16.8.11

Die man met die bril en die koerant en die vrou met die baie bont rok

(Klaradyn het verlede week haar tweede uitstappie van die aard gehad - ek het daarvan vertel op PMK. Hierdie was verlede jaar. Ek sal nie kan noem dat ek of Annieka die uistappie enigsins beter of meer volwasse hanteer het nie.)


Bykans alles wat ek van graad 1 (1970 aan Laerskool Generaal Alberts op Alberton) onthou, verbeel ek my het ek al met verloop van tyd en talle inskrywings hier genoem:

Juffrou Scholtz was 16 jaar voor sy my graad 1 onderwysers geword het, ook my broer se onderwyseres.

Masels het my twee weke laat vir Graad 1 gehad en toe moes ek op my dag 1 saam met klasmaatjies op koorbankies gaan staan en maak of die liedjie ken wat ons vir die res van die skool sing.

Ek het vir ‘n kwartaal lank, lui die klok smiddaes om die einde van die skooldag aan te kondig, my wang very politely teen juffrou se wang geskuur, voor ek agter gekom het die gedagte is dat ek haar ‘n piksoentjie op die wang moet gee.

My werkboek het ‘n kalenderprentjie van ‘n kameel karavaan deur die woestyn op die voorkant geplak gehad.

As juffrou ‘n nuwe balpuntpen (want inkpenne is my gespaar) moes uitdeel, het sy die punt met ‘n vuurhoutjie se vlam warm gemaak. (Ek het sedertdien in my leeftyd al ontelbaar baie penne wat nie wil skryf nie finaal met die een of ander vlam afgeskryf, maar dit keer my nie om elke keer weer te probeer nie.)

Ek het “papier” een keer by herhaling “pampier” geskryf. Juffrou het my by herhaling ‘n “paMMMMMpoen” genoem, maar ek het eers teen die vierde of vyfde keer wat sy my teruggestuur het, gesnap.

Ek het nog nooit vertel dat daar ‘n Anne Curtain, wat ons Antjie Gordyn genoem het, in die klas was nie. Maar dan is daar, behalwe vir die feit dat ons ‘n Anne Curtain, wat ons Antjie Gordyn genoem het, in die klas had, niks meer te vertel nie.

Ook nie van ons eerste uitstappie Johannesburg dieretuin toe nie.

Nie dat ek daarvan veel onthou nie.

Dit sou my eerste van vele uitstappies met ‘n bus gewees het. Maar die busrit wat ek onthou dateer uit standerd een by tannie Marthie van Rooyen. Op pad uit het ‘n bobbejaan by die enigste oop venster ingespring en oor ons koppe heen koers gekies na agter. Die meisie van die huis reg oorkant die skool het haarself letterlik bedinges, soos in ‘n nommer twee. En die pad, op ‘n warm middag, in ‘n vol bus, tussen Krugersdorp se wildtuin en Alberton is ‘n lang een.

By die dieretuin sou die een of ander kind beslis ‘n pet of roomys of lollipop of iets in die een of ander hok laat val het, en miskien gehuil het, terwyl die ander gelag het. Maar ek onthou dit nie. Ook nie die bye wat in ‘n stadium ‘n oorlas van hulself by die koeldrankblikkies gemaak het nie. (Dit was die dae toe blikkieskoeldrank Groovy genoem is, met sulke dansende seventies figure en letterwerk al om die blikkie.)

Elke keer, die laaste vyf jaar wat ons met Klaradyn Pretoria dieretuin toe gaan, en ons steek die rivierjie oor, dan kry ek ‘n terugflits van ons spul graad-eentjie-parrabeentjies daardie skoologgend in 1970. (En ek sal nog eendag teruggaan Johannesburg toe en soek tot ek die plek vind waaraan die omgewing, die oomblik wat ek in Pretoria oor die brug stap, my so duidelik aan laat herinner.

Maar, met die uitsondering van slegs een enkele ding omtrent hierdie eerste uitstappie, onthou ek eintlik niks. En daardie een ding wat ek so duidelik soos daglig, soos ‘n paal bo water staan dit uit, onthou, is die feit dat my ma, toe nog ‘n twee en veertig jarige jong Judy Moolman, een van die mammas was wat ingewillig om die juffrouens te vergesel en te help om orde te handhaaf.

Ek weet dit was vir my spesiaal en dit het my goed laat voel, die feit dat sy daar is. Op ‘n afstand natuurlik want saam met ons klas eendjies-eendjies stappend in ‘n ry, het sy nie gewaggel nie. Sy het dit voor die tyd duidelik gemaak dat ek nie ‘n oorlas van myself moet maak nie, sy gaan saam om die juffrouens te help en nie om my op te pas nie. O, en ek het maar al te goed geweet om aan geen rokspant te gaan staan en torring nie, en ‘n baie veilige afstand gehou. Maar tog was dit spesiaal net om te weet sy het haar oggend opgeoffer om saam met ons te kom.

Ag, hemel, en nou gaan Klaradyn more op haar eerste rerige-êrige-keriek-stieks-stêrige uitstappie na ‘n kinderplaas iewers in Centurion-omgewing.

En daar het nie eers ‘n brief gekom om te vra of daar nie dalk ouers is wat die personeel wil vergesel nie!

Ek het so daarna uitgesien om dieselfde vir my kind en haar juffrouens te doen wat my ma destyds vir my en my juffrouens gedoen het! My ma het nie ‘n oorlas van haarself gemaak nie. En ek sou ook nie!

Hulle kan bly wees ek laat my kind gaan. En ek hoop nie ek is teen moremiddag spyt nie.

Hier voor die aanvang van die sokkerwêreldbekerbyeenkoms is Suid-Afrika hoeka die Germiston-stasie, nee, die Heathrow-lughawe, van international human trafficking. En nou foeter hulle onbewaak deur ‘n legioen ouers met ons kinders uit na die een of ander plaas toe.

More lê soos ‘n berg voor my, en my vrou. Selfs ‘n groter berg as die een om my ma se hare gedoen en aangetrek te kry voor Donderdag se begrafnis. As more net eers verby is, het ek krag om ‘n staatsbegrafnis, die toestand van ons huidige staatsdiens ten spyt, man alleen te organiseer.

En praat Klaradyn ons vanaand in haar slaap wakker, sal dit net een van twee sinnetjies, wat sy al van Vrydag af aan oefen kan wees wat oor haar lippe kom:  “Bly in die groep” en “Sorg dat jy altyd jou juffrou kan sien.” Dis by haar ingedril soos my eie magsnommer destyds: 13988212.

En moenie eers probeer om my gerus te stel met die woorde “dit sal goed gaan nie.” Dis geen uitgemaakte saak dat dit noodwendig goed sal gaan nie. Allermins nie met die paaie wat lyk soos dit lyk nie.

Ek wonder watter van watter busmaatskappy het hulle gehuur. Wie of wat deesdae in die bedenklikste toestand is, die bus of die busbestuurder, is en bly immer onseker.

Miskien moet ek tussen die kouse na ‘n ou selfoon gaan soek.

Die skool hoef mos ook nie te weet die begrafnis is eers Donderdag, as die skole klaar gesluit het, nie. Wat hulle betref kan dit mos more wees. En dan kan ek en Annieka saamgaan. So op ‘n afstand. Die juffrou hoef nie eers te weet nie. Ek sit ‘n sonbril op en kruip agter ‘n koerant weg. Vir Annieka trek ons aan soos ‘n toeris uit Uruguay.

No comments: