4.3.12

Drie Boboties


1.

Dit was die jaar 1989. Hans pas klaar met universiteit en twee jaar in diens van die SAW&Seuns. Ek’s bo in die lug in ‘n bachelor’s flat met ‘n kombuisie kleiner as my huidige badkamer.

Synde ‘n laat-laatlammetjie, my broer was in standerd 8 toe ek die eerste lewenslig aanskou het, was dit nogal ‘n okkasie toe hy, sy vrou en kinders vir die eerste keer op ‘n Sondag, al die pad van Johannesburg af, my kom eet.

Ek besluit op geelrys en bobotie. Dit behoort fieterjasig en verwikkeld genoeg te wees vir so ‘n historiese moment.

Twee kookboeke het ek. Die Kook en Geniet wat Boeta-hulle namens die twee kleintjies as mondigwordingspresent gegee het (Dear Hansie, Happy 21st Birthday. Love Joanne. Love Marc —onderskeidelik in ‘n graad 1- en standerd 1-handskrif). En Huisgenoot Wenresepte 2, begin ’89 toe ek huis opsit van Ma-hulle gekry (In die mooiste sierskrif hierdie keer:  Hans Moolman Feb 1989, op die skutblad se binneblad, Oubaas, geniet jou bak en brou!! Liefde Judy, ‘n entjie dieper in op die titelblad.)

Wenresepte sal dit dan wees. Pagina 112 (Ek het vanaand weer daar gaan blaai en ‘n dis gemaak van gemaalde wildsvleis, geen brood en bittermin melk — dit sou, gemeet aan enkele van die ingrediënte en die metode, vaagweg miskien kon herinner aan bobotie.)

Op pagina 112 het Huisgenoot twee bobotieresepte. ‘n Droëvrugte-bobotie, en neffens hom een wat aan Tini Vorster, voormalige Premiers- en Staatspresidentsvrou , toegedig word.

Vrydag na skool koop ek aan, Saterdag na wintersport berei ek voor, en Sondag eet ons.

Gelukkig (ongelukkig?) is ek nie bang vir improviseer nie. As daar plek is vir droë-appelkose, droë-appellringe en rosyntjies; waarom die droë-perskes en ‘n dadel vir die soet nie?

Een keer in my lewe het ek geblikte chestnuts gekoop. So ‘n maand of wat tevore. Oor ek wou proe hoe dit proe. Nodeloos om te sê my bobotie het chestnuts en amandels ook ingekry.

So dis nie dat ek bang is om te waag nie. Dis net, toe ek die tweede keer kerriepoeier moet byvoeg, dat dit nie vir my sin maak nie. Ek dog eers dis vir die eier, maar nee, daar staan dit — dit moet ook in die vleis. Miskien was die borrie vir die eier, maar nou sê tannie Tini skielik niks van borrie nie. Ek het tog al borrie bygegooi.

Maar dis eers toe ek wonder of suurlemoensap en asyn nie dieselfde werk verrig in ‘n resep nie, dat ek snuf in die neus kry — in my angstigheid en spanning het ek dan links gelees en ingegooi, en dan weer regs, en ingegooi. Nadat ek soorts van tot verhaal gekom het blyk dit ek nou net mooitjies alles van beide resepte saam in een bak het. (Met dan nog my talle eie minder tradisionele bestanddele, daarby.) En dis, besef ek toe, hoekom ek nie juis melk oor had om met die eiers te meng, nadat ek die geweekte brood daar uit gelig het nie — ek het die een resep se min melk, by die ander resep se meer brood gegooi.

Maar dit was ‘n treffer! Dis ook al 20 jaar later, en ek en my broer-hulle het verlede jaar weer die ete in die herinnering geroep.

En van toe af, is dit hoe ek na resepte kry. Kry Hester van Pletzen van Westonaria se gemmerkoekies nie die kaneel in, wat Marlene Meintjies van Wolmaransstad ons wel wil laat afmeet, nie, en dit terwyl laasgenoemde op haar beurt weer fyn kruienaeltjies meld waarvan eersgenoemde geen sprook sprak nie; dan foeter ek Hester se kaneel, Marlene se kruienaeltjies, my all spice én die verbeelding se knippie neut, by Mev. Dawn Kinghorn se eierlose gemmerkoekies met die baie botter.

Maar hoe kan jy ook nou gemmerkoekie wil bak sonder eiers. Dan moer ek sommer ‘n eier of wat ook in.

Interessantheidshalwe kyk ons dan sommer ook waarom ‘n mens kwansuis nie heuning in die plek van die gouestroop kan gebruik nie.

En soos vanaand weer, kan ek nie bobotie maak, daaraan dink of daarvan praat , sonder om nie tere herinneringe aan daai eerste bobotie van my te kry nie.

Later jare sou ek by ‘n puris soos Peter Veldsman, of miskien was dit Leipoldt homself, lees dat bobotie slegs bobotie is, as dit van skaapvleis gemaak word.

(Dis glo ook so met sosaties wat kebabs/kabobs word, die oomblik wat jy skaap verruil vir bees of vark, selfs die oomblik as jy allerhande ander fieterjasies soos pruimedante of nuwerwetse peppadews, in plaas van appelkose, inryg.)

Maar Leipoldt se bobotie is ‘n vertelling op sy eie:

2.

Ek’s nou al mooi groot en wil die girl wat my liewe vrou sou word, se ouers beïndruk. Ek het, daardie jare was Leipoldt se resepteboeke nie soos vandag agter elke klip uit te skop nie, pas ‘n verslete aankoop van een van sy ou-ou boeke gemaak. En, soos ek later sou agterkom eie aan hom is, gee die man nie ‘n resep nie, hy vertel hom skrywendergewys, en jy verlekker jou in die lees van kulinêre prosa.

Dit kos my ook soek om ‘n slagter te kry wat skaapvleis vir my sal maal. Die goed se meulens is deesdae so fancy dat my kilogram skaapvleis nog in die meule se derms vassit as dit klaar by die bek ingeprop is. Nou moet jy die skaapvleis aanjaag met nog skaap van bo, om iewers onder die kilogram of wat maalvleisies op te vang. En dan sit hulle met nog twee kilo’s skaapvleis in die binnewerkinge van die masjien, wat hulle nie verkoop kry nie. Lang storie.

Maar ek het my gemaalde lamsboud en by die Oosterse Plaza het ek selfs tamarind (tamaryn?) gekry om my bobotie, outentiek, sonder asyn te maak.

En daar gaan my bobotie in, die jong dame het vlinders in haar oë en skoenlappers op allerhande ander plekke, haar ouers lyk ook ingenome.

Maar toe ek die bobotie uithaal na die tyd wat Leipoldt ons aanraai om dit uit die oond te kry, toe is my bobotie skaars gestol. Toe ons dit uiteindelik gaar het, toe is dit so droog soos laasjaar se wildsbiltong wat buite bly hang het.

Dis eers ‘n jaar of wat later, toe my versameling Leipoldt-boeke aansienlik uitgebrei het, dat ek lees bobotie ís gemaak van gemaalde skaapboud. Maar dis nou die skaapboud wat oorgebly het van Sondag se middagete. Die goed wat Leipoldt se kookster oond toe gestuur het was gare gemaalde left overs.

Leipoldt het aanvaar ons weet dit, en gevolglik niks daarvan genoem in sy eerste vertelling rondom bobotie nie.

Ek maal vandag steeds my skaap by dieselfde slaghuis as destyds. Maar deesdae maak ek die mince eers gaar. Dan tel ek Leipoldt se spoor op en loop die pad met hom verder. Sonder tamaryn, met asyn.

Maar dis net as ek die tweede myl wíl saamstap en nie soos vanaand ‘n spul hase uit die towenaar se hardebolkeil moet ruk om iets in die oond te kry nie.

Die skaapvleis het koedoe geword. Die wit brood, die droë broodkrummels waarmee ons schnitzels maak. Daar was appelkose, maar nie korente of rosyntjies nie — sulke snaakse droëvrugtige goedjies wat ek ‘n ruk gelede by die Sjinese mark gekoop het, moes daarvoor instaan.

Daarby moes elke potjie soet en konfyterigheid wat net wou lyk of hy leeg se kant toe staan, dit ontgeld by gebrek aan ‘n blatjankie. En om alles weer Low GI vir Annieka te maak, toe rasper ek twee appels ook by. (Wenresepte het my op hierdie spoor gesit.) Te lekker. Daar’s selfs ‘n bietjie oor vir more vir skool.

3.

En nou het 'n vriendin, nadat sy my vandag by die skool skelmpies van haar bobotie gegee het om te eet terwyl die baas met ons vergader, my nie net uit by vanaand se vrye interpretasie van bobotie nie, maar uiteindelik ook by die nog vryer bobotie-improvisasie waarvan ek die afgelope jaar al op drie geleenthede wou blog, maar nooit so ver gekom het nie:

Ek het ‘n ruk gelede vertel van die oudleerling, Judit, ‘n oud-Angolees, wat ek na 21 jaar weer opgespoor het. Nou hierdie dame  wat ek as jong Angolese vlugteling-meisie in ‘n hout huis sonder krag en aldag lopende water leer ken het, het intussen so opbeweeg dat sy lankal nie meer kook die dag wat sy ‘n paar vriende oornooi nie, sy kry spyseniers.

En elke keer as ons daar kom, of ons nou agt is, en of ons nou dertig is, is daar nie minder nie as vier of vyf vleisgeregte nie.

Een daarvan, die heerlikste, mees on-Portugese, anti-Angolese, lasagne denkbaar.

’n Vriendin van haar, duidelik ook van gemengde herkoms maar vanuit die Kaap oorspronklik, wat vir haar kos maak.

En almal wat gereeld hier lees, weet hoe lief ek vir kosmaak is, maar toe Annieka verlede jaar vriendinne oor het vir haar verjaarsdag, toe ry ek en my vrou daardie oggend deur na hierdie vriendin om die lasagne op te tel wat Annieka bestel het.

Italiaanse bloed, straks van ‘n krygsgevangene wat bergpasse en paaie kom bou het, het die dame bes moontlik in haar — vandaar die heerlike lasagne wat sy maak. Maar iewers, vermoed ek, was ‘n definitiewe Moslem-ouma of grootjie, want dié vrou maak ‘n Kaaps-Maleise lasagne met so ‘n sterk bobotiegeur dat haar pa dalk nog ‘n ou wynboer, wie se vrou hom nie alles kon bied wat hy wil hê nie, kan wees. En terwyl vroulief gereken het Pappa is af kelders toe, is hy toe al die tyd net uit in die rigting van die kelders, maar nie heeltemal kelders toe nie.

Want, en laat ek dan maar die woordjie fusion hier inwerk, dit is immers wat dit is, letterlik, ‘n lasagne infused with the flavours of a Cape Malay (of straks nou Bolandse boerse Boere-) bobotie.

Vat jy alles van Leipoldt en jy maak dit aan soos Luigi sy bolognaise, lekker klam, en jy borrie jou béchamel met ‘n knypie kerrie of wat ook al (om die geklopte eier en melk van Tannie Tini te eggo) sit jy met die heerlikste dis denkbaar.

Die van julle wat kan kosmaak en nie bang is om spronge toe-oog te waag nie, gaan probeer dit gerus, dit werk.

Ekself was nog te bang om self my hand daaraan te waag. Maar waarom nou gevaar loop om te verbrou as ek dit direk van Gamaliël kan koop?

Bobotie was nog nooit so lekker nie. Lasagne, mind you, ook nie.

Die enigste ander prentjie van bobnotie wat ek sonder enige vorm van kopiereg op Wikimedia Commons kon opspoor.

3.3.12

Die ander patee


My ma het altyd gesê om nooit te wil onthaal met disse wat jy nog nie van te vore gemaak het nie.

Maklik vir haar generasie. Maar hoeveel gemsbok-blaaie, speenvarke, lewendige krewe of vars springboklewers kruis nou ooit Hans Moolman se pad, dat hy eers kan eksperimenteer en oefen op die vrou en kind, alvorens hy homself teen ronde twee of drie vaardig genoeg kan ag om dit vir gaste voor te sit?

Aan die ander kant:  hoeveel keer het ek nie al in die slagyster getrap om iets te wil maak wat ek nog nooit gemaak het nie, en dan is dit ‘n effense flop, die gaste om die tafel met hul bekke vol tande en niks om te sê nie.

Ek onthou ‘n jaar toe ek die gaste wou trakteer of fyn banketgebak (en ek bak nie koeke nie, hou nie eers van poedings pak nie). Ek het spesiaal koekpanne en dinge gekoop, en regtig uit my pad gegaan met allerhande fancy ingrediënte en dinge.

Toe almal daar opdaag vir die verhewe okkasie toe is daar agter elkeen van die vyf koeke ‘n resepteboek staan gemaak, met darem ‘n volkleur prentjie op sodat die gaste kon sien hoe die koek veronderstel was om te lyk, hoeveel die koek veronderstel om te rys.

En tog, ten spyte van talle soortgelyke insidente waar die maaltyd beter af sou gegaan het, was ek net meer bedrewe en gekonfyt in die maak van die dis, was ek glad nie lus om die ou beproefde lewerpatee te maak vir Ouma Kapie se negentigste verjaarsdag voorverlede naweek nie.

Dat die familie egter lewerpatee uit my wou kry, was ‘n feit, en daarby sou ek nie verby kon kom nie.

En daar maak ek toe nou wragtig hoenderlewerpatee met melba-toast vir 30 mense wat sover as van Windhoek kom, terwyl ek die betrokke resep nog nooit op die proef gestel het nie.

‘n Heerlike hoenderlewerpatee het ek egter een keer by La Petit Ferme, links van die pad, ry jy die vallei af op pad Franschhoek toe, geëet. (‘n Heerlike iets van alles wat ‘n mens daar kán eet, is wat jy eet, as jy daar eet, maar dit daargelaat.)

Toe ek Desember 2002, my hart maar net verlangend na die Kaap, in Menlyn aan het Kersinkopies doen is, val my oog op ‘n La Petit Ferme-kookboek wat Woolies bemark. Net daar halveer ek my begroting vir Annieka se Kerspresent en koop die boek vir myself. En wragtigwaar ja, daar is ‘n hoenderlewerpatee in, tien teen een dié een wat destyds vir my so lekker was.

Maar daar is soveel ander verruklike resepte in, dat ek nog nooit by die maak van hul hoenderlewerpatee uitgekom het nie.

Dis nou tót ek vir Ouma Kapie se do moet lewerpatee maak en ek nie lus het vir al die honderde ingrediënte van my vertroude resep nie. Hierdie een lol nie met sampioene, spekvleis en daai bloody tamatiepasta, wat jy oopsny en nie opgebruik voor dit begin muf in die yskas, nie.

Net daar besluit ek, soos Annieka altyd sê, simplicity is the essence of life, kom ons gee die gaste ‘n patee gestroop van tierlantyntjies, ingeperk tot die heilsame essensiële. Al wat jy nodig het is lewer, botter, ‘n ui, room, sout en peper, en mosterd.

Vir agt mense smelt jy 125 gram botter in ‘n pan. Voor dit begin brand en rook en swart word (omdat jy jou plaat te hoog aan het) gooi jy ‘n ui wat jy opgekerf het daarin. As jy nou sit met ‘n bielie van ‘n ui wat op ‘n landbouskou kan wen, stel ek voor jy skil maar rojaal, tot jy sit met ‘n middelslag-mediumgrootte ui.

As jy te lui of haastig was om die ui mooi fyn te sny, braai jy die ui vir so ‘n korterige rukkie. Maar as jy jou ui met geduld en presisie mooi klein gekerf het, gooi jy dadelik, saam met die ui, jou 500 gram hoenderlewertjies by.

Maak vooraf die lewertjies mooi skoon. Sulke ronde groen goetertjies wat deesdae in die massa-verpakte bevrore pakkies insluip, is nie lewer nie, dis gal en letterlik galbitter.

Laat die uie en lewer nou vir so vyf minute prut. Jou uie sal sag wees, as jy klein genoeg gesny het, en jou lewertjies sal deurgaar (deurgaar genoeg) wees.

Gooi nou ‘n teelepel sout en ‘n teelepel peper by. Nog so ‘n halwe teelepel sout.

Roer dan twee teelepels Engelse mosterd by.

Verpulp alles in ‘n voedselverwerker (of deur ‘n sif as jy dit soos van ouds wil doen).

Gooi nou ‘n ¾ koppie room en ‘n eetlepel brandewyn by. En meng.

En nou mag jy maar skrik. Die patee gaan hopeloos te loperig voorkom. Hoe gaan hierdie goed stol?

Onthou egter daar is baie botter in. Hierdie loperige souserigheid gaan lieflik stol in ‘n tekstuur wat op jou tong gaan smelt. Hê net geduld. (En moenie, soos ek, oor tien minute, jou vingerafdruk bo op een van die bakkies gaan maak nie, dit SAL stol.)

Gooi dit in jou ramekins, of waarin jy dit ook al wil bedien. Ons het 30 klein plastiekbakkies met dekseltjies gekoop, dit gevries en toe afgevlieg Kaap toe.

Moenie van die konfyt vergeet nie.

En maak self jou melba-toast, dis baie lekkerder as die wat jy klaargemaak koop.

Jy gaan onmoontlik nie so sukkel soos ek die naweek gesukkel het nie. Ouma Kapie se kombuis het nie staanplek vir twee mense nie, haar oond werk nie so lekker nie. Daar is nie ‘n werksoppervlaktetjie wat nie vol beskuit, koekies, bekertjies en foto’s van klein- en agterkleinkinders gepak is nie. Sy het wel, nie minder nie as drie broodroosters nie. Net jammer elkeen dateer van voor Republiekwording en as jy nie die brood verbrand nie, verbrand jy jou vingers in ‘n poging om die roosterbrood omgedraai te kry.

Terloops:  hierdie klein blikkies tamatiepasta waarvan jy altyd net ‘n helfte nodig het, hou goed in die yskas as jy die blikkie opvul met olyfolie. Dit sluit die suurstof uit wat die pasta laat vrot. Die tamatiepuree (groter blik, minder gekonsentreerd) se res gooi ek in ‘n ysbakkie en vries vir latere gebruik, blokkies op ‘n slag.

Die prentjie is sommer net 'n prentjie wat ek op Wikimedia Commons opfespoor het - by ons sal jy nooit patee bedien kry sonder 'n konfytjie nie.