17.9.11

Hoenderlewerpaté


En so het my twintigste interhoër (die meeste daarvan op Pilditch-stadion in Pretoria) gekom en gegaan. Ek onthou, benewens somer, son, boggerol saffier en strome sweet, uit voorste jare ook reën en modder en gly op walle en swart asbliksakke vir reënjasse. Ek onthou die twee girls wat die seuns een aand met geld in hul sakke laat toustaan het by ‘n geboutjie wat afgebreek is toe hulle die plek ‘n nuwe stadion gegee het.

Maar die meeste van alles onthou ek Betty (of was dit nou Bettie, sy is ook al meer as tien jaar oorlede) wat selfaangestelde hoof van die skool se Interhoër-verversingskomitee was.

Spyseniering vir eregaste en beamptes is mos altyd van so ‘n aard dat volgende jaar se gasheerskool wil verbeter op hierdie jaar se gasheerskool (wat op hul beurt weer die vorige jaar se gasheer die loef wou afsteek).

Maar dan is daar die plebs, die outjies op busdiens, pawiljoendiens en terreindiens, die outjies sonder ‘n gestempelde kaartjie met ‘n lintjie aan ‘n koperspeldjie, wat toegang bied tot die Skilpad-saal of eregaste-losie met ‘n verskeidenheid kouevleise en slaaie.

Deesdae stop hulle jou ‘n R50-00 in die sak en is jy oorgelewer aan wat ook al die gasheer se mammas en pappas te koop aanbied, watter ventertjies en kraampies ook al toegelaat word om handel te dryf op die terrein.

Maar nie in Bettie (sy was ‘n Engelse juffrou, so miskien is dit Betty) se dae nie.

En ja, daar was tóé ook hamburgers van twyfelagtige oorsprong met blaarslaai wat soggy raak in die mikrogolf, te klein Vienna’s in te groot broodrolle sonder botter en boerworsrolle van pet’s mince.

Maar vir Betty was dit ‘n kwessie van eer dat die plebs nét so lekker, indien nie lekkerder nie, as die outjies met die kaartjies op hul borste eet. Terwyl die kunsjuffrou rekwisiete verf, beplan Betty haar spyskaart en deel sy takies uit. As die houtwerkmeneer die dirigente se podiums aanry, ry ander mans tafels en braaiers en sambrele vir Betty se piekniek aan.

Ons doen dit in styl, aan die oostekant van die paviljoen.

En maak nie saak wat vir middagete was nie, jaar na jaar moes ek my hoendelewerpatee teen tien-uur gereed hê. Bedien, natuurlik, saam met watter gesondheidbroodresep ook al daardie jaar die gewildste in die mees onlangse Huisgenoot se Wenresepte was. (Gelukkig was dit nie ook my baba nie.)

En my hoenderlewerpatee is dit ook nie, dis my skoonsuster se resep. Ek het die resep gehad en met groot sukses gemaak. Ek het die resep weggegooi en weer gekry, hierdie keer vir jare agter op ‘n troukaartjie, maar die laaste paar jaar met die hand oorgeskryf in dit wat hopelik eendag Klaradyn se familie-resepteboek gaan wees.

(Maar verbeel ek my nou al hoe meer dat ek hierdie resep wel al gedeel het. Ek het dit einde verlede jaar gemaak vir ‘n do waar ons ‘n voorgereg moes vat. En dan is dit ‘n resep wat ek nie sal maak sonder om dit nie te deel nie, maar waar ek nou is, het ek nie internet-toegang nie. As ek het, vergeef my, maar wat die maag van vol is, loop die mond van oor. As jy dit dan al op die proef gestel het, wag tot more:  toe ons die afgelope naweek Kaap toe is vir Ouma Kapie se negentigste verjaarsdag, het ek ‘n ander heerlike hoenderlewerpatee, net so lekker maar gans anders, gemaak wat ek onderneem om more te deel.)

Jy benodig vir Skoonsus se patee:

·         twee bakkies hoenderlewertjies

·         een pakkie sampioene

·         een groot ui

·         een teelepel suiker

·         twee hard gekookte eiers

·         een pakkie spekvleis

·         een kannetjie room

·         een of twee eetlepels tamatiepuree

·         sout en peper

·         halwe koppie brandewyn

·         ses eetlepels botter (om gesmelt bo-oor te gooi en die dis te verseël)



·         Dan braai jy nou die uie en die spekvleis tot jy dink dis reg.

·         Dan braai jy die hoenderlewers daarby tot jy dink dis nog nie heeltemal reg nie.

·         Gooi dan die res by en as dit kook sal die hoenderlewers gaar en steeds ferm wees (sonder dat dit bitter raak)

Of die lewer regtig bitter kan raak as jy dit te lank op die hitte het, weet ek nie, maar Skoonsus het my daarmee bang gepraat en ek gaan wragtig nie eksperimenteer om te kyk of sy die waarheid gepraat het nie.

·         Sodra die lewertjies na jou mening nie meer pienk is nie, maar bruin genoeg na jou sin en waaragtig nog nie bitter nie, verpulp jy dit. Boers en rustic en grof, is lekker, fyn en verhewe tot ‘n room is net so lekker. Verseël met die botter en geniet. Onthou dit hou nie vir dae en weke in ‘n yskas nie, maar vries baie goed.

En nou help dit nie jy e-pos of bel of “kommentaar” my om uit te vind hoe swaar daardie “twee bakkies hoenderlewers” moet wees nie, 2 x 250 g of 2 x 500 g nie. Ek weet nie; my skoonsuster ook nie meer nie. 2 x 250 g lewer ‘n lekker patee, 2 x 500 g lewer ‘n lekker hoenderlewerpatee.

Die sampioene is met sekerheid 250 g en die room 250 ml.

Moenie op die brood of melba-toast smeer nie, plak en pleister eerder soos met ‘n troffel.

En dan kan jy nou maar gril en fiemies en neerkyk en ril en verontwaardig ‘gmf, ek gee nie om nie. Ek het dit al baie gehad en is dit gewoond, maar nog nooit het iemand na die tyd verskil of nie met my saamgestem het nie:  Kry maar ‘n lekker botteltjie rooierige konfyt van een of ander bessie-oorsprong byderhand en rond jou broodjie daarmee af. Dis nie net die Moolmans wat dit so eet nie, maar verskeie streke en kontreie op die Europese vasteland ook.

Geniet.


15.9.11

Gadget Queen de luxe

Watter of wie se plaas dit was, weet ek ongelukkig nie meer nie. Dit was beslis nie een van die plase wat ons gereeld besoek het nie, want dan sou ek onthou het.

Ek sien die vertrek voor my, nie veel groter as my huidige studeerkamer nie, ‘n hoë trap wat lei na die houtdeur. Deel van ‘n buitegebou.

Binne was ‘n groot houttafel soos die boere gehad het, en baie houtrakke teen die kante. Ek onthou die rakke leeg. Dit was ‘n werksplek, nie ‘n stoor plek nie, en ek stel my vandag voor dat die vertrek met die loop van die seisoene en die normale sikliese gang op ‘n plaas, na gelang van die betrokke aktiwiteit, deur die loop van die jaar vol verskeie dinge gestaan het. Plek vir vier of meer pare hande om die tafel, was daar beslis.

Met my besoek aan die vertrek was daar ‘n ding, vasgeskroef soos ‘n koffie- of vleismeuletjie. Maar vleis- of koffiemeuletjie was dit beslis nie, eerder iets wat my as jong seun herinner het aan ‘n eierklitser. Net, selfs al draai jy die hingsel, kan daar beslis niks daarmee geklits word nie. Die “klitser” self kyk 180 grade dwars, en daar is nie ‘n manier of hefboom wat die ding 90 grade in ‘n mengbak staan kan maak nie.

Ek het al een keer in my lewe daarna weer so ‘n kontrepsietjie gesien. In ‘n museum iewers. Die Jan Smuts-huis? Melrose-huis? Maar dit kon net sowel op Stellenbosch, Darling of Clarens gewees het. Dit sou kon deurgaan as ‘n laat-Victoriaanse-utensil, hoewel daar heel moontlik ook van hulle kan wees wat heelwat jonger is.

Dit was naamlik, wat ek sou noem, ‘n gadget wat geelperskes skil. Jy het die perske hier van sy ners af penetreer met ‘n iets, hom stewig sit gemaak en slinger gedraai. Die goed wat my aan ‘n eierklitser se draadwerk herinner het, het dan hier van buite af korte mette met die perske se skil gemaak. Groot perskes, kleinerige perskes, heel klein perskes en outsize perskes, dit maak nie saak nie. Daar moes ‘n veertjie of ding gewees het wat die se middellyf takseer het en sy lemme het net gesny tot daar waar die skil ophou en die vleis begin.

Te lieflik. Daar was perskes in die boord, so ek kon heerlik speel.

En dit is, vermoed ek ten sterkste, waar dit alles begin het — my fassinasie met ‘n kontrepsie, utensil, of gadget. Hoofsaaklik toegespits op die kombuis, met tog ‘n natuurlike aantrekkingskrag vir enige iets wat elders ook gebruik kan word, van die skrynwerker se werksbank tot die swembad se aorta, hartkamer, lewer en niere.

So moet ek nou die dag knoffel aan stukkies kry aan huise van vriende. Ek is hier weg met vier variasies op die tema van knoffel fyn kry, maar dit net omdat ek die vyfde een, die een wat ek eintlik wou gebruik, nergens kon opspoor nie. Ek het ook saamgeneem ‘n spanerige ding met hefboom, knypers en sitvlak wat adverteer is as die wêreld se enigste knoffelskiller. ‘n Lieflike ding om te hê, hy werk, maar nie so ‘n lieflike ding om te gebruik nie — dis net soveel vinniger met ‘n skerp messie wat ‘n breë lem het — reg vir oordwars kneus en velletjies afvryf met ‘n vinger. (Terloops, het jy eers jou knoffel kaal, is daar niks so goed soos sout, om die knoffel fyn aan stukkies mee te sny nie — ‘n stewige hand, ‘n teelepel en ‘n iets of wat sout, werk daai knoflok aan flarde.)

Ek kan hulle opnoem, daar is talle. ‘n Patent wat in vier of vyf omwentelings van die swingel jou pynappel skil en die harde stronk in een reguit lang worsie asblik toe stuur. Twee shredders wat korte mette maak met kruie. En is dit te fyn na ‘n mens se sin, het ek nog die dubbelband-kaplem-sig-sag-nipper-en-snyer wat soos ‘n bom werk. Hier’s twee goeters wat gekookte eiers kan afwerk tot Bybelblaadjies, so dun. (Nie dat ek dit al ooit gebruik het nie.) Hier is ‘n ding wat enige iets julienne, van wortels en ertappels tot seldery en pastats (sou jy daaraan behoefte toon). Hy het ‘n boetie ook, en was die ding nie van twintigste-eeuse plastiek nie, sou enige mens kon dink dit hoort eerder tuis in ‘n museum vir Middeleeuse marteltuie, of selfs iets uit die Markies de Sade se persoonlike versameling van ‘n klompie jare later. Dit staan bekend as ‘n 1-Chopper, 2-Dicer, 3-Slicer, 4-Shredder, 5-Mincer, 6-Julienne Cutter, 7-Masta Maker and 8-Meat Tenderizer en ek verbeel my ek het een keer in ‘n seksmuseum iewers in Amsterdam iets gesien wat daaraan herinner.

Na ‘n skou of ding vat ek net genoeg kontant vir ‘n koeldrankie en ‘n ietsie te ete. Niks meer nie, en my debietkaart, om van ‘n krediet kaart nie eers te praat nie, bly by die huis. Dis natuurlik penny wise, pound foolish, want toe kos dit my nou die dag, al die pad met ‘n visitekaartjie in die hand, deurry Doornfontein of Fordsburg in Johannesburg toe. Al die pad agter ‘n versapper aan wat ek by die skou gesien het. Die ding maak glo selfs sop van rou groente en kookwater, maar daarvoor het ek heeltemal te Boers groot geword.

Vir my sop maak ek ‘n ses- of sewetal ander kontrepsies en dingetjies vuil wat na die tyd opgewas en –ruim moet word.

Maar net so was dit middel verlede jaar dat ek na sewentien of agtien, negentien jaar se goeie dienslewering met ‘n letterlike brandpyn in my hart ontslae moes raak van ‘n slicer wat ek in die omgewing van 1980 by die Randse Paasskou gekoop het. Dit was nog voor die skougronde geskuif het en jy moes inslaan planetarium se rigting toe om daar te kom.

Hierdie slicer was die eerste van sy soort waarop ek ooit my oë gelê het. Later jare het daar meer gekom en vandag skop jy hulle agter elke bossie en afslagtoonbank uit. Maar daardie was ‘n eerste vir Suid-Afrika. En ek was op skool, in standerd agt, en ek het een gekoop.

Niks wat daarna gekom het kon by hom kers vashou nie. Die ding was seker die laaste tien jaar nie meer wat hy was by geboorte nie, en ek het ‘n tweede, soortgelyke iets gekoop. Die tweede het ongebruik in die kas gebly, terwyl ek die oorspronklike nog verder uitgeslyt het. Ek het later ‘n tweede, en ‘n derde plaasvervanger gekoop, maar selfs met vier van die goed in die kombuis, het ek vasgebyt tot die allerlaaste.
 
En elke keer, gebruik ek plaasvervanger nommer drie met weerwil, hunker ek na die ou staatmaker, die real makoya uit die vroeë jare tagtig.

‘n Ander utensil wat uit die jare sewentig, indien nie sestig nie, dateer, is Ouma van Wyk se rasper. Dit het by my al soort van die status van ‘n family heirloom. Jy maak die ding staan bo ‘n bakkie of op ‘n plank, dan deponeer jy jou wortels, of wat ook al aan het rasper moet kom, in so ‘n kompartementjie bo een of ander ronde lem van geskikte breedte en diepte. Dan druk jy die wortels teen die lem vas met die een hand, en draai die lem met die ander hand. Primitief, maar o, so effektief.

Verlede jaar toe Klaars se grootjie in die Kaap 90 geword het en ek pa moes staan vir vier geslagte se spyseniering was dit die een en enigste utensil wat ek afgevlieg het onder toe.

En is die ding sterk! Ek het al ‘n staaltafel se pote onder hierdie viervoetige klein raspertjie geknak, dat ek en slaaigroente en –bakke met onse gesigte op die grond beland — so hard en aanhoudend moet ‘n mens druk om ‘n wortel uit sy geboortepakkie en aan stukkies te kry. Die ding werk eintlik beste as een met beide hande en ken die wortelhefboom druk, en ‘n ander met beide hande die slinger draai. Spanlede kan mekaar om die beurt aflos — dan werk dit beste. Ek vermoed die ding is ontwerp in die dae toe motors nog met ‘n slinger aan die gang gedraai is, met ons een-en-twintigste-eeuse arms gaan dit maar sukkel-sukkel.

Nou wat van ‘n Kenwood, een van hierdie mixer-mincer-shredder-liquidisers, wat, as jy gelukkig is, op die koop toe ook hare droogblaas en skoene politoer?

Vergeet dit. Ek besit nie so iets nie. Ek ontsien myself die moeite om dit uit te pak en op te stel. En ek spaar Annieka die moeite om dit op te was en weg te pak, daarby. Kry ek een, sal dit suiwer wees ter wille van die vleismeule en worsstopper. En beide het ek, van yster, wat staangemaak moet word op ‘n tafelblad. En is ek die jaar lui om dit te gebruik, skiet ek deur na Ouma toe. Die een of twee keer ‘n jaar wat haar wit olifant in elk geval gebruik word, is wanneer ek hom leen.

Dan het ek in elk geval al op laerskool, in die grade nog, ‘n gly in die goed gekry. Ons praat nou van die baie vroeë sewentigs. Sien, my pa was self ‘n gadget queen par excellence. En toe die eerste van hierdie alles-in-een mikrokombuise die Suid-Afrikaanse mark tref, is my pa die eerste om een vir sy vrou te koop. Ag, en dis nie drie weke nie, toe wil hy kyk of hierdie ding die biltonge wat in die dak gehang het, ook so mooi kan kerf soos komkommer. En daar brand die stomme masjientjie vas, en uit, en oor en verby.

Kry egter enige ander foefie op die mark, en ek koop hom aan.

Ek het in my lewe nog nooit juis boontjies op groot skaal moes kerf nie. Maar, o, by die boeremark is daar ‘n man met ‘n patent — enige boontjiekerwer en tannie of oom wat kerrieboontjies aan die tuisnywerheid lewer se droom. Ek waarborg ‘n eerste prys op enige landbouskou se tuisvlyt-afdeling in die kategorie gebottelde boontjie, draf jy jou bone met die elektriese kontrepsie kaf.

Koop gaan ek hom koop. Net vir ingeval ek hom eendag nodig sou kry.

So soek ek al vir jare ‘n ding wat soos ‘n ystangetjie lyk, maar nie ‘n ystangetjie is nie, wel ‘n olyfontpitter. Ek het gemiddeld so een keer elke drie jaar behoefte daaraan om ‘n olyf te ontpit, en dit sal dan vir my so lekker wees om die ding op te spoor in een van die baie kaste gevul met sinnelose kombuis-clutter.

Maar eintlik gaan dit nie oor die olywe nie, ek wil kyk wat die ding met lietsjies doen. Oor hoe lief ek vir lietsjies is en wat ‘n mens alles daarmee kan doen, gaan dit nou nie hier nie. Die geneuk met ‘n lietsjie is bloot die feit dat daar net een manier is om ‘n lietsjie af te dop: Jy knak hom oor die helfte met jou twee stelle voortande, jy druk die een helfte skil los (die dop kraak aan twee, so skoon soos langs ‘n voeg) en in ‘n bak met die halwe dop. Nou glip jy die vruggie uit die ander helfte soos ‘n glipperttjie (catawba) in jou mond in.

Nou maak ‘n mens ‘n dis van hierdie vruggies — moenie geblikte lietsjies naby my bring nie — wil ‘n mens darem hê elke tweede of derde lietsjie moet nie in jou maag nie, maar in die gaste se borde beland. Dan glip jy elke dan en wan met sukses wel ‘n vruggie in die bak — dit verg baie inspanning van my, maar ek kry die reg. En het ‘n mens eers die vaardigheid van vruggie-uit-en-losglip-van-die-dop bemeester, is dit redelik maklik om die vruggie in ‘n bakkie te laat land. Nou eet jy sowat die helfte van jou bakkie naaklietsjies en die res is vir die gaste.

En dis hier waar ek vermoed die onvleiende geneuk kom — jy wil die pit uit hê, maar darem nog iets van die lietsjie ook. Probeer jy ‘n stomp mes, sit jy met sop en iets wat herinner aan ‘n stukkie calamari waaroor die ganske Geallieerde Magte nou net in pantserwaens gery het. Vat jy ‘n skerp mes, dan sit jou gaste met stukkies dop in bord.

Daar is net een manier wat werk: jy byt tien teen een met symste twee stelle tande wat so van effe klaar gespeel het met die dop, deur die hemelse stukkie wit vleeslikheid. Registreer jou brein dis ‘n klein pitjie, dan eet jy die lietsjie dadelik self — ‘n lietsjie met ‘n klein pit en baie vleis is ‘n luukse wat nie voor die swyne gewerp word nie. Is die vruggie gelukkig genoeg om wel bedeeld te wees soverre dit die pit betref, dan raak jy nou versigtig met jou vingers van die vleis ontslae. En jy kry toegang tot die pit juis langs die twee snitte wat jou tande nou net voorberei het.

Daar is niks anders wat werk nie. Vra maar enige mens wat kos maak met vars lietsjies.

En so lief soos ek vir lietsjies is, kom ek by mense en ek sien daar is omgegaan met ontpitte vars lietsjies, dan sit ek nie mond daaraan nie. Annieka wat my goed ken verstaan dit nooit nie, maar ek swyg soos die graf. Miskien as sy hier gelees het sal sy begin verstaan, en die gasheer of –vrou se lietsjiegereg voortaan ook maar ‘n koue skouer gee.

Ek het een keer die fout gemaak om aan huise van baie goeie vriende van ons te vra, iets soos: “Van die een kosmaker aan die ander kosmaker — hoe kry jy jou lietsjies so mooi ontpit?” (Nogal maklik om ‘n lietsjie uit te ken wat op die een en enigste regte manier, en sonder toegang tot industriële masjienerie ontpit is, uit te ken.)

Die antwoord was kortweg, bloot:  “Jy wil nie weet nie.”

En toe weet ek.

So sonder om te veel vrae te moet vra, laat ek die lietsjiebord dan maar eerder net by my verbygaan.

En hier is ek al weer hopeloos oor my woordlimiet sonder dat ek uitgekom het, waarby ek wou uitkom — Annieka se een Kerspakkie van verlede jaar.

Kyk, dis wat ‘n Kers- of verjaarsdagpakkie vir my so maklik maak:  nooit hoef jy te wonder oor watter sakdoeke, grootte onderbroek of kleur das jy vir my hoef te koop nie. Jy knyp jou oë toe voor die rak waar al die kitchen utensils hang en trek die eerste ding af waarmee jou vingers kontak maak.

Synde nou my vrou, moet Annieka darem egter ‘n bietjie dieper die winkel instap, daar tussen die bokse en dinge in. En dit wat sy eerste omhels kan maar met vrymoedigheid winkeltrollie toe.

Hierdie jaar is dit toe nou ‘n omelettepan wat sy eie omelette vanself toe- en omvou, verseël warm hou. Al waarvoor jy moet pa staan is die versending bord toe.

Op die prentjie lyk dit maklik, op die televisieadvertensie verloop dit seepglad keer op keer. Op keer. Maar ai, ek vermoed hulle het ‘n waslap of ‘n ding in die middel van hulle televisiemodel modelomelette versteek. My omelette knak almal aan twee, dop ek nou die twee flappies eier met die  mobiele panbodems om. En knak hulle nie, dan flop hulle onder deur die twee flappies deur, en dan sit ek met ‘n gemors — ek kan nie die flappies, met my duime in die lug gehou weer laat lê nie, daar waar hulle lê, lê nou my eier en kaas. En ag, dis net een groot gemors.

Maar dis wat so wonderlik is van hierdie goed, selfs al werk dit nie so goed en maklik soos op papier en beeld nie, dit maak nie saak nie. Elkeen van die goeterstes kom met die alleroulikste resepteboekies, wenke  en dinge. En as daar een ding is wat hierdie pan se mense wel baie deeglik kon doen, dan was dit om die verruklikste omelette-resepte saam te stel.

Ons eet nou al twee keer ‘n week omelette, elke keer ‘n nuwe trefferresep. Weliswaar eerder flatervol as flatervry dat die skeppinkies op die bord beland, maar wat maak dit saak. Alle kos gaan tog stukkend maag toe.

Dankie my vrou, vir ‘n lieflike kerspresent tussen al die ander waarmee jy my bederf het.