16.7.12

20 - 2 - 2010

19 of 20 Februarie 2010 dan nou duidelik die laaste keer dat ons gaan KFC het:

Dit neem regtig nie veel om my nostalgies te kry nie.
Laat agtermiddag al het ek my voet neergesit, maar dit vir myself gehou. Twintig voor sewe sluit ek my by Annieka en Klaradyn op die hangmat aan waar hulle ‘n oomblikkie kwaliteit-ma-en-dogter-tyd het.
Ek wag tot kwart voor en herinner hulle daaraan dat dit nou reeds kwart voor sewe is.
Soos Pavlov se honde trek hulle gelyk los:  “Wat eet ons vanaand?”
“Ek stel voor Mamma kry vir ons Kentucky Fried Chicken.”
As ek van plan was om kos te maak, was ek mos teen hierdie tyd al vir ure in die kombuis doenig, het ek al die tafel gedek, en het ons, met die dat ons Klaars deesdae ‘n knertsie vroeër in die bed wil kry, tien teen een reeds aangesit vir ete. Maar ek hou dit vir myself. In belang van ‘n gesellige Woensdagaand tuis,
En my vrou moes my en my neergesette voet goed gelees het, want sy laat haar dit welgeval.
Dis Klaradyn se tweede, hoogstens derde, kennismaking met die kolonel se geheime resep en sy spring op met ‘n “Jippie, KFC!”
Wat weet sy van KFC, en waar kom sy aan KFC. Dis Kentucky Fried Chicken.
Nie eers ‘n kilometer van ons af nie, en op pad na Ouma-hulle toe, het ons so vir drie maande elke dag die vordering van ‘n nuwe gebou op die erf van die motorhawe dopgehou.
Na ‘n ruk was die kennisgewing bord op om die hele gemeenskap bewus te maak van die feit dat daar eersdaags ‘n KFC in hul midde gaan handel dryf.
En die plek was nie ‘n maand oop nie, toe stop ons nou eendag daar.
Ek sien hulle spoor ons aan om hul nuwe boneless chicken te probeer. (Miskien ook nie so nuut nie en dalk al lank in die land, onwetend net vir ons wat rand per kilogram baie goedkoper vir ons hoendervleis betaal.)
Maar, in for a penny, in for a pound, en waarom sal ons nie iets nuuts probeer nie:  “Make that the boneless option please.”
Wat ‘n teleurstelling! Droog. Horingdroog. Smakeloos, taai, vaal en oninteressant. Nie weer nie. Nooit weer nie.
Soe toe ons gesinnetjie, heel opgewonde, in die middel van die week en net oor pa sy voet neergesit het, in die motor klim en om die draai ry Kentucky toe, weet ek dat, wat ons ook al bestel, dit beslis nie boneless gaan wees nie.
Dit is mos The closer to the bone, the juicier the marrow? Of sit ek die pot heeltemal mis?
En toe ek daar, van uit die motor, na die prentjies op die spyskaart, of is dit bloot lys van keuses, staar, toe is dit of heimwee aan my gemoed wil kom klop.
Met verset in alles wat nuut is duidelik in my, dat ek luister hoe Annieka die bestelling plaas.
Terwyl ons wag klop die heimwee net harder.
Op pad huis toe neem dit van my besit en toe ons om die tafel sit en waaraan ek en Annieka ons tande slaan, die hoendervleis is, verdrink ek in ‘n verlang na jare gelede dat ek glads my eetlus verloor. Selfs al is die hoender honderd maal lekkerder as die vorige ontbeende stukkies sening, en proe dit amper net soos jare gelede.
Maar presies dieselfde as destyds, is die hoender ook nie. Soos ek nou hier tik het ek sooibrand van twee stukkies hoender. Twintig jaar gelede het ek nooit sooibrand van Kentucky gekry nie?
(Ja, goed, twintig jaar gelede het ek nooit van enige iets sooibrand gekry nie. En is dit miskien nie die kolonel se resep wat so baie verander het nie, maar ek wat so oud geword het. Tog vir die doeleindes van vanaand se skrywe verkies ek om nie so daaraan te dink nie. Ek voel ten minste nie ‘n dag ouer nie.)
Ek sal te skaam wees om die goed wat lyk of dit met ‘n baie sterk verbeelding miskien net-net sou kon deurgaan as ertappelskyfies, nie eens vir ‘n bedelaar gee nie. Behalwe vir die twee wat ek geproe het, is ons skyfies onaangeraak asblik toe.
En dis nie die kapokertappels met sous waarna ek verlang nie. Dis wat ons ronde een na die opening gehad het. Ons het toe al geleer om dit nie weer te bestel nie.
Nee, ek mis die rys, die goeie ou rys, wat hulle in die beginjare van Kentucky Fried Chicken, saam met hul hoender bedien het. ‘n Heerlike geel spicy rice (in die dae toe Tastic hul rys teen minder as 3 sent per porsie adverteer het).
Hulle spicy was nie fiery nie, bloot geurig en pikant. En saam met ‘n skeppie koolslaai op die vurk, alles mooi in toom en op vurk gehou deur ‘n stukkie hoender, was dit darem maar vir my ‘n eersteklas smaaksensasie.
Dis nou al hoeveel jaar dat ek wens die kolonel se nageslag en erfgename wil net vir ‘n maand of wat retro gaan, dit was hoeka ‘n ruk gelede so in die mode, en weer, al is dit net vir ‘n maand, hul spyskaart van ouds terugbring.
Selfs die koolslaai was toenterjare lekkerder. Hulle het beslis ‘n nuwe kostebesparende slaaiversnipperaar (tien teen een die werk van een of ander Swart-bemagtigingsmaatskappy) iewers in die kombuis in die plek van die oue. Dis dik soos saagsels. En die sous, o, die sous. Ek dink al wat oor is is ‘n bietjie water en asyn (meer water en minder asyn). Die souserigheid van her, nou ‘n smakelose waterigheid. Vir al wat ek weet het hulle nog die kool ook vervang met ‘n geneties gemanipuleerde variëteit waaraan Robert Mugabe, wat dit so teen genetiese manipulasie van sy volgelinge se voedingshulp uit die buiteland het, nie sy mond sal sit nie.
Vanaand het Annieka haar bakkie slaai opgeëis met “Ek sien nog al uit hierna, dit was altyd in die ou dae vir my so lekker.”
Ek het haar doelbewus dopgehou. Sy het een happie gevat. En nie weer nie.
Was dit nie Jeanne Jacques Rousseau wat te vertelle had van, iets soos, ‘n slaaf wat in slawerny gebore is, gee nie om om ‘n slaaf te wees nie, want hy weet nie van beter nie.
Dis hierdie gedagte van hom wat by opkom as Klaradyn se “Jippie, KFC!” in my gedagtes kom spook nie.
Die generasie wat nie van beter weet nie, sal seker opgewonde raak. Maar vir ons oues wat van beter weet, sal daar altyd ‘n gemis bly.

13.6.12

Engelse groentesop (iewers in 2010)

“Dis die lekkerste sop wat jy nog ooit gemaak het.”

Behalwe vir die feit dat die hierdie woorde teen 13:00 die eerste woorde is wat Annieka dié dag tot my rig, moet haar laaste woorde rondom die sop, gisteraand laat, ook in die herinnering geroep word: “Ek is bang vir dit wat jy daar in daardie pot aanvang.”

Nie dat dít die oorsprong was vir die heersende woorstilstand tussen ons, wat nou so mooi met die woorde oor die sop dan opgehef word nie. En dis ook nie hier ter sprake nie.

Tog is dit die agtergrond waarteen ek my sop begin het, en na tien jaar van getroude lewe, die seker wete dat my sop haar nie sommer sal welgeval nie.

Dit het agtermiddag begin met die pakkies “soup mix”-groente waarmee die outjies van jou Spar jou wil wys maak dat dit eintlik maklik is om ‘n lekker sop te kook.

Maar in daardie slaggat het ek darem al by herhaling hierdie jaar, en die laaste hele klompie jare getrap, so ek hou verby.

Toe val my oog op sulke R5-00 pakkies met ‘n stuk of vyf skywe opgesaagde murgbene in. En my belangstelling in sop word opnuut geprikkel. Ek kyk na die prys van die sopvleis daarnaas, weeg dit op en bevind dit lig/goedkoop genoeg. Ek pak sommer vier pakkies murgbene in, ook die swaarste pakkie sopvleis en sit af terug na die pakkies groente wat my van effe net ‘n kort vlietende oomblik van stryk had.

Ek het nou al vanjaar, en ook verlede jaar vertel van my algehele onvermoë om ‘n lekker pot sop te kook. Wat natuurlik nie 100% waar is nie; gee my beesstert, frankfurters, spinasie, uie, en noem maar op, ek maak ‘n heerlike sop. Mense verjaar en vra my om vir dertig mense en meer ‘n verskeidenheid soppe voor te sit, en ek doen dit met groot sukses en liefde.

Maar prop my nou een van daai pakkies sopgroente in die hand, daai pakkies wat altyd hopeloos te veel seldery in het en een of ander twee groentes waarvan die gemiddelde mens nie 100% seker is van nóg die Engelse, nóg die Afrikaanse naam nie, dan staan ek verleë en pik verward rond.

My vou, Hans-meesterkosmaker van formaat se vrou, Annieka, moes voor die skool sluit ‘n pot sop werk toe neem EN SY HET HAAR MA EN PA GEVRA OM VIR HAAR DIE SOP TE KOOK! O, die verleentheid, die vernedering! (Om my naam in ere te herstel het ek vier dae later my eie pot sop vir my eie tafel geneem. En ek moes die resep, op aanvraag, met twee mense deel!)

So as Annieka, wat duidelik nie van my sop hou nie, dan nog ‘n stilstuipe van enkele ure verbreek met iets beuselagtigs soos sop, dan moes my sop spesiaal wees.

En dit was! My eerste pot sop van die aard, wat ek in die winter van 1991 gemaak het, het so geproe, het laas so geproe. Ek het Annieka eers in 1994 ontmoet, so vanuit haar perspektief is beslis die lekkerste sop wat sy nog ooit uit my hand geproe het.

Dis dalk oor my ’91 pot so suksesvol was, niks anders nie as beginner’s luck, dat ek daarna vir negentien jaar so gesukkel het – ek wou nie my eerste poging ewenaar nie, ek wou daarop verbeter.

En ek het my ore aan valse profete uitgeleen.

Maar Vrydag het ek huis toe gekom en myself voorgeneem om die sop te bou soos ek dit wil bou, soos ek dit uit my kinderdae onthou. Ek het myself los gesny van alle goed bedoelde raad en wenke wat ek oor 19 jaar opgebou het, myself met liefde afgesonder en die voorbereidings begin.

Ek lieg, ek het eers my skoonsus gebel om te hoor hoe maak ‘n mens “Engelse groentesop”. Maar sy was nie beriekbaar nie, en teen die tyd wat sy my teruggeskakel het, was my pot al twee of drie ure lank in die baie goeie geselskap van baie lae hitte onder sy alie.

Die geneuk met hierdie sop is die feit dat my ma dit nooit gemaak het nie, sy het neerhalend daarna verwys as “Engelse groentesop”. Waarskynlik “Engelse groentesop” genoem omdat die enigste, hoogstens twee of drie keer, dat ek dit as kind geëet het, aan huise van my Engelse skoonsuster se ma was.

By ons aan huis is dik romerige soppe geëet. En as ‘n pakkie kitssop dit nie verdik het nie – o, en ek haat ‘n pakkie kitssop – dan het my ma haar groente onder die lem verpulp.

(Ons het die ou vrou vanmiddag vir ete gaan haal en ek het die Sondagmaal afgeskop met ‘n klein skeppie van my sop. Op 82, met die geheue van ‘n goudvis, kon die vrou steeds nie my sop in haar liggaam kry nie. Ek het in ‘n stadium aan Annieka genoem ek kry self die idee sy trek letterlik haar lip op vir die sop, so asof sy walg. En Annieka het beaam en gesê my andersins baie diplomatiese ma maak hoegenaamd geen geheim van haar weersin nie.)

Nou wat is hierdie “Engelse groentesop” van my wat my nou aan die klets het, en Annieka darem ook weer op haar beurt aan die praat gekry het? (My skoonpa, die eintlike sopmaker in Annieka se gesin, het spesiaal gebel om komplimente uit te deel oor die porsie wat ons Saterdagaand daar gaan aflewer het.)

Ek sou sê dis groentesop soos almal dit maak (met groente en sopvleis en dalk ‘n sopbeen of twee) sonder enige iets wat die sop dik kan maak: allermins nie ‘n pakkie kitssop nie, nie lensies of koring of hawer of gort of bone of hawermout of meel of mazeina nie.

Dis waterige sop, soos engeltjie-piepie so waterig, maar dik aan murgsagte baie klein blokkies groente, saf gekookte repies vleis en lepeltjies murg. Dis al. So eenvoudig soos dit.

En al hierdie jare was dit binne my bereik, maar ek het gefoeter met droë four-in-one soup mix, hawermout, pasta en noem maar op. Alles.

Alles behalwe mazeina of pakkies kitssop.

Die kollega aan my tafel wat die lekkerste sop denkbaar opkook, glo dat elke sop ‘n pakkie of twee kitssop moet inkry, en sy is reg, haar sop is heerlik, die lekkerste van sy soort wat ek ken. Maar self kan ek nie so ver kom om ‘n pakkie by te foeter nie. Dit voel vir my as ek deur die moeite gaan om ‘n outentieke pot sop te kook, dit grens aan heiligskennis om dan die een of ander instant by te wil meng.

Ek het  bloot twee pakkies sopgroente baie klein verwerk, my yskas en groenterak leeggemaak aan ander groentes in die huis, die vleis, sout en peper, en sowat drie liter water bygevoeg. Alles is prutpot toe en ek het daarvan vergeet.

Omdat ek daarvan oortuig is ons het op grond van die een of ander verkeerde vertaling uit Grieks of Latyn begin het om seldery in ons eietydse Westerse kookkuns te gebruik, moet ek bieg ek het slegs sowat ‘n kwart van die seldery in die twee pakkies gebruik.

Ek is nou so begeesterd, ek neem my selfs voor om my hand hierdie winter nog weer aan ‘n bot bonesop te slaan, nog ‘n sop wat my kinderhuis nie geken het nie, nie uit my pa se hand nie, ook nie uit my ma se hand nie. (Ek wonder baie keer of ‘n reaksie teen ‘n oormatige blootstelling daaraan in hul arm en landelike kinderdae, nie straks daarvoor verantwoordelik was nie. Net so veel soos ek hunker na party disse uit my kleintyd, is daar immers weer ander waaraan ek vir geen geld ter wêreld weer my lippe wil sit nie.)

My vorige poging tot bonesop, ook al twee of drie jaar gelede, het in die asblik beland nog voor dit op die stoof gekom het – ek het die goed laat gis.

My ander probleem met bonesop is die feit dat al die sopbone wat Leipoldt so in sy boeke besin lankal nie meer in vandag se dae geredelik beskikbaar is nie.

Maar gee tyd, ek sal nog van die bonesop verslag kom lewer.