nog enigsins gedagte (denke) te sprake is, is die feit dat sy nie reageer soos sy altyd reageer het nie:

Sy raak aan my hand en merk dadelik op hoe warm my hand is. Sy doen dit nie meer nie.

Sy sien Klaradyn en sê die kind se hare moet vasgebind word of uit haar oë kom. Klaradyn kan soos 'n golliwog lyk, sy sal niks sê nie.

“Onthou ons is lief vir ma.” “En ek vir julle.”

My oorle ouma draai sweerlik in haar graf om as sy dit moet hoor, maar ek twyfel of my ma enigsins ‘n begrip van ‘n god, God, Jesus of die Here het.

Hardop het my ma nooit haar gesprekke met God aangeknoop nie, in haar gedagtes en in doodse stilte het dit ook nooit plaasgevind nie – nee, sy het hardop gefluister, ‘n aks sagter as ‘n verhoogfluister, maar duidelik hoorbaar, sonder dat ‘n ander haar gedagtes of gesprek presies kon volg.

Die sibilante s’e en ‘n oorgeartikuleerde –t het my altyd opgeval, selfs wanneer ek in die slaapkamer is, en sy in die sitkamer haar aandgodsdiens beoefen.

By gebrek aan iets om te sê, sal ek afhaak met:  “Ma moet onthou om vir ons te bid.” Tot onlangs het die antwoord, soos altyd, gekom dat sy elke dag vir ons bid.

Deesdae kyk sy my onbegrypend aan asof sy nie ‘n idee het waarvan ek praat nie.

Maar miskien is dit oor ek haar “ma” noem en sy nie weet waarom hierdie man met die baard haar dan nou as “ma” aanspreek nie.

Hoewel ek twyfel. Sy herken by beslis, sy warm beslis teenoor my op, sy is beslis op haar gemak by my.

Dis net dat sy nie meer wil gesels nie.

Of miskien verstaan sy bloot nie:

“Ma ek verjaar vandag.”

“Piesang, Ford, menstrueer dertien A?”

“Ek dog ek stop gou voor skool, dis nou eers sesuur.”

“Monate Thabo kielie urienweginfeksie!”

“Ek gaan nou skool toe en sal more weer inloer.”

“Forsh tjoernap polertjie stikst...”

Hoe sal ek weet?

En daarmee kan ek tog nie ‘n probleem wil hê nie.

Dis net dat ek wonder of sy by gebrek aan die bewoording van gedagtes, enigsins nog dink, wat sy dink, en hoe haar gedagtes sal klink as ‘n mens dit verwoord.

Vanoggend stap ek net na 06:00 daar in.

Sy groet dadelik, soos altyd. Die gesiggie helder op.

Maar vir ‘n halfuur is sy stil.

Ek wil haar nie so vroeg sjokolade voer nie. Eet sal sy eet, want dis lekker. En netnou sit sy nie haar mond aan die ontbytpap nie.

Ek praat, maar sit ook maar die meeste van die tyd net en kyk, en streel, en probeer warmte en gemoedsrus uitstraal.

ma lyk mooi vandag het jy goed geslaap kry ma koud hoe voel die been kyk hoe mooi is die plantjies dit word nou warm hoe voel die been is dit seer hulle het ma se hare sommer spoggerig gekam vanoggend kom laat ek ma se bril skoonmaak hy is vol spatsels

En so kan ek aangaan.

Maar die meeste van die tyd net kyk, terugstaar, kontak, streel, bek vol tande en ‘n vet onbeholpe sotlike glimlag.

Neem sy toe die wind uit my seile, twintig minute later wat soos ‘n uur verbytik, want terwyl ek haar nou sóóó en in stilte aankyk, en ek maar my gedagtes besig hou met al die strooi wat ek hier bo kwyt geraak het, trek sy vir die eerste keer los, so helder en nugter en duidelik soos daglig, met niks anders nie as:  “En wat dink jy, Oubaas, as jy so vir my kyk?”