Is enige iemand bewus of daar al tuindienste is
wat nie deur die loop van die jaar alle blare wat in die ou dae opgehark of
weggevee is, in jou bedding en onder die struike inblaas nie.
Maar belangriker, is daar al hondemodelle wat nie
stoelgange passeer nie?
My drie patryshonde dateer uit die dae voor
genetiese manipulasie en kom uit ‘n bloedlyn wat geslagtelank pryswenners op
hondeskoue sou opgelewer het, het ons toekennings gemaak vir die omvangrykste
ontlasting in die kategorie vir mediumgrootte honde.
Maar die waatlemoen wat ons, Oupa-hulle en
Pat-hulle Sondagmiddag onder die lapa geslag het, het elke afbuk met die twee
Spar-sakke (waarvan die een soos ‘n handskoen gedra word) agter landmyne aan, uit
en uit die moeite werd gemaak.
Is dit net ek van my generasie wat ‘n ding met ‘n
waatlemoen het, of is daar meer van ons?
‘n Waatlemoen, buite in die tuin, op ‘n
Sondagmiddag, hou nie net vir my die kosbaarste kindertydherinneringe in nie,
dit kommunikeer aan my soos geen politikus (hetsy van die huidige of vorige
regime): alles is goed en wel (ongeag van wat op die televisie en in die
koerante aangaan.)
Youngsters
weet ook nie dat die ritueel van waatlemoen-slag op ‘n Sondagmiddag ‘n
vorige geslag Afrikaner se hele siel en wese reflekteer het nie.
Die goed het mos te duur, en die gesinne te klein geword om ‘n hele waatlemoen te wil opkoop; deesdae koop ons helftes en kwarte, toegedraai in filmplastiek wat óf aan niks behalwe dit self, of aan alles behalwe dit self (hang af van jou behoefte) vasklou.
Maar nie ek nie, dan gaan ek eerder sonder hom; ek koop ‘n hele, want waatlemoenslag is ‘n feesgeleentheid, ‘n rite, iets so belangrik soos ‘n Nagmaal of ‘n doop (net baie vroliker en lekkerder as selfs ‘n doop).
Die duurste wat ek nog ooit vir ‘n waatlemoen
betaal het, was R25-00.
Vandag is dit niks, jy koop deesdae skaars ‘n
ordentlike halwe een teen daardie prys.
Maar my R25-00-waatlemoen gaan terug na 1988 toe jy
bykans enige snit bees- of skaapvleis onder R10-00 ‘n kilogram kon aankoop.
Toe ek ’89 begin skoolhou, toe maak ek ‘n punt
daarvan om slegs dit wat onder R10-00/kg is, te koop. En ek kon ver kom, baie
ver.
My waatlemoen het ek egter ‘n jaar tevore van stafsersant
Fernandes, ‘n Angolese vlugteling wat by Jan Breytenbach se 32Bn aangesluit
het, gekoop.
Staf Fernandes moes meer as net ‘n Portugese naam
en die Portugese taal in hom gehad het, daar moes Portugese bloed, reguit uit
Europa, deur sy are gevloei het.
Soos die Wandelende Jood, moet daar iets soos ‘n
Vrugte-en-Groente-verkopende Portugees wees, en dis presies dit wat in hierdie
man gepomp het.
Hy het dit as staandemaglid reggekry om ‘n
lewendige vars(erige)produktestalletjie onder die bome, bo in Suid-Wes, op die
walle van die Okovango, te bedryf.
Net smiddaes, na werk, so vir ‘n uur, was sy
stalletjie oop. Ja, veselperskes en ander vrugte wat jy nie in die Caprivi
verwag nie, soos stroopsoet papajas was volop – sommer hier anderkant by Bagani
groei dit – maar nie waatlemoene nie; dit is van die naaste toeganklike
varsproduktemark, meer as ‘n 1 000 km suid aangery.
O, en was hy nie trots op die besending
waatlemoene wat die een slag daar aangekom het nie, plek-plek met ‘n SAMIL,
plek plek met ‘n tipiese Portugese groentetrok het hy dit tot bo by hom
genavigeer gekry. Dit was die dae voor selfone en selfs telefoon was ‘n luukse,
so enige iets buiten die gewone wat wel by sy stalletjie beland het, was ‘n
wonderwerk.
Ek het die R25-00 met ‘n plesier betaal, en ek wil
my verstout om te sê dat daardie waatlemoen daardie agtermiddag meer plesier
verskaf het as die aand se tradisionele braaivleis en bier.
Maar ek dwaal af, ek is Sondagmiddae in Pretoria,
Rustenburg, of iewers op ‘n plaas.
Oor jy nie ‘n halwe stukkie ding gekoop het nie,
maar ‘n hele “speenvarkie” op ‘n keer geslag het, was daar nie sprake van
halfmane wat in jou bord beland het nie. Nee, halfmane en kwart sirkeltjies is
‘n nuwerwetse ding, genoop deur die vrugte wat deesdae halveer te koop
aangebied word.
Die man wat tydens die Sondag-middagmaal die
voorsnywerk aan die boud gedoen het (straks het hy aan tafel ten aanskoue van
almal die voorsnymes net eers geslyp) het die voorreg gehad om die waatlemoen
te sny.
Was die waatlemoen ‘n bed, is die kop- en
voetenente, eers afgesny.
Dan is die waatlemoen se skil, al in die rondte,
van die rooi moot tot rooi moot wat nou blootgelê is, gesny, nie te diep nie,
en eintlik net-net dieper as die skil.
Dan het hy hierdie skywe van die waatlemoen
losgetrek.
Dit was nie sukkel nie, want die pitte en die
middelstuk van die waatlemoen nog in plek, het gemaak dat ‘n skyf redelik
maklik losgewikkel kon word.
Daai skywe, die smakelose stukke na aan die skil,
was nou die kinders’sn.
“Leun vorentoe as jy eet, netnou mors jy sop op
jou Sondagklere (selfs al is dit jou Sondag-speelklere.)
Dit wat in die middel oorbly (en ek het al geweet hoe soen ‘n meisie as sy soen, voor ek my mond daaraan kon slaan) die soet – die stroopsoet, sag en smaaklik, is die “kroon”. Vir die grootmense natuurlik.
Nee, dit lyk nie soos ‘n kroon nie, maak nie saak hoe jy daarna kyk nie, ek vermoed dis bloot kroon genoem oor dit geskik vir konings is.
Hierdie kroon, wat nog vas is aan die laaste drie of vier skyfies wat vir die kinders opsy is, is nou in soos ‘n pynappel in sirkels gesny.
Die kop- en voetenent, die minder soet stukkies
is, is van links en regs, vir die vrouens aangebied. Dis dan ook nou dat jy die
eerste kommentaar oor die kwaliteit en smaak van die waatlemoen te hore kry.
Die heel middelste suk, amper soos die
allerheiligste in die Joodse tempel, was, net soos die allerheiigste van die
tempel, vir vroue (en kinders, but that
goes without saying) verbode vrug. Dis vir die Ooms.
Wat oorbly van die kinderskywe, as daar Maandag
nog oor was (want op Sondag het die meide nie kom werk nie) kon die meide kry.
En was daar varke, dan’s die skille vir die varke.
Of die komposhoop in die agterplaas.
Maar dis iets van die verlede.
Wat gebly het is die selletjies barstens toe
geprop met koue soet stroop. Wat gebly het is die deel van dit wat homself overdadig
en in die oortreffende trap aanbied. Samesyn. Fees. Heildronk. Alles wat mooi
en goed en wel is.
Moet bieg, die oomblik was Sondag vir my so groot
met Skoonpa in my midde, dat ek hom gevra het of hy die slagwerk wil doen, ‘n
skoonseun kan mos nie voorsnywerk wil doen .
Maar Skoonpa is ‘n pa van die nuwe millennium, hy
het my dit laat sny.
Kom ons raak daarom van die vrot van gister ontslae, maar soos Oom Paul tereg versoek het, moet ons ook die mooi en die goed uit die verlede neem, en die toekoms daarmee bou.
My eerste bousteen is daarom ‘n waatlemoen, op ‘n
Sondagmiddag, in die tuin. Onder die bome, onder die lapa, en as jy nog ‘n
stoep het, op die stoep.
Staf Fernandes sien ek nie meer nie, Sabino, sy seun wel. Hy het ‘n lieflike man uitgedraai wat goed na sy vrou en kinders omsien.
En nou na ‘n paar minute se tob, is daar soveel
wat ek wil oornooi dat ons ‘n waatlemoen soos die weduwee se kruik nodig het.
Maar waarom nie.
En as jy hier kom, en daar is nie meer parkering
oor in die straat nie, beloof my jy ry tot by die naaste Portugees en kry jou
eie waatlemoen – daar is immers min dinge so lekker soos jou eie
waatlemoenfees.