22.7.11

Kleivoete

Dit was nie altyd lekker, Sondae, langs my ma in die kerk nie. Ek wou wegkrimp as sy onder die Psalms en Gesange so 'n Engelse “Djeezuz Kristus” in plaas van “Jiesus Gristus” inwerk.
Net so het sy Jamie Uys ook altyd ge-Djýmie en nooit ge-Jámie nie.

Oor laasgenoemde se uitspraak was sy blykbaar reg; ek verkeerd. Maar in die dae toe dit my gepla het, was ek 'n kind en het ek nog gedink soos 'n kind.

Tog het beide hierdie manne wie se name met ‘n J (of dan nou die affrikate -dj) begin, my gevorm en gehelp groot kry.

Egter nie oor Jesus vandag nie, maar Jamie.

Vir my geslag het Jamie Uys geword wat Dokter Chris Barnard vir my ouer broer-hulle se geslag was:  Suid-Afrika se claim to fame, die Suid-Afrikaner wat ons land op die spreekwoordelike map geplaas het.

Vir Daar doer in die Bosveld (was dit nie hoeka die eerste Afrikaanse film in volkleur nie?) het ons, af in die straat by maatjies, die garage leeggedra en ‘n projektor moes huur.

Hoe daai goed werk, weet ek tot vandag nie. Ek was altyd te klein, die ouer seuns in die geselskap of ‘n pa of oom, het dit beman. Ek het met respek en opwinding die gedoente (en meermale ook geswets) rondom die hele gebeurlikheid van projektoropstel gade geslaan.

En teen die tyd dat ek groot en oud genoeg was om oor te neem, het fliekwinkels al videowinkels geword - VHS en Beta Max. En videowinkels het dit gebly, tot vandag toe nog, al neem ons jare nou al nie meer enige video’s daar by hulle op bruikleen nie.

In die beginjare, al is dit onwaarskynlik dat ‘n youngster ooit hier sal lees, het jy egter nie net ‘n video uitgeneem nie; soos met die filmprojektor het jy huis toe gekom met ‘n swart houtkis en daarbinne was ‘n videomasjien, groter en boksiger as ‘n hart-long-masjien in Grootte Schuur.

Van Bosveld onthou ek egter nie veel nie. Selfs steeds nie na ‘n hersuitsending op TV jare later nie. Al wat ek weet is dat die mense in hierdie fliek piekniek gehou het, waar, en soos, en hoe, ek van piekniekhou hou:  in die Bosveld, tussen lang gras onder koeltebome (en skynbaar sonder goggas).

Met die uitsondering van die gebrek aan ‘n afwesigheid van goggas het ek die voorreg om soos Oom Jamie-hulle se mense piekniek te hou, twee keer gehad:  In die Waterberge een Dingaansdag en in die Oos-Vrystaat, nou onlangs. (Maak daai Bosveld hier bo ter wille van die Clarence-verwysing dan maar bos-veld of bosserige grasveld.)

Toe kom Beautiful People. Ons was daardie jare nog ‘n gesin en die hele gesin het opgeruk Bedfordview toe, Nu Metro toe vir die fliek.

My pa moes ‘n vreemde man gewees het:  net twee ander kere het ons as gesin so iets gedoen — vir Pappalap (wat hy ons twee keer gaan kyk het) en vir Yori Geller in die Civic.

Lank daarna sou my pa nog sê dat Pappalap sy gunsteling fliek is, en elke keer wou ek sê dat dit nie Pa se gunsteling is nie, dis Pa se enigste.

Toe Uri Geller Suid-Afrikaners hier in die sewentiger jare kom vermaak het, het hy, wat andersins suinig was, nie net my en my broer saamgesleep nie, maar ook my broer se nooientjie. Uri Geller was hierdie ou wat yster met sy “special powers” (soos Klaradyn by die kleuterskool onder die invloed van haar geslag se tekenprente leer praat) kon buig.

Die sluitstaaf van my ma se tuisgemaakte kraletjieshandsak het daardie aand tydens ‘n eksperiment met die gehoor gebuig, en as my pa later lekker gesels het, moes ek altyd hardloop om dit te gaan kry dat ons vir die mense kan wys.

Maar met die wye draaie wat ek nou loop kom ek, wat nog te sê ‘n moedige waarskynlike leser, nooit uit by die ontnugtering wat ek hierdie afgelope naweek rondom Jamie Uys beleef het nie.

Terug op jou spoor Hans!

Dit sou eers na Jamie se dood vir die breë publiek algemene kennis word dat die diere waarvoor hulle jare gelede so in Beautiful People gelag het, nie rêrig dronk geword het van die gegiste maroelas nie, maar dat die diere verdoofmiddels ingejaag is.

So ek en my generasie ruk destyds nog onbevange en in verwondering op.

Beautiful People word opgevolg deur Funny People (1 en 2).

My ma, wat al in Beautiful People  nie vir die diere gelag het nie, maar gehuil het vir die pelikane wat op ‘n streep vrek van honger en dors, verroer nog minder ‘n lagspier vir die verspottighede in hierdie twee flieks wat volgens haar “sommer laf” is, maar die res van ons Suid-Afrikaners geniet ons gate uit.

Toe is dit The gods must be crazy ( weer 'n 1 en 2).

Suid-Afrika het ‘n Chris Barnard-figuur daardie jare nog nodiger gehad as tien jaar vroeër en Jamie Uys doen dit weer vir ons. Die media is vol van die die flieks se suksesse in Amerika, Europa en die Ooste.

In Gods 1 het ek regs voor gesit en vir die eerste keer in 'n fliek en in my lewe letterlik van my stoel afgegly soos ek gelag het.

Wat Jamie daarna gedoen het, weet ek nie.

Skinderstories oor die ingryping in die lewe van Gods se Boesmans was daar wel, maar Leon Schuster, wat sedert Funny People  al aan die knie van Jamie geleer het, neem by hom oor om die volk te vermaak.

Jamie is toe dood en Klaradyn ‘n klompie jare later gebore. Ons koop Beautiful People verlede jaar hierdie tyd vir haar. Sy geniet dit ontsettend, en ek dink die feit dat ons goedkoop DVD-speler weier om die kommentator se Engelse klankbaan te speel, dra daartoe by. Ons sit net die beeld en die lieflike agtergrondmusiek. Pa hoef nie die oom met die warm diep stem se Engels te vertaal nie en hy beïndruk haar met die running commentary wat hy gee.

Ons probeer toe ook The gods must be crazy, Pappa vertel soos die storie aangaan. Fout. Pappa lag steeds so dat hy vergeet om te vertel, nie kan vertel nie. Mamma moet oorneem. En toe begin die terroriste darem hopeloos te veel en te ernstig op mekaar skiet vir ‘n klein dogtertjie se gemoed. Ons skip ‘n paar scenes en toe’s die fliek klaar; Klaarsie geensins beïndruk nie.

In die ou dae met filmprojektors kon jy natuurlik nie ‘n scene skip nie.

Maar daar was ‘n iets wat grootmense kon doen wat daai films laat spring het.

Op laerskool, en selfs begin hoërskool, het jy elke laaste dag van die kwartaal in die saal gefliek. Ons meneer het dan altyd daardie spesiale iets gedoen as daar ‘n tannie in ‘n bikini op die doek verskyn het of as ‘n oom en tannie begin soen het. Die beeld bewe dan vervaard, die projektor maak klappertand-geluide en van die klankbaan hoor jy net mooi minder as niks. Teen die tyd dat Meneer dis weer veilig vir kleine ogies het, was die Tannie al in haar kerkrok en sixties hoed, die ander oom en tannie nie meer in die kar of op die sitkamerbank nie.

Verlede naweek is dit toe Klaars en Funny People. En pa moet eindeksamenvraestelle merk , so hy neem sommer al twee uit sodat hulle dit saam kan geniet. Ma spring ‘n bak springmielies en sluit by ons aan.

Nie ‘n teleurstelling nie; ‘n ontnugtering.

Vir die eerste keer wonder ek hoe die klankopnames oor so ‘n lang steelafstand so duidelik is.

Vir die eerste keer tel ek mense op wat praat maar hulle monde is toe.

‘n Mens moet die geloof van ‘n kind behou. Die goedgelowigheid van ‘n kind.

Toe die tannie in haar crimpelene rok langs die oom in die Safari-pak in die hoogste Britse aksent lostrek en die Kaapse Kleurling in die boom klink of hy ‘n Southerner van die cotton fields is, sy benoudheid herinner aan ‘n Negro Spiritual, sit ek darem een en een bymekaar en besef ons kyk jare later na die weergawe wat destyds oorsee bemark en uitgereik is.

Ek verbeel my selfs ek sien ‘n lieflike toneel vir die eerste keer. Dit handel oor soldate wat op ‘n paradegrond belaglik gemaak word en ek kan my nie indink dat Oom Magnus en Pik so iets daardie jare sou toegelaat het nie – daarom dat die buitewêreld dit kon sien; ons nie.

Ek maak vrede met bykans alles, maar toe smelt my held se kleivoete soos vetkryt in die son. Die een na die ander random ou uit die publiek wat hulle kwansuis lukraak op Funny People se candid camera gevang het, is ‘n Suid-Afrikaanse akteur wat ‘n kort rukkie later met die opbloei van die Suid-Afrikaanse televisie bekendheid begin verwerf het. Zak du Plessis, die ou van The Dingleys en nog twee of drie ander, ek ken nie nou hulle almal se name nie.

Dis soos om ‘n Kersfeesvaderpak, Playboy Magazine, of half-jack in jou pa se kas te ontdek. Jy kan dit nie glo nie. Jou held, van hero to zero.

Dankie tog ons het nie meer helde nie. Nie meer as ons groot is nie. Nie meer vandag nie.


No comments: