2.11.11

Verbale diarree 1

Hierdie ongetroude vriendin op Bloemfontein het ‘n ding met bloedoortappings en vigs. “Want as ek dan nou vigs móét kry, laat dit dan tog net op ‘n opwindender manier as aan die hand van ‘n boring bloedoortapping wees,” reken sy.

Daarom dan ook hoekom ek my nie sommer skuldig maak aan diefstal nie. As ek dan nou vervolg móét word, tog net nie oor iets wat ek gesteel het nie.

Uit ‘n prille jeug onthou heelwat seker tjoklits by die Griek op die hoek.

In my geval onthou ek ‘n eenmalige insident met sweets want die tjoklits by Pappa-sous-se-klou (ek vermoed dit was Papasoseklou, of iets dergelik) se kêfie was agter glas, met jare se opgehoopte vlieëmis wat sulke piepklein korreltjies gelê het.

Dan was daar die suikerlepeltjie met die gepoleerde rooskwarts aan die steel wat ek vir my ma gevat het die nag toe ons by rykes in Alberante-uitbreiding (vir Alberton soos wat Waterkloof-rif in die sewentigerjare vir Pretoria sou wees) wakker gebly het, om die geveg tussen Gerrie Coetzee en een of ander Spinks te kyk. Boksentoesiaste uit daai dae, en dis tog of daar daardie jare meer was,  behoort die geveg hier teen drie-uur die oggend te onthou. Toe die geveg begin het ek opgestaan om te gaan piepie. En toe ek terugkom was die fight over en die TV af.)

Vir wat ek die suikerlepeltjie nou ook die volgende oggend vir my ma loop staan en gee het, sal net ‘n kind weet. Ons (ek en my ma) is later met die kar Skuldbult toe om die ding al verduidelikende terug te besôre.

So was dit ook in standerd ses, 1976, met die koraalboomsade (dendroloë uit daardie dae sal ‘n ander naam onthou) wat die curiowinkel in die foyer van Windhoek se grêndste hotel destyds, teen ‘n asembenemende 99c verkoop het. Die meeste van ons ken koraalboomsade, ons weet dalk net nie dis koraalboomsade nie. Dis hierdie bloedrooi/knaloranje piepklein saadjies met so kraaiswart klein knoppie in die buig van die boontjievormige saadjie. (As jy zoo toe gaan, of dit nog op Durban se strandfront by die esplanade waag, is daar vrouens wat krale verkoop met van hierdie saadjies in.)

Nou in ’76, en ‘n pakkie Simba tjips is toe net op van 5c na 7c, was ‘n volle 99c vir ‘n 3 mm-koraalboomsaadjie, wat ons pouses by die skool sommerso uit verveling met ons tone opgetel het, darem wragtig ‘n sonde. En oor hulle so kan kroek om daai belaglike prys te vra, het ek gedink ek sal hulle terug kroek en ‘n handvol skaai.

Dis altans hoe ek dit aan my ouers verduidelik het toe ek, na die relaas oor die belaglike prys, my hande uit my broeksak wurm en die handvol sade as bewys voorlê. Gelukkig was die hotel (Namib/Windhoek Sands/Sun/Inn?) hopeloos te grênd en my ouers nog hopeloser te trots, om hul jongste telg aan die ore met die hysbak af te sleep tot voor die winkelbetuurder.

Ag ons nou nie die witboordie- (of is dit in die onderwys se geval blou-?) insidente rondom ‘n riem afrolpapier so een maal in twee jaar  vir die druk van vraestelle en aantekeninge tuis, as diefstal nie, is dit eintlik my vierde, laaste en grootste diefstal waarby ek wil uitkom. En dit in 2000. Ek darem nou 40 en heel toerekeningsvatbaar.

Hans is steeds in die onderwys, maar kantoorgebonde. Die saal aangrensend aan sy kantoor is gevul met die vrugte van duisende rande se onafgelewerde/verkeerdelik geadresseerde/verdwaalde/misplaasde wanbesteding en bemagtiging van en in die onderwys.

En daar eenkant, nog uit die dae van die vorige regime se verwarring met aankope en besending, lê hulle:  ‘n hopie leë skooljoernale, lieflik deur die Staatsdrukkery gebind. Twee keer so groot en twee keer so dik as die grootste dikste Familie- of Statebybel wat jy in enige museum in SA sal kry.

Hulle lê al vir jare daar, word al vir jare nie meer aan skole uitgereik nie.

Maar dan is dit mos nou maar een maal soos dit met die Staatsdiens is. Jy kan nie vir een gaan vra nie; die goed is iewers aangewins en waar dit aangewins is, moet uitreiking gemagtig word. Die lêer waarin dit aangewins is weg of vernietig toe die gebou in ‘81 oorstroom het. Aanwinsbeampte (of is dit nou uitreikingsbeampte?) met verlof/afgetree/afgesterf, sy pos vakant/tydelik vakant/oortollig verklaar. Vorms in triplikaat vir voorlegging aan... Kantoor A405, vyfdevloer, regtervleuel...

Wat ook al die rede, daar’s nie ‘n manier dat jy jou hande, op die regte manier, met die regte papierwerk, volgens die korrekte kanale, in jou dertigjaar-dienstydperk as staatsdiensamptenaar, op een van daardie skooljoernale sal kan lê nie.

Ek smokkel dit toe nou maar daar uit.

Maar smokkel is iets wat jy diamante die grootte van mieliepitte doen. ‘n 900-bladsy, A2, Gutenberg-Bybel tipe Staatsdiensjoernaal is nie die klas van ding wat hom sommerso laat uitsmokkel nie. Nie as jy ‘n pennelekker, waarvan sy kosblik daagliks groter as sy aktetas is, is nie.

Hoe ek dit reggekry het en die ekseemagtige senu-uitslag wat daarmee saamgegaan het, is ‘n blog-pos op sy eie.

En ek wou eintlik vandag uitgekom het by hoekom ek blog.

Nodeloos om te sê dat hierdie moerse boeke vandag...  Nee, ek weet wraggies nie waar hulle vandag is nie. (Die boekrak se een rak wat hulle in ‘n stadium so min of meer waterpas moes hou, het ek tog al reggemaak.)

Nodeloos, daarom eerder, om te sê dat ek hulle toe nooit as joernaal of dagboek ingespan het nie. (Het selfs in kalligrafie ‘n titelblad in elkeen laat aanbring.)

Ook toe Klaradyn gebore is, en ek die visioene van ‘n Pa wat dagboek hou van haar eerste paar jaar, gekoester het, het niks gekom nie. (Dink net hoe roerend kan dit vir die Pa wees om op ‘n 21ste verjaarsdag/troudag/gradeplegtigheid  die kronieke bewend te oorhandig. Dink net hoeke verleentheid dit nie vir die stomme brat/bruid moet weesnie!)

So sou jy wonder waarmee ek eintlik besig is as ek so blog: ek’s besig om daai bloody gesteelde joernale vol te skryf. Lyn vir lyn. Bladsy vir bladsy.

En elke oomblik daarvan te geniet.

1.11.11

Vreemde spesie , die mens, darem

“Die mens is darem maar ‘n vreemde spesie. Hoe meer ek van hom leer ken, hoe minder verstaan ek hom.”

Nie ek wat so sê nie, maar my skoonpa wat twee weke gelede, toe ons vir die naweekwegbreek Bosveld toe gou  gaan groet, vir my ‘n slagyster stel.

Ek trap oop-oog daarin met ‘n “Hoe dan so, Pa?”

“Die kind  is siek, maar julle gaan weg vir die naweek.”

Ek het van beter geweet as om te reageer en maar stil gebly. Ek het die argument in stilte verder gevoer, en (in my kop) gewen.

Ook nie heeltemaal nie. Ek en Annieka het daardie Klaradyn daardie Vrydagnag in die donkerte van ‘n tent pimpel en pers geknyp in een of ander toets om te sien of die kind nie gevaarloop om te dehidreer nie.

Maar dis nou twee weke later. Ons het deur die genade nie nodig gehad om hoed in die hand en stert tussen die bene terug te keer nie. Tog eggo sy woorde, hoe meer hy van die mens leer ken, hoe minder verstan hy hom, kort-kort steeds in my gedagtes.

En dan het niks, soos in ons geval met die siek kind, met die onverantwoordelikheid van die nuwe geslag te doen nie.

Soos vanoggend weer, toe ek vuurhoutjies wil koop by die garage op die hoek en ek wonder of die vrou wat so mooi Afrikaans praat enigsins danger pay kry.

Jy kry Afrikaans, ‘n pragtige Afrikaans, Swartafrikaans en ‘n pragtige Swart-Afrikaans. Hierdie vrou is swart en praat die pragtigste Afrikaans, Boereafrikaans nie Swartafrikaans nie. As jy tegelyk na haar luister en vir haar kyk, is dit asof jy ‘n lemmetjiegroen melkskommel drink wat na aarbei proe:  wat jy hoor klop nie met wat jy sien nie.

Toe ek my nuuskierigheid nie meer kon hou nie, blyk dit toe dat sy ‘n nooi van Calvinia se wêreld is, wat ‘n beter heenkome in die bose stad kom soek het.

En as ek so na haar luister, is dit of sy wel ‘n beter heenkome gevind het.

En tog, maar tog, wonder ek vanoggend vir die soveelste keer die afgelope ruk toe ek daar verby ry, of sy danger pay kry, en verstaan ek die mens, gedagtig aan my skoonpa, al hoe minder, hoe meer ek met hom te doen kry.

Danger pay, vir die wat gelukkig genoeg is om nie te weet wat dit is nie, is die kontant bedrag wat weekliks (of was dit maandeliks) in die operasionele gebied aan dienspligtiges uitgedeel is om op drank en sigarette te spandeer, aangesien hulle net een maal elke ses maande by ‘n bank kon uitkom.

Ek, Annieka en Klaradyn word toe mos een nag so twee maande gelede op die Kaapse Vlakte wakker. Dis ‘n middernagtelike oor-en-weer-kruis-masjiengeweer-vuur wat herinner aan bendegeweld  wat baie lelik uitdraai.

Ek loer uit vir voortvlugtendes deur die tuin en bel die buurman opf te hoor of dit nie by hom is waar so geskiet word nie.

Dit blyk toe nou, met ‘n ompad oppad skool toe die volgende oggend, dat die kitsbank, soos die kraai vlieg twee huise van ons, en twee winkels van die motorhawe se One Stop/Quick Stop/Select Store af, opgeblaas is.

Onder andere die kitsbank. Ook ‘n jong polisieman. En ander gewond.

Maar nee, ‘n SA-misdaad storie, is hierdie steeds nie. Dis die mens, en wat hy elke dag doen, wat my stomslaan.

Die kitsbank is moer toe en ons raak net gewoond aan die ongerief van elders stop, toe die kennisgewing so ruk gelede die oog vang: New autobank opening soon.

En dit is toe ook so. Nie waar nie, binne die motorhawe se One Stop/Quick Stop/Select Store.

Dis die deurnagwerkers hier wat destyds die polisie laat kom het. (Ons had helikopters in die lug, letterlik vir ure, elke denkbare en beskikbare patrollievoertuig op die toneel, ‘n legioen in uniform en genoeg pad- en voetgangerversperrings om aan die opening van die Wêreldbeker-sokkertoernooi te herinner, maar geen geluk. Die polisieman is dood aan diens, die bank (en seker die geld nou lankal ook, maar anders) geblaas.

Dis daardie deurnagwerkers wie se lewens van nul en gener waarde vir die bank- en winkelbestuurder geword het.

Ons hoef nie daaraan herinner te word dat mense weekliks vir baie minder as die inhoud van ‘n kitsbankkluis vermoor word nie.

En tog stuur ABSA sy kitsbank nou binnenshuis sodat...

Ek weet nie hoekom nie. Dit kan tog nie wees ter wille van veiligheid nie. Dit kan tog nie wees in die hoop dat ‘n slapende nagskofwerker alarm moet maak as agt mans, gemasker en gewapen tot die tande toe, drie-uur een oggend daar instorm en sy of haar harsings een maak met die sigarette en pakkies kondome nie.

Wie is dit wat ek nie verstaan nie? Is dit ABSA, of die vriendelike winkelbestuurder wat van tyd tot tyd daar geld tel, wat tog sekerlik betaal word om muur- en rakspasie aan die bank af te staan?

En kry die vrou danger pay om daar te sit in die hartjie van die operasionele gebied?

Ek weet nie. Ek stop nie meer snags daar nie, ek is te versigtig.

Ook nie sommer bedags nie. Ek wil nie.

(Heerlik om hierdie, drie jaar later, weer te lees en raak te lees dat ek nog vir vuurhoutjies gestop het - dis nou elf maande en vyf en twintig dae dat ek nie aan 'n sigaret gevat het nie.)