6.9.11

21/04/1928 - 21/04/2009 - 31/08/2011

Die bietjie wat van my ma oor is, en eintlik is dit so oorweldigend baie om voor dankbaar te wees, word dan nou, iewers by een of ander vakansieoord naby Warmbad (Brits? Rustenburg? Bronkhorstspruit?)  vandag 81.

Is dit nie lieflik nie? Met die oog op die Ou Lady se een en tagtigste neem haar een en negentig jarige wederhelf haar met vakansie. (Oom Cas en Tannie Marie, soos altyd, saam, om by te staan met, ek vermoed, veel meer as net die bestuur van die kar.)

En eintlik iets wat my die naweek vir die eerste keer, terwyl ek die kiddies se opstelle merk, getref het, wat ek dan nou maar vandag, heel gepas, kombineer met haar verjaarsdag.

Ek word by herhaling getref deur dit wat die kinders verklap in hul verhalende opstelle wat ‘n outobiografiese inslag móés hê. En by herhaling flits deur my gedagtes:  “Maar dis omdat jy smiddaes alleen by die huis is,” “Dis oorlat jou ma jou alleen grootmaak,” “Enkelouer.”

Alles natuurlik ‘n alledaagse, maar daar kry ek vir die eerste keer, drie en dertig jaar later, ontsettende waardering vir dit wat my ma gedoen het toe sy as werkende broodwinner oornag konfronteer word met die opvoeding van ‘n enekelouerkind.

Om die pot aan die kook te hou, Klein Hansie in standerd drie, maak sy en haar suster ‘n rokkewinkel, eers sommerso vanuit die sitkamer bedryf, oop. Hierdie klerewinkel (party fancy tannies het daarvan gepraat as ‘n boetiek, maar vir my ma-hulle was dit nooit iets anders as rokkewinkel nie) het my toe deur laerskool, hoërskool en universiteit, met vakansie en elke denkbare skooltoer of –uitstappie.

Maar teen ‘n prys: dis nie van nine to five nie, van eight to six, partykeers to half past six. Saterdae ook tot een, maar nader aan twee nadat opge-cash opgeruim is.

Ek was seker vir so twee weke ‘n flat boytjie — ‘n seuntjie met die woonstel se sleutel om sy nek vir wanneer hy van die skool kom, toe sy haar voet neersit en vir my ‘n ouerhuis kry om na terug te kom as skool verby is, ‘n ouerhuis met ‘n ma-figuur, ‘n bord kos, na vyf ook ‘n pa-figuur en sommer ‘n surrogaat boetie of sussie op die koop toe ook.

En dit was vir my normaal. Nooit het ek gedink my ma vertrou my nie, sy hok my in nie, pas my op nie. Sy soek ‘n meer huislike omgewing vir my om my middae in deur te bring.

Hierdie ander “mammas” van my, het my ma beslis nie betaal nie, hoe kon sy? Tog was hulle almal klante by  die rokkewinkel en het sy aan die hand van ‘n afslag hier en daar op haar gebrekkige manier probeer vergoed vir dit wat hulle vir my beteken.

Wat dit vir my beteken het, dink ek nou aan en besef ek vandag eers, kán met geld nie vergoed word nie.

Ledigheid is die duiwel se oorkussing. Ek weet van die onheile wat uit kan broei, uitbroei en al uitgebroei het, veral hier in die storm-en-drang-jare van ‘n kind.



Maar nooit, voor gister en die naweek se merk van die opstelle en weer eens ‘n kykie in die lewens van kinders wat smiddaes alleen aan stuur van sake staan, het ek gedink hoe anders my lewe uit sou kon gedraai het, het my ma my in die middae wees en sonder sorg gelaat nie. ‘n Tiener is ‘n tiener, ‘n seun is ‘n seun en ‘n tienerseun, ‘n bliksem.

Ons flat-boytjies was hoeka so ‘n moerse lekker crowd.

Ek weet van geen ander enkelouerkind na wie daar op hierdie manier omgesien is nie, maar daar sal baie wees.

Met twee en twintig jaar onderwyservaring weet ek dit is jammer dat nie meer enkelouers so ‘n opsie oorweeg nie.

Dankie Judy, jy het met versiendheid en uit nood gebore plan gemaak, en daardie plan het gewerk.

Dankie daarom ook, Oom Cas en Tannie Marie. Nie vir die feit dat julle op een en sewentig vir Judy en Jack vergesel op die Ou Lady se birthday bash nie, maar dankie dat julle vyf en dertig jaar gelede al (saam met Oom Gustav en Tannie Marica, Oom Hugo en Tannie Marjorie, ook Tannie Marthie) reeds daar was om my ‘n huis te gee waarheen ek na skool kon tuiskom.

Dit het ‘n wêreld, ‘n lewe, en ‘n leeftyd, se verskil gemaak.

Ek plaas hierdie ou een uit 2009 vandag, nie net in herinnering aan Judy nie, maar ook om Cas en Marie van wie ek hier vertel te eer. Teen die einde verwys ek ook na Oom Gustav en Tannie Marica, Tannie Marjorie en Oom Hugo, asook Tannie Marthie.

Die twee mans is beide reeds oorlede. Ek het Tannie Marica laat weet van die ou vrou se afsterwe. Tannie Marjorie, wat ek een keer in 28 jaar mee gepraat het, het my vanand gebel om te simpatiseer. En Tannie Marthie se seun, Riaan, my beste vriend sedert standerd 1, was verlede week, saam met Cas en Marie op die begfrafenis. Sy ma se afsterwe in 1988 kon ek nie bywoon nie, al sou ek hoen graag wou - ek was besig met my verpligte grensdiens.

Hierdie teks het my ook weer eens herinner hoe ontsettend baie in twee jaar kan verander.


4.9.11

21/04/1928 - 08/08/2010 - 31/08/2011


So bring ek toe nou die skootrekenaar saam om my besig te hou terwyl die operasie vlot of skeef verloop. So om die gedagtes weg van die ou vrou en die operasie te herlei, maar verniet.

My gedagtes dool maar al rondom haar, en dis te verstane.

Seuns/Mans raak mos simpel, hulle dink hulle raak te groot/oud om aan hul ma’s te vat, dis dingetjies wat seuntjies doen.

So het ek ook maar soos die meeste van ons spesie simpel geraak en opgehou om aan die ou dier te vat.

Ja, haar hand sal ek vat om haar te ondersteun as ons in die inkopiesentrums stap, maar vat soos in vat om te streel en te kommunikeer “ek het jou lief”, is uit soos koekies in die weeshuis.

Haai, en toe het ek gister en vandag, alstesaam twee uur en twintig minute waarin ek basies niks anders kan doen as om haar hand vas te hou en te streel nie.

Ek het die ou vrou glads oor haar maag gevryf.

Wanneer laas is sy nou oor haar maag gevryf?

Skielik wonder ek oor die operasiemerk waar ek as baba uitgekom het (keiser), iets wat my as kleuter nogal gefassineer het.

Soos om oor Klaradyn se voorkop te streel, het ek oor haar voorkop gestreel en haar vertel haar hare is mooi gedoen.

Ek het baie ander stront ook gepraat. Om haar goed en positief en gerus te laat voel.

Hoewel haar verlede binne tien minute uitgevee word, verander dit niks aan haar belewenis van die hede nie. Soos ek en jy die nou ervaar, so helder en intens ervaar sy dit. Sy is in nugter kontak met die onmiddellike.

Daarom raak ek so die bliksem in as iemand dementia-lyers afmaak as afgeskryf en oor die muur. Omdat sy aan dementia ly het iemand gister hier impliseer sy het nie ‘n goeie kwaliteit-lewe nie. Snert. En nogmaals snert.

Daar is seker mense wat gesigte sien en later geen kontak meer met die werkliheid, soos ons dit ken, het nie, maar my ma is beslis nie so nie. As sy na my kyk, sien sy nie ‘n sokkerbal nie, as ek vir haar sê “ek is lief vir jou”, dan sê sy, “en ek vir jou.” As ek haar ‘n grap vertel, dan lag sy soos sy al die jare nog lag.

Ek kan hom natuurlik drie minute later weer vertel, en sy sal van voor af vir hom lag, maar dit maak nie dat sy nie ‘n kwaliteit lewe het nie.

Dis beslis nie lekker, soos die laaste twee dae in die hospitaal, as sy daar is en sy weet nie wat soek sy daar nie, sy kan nie onthou hoe kom sy daar nie. Ek glo dit kan ‘n mens angstig en verward maak. Maar dis mos nou buitengewone omstan dighede.

Ander tye is wonderlik en helder en nugter. Natuurlik wonderliker en helderder en nugterder as ek en Annieka en Klaradyn (dis al wie sy nog onthou en van bewus is) by is.

My broer, sy vrou en kinders het seker al twee jaar gelede “weggeval”, maar dan ‘n baie komplekse “wegval.” Wie hulle is en die feit dat hulle hoegenaamd bestaan is deur tyd en afstand uitgewis. Maar laat hulle nou net kom kuier, natuurlik weet sy nie wie hulle is nie, maar in hul teenwoordigheid is sy op haar gemak en rustig en ontspanne, presies soos in my teenwoordigheid. Sy weet dalk nie dis haar seun of skoondogter nie, maar sy weet sy kan hulle vertrou en haar gemoedelike selwers in hul geselskap wees.

Soms, na so twintig minute se kuier en ek hulle eers weer aan haar moes voorstel, dan begin sy met hulle kuier soos van ouds. Dan begin sy my broer op die naam noem wat sy hom altyd genoem het, dan kommunikeer sy in Engels met haar Engelse skoondogter.

‘n Interessante ding, so van haar Engelse skoondogter gepraat:  hulle twee het altyd allerhande kunsvlytaktiwiteite gedoen, decoupage, skilder, kaartjies, kralewerk en die klas van ding.

So kry ek ‘n arbeidsterapeut om een keer ‘n week vir opbouende afwisseling in haar week te sorg. Verlede week toe doen hulle decoupage, en die arbeidsterapeut moes later, na vier weke se werk, skielik vra of my ma se moedertaal Engels is, want sy praat heeltyd net Engels met haar.Al waaraan ek dit kan toeskryf is die feit dat dit die tipe aktiwiteit was wat sy altyd met haar skoondogter gedeel het.

Terug na die “goed voel” in haar geliefdes se geselskap: dit was opvallend met hoeveel haar bloeddruk afgeneem het in die uur of wat ek en Annieka vanmiddag in haar geselskap deurgebring het, Annieka vrywend en strelend aan die een hand, ek aan die ander.

Intussen het my skoonouers by my aangesluit en baie gedoen om die ongemaklike en uitmergelende tydjie in die wagkamer af te wissel en my gedagtes elders te kry. Toe score ek sommer ook my eerste kos vir die dag. Ek kwetter soos ‘n vink, my gedagtes afgelei na die heerlikste gespreksonderwerpe, en dit terwyl dit ‘n man en sy skoonouers is.

Annieka en die begrip en ondersteuning wat sy onder baie moeilike omstandighede bied, is ek net soveel dank verskuldig. Hierdie hele ingryping kom in haar lewe soos ‘n soortgelyke krisis wat ‘n Kersvader op 20 Desember beleef.

Selfs Klaradyn is op haar kleutermanier akkommoderend.

Die operasie het sy oorleef, maar soos ons weet, en ook duidelik deur die hele span wat aan haar gewerk het, en met haar werk, ingelig is:  die kritieke stadium lê nou voor. Haar hart lyk baie sleg, vernoude kleppe, omleidings en net mooi niks wat in haar guns tel nie.

Kry ek, in retrospeksie, lag vir die mens en sy natuur. Ek en my skoonouers kom by die saal aan en ‘n suster kom met die boodskap dat die dokror my wil spreek, hy wil my glo x-strale wys. En daar hardloop sy teater toe om die dokter te laat weet ons is hier.

Ek vertel myself dadelik dis snert, watse plate sal hulle nou neem as hulle ‘n operasie uitvoer. Ek besef die “plate” is net afleiding om my rustig te hou tot die dokter die doodstyding bring. Die  volgende oomblik kom haal ‘n man ons uit die wagkamer uit en lei ons daar agter deure in, kry vir ons stoele en sê ons moet wag, Dokter skryf net gou iets, dan is hier.

Ek besef dadelik hulle kry ons nou uit sig van die ander besoekers sodat ons hulle nie ontstel as ons die tyding kry nie, en dis tien teen een ‘n doodsverslag of –brief wat die dokter nou skryf.

En toe hy vier minute later in die gang afkom, is die eerste waarvan ek bewus word, die x-strale in sy hand; om die inplantasie wat hy gedoen het, met my te deel

Hoeveel daar van haar gaan oorbly na die operasie, sou sy aansterk en oorleef, weet ons nie.

Ons vat dit dag vir dag oor die volgende paar dae, miskien uur vir uur.