7.7.11

Hoe loop die gedagtes nou met my...

Dit was die jaar 1989. Hans pas klaar met universiteit en twee jaar in diens van die SAW&Seuns. Ek’s bo in die lug in ‘n bachelor’s flat met ‘n kombuisie kleiner as my huidige badkamer.

Synde ‘n laat-laatlammetjie, my broer was in standerd 8 toe ek die eerste lewenslig aanskou het, was dit nogal ‘n okkasie toe hy, sy vrou en kinders vir die eerste keer op ‘n Sondag, al die pad van Johannesburg af, my kom eet.

Ek besluit op geelrys en bobotie. Dit behoort fieterjasig en verwikkeld genoeg te wees vir so ‘n historiese moment.

Twee kookboeke het ek. Die Kook en Geniet wat Boeta-hulle namens die twee kleintjies as mondigwordingspresent gegee het (Dear Hansie, Happy 21st Birthday. Love Joanne. Love Marc —onderskeidelik in ‘n graad 1- en standerd 1-handskrif). En Huisgenoot Wenresepte 2, begin ’89 toe ek huis opsit van Ma-hulle gekry (In die mooiste sierskrif hierdie keer:  Hans Moolman Feb 1989, op die skutblad se binneblad, Oubaas, geniet jou bak en brou!! Liefde Judy, ‘n entjie dieper in op die titelblad.)

Wenresepte sal dit dan wees. Pagina 112 (Ek het vanaand weer daar gaan blaai en ‘n dis gemaak van gemaalde wildsvleis, geen brood en bittermin melk — dit sou, gemeet aan enkele van die ingrediënte en die metode, vaagweg miskien kon herinner aan bobotie.)

Op pagina 112 het Huisgenoot twee bobotieresepte. ‘n Droëvrugte-bobotie, en neffens hom een wat aan Tini Vorster, voormalige Premiers- en Staatspresidentsvrou , toegedig word.

Vrydag na skool koop ek aan, Saterdag na wintersport berei ek voor, en Sondag eet ons.

Gelukkig (ongelukkig?) is ek nie bang vir improviseer nie. As daar plek is vir droë-appelkose, droë-appellringe en rosyntjies; waarom die droë-perskes en ‘n dadel vir die soet nie?

Een keer in my lewe het ek geblikte chestnuts gekoop. So ‘n maand of wat tevore. Oor ek wou proe hoe dit proe. Nodeloos om te sê my bobotie het chestnuts en amandels ook ingekry.

So dis nie dat ek bang is om te waag nie. Dis net, toe ek die tweede keer kerriepoeier moet byvoeg, dat dit nie vir my sin maak nie. Ek dog eers dis vir die eier, maar nee, daar staan dit — dit moet ook in die vleis. Miskien was die borrie vir die eier, maar nou sê tannie Tini skielik niks van borrie nie. Ek het tog al borrie bygegooi.

Maar dis eers toe ek wonder of suurlemoensap en asyn nie dieselfde werk verrig in ‘n resep nie, dat ek snuf in die neus kry — in my angstigheid en spanning het ek dan links gelees en ingegooi, en dan weer regs, en ingegooi. Nadat ek soorts van tot verhaal gekom het blyk dit ek nou net mooitjies alles van beide resepte saam in een bak het. (Met dan nog my talle eie minder tradisionele bestanddele, daarby.) En dis, besef ek toe, hoekom ek nie juis melk oor had om met die eiers te meng, nadat ek die geweekte brood daar uit gelig het nie — ek het die een resep se min melk, by die ander resep se meer brood gegooi.

Maar dit was ‘n treffer! Dis ook al 20 jaar later, en ek en my broer-hulle het verlede jaar weer die ete in die herinnering geroep.

En van toe af, is dit hoe ek na resepte kry. Kry Hester van Pletzen van Westonaria se gemmerkoekies nie die kaneel in, wat Marlene Meintjies van Wolmaransstad ons wel wil laat afmeet nie, en dit terwyl laasgenoemde op haar beurt weer fyn kruienaeltjies meld waarvan eersgenoemde geen sprook sprak nie; dan foeter ek Hester se kaneel, Marlene se kruienaeltjies, my all spice én die verbeelding se knippie neut, by Mev. Dawn Kinghorn se eierlose gemmerkoekies met die baie botter.

Maar hoe kan jy ook nou gemmerkoekie wil bak sonder eiers. Dan moer ek sommer ‘n eier of wat ook in. Interessantheidshalwe kyk ons dan sommer ook waarom ‘n mens kwansuis nie heuning in die plek van die gouestroop kan gebruik nie.

En soos vanaand weer, kan ek nie bobotie maak, daaraan dink of daarvan praat , sonder om nie tere herinneringe aan daai eerste bobotie van my te kry nie.

Later jare sou ek by ‘n puris soos Peter Veldsman, of miskien was dit Leipoldt homself, lees dat bobotie slegs bobotie is, as dit van skaapvleis gemaak word.

(Dis glo ook so met sosaties wat kebabs/kabobs word, die oomblik wat jy skaap verruil vir bees of vark, selfs die oomblik as jy allerhande ander fieterjasies soos pruimedante of nuwerwetse peppadews, in plaas van appelkose, inryg.)

Maar Leipoldt se bobotie is ‘n vertelling op sy eie: Ek’s nou al mooi groot en wil die girl wat my liewe vrou sou word, se ouers beïndruk. Ek het, daardie jare was Leipoldt se resepteboeke nie soos vandag agter elke klip uit te skop nie, pas ‘n verslete aankoop van een van sy ou-ou boeke gemaak. En, soos ek later sou agterkom eie aan hom is, geen die man nie ‘n resep nie, hy vertel hom skrywendergewys, en jy verlekker jou in die lees van kulinêre prosa.

Dit kos my ook soek om ‘n slagter te kry wat skaapvleis vir my sal maal. Die goed se meulens is deesdae so fancy dat my kilogram skaapvleis nog in die meule se derms vassit as dit klaar by die bek ingeprop is. Nou moet jy die skaapvleis aanjaag met nog skaap van bo, om iewers onder die kilogram of wat maalvleisies op te vang. En dan sit hulle met nog twee kilo’s skaapvleis in die binnewerkinge van die masjien, wat hulle nie verkoop kry nie. Lang storie.

Maar ek het my gemaalde lamsboud en by die Oosterse Plaza het ek selfs tamarind (tamaryn?) gekry om my bobotie ou-tentiek sonder asyn te maak.

En daar gaan my bobotie in, die jong dame het vlinders in haar oë en skoenlappers op allerhande ander plekke, haar ouers lyk ook ingenome.

Maar toe ek die bobotie uithaal na die tyd wat Leipoldt ons aanraai om dit uit die oond te kry, toe is my bobotie skaars gestol. Toe ons dit uiteindelik gaar het, toe is dit so droog soos laasjaar se wildsbiltong wat buite bly hang het.

Dis eers ‘n jaar of wat later, toe my versameling Leipoldt-boeke aansienlik uitgebrei het, dat ek lees bobotie ís gemaak van gemaalde skaapboud. Maar dis nou die skaapboud wat oorgebly het van Sondag se middagete. Die goed wat Leipoldt se kookster oond toe gestuur het was gare gemaalde left overs.

Leipoldt het aanvaar ons weet dit, en gevolglik niks daarvan genoem in sy eerste vertelling rondom bobotie nie.

Ek maal vandag steeds my skaap by dieselfde slaghuis as destyds. Maar deesdae maak ek die mince eers gaar. Dan tel ek Leipoldt se spoor op en loop die pad met hom verder. Sonder tamaryn, met asyn.

Maar dis net as ek die tweede myl wíl saamstap en nie soos vanaand ‘n spul hase uit die towenaar se hardebolkeil moet ruk om iets in die oond te kry nie.

Die skaapvleis het koedoe geword. Die wit brood, die droë broodkrummels waarmee ons schnitzels maak. Daar was appelkose, maar nie korente of rosyntjies nie — sulke snaakse droëvrugtige goedjies wat ek ‘n ruk gelede by die Sjinese mark gekoop het, moes daarvoor instaan.

Daarby moes elke potjie soet en konfyterigheid wat net wou lyk of hy leeg se kant toe staan, dit ontgeld by gebrek aan ‘n blatjankie. En om alles weer Low GI vir Annieka te maak, toe rasper ek twee appels ook by. (Wenresepte het my op hierdie spoor gesit.) Te lekker. Daar’s selfs ‘n bietjie oor vir more vir skool.

En nou, nadat ‘n vriendin my vandag by die skool haar bobotie gegee het om skelmpies te eet, terwyl die baas met ons vergader, my nie net uit by vanaand se vrye interpretasie van bobotie nie, maar uiteindelik ook by die nog vryer bobotie-improvisasie waarvan ek die afgelope jaar al op drie geleenthede wou blog, maar nooit so ver gekom het nie.

Ek het ‘n ruk gelede vertel van die oudleerling, Judit, ‘n oud-Angolees, wat ek na 21 jaar weer opgespoor het. Nou hierdie dame  wat ek as jong Angolese vlugteling-meisie in ‘n hout huis sonder krag en aldag lopende water leer ken het, het intussen so opbeweeg dat sy lankal nie meer kook die dag wat sy ‘n paar vriende oornooi nie, sy kry spyseniers.

En elke keer as ons daar kom, of ons nou agt is, en of ons nou dertig is, is daar nie minder nie as vier of vyf vleisgeregte nie.

Een daarvan, die heerlikste, mees on-Portugese, anti-Angolese, lasagne denkbaar.

’n Vriendin van haar, duidelik ook van gemengde herkoms maar vanuit die Kaap oorspronklik, wat vir haar kos maak.

En almal wat gereeld hier lees, weet hoe lief ek vir kosmaak is, maar toe Annieka verlede jaar vriendinne oor het vir haar verjaarsdag, toe ry ek en my vrou daardie oggend deur na hierdie vriendin om die lasagne op te tel wat Annieka bestel het.

Italiaanse bloed, straks van ‘n krygsgevangene wat bergpasse en paaie kom bou het, het die dame bes moontlik in haar — vandaar die heerlike lasagne wat sy maak. Maar iewers, vermoed ek, was ‘n definitiewe Moslem-ouma of grootjie, want dié vrou maak ‘n Kaaps-Maleise lasagne met so ‘n sterk bobotiegeur dat haar pa dalk nog ‘n ou wynboer, wie se vrou hom nie alles kon bied wat hy wil hê nie, kan wees. En terwyl vroulief gereken het Pappa is af kelders toe, is hy toe al die tyd net uit in die rigting van die kelders, maar nie heeltemal kelders toe nie.

Want, en laat ek dan maar die woordjie fusion hier inwerk, dit is immers wat dit is, letterlik, ‘n lasagne infused with the flavours of a Cape Malay (of straks nou Bolandse boerse Boere-) bobotie.

Vat jy alles van Leipoldt en jy maak dit aan soos Luigi sy bolognaise, lekker klam, en jy borrie jou béchamel met ‘n knypie kerrie of wat ook al (om die geklopte eier en melk van Tannie Tini te eggo) sit jy met die heerlikste dis denkbaar.

Die van julle wat kan kosmaak en nie bang is om spronge toe-oog te waag nie, gaan probeer dit gerus, dit werk.

Ekself was nog te bang om self my hand daaraan te waag. Maar waarom nou gevaar loop om te verbrou as ek dit direk van Gamaliël kan koop?

Bobotie was nog nooit so lekker nie. Lasagne, mind you, ook nie.

No comments: